Die Lewende Kerk van God baseer haar geloofstellings op die Bybel, die geïnspireerde Woord van God. Ons beleid, leerstellings, gebruike en tradisies is gegrond in die Worldwide Church of God onder leiding van mnr. Herbert W. Armstrong, wat in 1952 vir Roderick C. Meredith (ons Voorsittende Evangelis) as een van die organisasie se eerste evangeliste ingeseën het.

Die Heilige Skrif sê dat ons “moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Petrus 3:18). Binne hierdie Bybelse mandaat en gelei deur die Heilige Gees, het die Voorsittende Evangelis en die Raad van Ouderlinge van die Lewende Kerk van God, die verantwoordelikheid om leerstellings te verduidelik en tot stand te bring, soos uiteengesit in hierdie Amptelike Verklaring van Fundamentele Geloofstellings.

DIE KERK, HAAR NAAM EN HAAR MISSIE

Die Bybelnaam van die ware Kerk is “die Gemeente [Kerk] van God”. God noem dinge soos dit is. Die naam word duidelik in twaalf gevalle in die Nuwe Testament aangegee in die enkel- en meervoudsvorms – met inbegrip van Handelinge 20:28; 1 Korinthiërs 1:2; 10:32; 11:16 en 1 Timotheus 3:15. 

Die Lewende Kerk van God, met haar kerklike wêreldhoofkantoor in die Verenigde State van Amerika, het lidmate in lande regoor die wêreld en vervul ’n drieledige roeping: 1. Om die ware Evangelie van die Koninkryk van God (Markus 1:14; Mattheus 24:14; Esegiël 3 en 33) en die naam van Jesus Christus (Handelinge 8:12) as ’n getuienis aan die hele wêreld te verkondig. 2. Om die kudde te versorg en om plaaslike kerkgemeentes te organiseer om sodoende te voorsien in die geestelike en materiële behoeftes van ons lidmate, soos wat God dit moontlik maak (1 Petrus 5:1-4; Johannes 21:15-18). 3. Om die profesieë vir die eindtyd te verkondig en die Engelssprekende nasies asook die hele wêreld te waarsku teen die toekomstige Groot Verdrukking (Mattheus 24:21).

DIE BYBEL

Die Bybel is die geïnspireerde openbaring vanaf God aan die mensdom. Dit is die ware basis van alle Kerkleerstellings (Mattheus 4:4; 2 Timotheus 3:16). Ons glo dat die Bybel onfeilbaar is in die oorspronklike manuskripte en dat dit die gesaghebbende grondslag vir alle ware kennis is (Johannes 17:17).

WIE EN WAT IS GOD?

Die “Godheid” bestaan uit die Vader en die Seun. Daar is een God (1 Korinthiërs 8:4 en Deuteronomium 6:4). Die Skrif toon dat God ’n goddelike Familie is wat met twee begin het, God die Vader en die Woord (Genesis 1:26; Efesiërs 2:19; 3:15; Hebreërs 2:10-11).

God is Gees en is Ewiglewend:

  • Die Vader is die Opperwese in die Godheid. Jesus Christus het gesê dat Hy gestuur was om die Vader te openbaar (Mattheus 11:27; Johannes 1:18; 17:24-26) en Hy erken dat Sy Vader groter is as Hy (Johannes 10:29; 14:28).
  • Die Seun, Jesus Christus, is die “Woord” (Gr. Logos), deur wie die Vader alle dinge geskep het (Johannes 1:1-3), die “eniggebore Seun” van die Vader (Johannes 1:14, 18; 3:16, 18), en die Verlosser van die hele mensdom (1 Johannes 4:14). Hy het vir ons sondes gesterf en is uit die dood opgewek sodat ons van die ewige dood gered kan word (Handelinge 4:10-12). Hy sit nou aan die Vader se regterhand en tree op as ons Hoëpriester en as die Lewende Hoof van die Kerk (Efesiërs 1:22-23; Hebreërs 4:14-16).

