Die eerste aflewering in hierdie reeks het die ontstellende feit geopenbaar dat ’n radikale verandering oor die nominale “Christenskap” gekom het kort ná die dae van die oorspronklike Apostels. Heidense seremonies, gebruike en tradisies was vinnig in die belydende Christelike kerk aanvaar.

Ons het van die korrupsie en losbandigheid van die Katolieke kerk gedurende die Middel- of “Donker”-eeue geleer. Ons het geleer hoe mense soos Wycliffe, Huss en Savonarola nie in staat was om hierdie goddeloosheid van binne die georganiseerde kerk van hulle dag uit te roei nie. Baie mense het met hulle lewens betaal!

Laat ons nou na die werklike faktore kyk wat veroorsaak het dat mense teen die gesag van die Rooms-Katolieke kerk gerebelleer het. Weereens, laat ons onsself hierdie vrae afvra: Was dit ’n opregte, gees-gemotiveerde terugkeer na die “geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is”?

Onmiddellike oorsake van die Hervorming

Baie moderne Protestante het aanvaar dat die Hervorming ’n suiwer godsdienstige beweging was. Hulle sien in hulle geestesoog visioene van ’n menigte opregte mense dwarsdeur Duitsland en Europa wat heelhartig ’n terugkeer na die Apostoliese [oorspronklike] geloof en gebruike gesoek het.

Dit is egter nie ’n akkurate prentjie nie.

Dit is ’n geskiedkundige feit dat daar baie selfsugtige en materialistiese redes was waarom die Hervorming plaasgevind het tóe asook hóe dit gebeur het. Baie van die redes was geensins met ’n suiwer godsdienstige motief nie.

Daar is geen twyfel dat politieke, intellektuele en finansiële oorwegings ’n prominente rol gespeel het in die totstandkoming van die Hervorming van die sestiende eeu nie. ’n Toenemende gevoel van nasionalisme het veroorsaak dat mense soos die Duitsers, Franse of Engelse gevoel het dat hulle gemeenskaplike belange het wat teenstrydig was met die van alle buitelanders, selfs dié van die pous.

Namate die stede van Europa groter en hulle meer invloedryk geword het, het die toename in opleiding, welvaart en politieke invloed van die middelklas hulle voorberei om ’n deurslaggewende rol in die komende omwenteling te speel. Hulle het begin ongeduldig raak met die konstante kerklike inmenging in wêreldsake (Walker, Reginald F. An Outline History of the Catholic Church, Newman Press, 1944. bl. 289).

Gepaardgaande met hierdie nasionale gevoel, het die toename van onbeperkte mag die verskillende heersers meer onafhanklik van die Stoel van Rome laat voel en hulle het dikwels probeer om onbeperkte beheer van kerklike aanstellings binne hulle gebied te verseker. Dit was die begin van ’n neiging wat later in staatsbeheerde kerke in baie lande ’n hoogtepunt bereik het. Die opvallende vriendskap tussen die pouse en die konings van Frankryk gedurende die Avignon-tydperk, het in ander nasies aanleiding gegee tot ’n algemene agterdog van pouslike motiewe. Hierdie skandaal is vererger deur die verhoging van pouslike belasting gedurende hierdie tydperk, toe “die verskuiwing van die pousdom na Avignon die inkomste van die pouslike eiendomme in Italië grootliks afgesny het, sonder om die luuksheid of duur uitgawes van die pouslike hof in te boet” (Walker, bll. 292, 296).

Baie klagtes is nie net deur individue uitgespreek teen die baasspelerige oorheersing van die pouse, die bedrog, geweld, gierigheid en ongeregtigheid van Rome nie, maar ook deur die meeste magtige konings en deur hele nasies. Die astrantheid en tirannie van die pouslike gesante, gepaardgaande met die misdade, onkunde en morele verdorwenheid van priesters en monnike, het veroorsaak dat mense oral gesmag het na ’n hervorming van die kerk “in sy hoofde en sy lede” (Mosheim, John L. Institutes of Ecclesiastical History, Volume 3. bl. 24).

Terselfdertyd as al hierdie geweld, was daar die merkwaardige beweging, bekend as die Renaissance of ook as die ontwaking van Europa, wat gelei het tot ’n nuwe belangstelling in wetenskap, letterkunde en kuns. Dit was ’n beweging wat die verandering van middeleeuse tot moderne idees, kultuur en denkwyses teweeggebring het.

