Heeltemal bevry van die gesag van pouslike Rome, begin Luther se eie gesag toeneem, net soos wat die politieke mag rondspeel en worstel teen mededingers.

Het die Protestantse Hervormers ’n terugkeer na ware Nuwe-Testamentiese Christelikheid tot gevolg gehad? Was die hervormers deur God se Heilige Gees gelei? Die waarheid wat in hierdie reeks bevat word is verbasend.

Skokkende en ontnugterende waarhede het in hierdie reeks aan die lig gekom. Ons het geleer dat “Christendom” radikale veranderings ondergaan het sedert die tyd van Jesus Christus en Sy Apostels.

Uit outentieke geskiedenis het ons gesien dat heidense seremonies en tradisies kort ná die dood van die oorspronklike Apostels in die belydende Christelike kerk ingebring is. Ons vind dat geestelike korrupsie, magspolitiek en wêreldsgesindheid oorheers het in die regerende Katolieke kerk gedurende die “Middeleeue”.

In onlangse aflewerings is die ware feite oor Luther se vroeë lewe en frustrasies, sy opstand teen gesag en die noodsaaklikheid van gehoorsaamheid, bespreek. Ons het gesien dat nasionalisme en politiek die leidende magte in die Lutherse hervorming was. In die laaste uitgawe het ons die skreiende voorvalle bespreek van Luther se skynheilige betrokkenheid in die Duitse Boere-oorlog en sy tierende beroep op die vorste om die boere in die naam van God “dood te slaan, te verwurg en dood te steek”.

Nou sal ons die verdere groei van Lutheranisme bespreek asook Luther se voortgesette vertroue op vorste en politiek.

Die groei van Lutheranisme

Verdelings en skandale het die Protestantse kamp tydens Luther se latere jare geteister. Die leërs van vorste en politieke mag kon dalk waarborg dat die hervormde godsdiens in sekere gebiede bolangs behoue bly. Hulle het egter nie die mag gehad om die geloof en sedes van die aanhangers te suiwer nie, nog minder kon hulle die strydende faksies verenig wat binne die Protestantse beweging ontstaan het.

Gedurende hierdie jare het ’n dispuut ontstaan tussen die Duitse en Switserse hervormers oor die ware betekenis van Christus se instelling van die Nagmaal, soos dit nou genoem word. Hierdie geskil het ’n blywende skeuring tussen die Lutherse en Hervormde Kerke veroorsaak – ’n skeuring wat ons later in meer besonderhede sal ondersoek.

Intussen het die keiser in Januarie 1530 ’n opdrag aan die Duitse vorste gestuur om vir ’n Ryksdag in Augsburg te ontmoet. Hy het voorgestel dat die vriendelike skikking van godsdienstige verskille, die primêre doel van die vergaderings behoort te wees.

Die Protestante het dus ’n omvattende verklaring voorberei van hulle oortuigings en hul kritiek op die Rooms-Katolieke leerstelling en gebruike. Dit is hoofsaaklik deur Luther en Melanchthon opgestel. Laasgenoemde het die meeste van die werklike samestelling gedoen.

Dit is baie belangrik om die “Augsburgse Belydenis”, soos dit genoem word, te verstaan. Dit is die amptelike verklaring van die standpunt van die Lutherse kerk en is tot vandag toe die basis van hulle leerstellings.

Laat ons let op Reginald Walker se geleerde opsomming van die Lutherse standpunt, soos dit deur Melanchthon (met Luther se advies) in hierdie geloofsbelydenis uiteengesit is: “Sy doel was om te wys dat die Lutherane in geen wesenlike en noodsaaklike opsig van die Katolieke kerk afgewyk het of selfs van die Roomse kerk nie, soos geopenbaar deur sy vroeë skrywers. Daardie ooreenkoms word uitdruklik bevestig en baie ou dwaallere word versigtig by name verwerp. Aan die ander kant word Zwingliaanse en Anabaptistiese sienswyses kragdadig verwerp. Die Skrif as die enigste gesag word nêrens uitdruklik bevestig nie. Die pousdom word nêrens uitdruklik veroordeel nie. Die universele priesterdom van gelowiges word nie genoem nie. Tog het Melanchthon ’n deeglike Protestantse toon aan die belydenis as geheel gegee. Regverdigmaking deur die geloof word prysenswaardig gedefinieer, die Protestantse voorskrif van die kerk word duidelik gemaak; aanroeping van heiliges, die mis, ontkenning van die beker, kloostergeloftes en voorgeskrewe vas word verwerp” (Walker, Reginald F. An Outline History of The Catholic Church, Newman Press, 1944. bl. 372).

Protestante bevestig hulle eenheid met die Roomse stelsel

Let veral daarop dat hierdie Belydenis die eenheid van die Lutherane met die Rooms-Katolieke kerk bevestig. Die feit word beklemtoon dat Protestant en Katoliek in wese een kerk is – een geloofstelsel.

Verwysing na die Skrif as die enigste gesag is teen hierdie tyd weggelaat. Die Protestantse leerstellings van regverdigmaking deur geloof alleen en verwerping van die Katolieke sakramentele stelsel is die enigste ware geskilpunte.

Eerder as om na die oortuiging, geloof en gebruike van Jesus Christus en die Ware Kerk van die Apostels wat deur Hom gestig is terug te keer, beklemtoon die hervormers nou die eenheid van Protestantisme met die heidense filosofieë, oortuigings en gebruike van die korrupte Rooms-Katolieke stelsel.

Soos ons gesien het, het die Roomse kerk nou so ver van die leerstellings en gebruike van Christus en die Apostels afgewyk as wat enigsins moontlik kon wees. Tog sal ons keer op keer sien dat die Protestante hulle “eenheid” met hierdie verwerplike stelsel beklemtoon.

