Vir sommige mense kan dit na ’n ongelooflike uitdaging lyk om ’n gelukkige huwelik te hê. So ’n huwelik wag nietemin vir “u” indien u hierdie noodsaaklike sleutels toepas!

In ons Westerse nasies word die huwelik aangeval soos nog nooit tevore nie. Daar is egter beginsels wat u kan toepas om u huwelik sterk en gelukkig te hou!

Die gesin is die boublok van enige gemeenskap en die huwelik tussen ’n man en ’n vrou is die begin van daardie gesin. Stabiele huwelike bou gelukkige gesinne. Stabiele gesinne versterk omgewings, gemeenskappe en nasies.

Sommige van u wat hierdie artikel lees mag dit dalk oorweeg om in die huwelik te tree. U sal sekerlik vir hierdie lewenslange verbintenis deeglik voorbereid wil wees. Watter beginsels sal u toepas om ’n gelukkige en stabiele huwelik te verseker? Indien u reeds getroud is, weet u dat daar altyd ruimte vir verbetering is. Wat kan u doen om ’n huwelik met probleme te verbeter of ’n gelukkige huwelik nog gelukkiger te maak?

Die huwelik kan vreugdevol wees, maar dit kan ook ’n uitdaging wees. Ek weet dit uit jare se persoonlike ondervinding. Ek en my vrou het gedurende die meer as 50 jaar wat ons getroud is soms probleme ervaar as gevolg van ons menslike natuur. U Bybel gee egter die strategieë en geheime vir ’n suksesvolle, goddelike huwelik. U behoort hierdie algemene beginsels in u huwelik toe te pas. Hierdie artikel openbaar sewe geheime om u te help om ’n vreugdevolle huwelik te hê!

Geheim 1: Kommunikeer in liefde

My vrou het ’n agtergrond in musiek; sy was ’n vioolonderwyseres en het selfs professioneel opgetree voordat ons getroud is. Ek aan die ander kant, is as ’n ingenieur opgelei. Die ideaal sou wees dat my analitiese denkwyse en haar subjektiewe benadering mekaar sou aanvul, maar om eerlik te wees, dit het ons ’n tyd geneem om aan te pas. Ons het egter geleer om effektief te kommunikeer. Dit beteken om effektief te luister, nie net effektief te praat nie.

Hoe dikwels “skakel” huwelikspare “mekaar” in hulle gesprekke “uit”? Ons behoort te luister om te verstaan – probeer om die ander persoon se standpunt in te sien. Probeer om die ander persoon se gevoelens en behoeftes te verstaan! Toon respek deur u volle aandag te skenk.

Die apostel Paulus gee ons ’n basiese beginsel om effektief te kommunikeer: “... maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, [moet ons] in alles ... opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus” (Efésiërs 4:15). Sommige mense praat die waarheid in haat. ’n Christen wat volwasse in Christus is, sal bedag wees op die uitwerking wat sy woorde en boodskap op die luisteraar sal hê.

Wanneer u met u eggenoot praat, betoon u besorgdheid en omgee? Kommunikeer u met respek? Ons behoort sekerlik geduldig met mekaar te wees. Onthou: “Die liefde is lankmoedig en vriendelik” (1 Korinthiërs 13:4). Nog ’n vertaling stel dit so: “Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik” (vers 4, NV). Wees versigtig in u gesprekke om die waarheid in liefde te praat!

Met ons vinnige lewenstempo mag manne en vroue dalk in verskillende rigtings gaan en skaars tyd hê om met mekaar te praat. Sommige studies het getoon dat baie egpare gemiddeld minder as 20 minute per week in gesprek met mekaar verkeer! Daar is tog ’n manier om munt te slaan uit die kort tydjie wat u saam het. Dit is die vierminute kontak reël. In hulle boek, Contact: The First Four Minutes, verduidelik dr. Leonard Zunin en sy vrou Natalie Zunin: “Die sukses of mislukking van ’n huwelik ... kan afhang van wat tussen ’n man en vrou gebeur in net agt minute van die dag: Vier minute in die oggend wanneer u wakker word en vier minute wanneer u herenig na die dag se werk” (bl. 133).