Indien ons die hervorming wat volg wil verstaan, moet ons eers die wisselwerking en optrede ondersoek van elk van hierdie faktore wat so ’n belangrike rol gespeel het in sy verloop en finale resultaat

Politieke en finansiële oorsake vir hervorming

Soos ons gesien het, het pouslike mag sy hoogtepunt onder Hildebrand (1073-1085) bereik. Hy het homself – selfs meer as sy voorgangers – ten doel gestel om die “Heilige Romeinse Ryk” totaal ondergeskik aan die Roomse Kerk te maak. Die voortsetting van hierdie inisiatief het ’n langdurige stryd om mag tussen die pousdom en die Ryk veroorsaak. In hierdie stryd het die pouse baie groter voorsprong bo die keisers gehad. Die werklike gesag van keisers in gebiede waar hulle geheers het, was ver van gelykstaande aan gebiede wat deur die kerk oorheers is. ’n Baie effektiewe bydrae was gevind in die ingesteldheid van die Duitse prinse self wat die mag van die keisers gekontroleer het. In die kruistogte het die pouse die geleentheid gehad om die godsdienstige entoesiasme van die gewone mense van alle nasies te lei (Fisher, George P. The Reformation, Scribner, 1873, bll. 26-28).

Uiteindelik het die pousdom getriomfeer in hierdie stryd en die berouvolle keiser, Henry IV, was gedwing om homself onderdanig te verklaar aan Pous Hildebrand om die trou van sy onderdane te behou. Ons sien dus die spektakel van die kerk wat oor die staat regeer en sý wil aan konings en keisers dikteer.

Die kerk het inderdaad die Ryk lank reeds tot ’n mate oorheers, maar nooit so volkome nie. “In die agtien jaar (1198-1216) waarin Innocent III regeer het, het die pouslike instelling in volle glorie glansryk geskyn. Die afdwinging van selibaatskap het die hele liggaam van die geestelikes in ’n nouer verhouding met die soewereine pous geplaas. Die plaasvervanger van Petrus het die plaasvervanger van God en van Christus geword. Die koning was in vergelyking met die Pous, so ver verwyder soos die maan van die son. ’n Kleiner liggewer wat met geleende lig skyn”. (Fisher, bll. 29-30).

Ons sien dus dat die pouse hulleself as God op aarde voorgestel het. Hulle het verkondig dat Jesus Christus Sy duisendjarige heerskappy op aarde deur hulle gaan vestig.

Voordat hierdie pouslike mag egter lank genoeg uitgeoefen kon word, het dit duidelik geword dat daar nuwe magte in Europa tot stand gekom het om sy oppergesag uit te daag. Die patriotisme van die mense in baie lande het gevolglik ’n onwilligheid gehad om hulle te onderwerp aan buitelandse oorheersing oor hulle eie nasionale kerke. Daar was ’n onwilligheid om ’n “Petruspenning” vir die bou van pragtige katedrale in Rome te betaal (Hurlbut, Jesse L. The Story of the Christian Church, Zondervan Uitgewers, 1970, bl. 118).

Misbruik van Godsdienstige ampte

In die uitoefening van sy politieke en finansiële mag was die Katolieke kerk besig om sy eie ondergang te bewerkstellig. Dit wou voorkom of die pouse ’n onversadigbare drang na geld gehad het. Hierdie rykdom was nie net gebruik in hulle najaging van ’n wellustige en gemaklike lewe nie, maar om vriende en mag te koop. Die Roomse biskoppe was in staat om hierdie geld van hulle niksvermoedende volgelinge in te vorder op verskillende maniere wat onder die dekmantel van godsdiens verberg was.

John Mosheim beskryf hierdie misbruik van mag: “Hierdie slenterstreke word aflaatgeld genoem. Dit is die vryheid om strawwe van sondes af te koop deur geld vir vrome gebruike by te dra. Hierdie gebruik van aflaatgeld het ’n vername plek beklee. Die biskoppe het hulle tot hierdie bron van inkomste gewend sodra die pouslike tesourie se finansies uitgeput geraak het. Dit was tot groot nadeel van openbare belang. Onder sommige geloofwaardige, maar meestal valse voorwendsels, was die onkundige en vreesagtige mense mislei deur die algemeen losbandige en sedelose smouse van aflate, met die belofte van groot voordele wat dit sou inhou” (Mosheim, bl. 88).