Ten spyte van die versoenende toon van hierdie Belydenis, het Charles V en die Katoliek-oorheersende Ryksdag dit verwerp. Hulle het ’n algehele herinstelling van die Katolieke geloof beveel, in afwagting op ’n algemene raad binne ’n jaar (Hausser, Ludwig. The Period of the Reformation, American Tract Society, 1873, bl. 123).

Luther moedig nou oorlog aan

Uit vrees vir strafmaatreëls en die verlies van kerkeiendom waarop hulle beslag gelê het, het elf stede nou met agt Protestantse vorste verenig met die vorming van die Smalkaldiese Bond om hulle te verdedig teen die keiser (Alzog, Johannes. Manual of Universal Church History, 1878, bll. 240-241). Dit is op hierdie stadium interessant om daarop te let dat Luther weereens sy beleid ter wille van eiebelang verander het.

Hy het voorheen gehou by sy standpunt, mét Skriftuur (Romeine 13), dat dit ’n sonde is om die keiser of enige wettig aangestelde gesag teen te staan (Walker, bl. 375). Nou het hy hulle egter aangespoor om tot geweld oor te gaan om sy leerstellings te verdedig. “Die Protestantse vorste, saam met sekere imperiale stede van Suid-Duitsland, het verenig in die Bond van Smalkald om die arbitrêre handelswyses van die keiser teen te staan in sy pogings om die nuwe denkwyses uit te wis. Luther, wat tot dusver teen die opneem van wapens gekant was, het nou verklaar dat Christene daartoe verbind was om hulle vorste te verdedig wanneer hulle onregmatig aangeval word. Die bond het homself versterk deur ’n alliansie met Frankryk, Denemarke en die Hertoë van Beiere aan te gaan. Die gebiede van die keiser was weereens bedreig deur ’n inval deur die Turke onder Soliman. Onder hierdie omstandighede was dit onmoontlik om die maatreëls van onderdrukking waarop besluit is by Augsburg uit te voer. Dienooreenkomstig is die vrede van Neurenberg in 1532 ingestel, wat voorsiening gemaak het dat godsdienstige aangeleenthede moes bly soos dit was, totdat dit weer gereël kon word deur ’n nuwe wetgewende of ’n algemene raad” (Fisher, George P. History of the Christian Church, Scribner’s, 1887, bll. 305-306).

Sedert die vrede van Neurenberg bly die posisie van die Protestantse gebiede vir ’n aantal jare wesenlik dieselfde. Baie insiggewende voorvalle het in Luther se kamp plaasgevind, namate die “vrugte” van sy leerstelling duideliker geword het. In baie gevalle kan gesien word dat Luther sy toevlug tot immorele optrede geneem het wanneer dit as “geskik” geag is om sy saak te versterk.

Luther laat bigamie [veelwywery] toe

Die bekendste voorbeeld van Luther se gewilligheid om sy standaarde te verander om sodoende sy vorstelike beskermers te akkommodeer, is moontlik die bekende geval van Philip I, die Landgraaf van Hesse. Philip se voortdurende pleging van egbreuk het hom bekommerd gemaak oor sy redding en hy het begin redeneer dat ’n tweede huwelik met ’n aantrekliker vrou die oplossing vir sy probleme kon wees. Hy het hom op die Ou Testament beroep om dit te regverdig, terwyl die motivering agter sy “redenasie” versterk is deur sy kennismaking met ’n aantreklike sewentienjarige dogter van ’n vrou in die adelike hof van sy suster.

Dit mag nuttig wees om op hierdie stadium uittreksels in te sluit, geneem uit ’n volledige verslag oor hierdie aangeleentheid deur die geskiedkundige Jules Michelet. Daarin vind ons die direkte antwoord van Luther en sy medewerkers op die Landgraaf se versoek:

Die oorlogsugtigste onder die Protestantse hoofmanne, die voortvarende en opvlieënde Landgraaf van Hesse, het veroorsaak dat dit voor Luther gelê word dat sy gesondheidstoestand vereis om saam met meer as een vrou te woon. Die opdragte wat aan Bucerus gegee is om oor hierdie saak met die teoloë van Wittemberg te onderhandel, bied ’n vreemde mengsel van sensualiteit, godsdienstige vrees en onverskrokke openhartigheid. Die versoek van die Landgraaf van Hesse het Luther in die uiterste verleentheid geplaas. Al die teoloë by Wittemberg het vir die geleentheid vergader om ’n antwoord te bedink en hulle het besluit om ’n kompromie met die vors aan te gaan. Hulle het ingestem tot sy versoek om goedkeuring te gee om ’n tweede vrou te neem, maar op voorwaarde dat sy nie in die openbaar erken moes word nie. “U hoogheid”, sê hulle in hul antwoord, “sal uit sy eie, aan u verduidelik van die verskil wat daar bestaan tussen ’n wet wat neergelê word om universeel uitgevaardig te word en een om ’n privaat dringende noodsaaklikheid te dien. Dit is ’n wetsbepaling dat ons nie openlik so-iets kan instel of goedkeur soos om met meer as een vrou te trou nie. Ons smeek u hoogheid om te besin oor die gevaar waarin daardie man geplaas sal word wat skuldig bevind sou word aan die feit dat hy in Duitsland ’n wet soos hierdie ingestel het. Daar sal onmiddellik verdeeldheid in gesinne geskep word en ’n reeks eindelose regsgedinge sal ontstaan. U hoogheid het ’n swak gestel; u slaap min en dit is nodig om baie goeie voorsorgmaatreëls te tref in u geval. Die groot Skanderbeg het sy soldate dikwels gemaan om kuisheid in ag te neem en het gesê dat niks so nadelig vir hulle roeping is as die genot van liefde nie. Mag dit u hoogheid behaag om ernstig selfondersoek in te stel oor die verskillende oorwegings betrokke by hierdie aangeleentheid; die skandaal, die arbeid, die sorge, die hartseer en die swakheid, wat, soos aan u uitgewys, daarby betrokke is. Indien u hoogheid egter vasbeslote is om met ’n tweede vrou te trou, is ons van mening dat dit in die geheim behoort plaas te vind. Onderteken en verseël in Wittemberg, na die fees van Sint Nicolaas, in die jaar 1539 – Martin Luther, Philip Melancthon, Martin Bucer, Antony Corvin, Adam John Lening, Lustin Wintfert, Dyonisius Melanther” (Michelet, Jules. The Life of Luther, Written by Himself, 1859. Vertaal deur William Hazlitt, bll. 251, 253).

