Die Bybel vertel aan ons dat, voordat die mens geskape is, ons planeet “woes en leeg” was – ’n geheel en al verwoeste en onbewoonbare wildernis (Génesis 1:2). Tog het God dit herstel en dit in slegs ses dae ’n pragtige paradys vol lewe vir die mensdom gemaak. Hy het toe verklaar dat alles wat Hy geskep het, “baie goed” is (Génesis 1:31) en het gerus van Sy skeppende werk op die sewende dag – Sy werk was voltooi.

Baie wetenskaplikes ondersoek toenemend al hoe meer die moontlikheid of die mens dieselfde prestasie kan behaal: Om ’n lewelose, woeste planeet te neem en dit te herontwerp en te transformeer om dit soos die Aarde mooi te maak, geskik vir lewe en vir die mensdom. Hierdie idee word terravorming genoem.

Sou ons die werke van God se hande kon namaak deur met ons eie hande te werk? Wanneer ons dink aan die reusagtige aard van terravorming – die opknapping van ’n hele planeet om in wese ’n ander Aarde te skep – wat sou so ’n projek van ons verg? Sal ons ooit daarin kan slaag?

Mars word deur baie wetenskaplikes as die gewildste kandidaat vir terravorming beskou, as gevolg van sy ooreenkomste met die Aarde en sy relatiewe nabyheid. Baie wetenskaplikes glo dat Mars – tans ’n steriele, koue, lewelose planeet – eens op ’n tyd warmer, met vloeibare water op sy oppervlak. Die feit dat dit in die verlede ’n vriendeliker omgewing kon gewees het, gee sommige mense hoop dat dit in die toekoms ’n nuwe Aarde vir die mensdom sal kan wees.

Mars bied egter ontsaglike uitdagings! Soos hierdie rubriek in ’n vorige uitgawe genoem het (“Oos, Wes, Lieflike (Kosmiese) Tuis Bes”!, Maart-April 2017, kan die temperatuur op Mars tot laer as 100° F (-73° C) daal en die atmosfeer is giftig vir mense en uitsonderlik dun. Terwyl water in ’n bevrore vorm onder sy oppervlak as ysgrond bestaan, is vloeibare water skaars of dit bestaan glad nie.

Verandering van Mars in ’n “Tweede Aarde”

Wanneer ons van terravormering van Mars praat, is die twee toestande wat baie wetenskaplikes voorstel om eerste aan te spreek, die dun atmosfeer en die koue temperatuur, aangesien hulle mekaar beïnvloed.

Om dit aan te spreek, het Christopher P. McKay van die NASA Ames Navorsing Sentrum en Ruimte-ingenieur Robert Zubrin ’n verskeidenheid metodes voorgestel. Dit word in hulle referaat, Tegnologiese Vereistes vir Terravormering van Mars beskryf wat gepubliseer is in die Amerikaanse Instituut vir Lugvaartkunde en Astronautika in 1993, maar wat steeds vandag gewild is.

Een benadering sou wees om van groot spieëls wat meer as 60 myl (100 km) in deursnee is, gebruik te maak deur dit in ’n wentelbaan bokant Mars te plaas. Dit kan dan ekstra sonlig op die planeet weerkaats en die pool ys smelt. Die doel sou wees om die vasgevange koolstofdioksied daar en elders op Mars se oppervlak, vry te stel om ’n voortdurende “kweekhuiseffek” aan die gang te hou wat die planeet oor ’n tydperk toenemend sou verhit. Namate die hoeveelheid koolstofdioksied in die lug rondom Mars al hoe meer gekonsentreerd raak, sou die atmosfeer verdik en die temperatuur sou styg – wat meer koolstofdioksied sou vrystel en die siklus dan sal laat voortduur totdat die verlangde toestande bereik is.

Bykomende idees behels die uitsoek van massiewe asteroïdes met nuttige chemiese samestellings om die Mars se atmosfeer te verander en vuurpyle te gebruik om hulle in ’n botsingsbaan met Mars se oppervlak te stuur, ten einde hulle chemikalieë in die atmosfeer te versprei. Die mees praktiese wyse, volgens McKay en Zubrin se skatting, sou eenvoudig wees om kragtige masjiene te maak wat op Mars se oppervlak kon bly en voortdurend kweekhuisgasse kon laat uitkolk vanuit materiaal wat op Mars se oppervlakte is.