Hierdie skandale het in die oë van baie Duitse prinse byvoorbeeld, ’n baie goeie rede verskaf om die pouslike juk af te gooi – hetsy deur “hervorming” of opstand – ten einde hulleself van pouslike belasting en inmenging te bevry en om beslag te lê op die rykdom van die kerke en kloosters. Luther se latere aanval op die pouslike finansiële beleid en belasting het dadelik van hom ’n held van die Duitse middelklas en indirek ook van al sy landgenote gemaak wat lankal gevoelens van wrewel teenoor die slinkse en gemaksugtige Italianers gekoester het.

Dieselfde situasie het naastenby in Engeland bo-toon gevier. Koning Henry VIII het die grootste deel van die koninklike geldkas vermors wat hy van sy nog meer geslepe pa geërf het. Terselfdertyd was daar toenemende ontevredenheid onder die adellikes as gevolg van buitensporige hoë pouslike belasting. Die oorvloedige rykdom van die kloosterordes sou ’n baie goeie opbrengs lewer indien die pouslike gesag beëindig kon word. Dit is beduidend dat een van Henry se eerste aksies was – nadat hy homself as die “opperhoof van die kerk en geestelikes van Engeland” verklaar het – om te beveel dat beslag op die rykdom van die kerk gelê word, veral op dié van die kloosterordes.

Deur koninklike nalatigheid en buitensporighede het daar ’n groep “aandeelhouers” te voorskyn gekom wat die kloosterbuit gedeel het. Onder hierdie delers was diegene wat gevestigde belange gehad het in die voortgesette skeiding van die kerk van Rome. Hierdie groep was ’n invloedryke waarborg teen enige latere stappe vir versoening met die pousdom (Walker, bl. 56).

In die lig van hierdie vele versoekings en die nasionalistiese neiging wat reeds aan die gang was, moes dit die primêre belang van die pouse gewees het om die politieke en finansiële besware van verskeie nasies te versoen. Dit was egter nie die geval nie.

Terwyl die pousdom alles moontlik moes doen om te verhoed dat die volke van Europa met hulle meedoënlose finansiële beleid nog meer ergerlik word, het dit net die teenoorgestelde reaksie gehad. Pouse het dikwels die rykdom wat hulle van aflaatgeld verkry het asook die verkoop van kerklike ampte, gebruik om hulle eie familielede te verryk of om die state van die Roomse Kerk te versterk.

Fisher beskryf die ellendige karakter van sommige van hierdie pouse: “Innocent VIII het, behalwe om die rykdom van sewe buite-egtelike kinders te verhoog en twee oorloë met Napels te voer, ’n jaarlikse omkoopsom van die Sultan ontvang om laasgenoemde se broer en mededinger in die gevangenis aan te hou, in stede daarvan om hom te stuur om ’n aanval teen die Turke, die vyande van die Christendom, te lei. Alexander VI, wie se boosheid aan die donker dae van die pousdom in die tiende eeu herinner, het hom besig gehou om ’n vorstedom vir sy gunsteling seun, die monster van verdorwenheid, Caesar Borgia, op te bou. Hy het ook skatte versamel deur middel van onedele en wrede metodes, ter ondersteuning van die losbandige Roomse hof. Daar word gesê dat hy van die gif gesterf het wat hy laat voorberei het vir ’n ryk kardinaal wat op sy beurt weer die hoofkok omgekoop het om dit vir die Pous self voor te sit” (Fisher, bll. 44-45).

Dit is dus duidelik dat toe die hervormers hulle pleidooie vir ’n breuk met die pouslike gesag begin het, die wye reaksie dikwels nie soseer vanuit opregte godsdienstige motiewe gekom het nie, maar van die praktiese en ingebore begeerte van baie mense om vir hulleself die politieke en finansiële belonings toe te eien wat tot op daardie stadium deur die Roomse Kerk teruggehou of beheer is.