Luther se raad om ’n “geheime sonde” van hierdie saak te maak, is verontagsaam. Sy verantwoordelikheid vir die advies aan die Landgraaf om God se Wet te verbreek, het nou sy tol ge-eis. Toe die nuus begin uitlek, het Luther die Landgraaf aangeraai om nog een van God se Gebooie te verbreek!

Luther beveel nou ’n leuen aan

“Alhoewel ’n poging aangewend was om die saak privaat te hou, het dit gou geblyk onmoontlik te wees. Luther kon slegs ‘’n goeie sterk leuen’ aanbeveel, maar Philip was mans genoeg om te verklaar: ‘Ek sal nie lieg nie’” (Walker, bl. 378).

Die skandaal wat uit hierdie episode voortgespruit het, het groot skade aan die Protestantse saak berokken. Regdenkende manne het begin wonder waarheen Luther se leerstelling van “genade alleen” kon lei.

Die belangrikste punt om te onthou is dat Martin Luther – wat bely het dat hy ’n dienaar van God is – welwetend en doelbewus aanbeveel het dat ’n man twee van God se gebooie moes verbreek.

Intussen het die verval van sedes voortgeduur onder alle klasse van die Protestantse samelewing. “Die Protestante het reeds begin om te verslap in die erns van hulle gedrag en handelswyse. Hulle het die huise waar losbandigheid hoogty gevier het, heropen. ‘Dit sou beter gewees het’, het Luther opgemerk, ‘as die duiwel nooit verban was nie, as dat hy in sewevoudige krag teruggekeer het’ (13 September 1540)” (Michelet, bl. 255).

Luther se dood

Die rigting waarin Protestantisme nou beweeg het, was stewig in die hande van die Lutherse vorste en met voortdurende bedreigings van die Katolieke Bond, het hulle bly vasklou aan die guns wat hulle tot dusver gewen het.

Die Katolieke Raad van Trent het in 1545 geopen. Met verskeie onderbrekings vir oorlog, het hulle tot 1563 voortgegaan om vir ongereëlde sessies byeen te kom. Die doel daarvan was hoofsaaklik om van die vergrype wat tot die Hervorming gelei het te ondersoek en op te klaar. Die gevolg was ’n konserwatiewe hervorming binne die Katolieke kerk, maar natuurlik volgens streng Roomse riglyne.

Spoedig nadat hierdie Raad met sy werksaamhede begin het en op ’n tyd toe die Keiser vrede gesluit het met die Turke en sy ander vyande en dit nou gelyk het of hy gereed was vir ’n hernude aanslag teen die Protestantse vorste, het Luther ’n reis na Eisleben, sy geboorteplek onderneem.

Gedagtig aan die latere geskiedenis van Duitsland, sal dit goed wees om daarop te let dat Luther se heel laaste preek ’n skreiende aanval teen die Joodse volk was. Dit het gelyk asof hy vervul was met dieselfde venynige haat en jaloesie teen die Jode as wat die regering van Adolf Hitler later gekenmerk het. Alzog beskryf hierdie neiging:

Terwyl hy die preekstoel van die St. Andrew kerk in Eisleben vir die laaste keer bestyg, het Luther weereens die wraak van die hemele oor die Jode uitgeroep, ’n ras van mense wat hy so onregverdig en venynig aangeval het in sy vroeë skrywes dat sy volgelinge na sy dood verward was oor slegs die noem van sy kwaadwillige veroordelings. In sy eerste pamflet teen hulle het hy ’n beroep op Christene gedoen om die Bybel van die Jode af weg te neem, om hulle boeke en sinagoges met pik en swael te verbrand, om hulle aanbidding te verbied en met die dood te straf; in sy tweede pamflet met die titel “Of Shem Hamphoras”, beskryf hy hulle van die begin af as “jong duiwels wat verdoem is tot die hel”, en uit die land verdryf behoort te word (Alzog, bl. 271).

Dus, wanneer ons van die gruweldade lees wat deur Hitler se Derde Ryk teen die Jode gepleeg is, behoort ons onsself daaraan te herinner dat so ’n gesindheid opvallend was in die stigter van Duitse Protestantisme.

Luther self was ongelukkig en ellendig tydens sy laaste maande. Ontsteld deur die gruwelike stand van onsedelikheid wat sy leerstelling van geloof alleen oor die inwoners van Wittemberg gebring het, het hy in Julie 1545 aan sy vrou geskryf: “Laat ons padgee uit hierdie Sodom” (Alzog, bl. 270).