DIE HEILIGE GEES

God is Gees. Die Heilige Gees is die werklike kern, die verstand, lewe en krag van God. Dit is nie ’n Wese nie. Die Gees is eie aan die Vader en die Seun en vloei uit Hulle uit dwarsdeur die ganse heelal (1 Konings 8:27; Psalms 139:7; Jeremia 23:14). Dit is deur die Gees dat God alle dinge geskep het (Genesis 1:1-2; Openbaring 4:11). Dit is die krag waardeur Christus die heelal onderhou (Hebreërs 1:2-3). Dit word gegee aan diegene wat berou tot bekering vir hul sondes het en gedoop word (Handelinge 2:38-39) en is die krag (Handelinge 1:8; 2 Timotheus 1:6-7) waarvolgens alle gelowiges “oorwinnaars” kan wees (Romeine 8:37; Openbaring 2:26-27) en tot die ewige lewe gelei word.

DIE EVANGELIE

Die Evangelie van Christus is die “Goeie Nuus” van die Koninkryk en regering van God wat binnekort kom en die vergifnis van ons sondes deur Christus se offer. Die Evangelie van Christus openbaar die wyse waarvolgens God ons laat kwalifiseer om regerende lede van Sy Koninkryk te wees (Handelinge 2:38-39; Markus 1:14-15; Mattheus 24:14; Handelinge 8:12; 17:7; 28:30-31; Openbaring 2:26-27).

REDDING

Redding is ’n geskenk van God weens Sy genade deur geloof in Jesus Christus (Titus 3:5; 2 Korinthiërs 2:15; Romeine 5:10). Nadat ons bekeer het en gedoop is, spreek God ons vry van ons vorige sondes. Ons begin dan met ’n voortdurende proses om “gered te word” soos wat ons groei in die genade en kennis van Christus (2 Petrus 3:18). Ons redding sal volkome word met die opstanding (1 Korinthiërs 15:50-54). Deur die Bybelse Feeste en Sabbatte te onderhou, bekom ons dieper insig van God se plan van redding en van die stappe wat ons as Christene moet neem tot volkome saligmaking.

Stappe tot redding:

Geloof in Christus
Die eerste belangrike stap tot redding is om totale geloof te ontwikkel in God en in Christus se offer (Hebreërs 6:1; 11:6).  Petrus het gesê: “Laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes” (Handelinge 2:36-38).

Bekering
’n Lewensbelangrike stap tot redding is bekering van sonde – berou dat ons God se wet oortree (1 Johannes 3:4).  Met die ontstaan van die Nuwe-Testamentiese Kerk, is Petrus geïnspireer om dié opdrag te gee: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word ...” (Handelinge 2:38). Aangesien elke mens gesondig het (Romeine 3:23) en die loon van die sonde die dood is (Romeine 6:23), moet elke sondaar ophou om God se wet te verbreek en gewillig wees om sy Skepper te gehoorsaam deur Christus wat in hom lewe (Galasiërs 2:20).

Doop deur onderdompeling
Wanneer God ons roep en ons tot bekering bring en ons Christus aanvaar as ons persoonlike Here en Verlosser, is die volgende lewensbelangrike stap om in watergedoop te word. ’n Persoon moet gedoop word (Handelinge 2:38; 8:35-39; 9:1-18) as ’n teken van algehele oorgawe aan God en ’n gewilligheid om die ou self te begrawe (Romeine 6:3-6).

Ontvang God se genade
Redding is die gevolg van die toepassing van beide God se “wet” en Sy “genade” (Gr. charis). “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit [daardie geloof] is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie” (Efesiërs 2:8-9)! Ons word “geregverdig ... in sy [Christus se] bloed” en word “met God versoen … deur die dood van sy Seun, [maar] ons [sal] deur Sy lewe gered word” (Romeine 5:9-10).

Met die doop gaan ’n Christen ’n “nuwe verbond” met God aan (Mattheus 26:28). Die nuwe verbond skaf nie God se wet af nie. God skryf Sy wette in ons harte en ons verstand (Hebreërs 8:8-10). Wanneer ’n persoon gedoop word, gaan hy of sy ’n plegtige verbond met God aan dat hy of sy, met die hulp van die Heilige Gees, vanaf daardie dag Sy gebooie sal onderhou en ’n goddelike lewe sal lei! Dit is Christus wat inderdaad Sy gehoorsame lewe binne-in ons lei deur die Heilige Gees. Die apostel Paulus was geïnspireer om te skryf: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof [van] die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Galasiërs 2:20).