Die Renaissance

Nog ’n belangrike faktor in die voorbereiding van die weg na die Hervorming, was die herlewing van onderwys, letterkunde en kuns wat die Renaissance genoem is. Die leiers van hierdie beweging was nie gewoonlik priesters of monnike nie, maar leke. Dit het as ’n literêre beweging begin en was nog nie openlik anti-godsdienstig nie, maar slegs skepties en ondersoekend. Dit was sterk ondersteun deur Gutenberg se uitvinding van die drukpers in 1455. Vir die eerste keer kon boeke nou by die duisende wyd versprei word en dit is van belang dat die Bybel die eerste boek is wat gedruk was.

Die Renaissance het patriotisme aangemoedig en het gedien om die produksie van ’n nasionale letterkunde te inspireer. Dit het onafhanklikheid van gedagte en nasionale beleid aangemoedig en het gelei tot die ontwikkeling van die moderne Europese nasionalistiese konsepte soos ons dit ken. Namate sterk nasionale regerings ontstaan het, het dit natuurlik geneig om die gesag wat as die universele kerk beskou was aan bande te lê. Die invloed van die pous en geestelikes is al hoe meer beperk tot die godsdienstige sfeer, en die diplomatieke beleid van elke nasie het ’n meer onafhanklike rigting ingeslaan.

Verhoogde belangstelling in die heidense klassieke werke het ’n opvallende invloed op die geleerde mense uitgeoefen. Dit het veroorsaak dat hulle weggebreek het van die Middeleeuse skolastiek en in baie gevalle ook met alle sodanige ernstige betrokkenheid by godsdiens.

Die Middeleeuse ideale was wêreldvreemd en het selfverloëning aangemoedig. Die Renaissance het humanisme en die uitdrukking van die ingebore neigings van die mens ingestel. Die gesindheid van vroom afsondering het aanleiding gegee tot die soeke na volle vermaak van alles wat die wêreld kan bied.

’n Rasionele ondersoek na die geskiedenis en literatuur van die verlede het baie dokumente van die kerk aan kritiese ondersoeke onderwerp. ’n Groep van geskiedkundige kritici is deur Lorenzo Valla begin (1405-1457). Hulle het die valsheid van die Skenking van Konstantyn blootgelê en die Apostoliese oorsprong van die Apostels se Geloofsbelydenis ontken. Al hierdie ondersoeke en herlewing van menslike belange, het gedien om die gesag en invloed van die Katolieke kerk te ondermyn.

Ongeveer twee geslagte voor die Protestantse Hervorming het die pouse self probeer om in die gees van die Renaissance te kom. Die pouse van daardie tyd was eerder deur kultuur gekenmerk dan godsdienstige geloof. Dit het natuurlik tot gevolg gehad dat die pouslike hof nog meer wêrelds geword het en ’n toenemende vraag na ’n hervorming van die kerk tot gevolg gehad het.

“Een groot voordeel van die Renaissance was die hernude belangstelling in die studie van Hebreeus en Grieks. Dit het ’n beter begrip van die Bybel bevorder waarop die groot hervormingswerk van Luther, Zwingli en Calvyn gebaseer was. Sonder hierdie voorbereiding sou hulle werk nie moontlik gewees het nie” (Qualben, Lars P. History of the Christian Church, Wipf en Stock Uitgewers, 2008, bl. 199).

Die mees uitstaande Renaissance-geleerde was moontlik Desiderius Erasmus, wat daarvan beskuldig was dat hy “die eier gelê het wat Luther uitgebroei het”. Hy het in verskeie Europese lande studeer. Hoewel hy in die eerste plek ’n Rooms-Katoliek was, het sy uitdagende spotskrifte oor die geestelike mishandeling van sy tyd en sy oproep om terug te keer na die eenvoud van oorspronklike Christenskap, ’n diepgaande invloed op die geleerde mense van sy tyd gehad en het hy deur hulle die massas van die Europese volke bereik.

Erasmus was daarvan oortuig dat die Roomse stelsel met bygeloof en korrupsie gevul was. Tog wou hy nie met Katolisisme breek nie. Hy het dit sentimenteel beskou as die “moeder” van die samelewing en die kunste. Hy was té intellektueel om met die Lutherse opstand te simpatiseer, waarvan die brutale buitensporigheid hom afgestoot het.