Dit was terwyl vooruitsigte al hoe donkerder geword het, dat Luther op 18 Februarie 1546, na ’n besoek aan Eisleben, die dorp waarin hy gebore is, gesterf het as gevolg van ’n aanval van ’n hartsiekte of beroerte. Sy laaste jare was baie ongelukkig. Sy gesondheid was lankal reeds ellendig. Die struwelinge van die hervormers, waartoe hy sy volle deel bygedra het, het hom ontstel. Veral die mislukking van die suiwer prediking van regverdiging deur geloof alleen, hoofsaaklik om die maatskaplike, openbare en politieke lewe rondom hom te verander, het hom bedroef gemaak (Walker, bl. 379).

Dit het dus selfs vir Luther duidelik geword dat sy leerstellings in ’n groot mate misluk het om mense lewens te laat lei wat meer in ooreenstemming met geestelike beginsels is. Hy het dikwels in sy later jare tye van wanhopigheid ervaar toe hy ernstig daaroor besin het of hy nie baie siele saam met hom in die ewige veroordeling ingesleep het nie (Plummer, Alfred. The Continental Reformation in Germany, France and Switzerland from the birth of Luther to the Death of Calvin, Scriber, 1912, bl.132).

Na Luther se dood het die Protestantse vorste in 1547 ’n militêre nederlaag gely by die slag van Muhlberg. Die keiser het ’n tussentydse ooreenkoms toegestaan wat in wese ’n oorwinning vir die Katolieke was, totdat ’n ander sessie van die Raad van Trent belê kon word.

Die Hervormingsooreenkoms

In 1554 het die Lutherse vors Maurice van Sakse met Hendrik II van Frankryk verenig en vir Charles V ’n verpletterende nederlaag toegedien. Die Lutherane het nou volle geloofsvryheid geëis en die reg om al die gekonfiskeerde kerklike eiendom te behou waarop tot dusver beslag gelê is (Alzog, bll. 279-280).

’n Kompromie, bekend as die Vrede van Augsberg is uiteindelik in September 1555 bereik. Dit het elke vors toegelaat om te beslis of Katolisisme of Lutheranisme binne sy gebied beoefen sou word. Geen keuse is aan sy onderdane gegee nie. Alle kerklike eiendomme waarop beslag gelê is voor 1552 kon deur die Lutherane behou word; alle beslagleggings sedert daardie tyd moes teruggegee word. Slegs Katolisisme en Lutheranisme (soos omskryf deur die Augsburgse Ooreenkoms) was in Duitsland toegelaat. Alle ander persone wat hiervan afgewyk het sou nog steeds as “ketters” gestraf word (Walker, bl. 382).

Die skeiding van Duitsland tussen Katolieke en Lutherane was dus permanent gemaak in 1555. Gedurende later jare is die ernstigste uitdaging vir hierdie stand van sake in die Dertigjarige Oorlog (1618-1648) gemaak. Gedurende die verloop van hierdie verskriklike oorlog tussen die vorste van die Katolieke Bond en die Protestantse Unie, is byna die helfte van die bevolking van Duitsland na bewering deur die swaard, hongersnood of pes uitgewis. Met die Vrede van Westfalia het dit uiteindelik geëindig met ongeveer dieselfde godsdienstige verdeling soos wat beslis was in die Vrede van Augsburg.

Die godsdienstige haat, politieke verdeeldheid en onophoudelike oorlog het voortgeduur in die nasleep van die Lutherse hervorming. Die verval van openbare sedes was ook ’n opvallende faktor, soos ons sal sien.

Luther se politieke en godsdienstige alliansie met die Duitse vorste het die lotsbestemming van sy saak van die begin af in hulle hande geplaas. Hierdie godsdienstige patriotisme het op sy beurt weer die weg voorberei vir die sterk nasionale staat in Duitsland – ’n staat wat in meer onlangse tye groot dele van die wêreld in bloed gedompel het onder Keiser Wilhelm II en Adolf Hitler.

Voordat ons die leerstellings en gebruike van die Lutheraanse beweging en die uiteindelike gevolg van hierdie godsdienstige opstand ontleed, sal ons eers die verloop van die Hervorming in ander lande soos Switserland, Frankryk en Engeland bespreek.

Alle owerhede het egter saamgestem dat die “belangrikste dryfkrag” in Protestantse geledere Luther self was en dat die Hervorming as geheel meer vanuit hierdie bron as deur enige ander geaktiveer is. Ons sal slegs die hooftrekke van hierdie verloop gee.

Sodat ons nie ons perspektief in die doolhof van geskiedkundige gebeure, plekke en persoonlikhede verloor nie, laat ons onsself weer afvra: Was die Protestantse Hervorming ’n beweging wat deur Christelikheid van die Apostels geaktiveer was? Was sy “vrugte” die gevolg van die werking van die Heilige Gees?

Die skokkende feite van die geskiedenis het openbaar hoedat Martin Luther se leerstelling van “geloof alleen”, tot geestelike verval op baie gebiede gelei het. Dit het getoon hoe Luther se politieke betrokkenheid met die Duitse vorste hom daartoe gelei het om bigamie te verskoon en die edeles aan te moedig om hulle boere in die berugte Boere-Oorlog “dood te slaan, te verwurg en dood te steek, in die geheim of in die openbaar”. Selfs aan die einde van sy lewe leer ons dat Luther se striemende aanval wat teen die Jode geloods was later weer aanklank gevind het onder Hitler se Derde Ryk, alhoewel anti-Semitisme in die tussentyd glad nie dood was nie.

Regdeur dit alles het ons gevra: Was die Protestantse beweging ’n ware “hervorming” van die een ware Kerk wat Jesus belowe het om te bou? (Matthéüs 16:18). Was dit ’n opregte, gees-geleide terugkeer na die “geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is”? (Judas: 3).