U taal, gesindheid of uitdrukking aan die begin van die dag kan die hele verhouding beïnvloed. Leer om ’n positiewe, liefdevolle gesindheid uit te straal vir die eerste vier minute saam aan die begin van die dag. Doen spesiale moeite om in liefde te kommunikeer.

Geheim 2: Hou romanse lewendig

U het waarskynlik al die uitdrukking gehoor: “Dit is die klein dingetjies wat tel”. Elke vriendelike woord van waardering maak ’n verskil. Navorsing het ook getoon dat drukkies spanning kan verminder en dit bevorder selfs liefdevolle eenheid tussen man en vrou! Ek en my vrou gee mekaar dikwels ’n drukkie wanneer ons uiteen gaan om aan aparte projekte in die huis te werk – ander kere sommer net spontaan. Jare gelede het ek ’n verslag van ’n versekeringsmaatskappy gelees wat gesê het dat mans wat hulle vrouens soen voordat hulle werk toe gaan in minder motorongelukke betrokke is en 30% meer geld verdien as diegene wat nie hulle vroue soen nie. Ek het dit ’n gereelde gewoonte gemaak om my vrou te soen voordat ek die huis verlaat om te gaan werk. Op ’n dag het ek haar nie gesoen nie en met my motor teen ’n boom vasgery. Selfs al was daar min skade, maak ek nou seker dat ek haar elke oggend soen!

Ander liefdevolle en bedagsame dade help om die romanse lewendig te hou. ’n Bedagsame en sorgsame man sal op ’n herdenking aan sy vrou ’n bos blomme gee en soms net as ’n verrassing. ’n Kreatiewe en sorgsame vrou mag dalk haar man met ’n spesiale geskenk of ’n spesiale ete verras.

God het bedoel dat die man en sy vrou een vlees word om die genot van goddelike seks in die huwelik te geniet! God beveel egpare ten minste vier keer in die boek Génesis: “Wees vrugbaar en vermeerder”. Die Bybel is baie duidelik: God het seks vir die huwelik en die gesin geskep. Onthou, die Bybel openbaar ook dat die huwelik net tussen ’n man en sy vrou is. In die Bybel en in die werklike wêreld van geestelike, Goddelike Wette is daar nie so iets soos “dieselfde-geslag huwelike” nie! Die Bybel openbaar duidelik dat enige seksuele verhouding buite die huwelik sonde is! Ons lees: “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel” (Hebreërs 13:4).

Geheim 3: Gee 100% aan u wederhelf

Die ou gesegde, “Die huwelik is ’n 50-50 ooreenkoms” is heeltemal verkeerd! Moderne, gegoede, “verligte” professionele mense mag moontlik sê, “Onafhanklikheid is ons prioriteit. Ons sal intellektueel instem om saam te werk, maar ek behou steeds my persoonlike ontsnaproete ingeval dinge nie reg uitwerk nie”. Ware liefde gee sonder om enigiets terug te verwag. Paulus skryf dat ons die woorde van die Here Jesus moet onthou, wat Hy gesê het: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Soos die Nuwe Vertaling dit ook stel: “Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang.”

Wanneer twee mense albei 100% gee, het mens ’n sterk band – ’n sterk “oorvleueling” wat buigsaamheid waarborg en die vermoë om krisisse en probleme te hanteer. In so ’n scenario is albei eggenote “ten volle betrokke”. Die 50-50 ooreenkoms is ’n swak ingeboude skakel in u verhouding!