“Gevolglik het nie een van die partye in die stryd, wat hy in die laaste deel van sy lewe gevoer het, hom verstaan nie en sy nagedagtenis is deur twis-skrywers, Protestante sowel as Katolieke, veroordeel. Sy eie mening was dat onderwys, die terugkeer na die oorsprong van die Christelike waarheid en die geseling van onkunde en onsedelikheid deur genadelose spotskrif, die kerk sou suiwer. Hy het vir hierdie einddoel gewerk” (Walker, bl. 329).

Ons vind dus dat die humaniste gehelp het om die weg vir die Hervorming voor te berei. Hulle het baie van die Katolieke teologie in onguns gebring. Hulle het mense aangemoedig om die Bybel en vroeë kerkskrywers vanuit ’n nuwe oogpunt te bestudeer. Hulle het gehelp om die idees van die mense uit die Middeleeuse tradisies te bevry en het ’n era begin van onafhanklike geleerdheid en denke wat rondom die begeertes en behoeftes van die mens gesentreer is.

Met die totstandkoming van nasionalisme, die uitvinding van die drukpers en toenemende verspreiding van kennis, sou hierdie intellektuele beweging uiteindelik geweldige veranderings in Middeleeuse Katolisisme sowel as in die vryheid van die individu tot gevolg hê, selfs al was daar geen Luther, Zwingli of Calvyn nie. Dus, toe die Hervorming begin het, is dit voortgedryf tot sukses deur magte wat suiwer intellektueel en dikwels ongodsdienstig van aard was.

Godsdienstige misbruike wat Hervorming vereis het

Die besonderhede van die agteruitgang van die morele waardes en kerklike korrupsie gedurende die tydperk net vóór die Hervorming is so bekend dat dit slegs ’n kort opsomming en ontleding hier benodig. ’n Lewensbelangrike vraag ontstaan nogtans – een wat gewoonlik oorgesien of eenkant toe geskuif word. Dit is die fundamentele vraag of die verheidense, radikaal-veranderde en korrupte godsdienstig-politieke beweging wat die nasies van Europa oorheers het, genoem die Rooms-Katolieke kerk, in werklikheid die regmatige en wettige opvolger van die oorspronklike Apostoliese Kerk was – die een ware Kerk wat Jesus Christus gesê het Hy sal bou.

Soos ons egter later sal sien, baseer die Protestantse kerke as ’n geheel, hulle aanspraak op ’n historiese eenheid met die Apostoliese Kerk, op hulle direkte afkoms van die Rooms-Katolieke kerk, hulle “moederkerk”.

Was hierdie kerk die Kerk wat Jesus gebou het? Was sy leiers en sy lede gevul met en gelei deur die Gees van God? Dit is ’n belangrike punt, want soos die apostel Paulus sê: “Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie” (Romeine 8:9).

Ons kan nie anders as om ons gevolgtrekkings uit die verklarings van erkende geskiedkundiges op hierdie gebied te maak nie. ’n Direkte vergelyking word deur Plummer gemaak: “So gou as wat die herlewing van skrywes veroorsaak het dat die inhoud van die Nuwe Testament en die leerstelling van die vaders bekend geraak het, is ingesien dat dít wat aan die einde van die vyftiende eeu as Christelikheid deurgegaan het, skaars as sodanig herkenbaar was wanneer dit vergelyk word met wat ons weet van Christenskap aan die einde van die Apostoliese tydperk” (Plummer, Alfred. The Continental Reformation in Germany, France and Switzerland from the Birth of Luther to the Death of Calvin. Scribner, 1912. bl. 11).

’n Skilderagtige en omvattende beskrywing van hierdie toedrag van sake soos wat dit die daaglikse lewens van die mense beïnvloed het, word deur die bekende geskiedkundige D’Aubigne gegee: “Kom ons bekyk nou die toestand van die kerk vóór die Hervorming. Die nasies van die Christendom het nie meer opgesien na ’n heilige en lewende God vir die vrye gawe van die ewige lewe nie. Om dit te verkry, het hulle hul beroep op alles wat ’n bygelowige, vreesagtige en verontruste verbeelding kon uitdink. Die hemel was met heiliges en bemiddelaars gevul, wie se plig dit was om hierdie genade te versoek. Die aarde was met vrome werke, offerandes, voorskrifte en seremonies gevul waardeur dit verkry moes word.” (D’Aubigne, Jean H. M., History of the Reformation, R. Carter, 1850. bl. 17).