Nou sal ons voortgaan met hierdie openbarende ontleding van die Hervorming met die dramatiese verhaal van die vordering daarvan in Switserland. Ons sal eers aandag skenk aan die man wat die hervormingsbeweging in daardie land begin het. Hy is redelik onbekend aan die meeste moderne kerkgangers, maar het nogtans ’n sterk invloed uitgeoefen op die oortuigings en gebruike wat baie Protestantse kerke tot vandag toe beoefen. Sy naam was Ulrich Zwingli.

Die Zwingliaanse Hervorming

Gedurende die vroeë jare van die Lutherse hervorming het ’n beweging wat in baie opsigte daarmee ooreengestem het, in Switserland begin. Die leidende krag van hierdie beweging in sy vroeë stadiums was Ulrich Zwingli.

Zwingli is in 1484 in die bergdorp Wildhaus gebore en was ’n briljante student van jongs af. Hy het aan die Universiteit van Wene studeer en het daarna na Basel gegaan. Hy het verdiep geraak in humanisme en het later begin om die Griekse Testament wat deur Erasmus gepubliseer is te bestudeer. Hieruit het hy die sendbriewe van Paulus eiehandig gekopieer sodat hy dit kon memoriseer.

Benewens sy akademiese belangstellings was Zwingli ook ’n ywerige patriot en wou die korrupte maatskaplike en politieke lewenswyse van sy land hervorm. Omkoopgeld en kerklike posisies was deurgaans aan invloedryke Switsers aangebied om hulle samewerking te verkry in die stryd teen die pous of die Franse koning (Hausser, bll. 127-128).

Nadat hy sy meestersgraad aan die Universiteit van Basel verwerf het, is Zwingli deur die invloed van sy oom as ’n gemeentelike priester aangestel. Hy het selfs vir ’n tyd lank ’n pensioen van die pous ontvang omdat hy ingestem het om Switserse jeugdiges te huur om as huursoldate in die pous se leër te dien (Walker, bl. 360).

Hy was uiteindelik daartoe gelei om hierdie praktyk om huursoldate te werf, te veroordeel as gevolg van sterk Franse aktiwiteite van dieselfde soort in sy eie gemeente. Zwingli was toe in staat om van sy bedrywighede oor te plaas na die beroemde pelgrims-heiligdom van Einsiedeln, wat sy invloed en reputasie grootliks uitgebrei het.

Zwingli se leerstellige ontwikkeling

Gedurende hierdie tyd was Zwingli gelei om die nutteloosheid van die bygelowige pelgrimstogte, wat elke jaar na die godsdienstige heiligdomme in Einsiedeln gemaak is, in te sien en hy was ook gelei om teen ene Samson, ’n verkoper van aflate, te preek.

Hy het in hierdie tyd ook voortgegaan met sy bestudering van die Skrif en het begin om ’n leerstelling van regverdigmaking te ontwikkel, soortgelyk aan dié van Luther. Hy het sommige van die humanistiese lesings wat hy by die universiteit gehoor het onthou, wat die waardeloosheid van aflate blootgestel het en die dood van Christus bevestig het as die enigste prys vir vergifnis. Hy het begin voel dat die Skrif die enigste gesag is en om dit te bestudeer het hy baie idees ontwikkel wat in sy latere leerstellings na vore gekom het.

In 1518 is Zwingli na die katedraalkerk van Zürich oorgeplaas. Hy het nou sy pouslike pensioen geweier en het alle buitelandse verstrengelings van die Switsers teengestaan. Dit was eers in 1522 dat Zwingli finaal met Rome gebreek het.

Terwyl sommige van sy gemeentelede die vastyd [Lenten fast] verbreek het, na aanleiding van Zwingli se leerstelling van die Skrif as enigste gesag (Hausser, bl.132), het hy in hulle verdediging gepreek en gepubliseer. Die biskop van Constantia het ’n kommissie gestuur om die nuwighede te onderdruk. Zwingli het nou ’n beroep op die burgerlike owerhede gedoen en die burgemeester van Zurich het uiteindelik beslis dat slegs die dinge wat in die Skrif geleer word verkondig moes word. Die pad was dus oop vir ’n godsdienstige en politieke rewolusie.

Vinnige veranderings vind plaas

Nuus van Lutherse Hervorming in Duitsland het nou die grootste deel van Switserland bereik en dit was ’n addisionele aanmoediging vir hulle saak. Baie van Luther se geskrifte is ook onder die Duitssprekende Switsers versprei en sy leerstelling van regverdigmaking deur geloof alleen was toe oor die algemeen verstaan (Fisher, George P. The Reformation, Scribner, 1873. bl. 147).

Ons sal egter sien hoedat Zwingli met die hulp van die burgerlike owerhede, wat siek en sat was vir Roomse tirannie, selfs ’n groter verandering kon bewerkstellig as wat Luther kon.

Zwingli het geglo dat die opperste gesag die Christelike gemeenskap was en dat die uitoefening van daardie gesag moes geskied deur behoorlik gekonstitueerde organisasies van burgerlike regering wat in ooreenstemming met die Skrif opgetree het. Slegs dít wat die Bybel beveel of waarvoor duidelike magtiging in die bladsye daarvan gevind kan word, is bindend of toelaatbaar (Walker, bl. 361).

Vanweë sy sterk oortuiging dat die Bybel die volledige gids vir leerstelling en praktyk behoort te wees, het Zwingli veel verder as Luther gegaan in sy hervorming. Sy gesindheid jeens die heidense seremonies en feeste wat in die Katolieke kerk ingesypel het, was baie strenger as dié van Luther. “Terwyl Luther geneig was om alles onaangeraak te laat wat die Bybel nie verbied nie, was Zwingli meer geneig om wat die Bybel nie voorgeskryf het nie, te verwerp” (Fisher, The Reformation, bl. 145).