U tyd is een van die grootste geskenke wat u kan gee! ’n Paar jaar gelede, toe ek nog baie aktief by sport betrokke was, was ek geneig om my vrou met saamwees tyd af te skeep. Ek onthou nog die tyd toe ek besluit het om my tyd aan haar te gee in een of ander spesiale aktiwiteit waarvan sy sou hou. Sy wou met ’n kano gaan vaar – dit was nie my gunsteling aktiwiteit nie, maar ons het een Sondagmiddag op ’n Oos-Texas meer gaan vaar, omring deur dennebome, blou lug, watervoëls en vrede! Wat ek as ’n opoffering van my tyd beskou het, het tot ’n sterker verhouding gelei – my vrou het die aktiwiteit geniet en my poging waardeer. Verbind uself daartoe om meer te gee as wat u in die verlede gedoen het. Wees vasbeslote om maniere te vind om aan u eggenoot te gee – dan sal u nie so gefrustreerd wees nie en God sal u in u verhouding seën. Jesus het immers gesê: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang.”

Geheim 4: Vervul u Godgegewe verantwoordelikhede

God het belangrike verantwoordelikhede aan manne en vroue gegee. “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees. So behoort die mans hul eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief; want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente” (Efésiërs 5:25-29).

God beveel my as ’n eggenoot om my vrou lief te hê. Ek moet aan God rekenskap gee vir my gesindheid, diens en toewyding aan my vrou. Let daarop dat God nie allerhande vorms van ontvlugtende klousules gee nie. Hy sê nie: Indien” u vrou volmaak is, dan moet u vir haar lief wees nie. Nee! God beveel u om u vrou lief te hê. Dit is u verantwoordelikheid! Soos ons vroeër gesien het, behoort u 100% aan u vrou te gee.

Wat beveel God dan aan die vroue? “Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam. Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees” (Efésiërs 5:22-24).

Weereens dames, God sê nie dat u uself net aan ’n volmaakte eggenoot behoort te onderwerp nie. Ek weet nie van enige volmaakte man nie. Slegs Christus is volmaak! Wanneer elkeen van ons ons eie Godgegewe verantwoordelikhede vervul – opreg en ywerig, hoe onvolmaak ookal, sal God die huwelik selfs meer seën! Let ook daarop dat die apostel Paulus ons in dieselfde gedeelte aanmoedig om dankbaar te wees en om seker te maak dat ons “aan mekaar onderdanig is in die vrees van God” (Efésiërs 5:20-21). As man en vrou het u elkeen hierdie verantwoordelikheid teenoor u huweliksmaat.

Geheim 5: Eer en respekteer u eggenoot

Die meeste van ons getroude pare weet dat ons ’n menslike natuur en menslike swakhede het. Ek en my vrou het argumente gehad, nie soseer nou ná 50 jaar nie, maar hoe raak u versoen en los daardie argumente op? Die volgende geheim mag dalk moeilik wees vir dié wat fout vind en die swakhede en karakterfoute van hulle huweliksmaat ken. Dink aan God se opdrag met betrekking tot ons verhouding met ander mense: “Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself” (Filippense 2:3).

Waardeer u regtig u eggenoot? Respekteer u hom of haar as ’n menslike wese wat na die ewebeeld van God geskape is? Ja, u Bybel leer ons om andere hoër as onsself te ag – dit is na waarde te skat. Dit beteken nie dat u elke slegte eienskap of elke slegte gewoonte van u eggenoot moet respekteer nie. Wees egter op die uitkyk vir sy of haar positiewe waardes! Indien u u wederhelf mishandel het, fisies of verbaal, is dit nodig dat u u daarvan bekeer! U moet uself nederig voor God stel en Hom om vergifnis vra. Dit is ook nodig om u wederhelf om verskoning te vra! Dit is soms moeilik om te sê: “Ek is jammer”. Deur dit egter te doen kan u die genesing en herstel van u verhouding bewerkstellig!

Hou in gedagte dat u en u huweliksmaat “mede-erfgename van die genade van die lewe is” (1 Petrus 3:7). Dit is noodsaaklik om te verstaan hoe waardevol God elke menslike wese ag en dit sluit u wederhelf in, ongeag u mening oor hom of haar. Elke mens op aarde het die potensiaal om in die Goddelike Gesin van God ingebore te word as ’n verheerlikte, onsterflike kind van God. Paulus skryf: “Ek sal vir julle ’n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige” (2 Korinthiërs 6:18). Wees altyd bewus van die ongelooflike potensiaal van u wederhelf.