Christus was as ’n hardvogtige regter uitgebeeld wat bereid was om enige persoon te veroordeel wat nie die voorbidding van die heiliges aangeroep of hulle tot die pouslike aflate gewend het nie.

Baie middelaars [voorbidders] het in die plek van Christus verskyn. Eerstens was dit die Maagd Maria, soos die Diana van die heidendom en daarna die heiliges – wie se getalle voortdurend deur die pouse vermeerder is.

Godsdienstige pelgrimstogte is voorgeskryf as boetedoening vir sonde. Daar was byna net soveel godsdienstige oorde vir pelgrims as wat daar berge, woude en valleie was. Op hierdie pelgrimstogte het die mense geld en enigiets van waarde vir die priesters gebring – hoenders, eende, ganse, byewas, strooi, botter en kaas.

D’Aubigne gaan voort: “Die biskoppe het nie meer gepreek nie, maar hulle het priesters, klokke, monnike, kerke, kapelle, beelde, boeke en begraafplase geheilig. Dit alles het ’n groot inkomste voorsien. Bene, arms en voete is in goue en silwer houers bewaar. Dit was tydens die mis aan die gelowiges uitgedeel om te soen en was ook ’n bron van groot inkomste. Al hierdie mense het volgehou dat die pous ‘in die tempel van God as God sal sit’ en geen fout kon maak nie. Hulle sou geen teëpratery duld nie” (ibid.).

Daar word vertel dat in dieselfde kerk waar Luther in Wittenberg gepreek het, ’n sogenaamde klein stukkie van Noag se ark vertoon is, sowel as ’n stuk hout uit die wieg van Jesus, ’n bietjie hare van die baard van St. Christopher en negentienduisend ander aandenkings.

Hierdie godsdienstige oorblyfsels is op die platteland gesmous en aan die gelowiges verkoop vir die geestelike waarde wat dit veronderstel was om te verleen. Die swerwende verkopers het ’n persentasie van hulle winste aan die oorspronklike eienaars van die aandenkings betaal. “Die koninkryk van die hemel het verdwyn en in sy plek is ’n mark van gruwels op aarde begin” (ibid.).

Die losbandige geestelikes

Indien die lede van hierdie belydende Christendom gedeeltelik verskoon kon word – soos wat baie geskiedkundiges probeer doen, weens die heersende onkunde en gebrek aan die regte geestelike leiding – dra geeneen van hierdie verontskuldigings enige gewig wanneer dit op die hoër geestelikes en die pouse self toegepas word nie. Hierdie manne het alle voordele van onderrig en kennis gehad, indien hulle werklik van hierdie voordele gebruik sou wou maak.

Die betreurenswaardige korrupsie van die Roomse Kerk gedurende die eeu net voor die Hervorming is skokkend. Baie van die pouse was niks meer as “gerespekteerde” rampokkers nie.

Geen spoor van die Heilige Gees van God word in hulle woorde of dade gevind nie. Tog het hulle die kerk gelei en verteenwoordig wat veronderstel was om die enigste Kerk van God op aarde te wees! Wat twee van hierdie pouse betref, sê Wharey: “Sixtus IV het sestien buite-egtelike kinders gehad vir wie hy spesiaal voorsiening voor gemaak en hulle ook verryk het. Van al die pouse van hierdie tydperk het Roderic Borgia, wat die naam van Alexander VI valslik aangeneem het, almal in goddeloosheid oortref. Hy is die Catilina van die pouse genoem en die onheilighede, misdaad en afskuwelike dade wat van hom opgeteken is, is so baie en so groot dat hy sekerlik brandarm was, nie net aan enige godsdiens nie, maar ook aan ordentlikheid en skaamte”. (Wharey, James. Church History, 1840, bll. 211-212).

Dit was vir die priesters in daardie tye algemene praktyk om omkoopgeld aan hulle biskoppe te betaal vir die onwettige byvroue met wie hulle hul beddens gedeel het en dus vir elke buite-egtelike kind wat gebore is (D’Aubigne, bl. 18). Die Roomse godsdiens het nie meer enigiets bevat wat met agting bejeën sou word deur diegene wat werklik vroom van gemoed was nie. Byna die hele aanbidding tot God het uit uiterlike heidense seremonies bestaan. Sodanige preke wat per geleentheid tot die mense gerig was, was nie net sonder enige smaak en gesonde verstand nie, maar dit was gevul met fabels en walglike versinsels (Mosheim, bl. 547).