Ontvang God se Heilige Gees
Wanneer ons berou tot bekering het, Jesus aanvaar en gedoop word, vergewe God ons ons sondes (Handelinge 2:38; vgl. Psalms 103:3, 10-13). As ons werklik die sonde wil oorwin, moet ons God se “krag van bo” ontvang (Lukas 24:49). Deur God se dinamiese Gees kan ons Sy gebooie onderhou. Volgens die Nuwe-Testamentiese lering is die Heilige Gees gegee deur die oplegging van die hande van Christus se Apostels, of ouderlinge (Handelinge 8:17; 9:17; 19:6; 2 Timotheus 1:6).

Beoefen “lewende” geloof
Volgens die Woord van God is geloof lewensbelangrik vir redding, aangesien dit een van die fundamentele leerstellings van die Bybel is (Hebreërs 6:1). “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag” (Hebreërs 11:6).
Lewende geloof behels om te doen wat God sê, om Hom te gehoorsaam! “Geloof sonder die werke [is] dood” (Jakobus 2:20).

Neem toe in die “genade en kennis van God”
Na bekering, die aanvaarding van Christus, doop en die ontvangs van die Heilige Gees tydens die oplegging van hande (Handelinge 8:17-18), moet die pas gedoopte en nuut verwekte kind van God aanhou “toeneem in die genade en kennis van onse Here” (2 Petrus 3:18). “Verheerliking” – om onsterflikheid te ontvang – is die finale stap in die saligmakingsproses (1 Korinthiërs 15:53). Die mens se uiteindelike saligmaking vind plaas met sy verheerliking in God se Koninkryk (Efesiërs 5:27; Filippense 3:21; 2 Timotheus 2:10).

JAARLIKSE FEESTE BEELD GOD SE MEESTERPLAN VAN REDDING UIT

God se jaarlikse Feeste word gelys in Levitikus 23 en Deuteronomium 16. Dit was ’n opdrag dat hierdie Godgegewe Heilige Dae “vir ewig” onderhou moet word (Levitikus 23:14, 21, 31, 41). Die Kerk van die Apostels het die jaarlikse Sabbatte onderhou (Handelinge 2; 12:3-4; 18:21; 20:6, 16; 27:9; 1 Korinthiërs 16:8). Hierdie Sabbatte sal steeds onderhou word gedurende Christus se duisendjarige heerskappy (Sagaria 14:1, 9, 16-19).

God se jaarlikse Feeste dui op die sewe lewensbelangrike stappe in Sy plan van redding:

1.   Die Pasga dui op die offerande van Jesus Christus, die “Lam van God” (Johannes 1:29, 36; Openbaring 5:6) wat vir ons geoffer is (1 Korinthiërs 5:7). Jesus het die Nuwe Testamentiese Pasga ingestel met brood en wyn as simbole (1 Korinthiërs 11:23-26).
2.   Die Sewe Dae van Ongesuurde Brood dui op die reiniging van ’n gelowige se lewe van die suurdeeg van ondeug en boosheid en om deel te hê aan God se natuur, die “ongesuurde brode van reinheid en waarheid” (1 Korinthiërs 5:6-13; Lukas 12:1).
3.   Die Fees van Eerstelinge (Pinkster) dui op die klein oes van “verwekte” volgelinge van Christus wat geoes sal word tydens die “eerste opstanding” (Openbaring 20:4-5) “as eerstelinge” (Jakobus 1:18).
4.   Die Fees van Trompette (Basuine) dui profeties op Jesus Christus se wederkoms (Mattheus 24:31; 1 Korinthiërs 15:52; 1 Thessalonicense 4:13-17; Openbaring 11:15-18; 19:15; Sagaria 14:9).
5.   Die Dag van Verootmoediging (Versoendag) beeld die verbanning van Satan en die tyd van die mens se “eenwording” met God uit (Levitikus 16:8, 10, 15-27; Openbaring 20:1-3).
6.   Die Huttefees dui op die wonderlike wêreld wat binnekort onder die heerskappy van Jesus Christus en Sy heiliges voorlê (Sagaria 14; Mattheus 9:37-38; 13:1-30; Lukas 12:32; Johannes 7:6-14; Handelinge 17:31; Openbaring 12:9; 20:4-6).
7.   Die Fees van die Laaste Groot Dag dui op die groot oordeel wat sal plaasvind teen die einde van Jesus Christus se 1,000-jarige heerskappy op aarde (Johannes 7:37; Levitikus 23:36, 39; Openbaring 20:11-12).