Zwingli het nou met die proses begin om provinsiale amptenare sover te kry om sy leerstellings te ondersteun. Hy het gereël vir ’n openbare debat oor sewe-en-sestig artikels, wat die Katolieke leerstellings oor die mis, goeie werke, voorbidding van heiliges, kloostergeloftes en die bestaan van vagevuur ingesluit het. Die Bybel moes die gesag wees waarop die bespreking gegrond was. “In die daaropvolgende debat het die regering Zwingli as die oorwinnaar verklaar, omdat dit bevestig is dat hy nie aan kettery skuldig bevind is nie en hulle het beslis dat hy sy prediking moes voortsit. Dit was ’n onderskrywing van sy leerstelling” (Walker, bl. 362).

Baie veranderings het nou plaasgevind. Die priesters en nonne het begin trou. Daar is weggedoen met beelde, aandenkings en liggaamsdele. Die staat het in 1524 begin om beslag te lê op kerklike eiendomme. In dieselfde jaar is Zwingli getroud met ’n vrou met wie hy sedert 1522 saamgewoon het – nie sonder ’n groot skandaal nie (Walker, bl. 363).

As gevolg van die politieke waarde van Switserland in die oorloë, het die pous nie gedurende hierdie tydperk direk met die Zwingliaanse-beweging ingemeng nie. Zwingli het die uitbreiding van sy beweging dwarsdeur Switserland aangemoedig. Die meeste van die stede het gou onder die invloed van sy leerstellings gekom en selfs die groot Duitse stad Strasbourg was oorgehaal tot die Zwingliaanse, eerder as die Lutherse standpunt.

Dit is egter belangrik om daarop te let dat die veranderings nie eintlik gepaardgegaan het met die grootskaalse bekering van die individue in hierdie stede, na Zwingli se leerstellings nie. Dit was eerder ’n gekombineerde polities-godsdienstige beweging wat deur die Switserse Republikeinse Party ondersteun is, die party wat begin het om alles wat Rooms was teen te staan. Dit was hierdie einste alliansie met die politiek wat weldra tot Zwingli se dood op die slagveld gelei het.

Zwingli se basiese leerstellige standpunt

In 1525 publiseer Zwingli sy belangrikste teologiese werk, die “Commentary on True and False Religion”. Fisher som sy leerstellige standpunt so op:

Alhoewel hy in die meeste opsigte gehou het by die gewone Protestantse beskouing, het hy van hulle verskil in die leerstelling van die Sakrament, soos hierna verduidelik sal word. Hy het die uitverkiesingsleer as ’n filosofiese beginsel beskou, maar onderrig dat Christus die hele menseras verlos het. Hy het erfsonde beskou as ’n versteuring eerder as ’n toestand wat met ’n skuldgevoel geassosieer word. Hy het geglo dat die wysgere van antieke tye deur die Goddelike Gees verlig was en in sy katalogus van heiliges het hy Sokrates, Seneca, die Catos en selfs Hercules ingesluit (Fisher, The History of the Christian Church, bl. 308).

Hier merk ons dat Zwingli die doel en aard van God se Heilige Gees so heeltemal verkeerd verstaan dat hy hom verbeel het dat dit die antieke heidense filosowe gelei het. Die apostel Paulus het egter duidelik na hulle immorele lewens en leerstellings verwys in sy brief aan Christene in Rome (Romeine 1:18-32).

Natuurlik keur baie Protestantse skrywers Zwingli goed vir sy “breë” sienings oor die heidense bespiegelaars. Hastie prys Zwingli se siening: “Met ’n mate van denke en gevoelens wat seldsaam was vir sy tyd, het hy ’n goddelike inspirasie bemerk in die gedagtes en lewens van die edeler geeste van antieke tye, soos byvoorbeeld Sokrates, Plato en Seneca en hy het selfs gehoop om hulle in die hemel te ontmoet” (Hastie, William. The Theology of the Reformed Church in Its Fundamental Principles, Clark, 1904. bl. 184).

Zwingli se begeerte om hierdie antieke filosowe in die hemel te ontmoet, is insiggewend vir die ware student van die Skrif. Hy het baie uiterlike Katolieke gebruike ten goede verander en Luther se fundamentele leerstelling van regverdiging aangeneem, maar sy algehele konsep van God en die uiteindelike doel van verlossing was nog steeds wesenlik dié van die Rooms-Katolieke kerk.

Die Lutherse en Zwingliaanse takke van die Protestantse beweging het skaars begin ontwikkel toe hulle betrokke geraak het in ’n hewige getwis oor die leerstelling van die Nagmaal, soos hulle dit genoem het. Dit was ’n fundamentele saak vir albei partye en nie een van hulle wou toegee of terugstaan vir die ander een nie.

Die twispunt oor die Nagmaal

Luther het volgehou dat die letterlike teenwoordigheid van die verheerlikte liggaam en bloed van Christus werklik in die brood en wyn is. Op een of ander geheimsinnige wyse word Sy liggaam en bloed werklik ontvang deur die Nagmaalganger of hy glo of nie.

Aan die ander kant ontken Zwingli dat Christus teenwoordig is in enige sodanige opsig en het geglo dat die Nagmaal slegs ’n gedenkdiens van Sy versoenende dood is.

In die geskil was daar weinig liefde aan albei kante getoon. Zwingli het gedink dat Luther se idee van die fisiese teenwoordigheid van Christus in die Nagmaal ’n Katolieke bygeloof is. Hy het gesê dat ’n fisiese liggaam net op een plek kon wees en dat Christus aan die regterhand van die Vader in die hemel is.