Terravormering sal ’n lang proses wees. Dit word beraam dat, na ’n eeu van sulke pogings, Mars warmer en minder droog behoort te wees en ’n digter atmosfeer sal hê, maar dit sal nog steeds nie naastenby soos die Aarde wees nie, met geen inasembare suurstof nie. Om daardie probleem op te los, stel terravorm-navorsers voor dat plante in die Mars-omgewing ingevoer word – God se eie suurstofopwekkers!

Die plante – waarskynlik net alge in die begin – sal aanvanklik die gekonsentreerde koolstofdioksied verbruik en suurstof vrystel, net soos wat hulle dit op Aarde doen. Dit sal egter ’n stadige proses wees. Vroeg in 2014 het wetenskaplikes berig dat korsmos uit die Noordpool ’n vermoë getoon het om te oorleef en te groei in toestande wat soortgelyk is aan dié van Mars, solank dit effens beskerm word teen bestraling (“Lichen on Mars”, Phys.org, 17 Januarie 2014). Wetenskaplikes glo dat hulle moontlik plante geneties sal kan manipuleer sodat hulle nog beter sal kan doen.

Hoe realisties is sulke planne?

Selfs al sou die mensdom die intelligensie, wysheid en vaardigheid kon inspan om hierdie doelwitte te bereik, sou u dwaas wees om u huis te verkoop en te beplan om sommer nou al te trek. ’n Meer onlangse artikel deur Christopher McKay en Margarita Marinova reken dat dit minstens 100,000 jaar sal duur voordat Mars omskep sal kan word om ’n planeet met ’n asemhaalbare atmosfeer te wees, laat staan nog ’n pragtige Aard-agtige tuiste vir die mensdom (“The Physics, Biology, and Environmental Ethics of Making Mars Habitable”, Astrobiology, Vol. 1, nr 1, 2001). Eenduisend eeue is verseker ver van God se ses dae!

Daarbenewens is daar baie ander bekommernisse wat die droom om Mars te omskep in ’n Aarde-agtige tuiste vir die mensdom, meer na ’n fantasie laat lyk. Mars het byvoorbeeld geen planeetwye magnetiese veld wat sy nuwe inwoners teen kosmiese strale sal kan beskerm soos wat die Aarde het nie. Dit sal ook die kosmiese wind verhoed om stadig die nuwe atmosfeer van Mars die ruimte in te waai. Daarsonder sal Mars uiteindelik weer word soos dit nou is.

Om eerlik te wees, sou ons dwaas wees as ons nie daaraan dink dat ons nog nie eers geleer het hoe om suksesvol op ons eie planeet te leef nie. Terwyl God die mens as ’n bewaker van die Aarde gemaak het en dit onder sy sorg geplaas het (Génesis 1:28; 2:15), het ons Sy wysheid met ons eie vervang. Die gevolg is dikwels besoedeling, agteruitgang van die omgewing en vermorsde hulpbronne. Terwyl ons nie eers weet hoe om op Aarde – die enigste planeet wat ons ooit geken het – te leef nie, wat laat ons dink dat ons slim genoeg is om ’n ander planeet fyn in te stel om dit vir ons bruikbaar te maak?

Hoe terravorming betrekking het op ons uiteindelike lotsbestemming

Die feit dat dit die mensdom ten minste 100,000 jaar sal neem om te dupliseer wat die Almagtige in ses dae gedoen het (en selfs dan, nét as ons “bedrog pleeg” en materiaal en lewensvorme invoer wat Hy elders geskep het!) is ’n bewys van Sy mag, intelligensie en majesteit. Die probleem om ’n “ander Aarde” te skep, behoort te maak dat ons die huidige Aarde wat Hy reeds aan ons gegee het, meer te waardeer.

Die ongelooflike waarheid is egter dat die mensdom ’n eindbestemming het wat terravorming behels – nie volgens die mens se manier nie, maar God s’n!

Vir diegene wat bereid is om God Sy eie karakter en die denke van Jesus Christus binne-in hulle te laat ontwikkel (Filippense 2:5), wag ’n eindbestemming as verheerlikte lede van Sy Eie goddelike gesin! Hy beplan om aan hulle “alle dinge” te gee (Hebreërs 2:8) as hulle erfenis – die ganse heelal! Terwyl die kosmos tans verlate en leweloos mag voorkom, sê die apostel Paulus dat daar ’n dag kom wanneer “die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God” (Romeine 8:21).

Daar is ’n ganse heelal anderkant Mars wat vir u wag! Wil u een van die kinders van God wees wat lewe en vryheid sal bring aan die hele skepping? God se eie planne vir die werke van Sy hande oorskadu selfs ons mees ambisieuse drome.