DIE WET VAN GOD

God se basiese geestelike Wet word opgesom in die “Tien Gebooie” (Exodus 20:1-17; Deuteronomium 4:13; 10:4). In die Bergpredikasie en op ander plekke vervul Jesus die wet van God (Mattheus hoofstukke 5-7; Jesaja 42:21) en wys Sy volgelinge daarop dat hulle beide die letter en die “gees” van die Wet moet gehoorsaam. “Dus is die wet heilig en die gebod is heilig en regverdig en goed” (Romeine 7:12). Dit is die praktiese uitlewing van hierdie lewenswyse – deur Christus wat binne-in ons lewe (Galasiërs 2:20) – wat van ’n mens ’n ware “heilige” maak (Openbaring 14:12).

GOD SE SABBAT

Die Woord van God openbaar dat “die sewende dag ... die sabbat van die HERE” is (Exodus 20:10; Deuteronomium 5:14). Dit moet onderhou word vanaf sononder Vrydag tot sononder Saterdag. Dit is God se “teken” tussen Hom en Sy getroue volgelinge – dit verwys na God se “rus” en herinner ons dat Hy die Skepper is. Dit beeld die Millennium uit – die toekomstige duisendjarige “rus” wanneer Christus terugkeer na die aarde as Koning van konings (Hebreërs 4:1-4; Openbaring 20:4-6). Jesus Christus, die Apostels en die Kerk sedert die eerste eeu het altyd God se Sabbat onderhou soos deur Hom beveel (Lukas 4:16; Handelinge 17:2) en dit sal onderhou word deur “alle vlees” tydens Christus se toekomstige duisendjarige heerskappy op die aarde (Jesaja 66:23).

SONDE – EN DIE GEVOLGE DAARVAN

“Want die sonde is wetteloosheid” (1 Johannes 3:4). Die Nuwe Afrikaanse Vertaling sê: “Sonde is immers oortreding van die wet van God”. “Want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Romeine 3:23), en “die loon [beloning] van die sonde is die dood” (Romeine 6:23).

DIE EERSTE DOOD

Die dood is die natuurlike “beëindiging van lewe” (Genesis 2:17; Esegiël 18:4). “Soos hulle almal in Adam sterwe” (1 Korinthiërs 15:22). “Soos die mense bestem is om een maal te sterwe” (Hebreërs 9:27). Nadat hulle die “eerste dood” ervaar het, sal alle mense opgewek word terug na die lewe. Die Bybel onthul dat alle mense, uiteindelik, uit die dood opgewek sal word (Johannes 5:28; 1 Korinthiërs 15:22).

DIE TWEEDE DOOD

Die “tweede dood” is die ewige dood – totale uitwissing. Diegene wat die tweede dood ondervind, sal nooit weer enige bewussyn herwin nie (Maleagi 4:1; Mattheus 10:28; 25:46). Die tweede dood is inderdaad algehele vernietiging (Openbaring 20:14-15).  “Want as ons opsetlik sondig” nadat ons God se waarheid ontvang het, dan is daar geen vergifnis vir sulke opsetlike sonde nie (Hebreërs 6:4-8; 10:26-31).

BETEKENIS VAN “WEDERGEBORE”

Met ’n fisiese menslike geboorte moet daar eers “verwekking” wees (deur die man), en “bevrugting” (deur die vrou). Met ’n geestelike geboorte moet daar eers ’n geestelikeverwekking en bevrugting wees. Dan, ná ’n tydperk van “geestelike swangerskap” of geestelike groei (2 Petrus 3:18), sal ware Christene eendag ’n letterlike geestelike “geboorte” ondervind en daardeur onsterflike kinders van God word. Ons sal letterlik wedergebore word tydens die opstanding soos wat Christus Self wedergebore was, “en na die Gees van heiligheid met krag verklaar is as die Seun van God deur die opstanding uit die dode” (Romeine 1:4).