Luther het Zwingli daarvan beskuldig dat hy die menslike rede bo die Skrif verhef. Hy het probeer verduidelik dat die fisiese teenwoordigheid van Christus op tien duisende altare, gelyktydig, ’n skolastiese aanname is, dat die eienskappe van Christus se goddelike natuur nie aan sy menslike natuur gekoppel is nie en Hy kon dus as gees oral gelyktydig wees.

Moontlik is die betekenisvolste ding wat hierdie geskil duidelik getoon het – watter een ookal reg was – dat hulle nie van dieselfde gees was nie. Van toe af kon hulle nie eerlik daarop aanspraak maak dat die een Heilige Gees van God besig was om hulle in die waarheid te lei nie of dat hulle een in Christelike gemeenskap was nie. “Luther het verklaar dat Zwingli en sy ondersteuners gladnie Christene is nie, terwyl Zwingli beweer het dat Luther erger was as die Roomse kampvegter Eck. Zwingli se standpunte het egter nie net die Duitssprekende Switserland se goedkeuring weggedra nie, maar ook groot dele van Suidwestelike-Duitsland. Die Roomse party was verheug oor hierdie duidelike verdeling van die Evangeliese magte” (Walker, bl. 364).

Die vurige geskil oor hierdie punt het oor baie jare gestrek en het ’n reeks pamflette, preke en besprekings ingesluit. Die belangrikste en, wat die uitslae betref, die finale besprekings tussen die hervormers oor hierdie punt, het in Marburg in die kasteel van Philip I, die Landgraaf van Hesse van wie vroeër gepraat is, plaasgevind. Philip, soos ons sal onthou, het op hierdie stadium self sulke groot seksuele probleme gehad dat hy selde aan die Nagmaal deelgeneem het, weens ’n skuldige gewete (Walker, bl. 377). Ons mag byvoeg dat dit vreemd is dat ’n egbreker, ’n bigamis en ’n dronkaard soos die Landgraaf, een van die lekeleiers in die Hervormingsbeweging was.

Philip was egter een van die politieke steunpilare van die Protestantse beweging en wou graag hê dat die twee hervormingspartye ’n ooreenkoms moes bereik, indien enigsins moontlik. Hy het daarom die leiers van albei partye uitgenooi om by sy kasteel byeen te kom en op 1 Oktober 1529 het die besprekings begin.

Alhoewel Luther agterdogtig was oor die leerstellings van die Switsers oor die drie-eenheid en die erfsonde, was die belangrikste geskilpunt die teenwoordigheid of afwesigheid van Christus se fisiese liggaam gedurende die Nagmaal. Luther het aangedring op ’n letterlike interpretasie van die woorde: “Dit is my liggaam”. Zwingli het daarby gehou dat ’n fisiese liggaam nie tegelykertyd op twee plekke kon wees nie. Alhoewel die besprekings vir ’n paar dae geduur het, was dit vir hulle onmoontlik om ooreen te stem en die twee partye het uiteindelik uitmekaar gegaan – terwyl albei die “Christelikheid” van die ander betwyfel het (Kurtz, J. H. Church History, Vol. II, 1891, bl. 273).

Die Landgraaf het ’n finale vergadering van die hervormers gereël en hy het hulle die belangrikheid daarvan om tot ’n soort vergelyk te kom, op die hart gedruk.

Die laaste vergadering tussen Luther en Zwingli

Schaff beskryf hierdie vergadering as volg:

Op [’n] Maandagoggend het hy weer ’n privaat konferensie tussen die Saksiese en die Switserse Hervormers belê. Hulle het vir die laaste keer op aarde ontmoet. Met trane in sy oë het Zwingli vir Luther genader en die hand van broederskap uitgereik, maar Luther het dit geweier en gesê: “Joune is ’n ander gees as ons s’n”. Zwingli het gedink dat verskille in nie-noodsaaklikhede, met eenheid in noodsaaklikhede, nie Christelike broederskap verbied nie. “Laat ons”, het hy gesê, “ons eenheid bely in alle dinge waarin ons saamstem; en sover dit die ander betref, laat ons onthou dat ons broers is. Daar sal nooit vrede in die kerke wees as ons nie mekaar se verskille op sekondêre punte kan verdra nie”. Luther het egter die liggaamlike teenwoordigheid as ’n fundamentele leerstelling beskou en Zwingli se ruimhartigheid as onverskilligheid teenoor die waarheid beskou. “Ek is verbaas”, het hy gesê, “dat jy my as jou broer wil beskou. Dit toon duidelik dat jy nie veel waarde aan jou leerstellings heg nie”. Melanchthon het die Switser se versoek as ’n vreemde teenstrydigheid beskou. Toe hy hom na die Switser draai, het die Wittembergers gesê: “Jy behoort nie aan die gemeenskap van die Christelike Kerk nie. Ons kan julle nie as broers erken nie”. Hulle was egter bereid om hulle in te sluit in die universele liefdadigheid wat ons aan ons vyande verskuldig is. (Schaff, Philip, History of the Christian Church, Vol. VII, Hendrickson, 1996 (1888). bll. 644-645).

Ons sien dus dat Luther en Zwingli uitmekaar gegaan het, nie met die gevoel dat die Switserse party deur die Heilige Gees gelei is nie, maar dat Zwingli deur ’n ander “gees” as hyself gelei is. Daar is inderdaad genoeg getuienis, selfs onder Protestantse skrywers, dat die hervormers nie die “eenheid van die Gees” gehad het wat slegs God se Gees kan bring nie.

