Veronderstel vir ’n oomblik dat u werkgewer na u kom met die nuus dat dit voortaan nodig sal wees om langer ure vir ’n laer loon te werk. Elkeen in u bedryf sal inderdaad dieselfde opoffering moet maak. Tensy u hierdie nuwe werksomstandighede aanvaar sal u van u werk “uitgesluit” en verhinder word om te werk – u werk sal nie meer bestaan nie.

Hoe sou u op sulke rampspoedige nuus reageer? Sou u beswaar maak dat u loon reeds laag is en dat u ’n vrou en kinders by die huis het – maar u dan gedwee onderwerp wanneer u vind dat u huislike omstandighede geen verskil maak nie? Of sou u verkies om met alles tot u beskikking teenstand te bied om u beroep en u gesin te beskerm?

U verneem dan dat die vakbond sy uiterste bes sal doen om namens u teenstand te bied deur ’n staking uit te roep. Die oomblik is so onbestendig dat werkers in baie ander nywerhede besluit om uit simpatie met u lot te staak. Baie gou bevind u uself deel van ’n algemene staking wat die hele struktuur van u volk en die oorlewing van u regering bedreig.

Moeilik om u dit voor te stel? Wel, dit is presies wat 90 jaar gelede in Groot-Brittanje gebeur het, toe 1,2 miljoen steenkoolmynwerkers in Mei 1926 vir nege dae lank gestaak het en ’n halfmiljoen werkers van ander nywerhede hulle direkte ondersteuning daaraan verleen het. Die meeste mense het lankal hierdie sonderlinge gebeurtenis vergeet, maar dit hou belangrike lesse in vir die onstuimige tye wat voorlê. Terwyl al hoe meer bekommerde stemme aan ons sê dat “moeilike tye kom”, is dit die moeite werd om die besonderhede van hierdie staking te onthou en onsself aan belangrike Bybelse beginsels te herinner wat op werkgewer/werknemer verhoudings van toepassing is.

Steenkoolbedryf in ’n krisis

In 1914 was ongeveer een uit elke tien werkende mans in Brittanje in diens van die steenkoolbedryf. Dit het steenkoolontginning die belangrikste bedryf in die land gemaak en die Mynwerkersunie ’n gedugte mag om mee rekening te hou. In die jare na die Eerste Wêreldoorlog het steenkoolmyne moeilike tye beleef. Swaar huishoudelike gebruik tydens die oorlog het Brittanje se ryk steenkoollae uitgeput en minder steenkool is uitgevoer, sodat steenkool uit ander lande soos die Verenigde State, Pole en Duitsland die tekort aangevul het. Heelwat Britse myne was ondoeltreffend en moes gemoderniseer word. Produktiwiteit was aan die afneem en algehele steenkoolproduksie het gedaal.

Al hierdie faktore het ’n krisis voorspel – waarna die situasie nog verder verswak het. As deel van herstelwerk na die oorlog, was Duitsland toegelaat om weer die internasionale steenkoolmark te betree deur “gratis steenkool” na Frankryk en Italië uit te voer, wat ’n onwelkome daling in steenkoolpryse meegebring het. In 1925 het Brittanje weer die goudstandaard ingestel en die impak hiervan het plaaslike lone skerp laat daal. Terselfdertyd het myneienaars wat hulle winste wou behou, dikwels op langer werksure teen laer lone aangedring wat mynwerkers se lone laat terugval het tot voor-oorlog vlakke. Al hierdie faktore het uiteindelik tot die verlies van werksgeleenthede gelei en spoedig het mynwerkers die grootste enkele groep onder die werkloses gevorm.

Dit was dus geen verrassing dat die mynwerkers na soveel jare van ontevredenheid, onder leiding van ’n vuurvreter kommunistiese algemene sekretaris, hulle gereed gemaak het vir ’n groot “bakleiery” met hulle kapitalistiese vyande nie. Op “Rooi Vrydag” (30 Julie 1925), is ’n konfrontasie ontlont nadat die regering ’n negemaand-lange subsidie aan die steenkoolbedryf aangekondig het. ’n Koninklike kommissie is aangestel om ondersoek na die bedryf in te stel en aanbevelings vir die toekoms op te stel. “Indien die situasie retrospektief beskou was, was dit maar net ’n skynoorwinning vir die mynwerkers, want dit het die regering tyd gegun om deeglik voor te berei vir die onvermydelike konflik wat hulle geweet het sou kom. In teenstelling hiermee was die mynwerkersvakbonde nouliks voorbereid.

