Verhoor God vandag nog gebede? Verhoor Hy u gebede? U gebede kan verhoor word met dramatiese resultate!


Volgens Barna Marknavorsing bid “meer as vier uit vyf [VSA] volwassenes (82%) gedurende ’n normale week”. Dit mag indrukwekkend klink, maar hoeveel mense bid elke dag? Onthou dat Jesus ons in die “Onse Vader”, wat ’n raamwerk vir gebed is, leer om daagliks te bid (Matt. 6:11). 
Kan gebed werklik dinge verander? Volgens Barna Marknavorsing, “glo Amerikaners in die krag en impak van gebed. Vier uit vyf (82%) glo dat wat in ’n persoon se lewe gebeur deur gebed verander kan word (1994)”. Glo u dit persoonlik?

Die Bybel gee baie voorbeelde van God se ingryping in die lewens van diegene wat Hom soek en op Hom vertrou! Neem die voorbeeld van die profeet Daniël: “En net toe Daniël verneem dat die bevelskrif geskrywe was, het hy in sy huis gegaan; en hy het in sy bo-kamer vensters gehad wat oop was in die rigting van Jerusalem, en hy het drie maal op ’n dag op sy knieë geval en gebid en lofprysinge uitgespreek voor sy God, net soos hy tevore gedoen het” (Dan. 6:11). Daniël is in die leeukuil gegooi, maar God het die biddende Daniël gered en sy lewe gespaar (verse 17-24)! 

U Bybel openbaar ook die krag van gebed. U sal onthou dat Lasarus na Jesus se gebed uit die dood opgewek is (vgl. Joh. 11), terwyl Sy dissipels ook sodanige krag in gebed ondervind het. Toe die apostel Petrus in Joppe was, is hy ontbied om Tabíta op te wek. Sy was ‘n dissipelin en in lewe baie geliefd onder die weduwees wat haar dood betreur het. Ons lees dat “Petrus ... almal buitentoe gestuur en neergekniel en gebid [het]. En hy het hom na die liggaam gedraai en gesê: Tabíta, staan op! En sy het haar oë oopgemaak; en toe sy Petrus sien, het sy regop gesit. En hy gee haar sy hand en laat haar opstaan. Daarop roep hy die heiliges en die weduwees en stel haar lewendig voor hulle. En dit het bekend geword in die hele Joppe, en baie het in die Here geglo” (Hand. 9:40-42). Ja, die apostel Petrus het ’n vrou uit die dood opgewek!

U mag nou wel sê dat “hierdie groot manne in die geloof was. En as ek nie soveel geloof het nie?” God se Woord gee ons die goeie nuus dat ons wel geloof kan hê. God gee regdeur die Bybel baie beginsels, of “sleutels” tot doeltreffende gebed. Indien ons van hierdie sleutels gebruik maak, kan ons gebede verhoor word.

Sleutel # 1: Bid Opreg tot die Ware God

Baie mense sê gememoriseerde gebede op. As seun het ek met slapenstyd ’n kindergebed opgesê, maar my ouers het my darem ook gehelp om vir andere in my eie woorde te bid. Wanneer u bid, gebruik gerus u eie woorde om in alle opregtheid met God te praat.

Onthou dat u tot die ware God moet spreek! Daar is baie vals gode, terwyl baie mense in geen God glo nie. U moet vir uself bewys dat God wel bestaan! God is die Skepper. Hy is die Wetgewer, beide van die natuurwet soos ook Einstein dit ingesien het en die geestelike wet soos deur die Bybel openbaar. Die Nobelpryswenner, Albert Einstein, kon die ontwerp en ontsagwekkende intellek in die skepping waarneem. Hy sê dat die wetenskaplikes se “godsdienstige gevoel die vorm van ekstatiese verwondering aanneem oor die harmonie in die natuurwet; dit openbaar so ’n groot intellek dat al die sistematiese denke en handelinge van die mens, as dit daarmee vergelyk word, slegs ’n uiters onbenullige weerkaatsing is” (Einstein: A Centenary Volume, uitg. A.P. French, bl. 305).

God gee ons oorweldigende bewyse van Sy bestaan en doelstellings. Nogtans beweer sommige verwaande, selfingenome, arrogante en oningeligte mense dat daar geen God is nie. Weet u wat noem God hierdie godloënaars? “Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie” (Ps. 14:1). Alhoewel sommige “intellektuele” die geloof in God bespot as dwaas, is dit hulle wat as dwaas openbaar word.