GOD SE REGERINGSVORM IN DIE KERK

Die Vader is die Oppergesag en Sy Seun Jesus Christus is onder Hom in rang en gesag (Johannes 14:28). “En God [die Vader] die hoof [leier] van Christus” (1 Korinthiërs 11:3) en “Christus ook Hoof van die gemeente [Kerk]” (Efesiërs 5:23). God regeer met liefde en volg deurgaans hierdie patroon in Sy Kerk. Onder die Vader en onder Sy Seun, Jesus Christus, is “[1] apostels [2] profete [3] evangeliste [4] herders en [5] leraars” (Efesiërs 4:11). God se manier van regeer was nog altyd, regering van bo na onder(Exodus 18:21-26).

Jesus het “dienende leierskap” geleer deur Sy Woord en voorbeeld (Mattheus 20:25-28).  Hy het gesê: “Julle weet dat die owerstes van die [heidense] nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie”.

KERKGESKIEDENIS

Die Lewende Kerk van God speur haar geskiedenis na vanaf die Kerk van die Apostels in die boek Handelinge (die Efesiese era) tot die hede. Die boodskap aan die sewe Gemeentes (Kerke) in Openbaring twee en drie toon opeenvolgend die geskiedenis van die ware Kerk van daardie tyd af aan. Daardie sewe Gemeentes beskryf die opvolgende eras, of periodes, van God se Kerk. Ons glo dat die Filadelfiese era in die 1930’s begin het en dat ons ’n voortsetting van die Filadelfiese era is.

TIENDES

God is die Skepper van alles wat bestaan (Openbaring 4:11). As Here van die heelal, het Hy eienaarskap van en beheer oor Sy hele skepping (Handelinge 17:24-29). Jesus Christus het gesê dat mense tiendes “behoort” te gee (Mattheus 23:23). Die Bybel toon dat “al die tiendes … behoort aan die HERE” (Levitikus 27:30). Lank voordat die Ou Verbond gesluit is, het Abraham – “die vader van die getroues” – tiendes aan God se verteenwoordiger betaal (Genesis 14:20).  Deur tiendes te betaal, dien Christene vir God in die sin dat hulle die verkondiging van die Evangelie ondersteun, Sy Feeste bywoon en die Kerk en die behoeftiges versorg.

OMSKRYWING VAN DIE HUWELIK

Die huwelik is ’n verbond tussen ’n man en ’n vrou. Aangesien God ons manlik en vroulik gemaak het, is Hy die Skepper van die huwelik. Die huwelik is tiperend van die verhouding tussen Christus en die Kerk (Efesiërs 5:22-33). Met enkele Godgegewe uitsonderings (Mattheus 19:8; 1 Korinthiërs 7) is die huwelik tussen Christene bindend tot die dood toe (Mattheus 19:3-9).

OORKOM RASSEVOOROORDEEL

God se Woord beveel die ganse mensdom om hulle naaste lief te hê soos hulleself (Levitikus 19:18; Mattheus 22:39; Handelinge 17:24-28). God onthul dat redding vrylik aangebied word aan beide Jode en Heidene (Handelinge 10:34-35; Romeine 10:12-13; verwys Joël 2:32). Ons glo dat liefde en diep respek betoon moet word aan mense van alle etniese groepe (Romeine 13:10).

AFSONDERING VAN DIE WÊRELD

Die Bybel leer dat Satan die duiwel die ganse wêreld verlei (mislei) het (Openbaring 12:9) en dat God se mense hulle moet afsonder van die wêreld se leerstelsels (Johannes 15:19; Openbaring 18:4).

Hierdie afsondering beteken dat diegene wat deur God geroep word ’n ander lewenswyse sal volg en dat ons in werklikheid Ambassadeurs van God se regering is (Efesiërs 6:20; 1 Petrus 2:9-10). Histories gesproke, het die Kerk van God haar lede geleer om nie deel te hê in sekulêre juries of wêreldse politiek nie.