Met die aanvang van die staking op 4 Mei 1926 was die mynwerkers en ander werkers (spoorwegmanne, vervoerwerkers, drukkers, dokwerkers, ystersmede en staalwerkers) ten volle tot die saak verbind en is die grootste deel van die bevolking spoedig tot ’n stilstand gedwing. Die Trades Union Congress (TUC) onder wie se toesig die staking plaasgevind het, was eintlik nie ten gunste van die staking nie en het probeer om die doeltreffendheid daarvan te ondermyn, net soos die Arbeidersparty – die politieke arm van die unies – natuurlik ook die regering, waarvan nie een die staking ondersteun het nie.

Retrospektief beskou was die staking van die begin af gedoem. Die TUC het baie werkers in “sekondêre nywerhede” verhinder om te staak. Die Arbeidersparty het hom gedistansieer van die heel linkse revolusionêre elemente wat agter die staking was. Die regering het iets wat in wese ’n arbeidsgeskil was, in ’n politieke stryd omskep wat sou dreig om “die pad na anargie” te volg! Die goed voorbereide regering het alle middele wat tot sy beskikking was gebruik om die staking te beveg, met inbegrip van die weermag en die vloot, ’n arbeidsmag van vrywilligers om noodsaaklike dienste in stand te hou en ’n “burgermag” van spesiale konstabels om die aanvulling van voorrade in stand te hou.

Op 12 Mei het die TUC die staking afgelas, maar die gefrustreerde mynwerkers het voortgegaan om tot aan die einde van November te staak. Teen daardie tyd het die meeste mynwerkers teësinnig na hulle werk teruggekeer. Op die ou end is hulle gedwing om al die maatreëls wat voorheen aan hulle opgelê was te aanvaar. Die staking het hulle dus niks gebaat nie. Die les uit die geskiedenis is inderdaad, dat om stakings uit te roep, selde indien ooit die probleem oplos.

Daar is tog ’n oplossing vir die probleme wat werknemers en werkgewers ondervind: Ons behoort volgens God se wyse te leef!

Praktiese Bybelse beginsels

Die Bybel is baie duidelik oor praktiese beginsels wat ons kan toepas ter bevordering van moderne “arbeidsverhoudings”. Hier volg ’n paar wat, in eenvoudige terme, voorsiening maak vir die uiteindelike geestelike konteks waarin menslike gedrag geplaas kan word.

Aan werkgewers sê God: “Betoon reg en billikheid, here, aan julle diensknegte, omdat julle weet dat julle ook ’n Here in die hemele het” (Kolossense 4:1; sien ook Efésiërs 6:9: “... laat staan die dreigemente”). Aan werknemers sê God: “Diensknegte, wees gehoorsaam aan julle here na die vlees, met vrees en bewing, in opregtheid van julle hart, soos aan Christus” (Efésiërs 6:5; sien ook Kolossense 3:22). Die ideaal is dat elkeen vir die voordeel van die ander behoort te werk! Indien ’n werkgewer hardvogtig is, is dit nog steeds geen verskoning om te rebelleer nie. Ons lees: “Diensknegte, wees julle here onderdanig met alle vrees, nie alleen aan die wat goed en vriendelik is nie, maar ook aan die wat verkeerd is” (1 Petrus 2:18). Daar word ook aan ons gesê: “Almal ... moet hulle eie here alle eer waardig ag” (1 Timótheüs 6:1).

Binnekort – gouer as wat baie mense verwag – sal Jesus Christus weer kom en God se volmaakte Regering op hierdie aarde vestig. Ons sal dan ’n dramatiese verandering ten goede sien in die manier waarop ons mekaar behandel. Intussen leef ons in hierdie wêreld en moet ons die beste maak van wat ons het. Die mensdom se huidige ekonomiese stelsel is in wese oneerbaar en benodig ’n stelsel van morele waardes wat daaraan gekoppel is, sodat dit doeltreffend kan werk tot voordeel van almal. Die toepassing van Christelike waardes en moraliteit sal sukses verseker in alles wat ons doen.