God is gereed om met almal in gesprek te tree wat Hom werklik soek, selfs onder die mees wanhopige omstandighede. Toe Nebukadnésar die mense van Juda in gevangenskap na Babilon geneem het, sê Jeremia dat hulle nog hoop het: “Want so sê die HERE: As eers sewentig jaar vir Babel verby is, sal Ek op julle ag gee en aan julle my goeie woord vervul om julle na hierdie plek terug te bring. Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ’n hoopvolle toekoms te gee. Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister. En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart. En Ek sal My deur julle laat vind, spreek die HERE” (Jer. 29:10-14).

Daardie selfde beginsel is van toepassing op u! U kan ’n gesprek voer met die Skepper van die heelal! Hy sê dat u Hom kan vind indien u Hom met u hele hart soek. U kan tot Hom bid of met Hom praat; Hy sê: “Ek sal na jou luister!” Hoe wonderlik is dit nie!

Sleutel #2: Bestudeer die Bybel

U geloof kan versterk word deur te lees hoe God mense gehelp en hulle verlos het uit benarde omstandighede en beproewings. Lees na oor die antieke Israeliete se ontvlugting deur die Rooi See, van Daniël se verlossing uit die leeukuil en hoe Sadrag, Mesag en Abednego gered is uit Nebukadnésar se brandende vuuroond. Lees van die wonderwerke wat Jesus gedoen het, naamlik die genesing van siekes, blindes, dowes en verlamdes. Die apostel Paulus skryf: “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God” (Rom. 10:17). Die Bybel is die Woord van God. Lees dit elke dag! Toon begrip vir wat God die Skepper werklik in die verlede gedoen het – en wat Hy u vandag belowe!

God maak aan ons beloftes wat geld nie kan koop nie. Een van my geliefkoosde Bybelverse gee ’n wonderlike perspektief van wat God kan doen: “En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk, aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid! Amen” (Ef. 3:20-21).

Watter tipe probleme ervaar u? Gesondheidsprobleme? Finansiële probleme? Werksprobleme? Familie probleme? Akademiese probleme? Geestesgesondheidsprobleme? God kan enige probleem wat u het oplos! Ons moet natuurlik ons deel doen – Hy kan nie ons probleme oplos as ons aktief teen Sy hulp werk nie. Ons kan egter vertroos wees in die wete dat Hy wondere vir ons kan doen, “ver bo alles wat ons bid of dink”. Soos u die Bybel bestudeer sal u voorbeelde vind van verhoorde gebede en bemoediging dat u eie gebede verhoor sal word, soos God belowe het.

Sleutel #3: ’n Diepe berou oor u sondes

Ons moet elkeen verantwoordelikheid neem vir ons dade. Ons menslike natuur maak dit egter moeilik om ons foute, probleme en sondes te erken. Ons kan nie in sonde bly voortleef en verwag dat God ons gebede verhoor nie. Ook die profeet Jesaja skryf: “Kyk, die hand van die HERE is nie te kort om te help nie, en sy oor is nie te swaar om te hoor nie; maar julle ongeregtighede het ’n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie” (Jes. 59:1-2). 

God sal nie die gebede van geharde, onboetvaardige, gewoonte sondaars verhoor nie. Wat van iemand wat regtig sy lewe wil verander en van sy sondige gewoontes en dade verlos wil word? God sal u help as u nederig en beskaamd oor u sondige natuur, na Hom toe gaan. Ons sien dieselfde gesindheid in die evangelieverhaal van die Fariseër en die tollenaar (belastinggaarder):

“Twee manne het na die tempel opgegaan om te bid, die een ’n Fariseër en die ander ’n tollenaar. En die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie – rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry. En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig! Ek sê vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een; want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word” (Luk. 18:10-14).

God sal u gebed verhoor indien u werklik berou het en u sondigheid erken, vasbeslote om te verander. Hieroor skryf die apostel Johannes dan ook: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Joh. 1:9). Dit vereis moed om jou sondes te erken en om te besluit om daarvan weg te keer. Ons moet ons almal verootmoedig en God met ons hele hart soek. Jesaja vermaan ons: “Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik” (Jes. 55:6-7).

Sleutel #4: Soek God se Wil

In die “Onse Vader” leer Jesus ons bid “laat U wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Luk. 11:2). God se wil, nie ons s'n nie! Jesus het begeer om Sy Vader se wil te doen. Toe Hy in sware stryd gebid het gedurende die nag voor Sy kruisiging, vra Hy dat die beker van lyding Hom moet verbygaan – as dit God se wil is (vgl. Luk. 22:42). Hy het egter Sy wil ondergeskik aan Sy Vader se wil gestel en was gewillig om vir my en u te ly. Let op dat God vir Jesus versterk het om Sy offerande te verduur (vers 43), net soos Hy ons sal versterk as ons bid dat Sy wil moet geskied. Somtyds mag dit God se wil wees om u gebed met ’n “Nee” te antwoord. Maar indien Hy wel “Nee” sê, sal Hy u versterk om dit te kan verduur. 