Geheim 6: Leer om te vergewe

Hoe dikwels het u argumente in u gesin of in u huwelik? Ons behoort almal selfbeheersing, hoflikheid, eer en respek te betoon. Soms is die beste strategie tydens ’n argument om te onthou: “’n Sagte antwoord keer die grimmigheid af” (Spreuke 15:1). Ons behoort somtyds ons eie verantwoordelikheid te erken. Moontlik het ons persoonlik tot die probleem bygedra. Ek weet dit kan by tye baie moeilik wees, want ons trots is in die gedrang. Ek het dit self ervaar. Om eenvoudig “Ek is jammer” te sê, kan baie daartoe bydra om konflik op te los. Ons behoort mekaar in elk geval te vergewe.

Onthou die wonderlike opdrag in u Bybel: “Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het(Efesiërs 4:32).

Nog ’n gedeelte beklemtoon ook daardie punt: “Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ’n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen. En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is” (Kolossense 3:12-14).

Geheim 7: Bid saam

Ek besef u mag dalk met ’n ongelowige getroud wees, in watter geval dit nodig is om elke dag vir hom of haar te bid asook vir u huwelik. Streef daarna om ’n Christelike voorbeeld vir u gade te wees. Ons lees: “Net so moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word” (1 Petrus 3:1).

U liefdevolle, toegeeflike, Christelike voorbeeld kan daartoe bydra om ’n positiewe invloed op u man te hê. Neem kennis dat die klem op gedrag is, nie om te probeer om u lewensmaat in u godsdiens in te argumenteer nie.

Indien u en u huweliksmaat natuurlik albei persoonlik bid, probeer dan om saam te bid. Dit is ongelooflik hoe baie intieme en persoonlike gedagtes in ons gebede te voorskyn kom. Op dié manier deel ons met mekaar en met ons God.

Vra God om u te help om hierdie beginsels in u eie lewe toe te pas. Onthou, u kan nie u huweliksmaat dwing om te verander nie – u kan net uself verander. U voorbeeld van liefde en diensbaarheid kan egter ’n positiewe invloed op u maat hê. U kan dit nie op u eie doen nie. U het die hulp van u Verlosser nodig! Soos Paulus skryf: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” (Filippense 4:13).

Mag God u en u eggenoot seën – een man en een vrou in een huwelik! Mag Hy u huwelik en u gesin seën namate u daarna streef om volgens Sy Woord te leef!

------------------------------------------------------------------------------------

Sosiale media dra by tot spanning in baie huwelike

Soos tye verander, so verander ook die bronne wat tot spanning lei wat in huwelike ervaar word. Navorsing wat deur die Verenigde Koninkryk regsfirma, Slater en Gordon gedoen is, dui daarop dat ’n toenemende aantal egpare die gebruik van sosiale media as ’n oorsaak van hulle egskeiding aangee. Hulle opname met 2,000 getroude Britte in 2015 ontbloot ’n aantal ontstellende neigings:

• Een uit sewe mense het gesê dat hulle eggenoot se aktiwiteit op Facebook, Snapchat en ander sosiale media hulle gemotiveer het om ’n egskeiding te oorweeg.

• 17% van die respondente het gesê dat hulle daagliks met hulle maat baklei oor die gebruik van sosiale media, terwyl byna ’n kwart van die respondente ten minste een keer per week as gevolg van sosiale media baklei het.

• 14% van die respondente het gesê hulle gebruik sosiale media om na bewyse van ontrouheid te soek.

• 15% van die respondente het geglo dat sosiale media gevaarlik vir hulle huwelik is, met Facebook bo-aan die lys as die gevaarlikste platform.

Andrew Newbury, die hoof van gesinsreg by die firma het gesê: “Ons is nou aktief besig om ons kliënte aan te raai om versigtig te wees met die gebruik van Facebook en alle vorms van sosiale media, omdat dit die potensiaal het om verhoudings skade te berokken”.