MILITêRE DIENS EN OORLOG

Die Lewende Kerk van God volg die leerstellings van Jesus en Sy Apostels. Jesus het gesê: “Maar Ek sê vir julle wat luister: Julle moet jul vyande liefhê en goed doen aan die wat vir julle haat. Seën die wat vir julle vervloek, en bid vir die wat julle beledig.  Aan hom wat jou op die wang slaan, moet jy ook die ander een aanbied; en aan hom wat jou bo-kleed neem, moet jy ook die onderkleed nie weier nie” (Lukas 6:27-29).  Jesus se broer, die apostel Jakobus, het voortgegaan om Jesus se boodskap oor geweld en oorlog te onderrig (Jakobus 4:1-10).

Die Kerk van God het histories gesproke militêre diens as onaanvaarbare optrede vir lidmate beskou. Die geskiedenis bewys dat lidmate van die Kerk van God sedert die Amerikaanse Revolusie tot en met die twee Wêreldoorloë asook in latere polisie-optrede deurgaans beginselbesware gehandhaaf het teen militêre deelname.

GODDELIKE GENESING

Genesing is een van die “geestelike gawes” (1 Korinthiërs 12:1, 9). Een van God se Hebreeuse name is Yahweh Ropheka wat beteken, die Ewiglewende wat genees. Die Here is ’n Grote God “wat al jou ongeregtigheid vergewe, wat al jou krankhede genees” (Psalms 103:3; 1 Petrus 2:24). “Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het.  En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig. Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word.
Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van ’n regverdige het groot krag” (Jakobus 5:14-16).

Die Lewende Kerk van God volg hierdie direkte Bybelse opdrag. Ons glo dat God vandag genees in ooreenstemming met ’n persoon se geloof en God se wil in elke spesifieke geval.

GOD SE GESONDHEIDSWETTE MET BETREKKING TOT VLEIS

Genesis 7:1-2, Levitikus 11 en Deuteronomium 14 lys God se bevele aangaande die voedsel wat God as “rein” (eetbaar) en “onrein” (oneetbaar) geskape het. Lank na die kruisiging het Petrus erken dat hierdie wet steeds bindend was (Handelinge 10:14).  Buitendien, ná sy visioen van die laken met onrein diere het Petrus uitgeroep: “God het my getoon dat ek geen mens onheilig of onrein mag noem nie” (Handelinge 10:28).

OORSPRONG VAN MODERNE ISRAELIETE

Een van die belangrikste sleutels om profesieë te verstaan, is om die ware Bybelse oorsprong van die Jode en die “verlore” tien stamme van Israel te identifiseer – asook die Noordwes-Europese lande waar Israel se nageslagte hulle gevestig het.  Die Anglo-Amerikaanse nasies is die besitters van die geboortereg-beloftes en gepaardgaande seëningevan Abraham se afstammelinge deur sy kleinseun Josef. God se Woord openbaar dat Jakob se nageslag, deur Josef, oorval sal word deur ’n tyd van groot probleme – ’n tyd wat as “Jakob se benoudheid” bekend staan – omdat hulle die Skepper, wat aan hulle die grootste nasionale seëninge in die mens se geskiedenis gegee het, nie geëer het nie (Jeremia 30:4-7; Mattheus 24:21; Daniël 12:1).

DIE “GROOT VERDRUKKING”

Die Bybel praat van ’n katastrofiese tyd bekend as die “Groot Verdrukking” (Mattheus 24:21-22; Daniël 11:40-45; 12:1; Lukas 21:20-36) – wat ook “Jakob se benoudheid” genoem word (Jeremia 30:3-7). Jesus Christus sal Self daardie verskriklike dae moet verkort, anders “sou geen vlees gered word nie” (Mattheus 24:22). Ons glo dat ons daardie tyd nou vinnig nader.

DIE “DAG VAN DIE HERE”

Die Dag van die Here, wat op meer as 30 plekke in die Bybel genoem word, sal ’n tyd wees van God se ingryping in die mens se sake hier op aarde, wanneer Hy die inwoners van die aarde sal straf vir hulle skaamtelose sondes (Joël 1:14-20; 2:1-32; 3:9-17).  Volgens Mattheus 24:29-31 sal daar tekens in die hemel wees: “... die son [sal] verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val” net ná die verdrukking en voor die Dag van die Here.  God het gesê: “Ek sal wondertekens gee aan die hemel en op die aarde … Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die HERE kom” (Joël 2:30-31).