Dit is ook belangrik dat ons God se algehele wil vir ons verstaan, nie net in ’n besondere beproewing nie, maar in die totale Lewenswyse wat Hy in die Bybel openbaar. Die apostel Johannes deel ’n wesenlike beginsel van verhoorde gebed wanneer hy skryf: “En wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom” (1 Joh. 3:22). Kom u Sy gebooie na en doen u wat vir Hom welgevallig is? As u hierdie onderdanige houding van gehoorsaamheid het – soos wat Jesus gehad het – sal u gebede welgevallig wees vir God se wil in u lewe. 

Mense is van nature selfsugtig. Ons wil altyd graag net hê, maar God se manier is om te gee. Bid u so? Bid u vir ander voordat u vir uself bid? Bid u tot God om Sy wil eerder as u wil te laat geskied? Die wêreld moedig hebsug en selfsugtigheid aan, maar Jesus het ’n voorbeeld van onselfsugtigheid gestel. Selfs toe hulle besig was om Hom te kruisig, bid Hy vir andere: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Luk. 23:34).

Sleutel #5: Vertrou op God

Ons het reeds gesien dat ons kan groei in geloof as ons die Bybel lees. Hebreërs 11 word die “geloofshoofstuk” genoem. Hier lees ons van die manne en vroue van geloof. U kan geloof in God hê. God belowe dat indien u Hom ernstig soek, u Hom sal vind: “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek” (Heb. 11:6).

Eerstens moet u die bestaan erken van ’n alwyse, almagtige Skepper God wat u en elke mens op aarde lief het! Ons lees: “Die geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. Want daardeur het die mense van die ou tyd getuienis ontvang. Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie” (Heb. 11:1-3).

Sleutel # 6: Bid Vuriglik

God is besig om ’n geestelike familie te skep. Hy wil hê dat u Sy seun of dogter moet wees! So moet u dan God as u Vader erken in u gebede! U moet ook God as die Skepper erken soos koning Dawid dit dikwels in sy gebede gedoen het. Koning Dawid was ’n man na God se hart, soos Handelinge 13:22 dan ook sê. Dawid het met gevoel en entoesiasme gebid.

Baie van die Psalms is eintlik die innige gebede van Dawid. Hy was baie reguit – baie openlik en eerlik – met God oor sy gevoelens, sy vrese en sy probleme. Hy het vuriglik uitdrukking gegee aan sy geloof en vertroue dat God sy gebed sal hoor. Hy het uitgeroep: “ Ek roep U aan, want U verhoor my, o God! Neig u oor tot my, luister na my woord! (Ps. 17:6). Dawid het sy hart in sy gebede uitgestort, anders as wat menige antieke Israeliete gedoen het waarvan God sê: “Ook roep hulle nie van harte na My nie” (Hos. 7:14).

Dit is nodig dat ons vuriglik bid en dit is ook nodig dat ons vuriglik vir andere moet bid! Bid u vir diegene wat siek is? Onthou wat die apostel Jakobus skryf: “Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van ’n regverdige het groot krag (Jak. 5:16).

Sleutel #7: Bid in die Naam van Jesus Christus

Gebed is ’n voorreg. Dit is ons geleentheid om geestelik tot die troon van die Hemel te kom. Ons bid egter nie op eie gesag nie. Ons bid in die Naam of gesag van ons Here wat ons opdrag gee om te bid. Dit is die Seun van God wat ons in die Bybel leer om “te bid, te soek en te klop”. Verskeie kere in Johannes se evangelie beloof Christus dat God ons gebede sal verhoor as ons dit in Sy Naam doen. Jesus gee ons die gesag en aanmoediging om te bid. Om in Jesus se Naam te vra beteken om in Sy gesag te vra! Jesus het Sy dissipels opdrag gegee: “En in daardie dag sal julle My niks vra nie. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee” (Joh. 16:23).

Wanneer u dus bid moet u besef dat u nie voor God se troon kom in u eie gesag nie, maar in die gesag van die Seun van God, naamlik Jesus Christus.

Maak gebruik van hierdie sewe sleutels vir doeltreffende gebed en u sal dramatiese veranderinge ten goede in u lewe ervaar asook in die lewe van diegene om u. U kan meer opreg, meer doeltreffend en meer gereeld bid – met geloof en vertroue.