Het God se ware Kerk korrup geraak?

Nadat hulle sélf van hierdie besonderhede vertel het – die geestelike stank, opperste verdorwenheid van sedes en totale onkunde of verontagsaming van alle Christelike waarheid en deugde wat die Roomse Kerk vir baie geslagte gekenmerk het – probeer hierdie einste Protestantse skrywers in die volgende asem om hierdie verwerplike stelsel die “Kerk van Christus” te etiketteer – die Kerk wat Jesus gesê het Hy sou bou, die geesvervulde liggaam waarvan Hy die lewende “Hoof” is! (Efésiërs 1:22).

Let op D’Aubigne se droewige jammerklag: “Die boosheid van die ‘sterk misleiding’ is onder alle geledere versprei; die korrupsie van die gebruike het ooreengestem met die korrupsie van geloof. ’n Misterie van ongeregtigheid het die tot slaaf gemaakte Kerk van Christus” onderdruk (D’Aubigne, History of the Reformation, bl. 20).

Daar is geen twyfel aan die feit dat ’n suiwering en opruiming van hierdie samelewing nodig was nie. Oor die sogenaamde feit dat hierdie totale heidense stelsel die Kerk van God op aarde was, bestaan daar groot twyfel.

Die beskrywing van die ware Kerk soos in die Nuwe Testament weergegee word, is in werklikheid in totale teenstrydigheid met die geloof, die gebruike en die lewe van Rooms-Katolisisme soos dit vir honderde jare bestaan het!

Die geïnspireerde opdrag van Petrus om te bekeer en gedoop te word (Handelinge 2:38) is deur die Roomse bevel van “boetedoening” vervang deur te bely en geld aan die priester te betaal. Die Apostoliese lewenswyse van liefde en gehoorsaamheid aan God se geestelike Wette is vervang met ’n patroon van vrees en ’n bygelowige nakoming van spesiale vastye, feeste en kerkfeeste wat absoluut vreemd was aan Christus en die ware vroeë Kerk.

In plaas van die geïnspireerde vorm van kerkregering wat deur Christus ingestel en deur die Apostels voortgesit is, vind ons ’n korrupte hiërargie van priesterlike ampte wat nie eers in die Bybel genoem word nie. Aan die hoof van die hele korrupte stelsel vind ons die Roomse pous wat “as God in die tempel van God sal sit” (2 Thessalonicense 2:4), wie self dikwels ongehoorsaam aan al die Wette van God en die mens is. Tog gee hy met outoriteit voor dat hy steeds die “plaasvervanger van Christus” is en mense toelaat en aanmoedig om hulle voor hom neer te buig in ’n soort aanbidding wat Petrus en die ander Apostels sou vrees om toe te laat (Handelinge 10:25-26).

Was hierdie uiters vals vernederende godsdienstig-politieke stelsel die ware afstammeling van die Kerk wat Jesus en die Apostels gestig het? Sou ’n “hervorming” van hierdie smerige stelsel ’n voortsetting van die ware Kerk wees?

Dít is die werklike basiese vrae wat ons in aanmerking behoort te neem. Laat ons nie ons oë sluit vir die feit wat nie ontken kan word nie, dat die Protestantse kerke direk uit die Rooms-Katolieke stelsel afkomstig is en só ontstaan het.

Soos ons nou gesien het, het politieke, ekonomiese, sosiale, intellektuele en godsdienstige faktore regdeur die nasies van Europa, ’n universele omwenteling voorspel. Politieke en finansiële oorwegings het ’n baie belangrike rol in die komende hervorming gespeel.

Wat was die ware belangrikheid in die algehele plan en doel van die ewige God toe die hervorming plaasgevind het? Was dit ’n herinstelling van die “geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is”? Ons behoort hierdie vrae vierkantig in die oë te kyk.

In die volgende aflewering sal ons direk die begin van die Protestantse Hervorming onder Martin Luther behandel. Baie van die verborge feite oor wat werklik plaasgevind het en waarom, is werklik insiggewend! Maak seker dat u dit in die volgende uitgawe lees!