CHRISTUS SE WEDERKOMS

Jesus het Sy dissipels in Mattheus 24 tien keer plegtig belowe dat Hy beslis “sal terugkeer” na die aarde (vgl. Johannes 14:3).  Hy het gesê dat “verdrukking” die koms van die Seun van die mens sal voorafgaan (Mattheus 24:29-30). Sy wederkoms, met ’n “harde trompetgeluid” (vers 31), sal plaasvind wanneer die “sewende basuin” weerklink (Openbaring 11:15). Daardie trompet word ook die “laaste basuin” genoem (1 Korinthiërs 15:52; 1 Thessalonicense 4:13-18). Dit is die “eerste opstanding” en diegene wat deel is van hiérdie opstanding sal met Christus op aarde regeer vir ’n “duisend jaar lank” (Openbaring 5:9-10; 20:4, 6).

DIE “MILLENNIUM”

Ou- en Nuwe-Testamentiese profete het ’n wonderlike tyd van vrede op die aarde vooruitgesien (Jesaja 2; 9; 11:6-9; 14:7; Jeremia 31; Miga 4; Sagaria 8:20-23, 14; Maleagi 4; Handelinge 3:19-20; Openbaring 20:4-6). Die Millennium – die duisendjarige heerskappy van Jesus Christus en Sy heiliges – is daardie tyd.

DIE “LAASTE OORDEEL”

Daar word drie groot periodes van oordeel in die Bybel genoem:
1.   Die Kerkperiode, waartydens God slegs Sy eie mense oordeel –diegene wat Hy uit die wêreld in Sy Kerk ingeroep het (1 Petrus 4:17).
2.   Die Millenniumperiode, waartydens al die nasies vir ’n duisend jaar lank blootgestel sal word aan Christus se waarheid en aan Sy wonderlike lewenswyse (Jesaja 11:9; Openbaring 20:2-6).
3.   Die “Laaste Oordeel”-periode (ook bekend as die “Groot Wit Troon Oordeel”), wanneer almal wat al ooit gelewe het – wat in sonde gesterf het, sonder kennis van God se waarheid en Sy lewenswyse –opgewek sal word tot ’n fisiese lewe en die Woord van God vir hulle verstaanbaar gemaak sal word (Openbaring 20:11-14; Mattheus 10:15; 11:20-24; 12:41-42; Esegiël 37:1-14).

DIE MENS SE OORSPRONG, ONGELOOFLIKE POTENSIAAL EN UITEINDELIKE BESTEMMING

God het die mens “uit die stof van die aarde” geskape (Genesis 2:7). Die mens is gemaak na die beeld en gelykenis van God (Genesis 1:26; vgl. 5:3); en is ook ’n Goddelike tipe verstand en emosies gegee. God het ook beplan dat diegene wat bekeer van hulle sondes en gedoop word God se Gees sal ontvang (Handelinge 2:38-39; Johannes 3:16). Met Christus se wederkoms sal almal wat bekeer het gedurende hierdie lewe, of hulle dood is en of hulle lewe, onsterflikheid ontvang – gebore as werklike “kinders van God, omdat hulle kinders van die opstanding is” (Lukas 20:36).

“Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe” (Mattheus 5:5; verwys Psalms 37:9, 11, 22, 29, 34). “Hy wat oorwin, sal alles [die heelal] beërwe” (Openbaring 21:7).  Volgens al die profesieë en beloftes in die Bybel sal God se “eerstelinge” (diegene wat in hierdie periode geroep word) beloon word met ’n plek of posisie van heerskappyin God se Koninkryk (Johannes 14:1-3; Openbaring 3:21; 20:4-6), reg hier op hierdie aarde (Openbaring 2:26-27; 5:10; Daniël 2:44). Die ware heiliges sal werklike kinders van God word – “kinders van die opstanding” (Lukas 20:36). Dit is God se doel om Homself te reproduseer en dat diegene wat hulleself uiteindelik bekeer, werklike lede van die Godgesin word, onder die gesag van die Vader en die Seun (1 Johannes 3:1-3). Hulle sal deel hê in die Goddelike heerlikheid van die opstanding. Jesus het gebid: “En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is. Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees; en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het” (Johannes 17:22-23).