Let op Plummer se verslag oor Zwingli se begeerte om hierdie patetiese meningsverskil te vermy:

Daar is egter geen rede om sy verklaring te betwyfel dat hy sorgvuldig vermy het om met Luther te korrespondeer nie, omdat hy sê: “Ek het begeer om aan alle mense die eensgesindheid van God se Gees te wys, soos dit gemanifesteer word in die feit dat ons, wat so ver van mekaar verwyderd is, eensgesind is met mekaar, tog sonder botsing”. Soos die hele wêreld weet; het hulle nie in eensgesindheid gebly nie en dit is een van die baie hartseer feite in die geskiedenis van die Hervorming, dat Luther die gewelddadige dood van Zwingli, as ’n oordeel oor hom verklaar het vir sy eucharistiese [Nagmaal] leerstelling (Plummer, bll. 141-142).

Zwingli se dood

Kort ná die Marburg-konferensie het ’n oorlog tussen die provinsies van Switserland uitgebreek, wat tot Zwingli se dood gelei het. Dit het begin as ’n direkte gevolg van die poging van die Protestantse stede om die Katolieke provinsies te laat uithonger totdat hulle hulle onderwerp het en eindig met die Katolieke wat ván die ondersteuning wat hulle voorheen verloor het, weer terug te wen.

Die moeilikheid het ontstaan as gevolg van die vervolging van die Protestante in die Katolieke provinsies. Die optrede van die Katolieke provinsies het ’n bedreiging geword en Zwingli het aanbeveel dat daar na drastiese stappe oorgegaan word as laaste uitweg om hulle tot onderwerping te dwing.

Die belangrikste eise wat regtig gemaak is, was dat die Protestantse leerstelling, wat in die minder belangrike provinsies bely is, ook in die belangriker provinsies verdra moes word en dat die vervolging daar gestaak moes word. Die vraag was egter of selfs hierdie eise afgedwing sou kon word. Zwingli was ten gunste van oorweldiging van die vyand deur ’n direkte aanval en om regverdige toegewings van hulle kant af, af te dwing. Hy was egter uitgestem en daar was op verslapte maatreëls teruggeval. Daar is probeer om die Katolieke provinsies te dwing deur geen interaksie en dus hulle voorrade af te sny. Die effek was dat die Katolieke hul kragte kon saamvoeg terwyl die Protestantse stede as gevolg van jaloesie en onenigheid verdeeld was oor wat die beste beleid sou wees om te aanvaar. Zürich is sonder enige hulp gelaat om as gevolg van oorhaastige en onvoldoende voorbereiding die gekombineerde mag van die Katolieke party te konfronteer. Die Zürichse mag is op 11 Oktober 1531 in Cappel verslaan en Zwingli, wat as ’n kapelaan saam met sy mense gaan veg het, het gesneuwel (Fisher, The Reformation, bll. 153-156).

Waarom Zwingli in die oorlog gesneuwel het

Die wrede waarheid is dat Zwingli se gewelddadige dood ’n direkte gevolg was van sy eie dade. Hy het nie ag geslaan op die Skrifbevel om homself “vlekkeloos te bewaar van die wêreld” (Jakobus 1:27) nie. Terwyl hy nagelaat het om Christus se verklaring toe te pas: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie” (Johannes 18:36), het Zwingli aanhoudend gebruik gemaak van politiek en fisiese mag om die resultate te verkry wat hy wou hê.

Soos Fisher sê: “Zwingli was ’n patriot en ’n maatskaplike hervormer” (Fisher, The Reformation, bl. 145). Net soos Luther het hy vertrou op die vorste van hierdie wêreld.

Daarom lyk Zwingli se gewelddadige dood op die slagveld – in ’n wesenlike godsdienstige oorlog wat hy self aangemoedig het – na ’n opvallende bevestiging van Christus se waarskuwing: “... want almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vergaan” (Matthéüs 26:52).

Na sy dood kon die hervormde party nog steeds die oorwinning behaal. Dit was egter nie verenig nie en elke stad wou die hoofstad wees van ’n voorgestelde konfederasie en was dus jaloers op mekaar. Gevolglik was hulle gedwing om ’n vernederende vrede te sluit en hulle moes sommige van die oorwinnings afstaan wat hulle voorheen gemaak het (Kurtz, bl. 269).

Ons sien dus verdeeldheid onder die volgelinge van Zwingli en selfs ’n groter verdeeldheid tussen hulle en die Lutherane. Daardie selfde gees van wedersydse vyandigheid het besit geneem van baie van hulle Protestantse opvolgers in volgende geslagte.

’n Mens hoef net rondom jou te kyk om die honderde verskillende Protestantse kerke te sien. Vir ’n skyn van eenheid, noem hulle hulself soms gesamentlik die “Kerk van Christus”. Hulle is egter hoegenaamd nie van dieselfde gees nie.

Heel aan die begin van hierdie onderlinge verdeeldheid tussen die Protestantse kerke was Martin Luther bereid om hierdie feit in die gesig te staar. Verwysende na Zwingli en sy volgelinge het hy gesê: “Enige een van die twee partye moet noodwendig in Satan se diens wees; geen bespreking van die saak word toegelaat nie – daar is geen moontlikheid van ’n kompromie nie” (Alzog, Universal History, bl. 352).

Só het die godsdienstige verdeeldheid en verwarring van ons tyd dus begin. Ons doel is om te bepaal of hierdie Protestantse stelsel – of enige deel daarvan – ’n ware herinstelling is van die een ware Kerk wat Jesus Christus gesê het Hy sal bou.

Volgende keer sal ons met ’n studie van hierdie aangrypende reeks oor die Hervorming en die geweldige invloed wat Johannes Calvyn daarop gehad het voortgaan. U sal verbaas wees om die waarheid oor die oorsprong van baie moderne Protestantse idees te ontdek!