Kan die mensdom sonder God oorleef? Wat sal met ons wêreld gebeur indien dit op sy huidige koers bly voortgaan deur lynreg teen lank gekoesterde waarhede te gaan wat in die bladsye van u Bybel gevind word?

Die Hooggeregshof gee uitspraak teen God

In Amerika soek ons politieke en selfs regskenners dikwels byna oral na “leiding” omtrent groot probleme sonder om die Bybel, die geïnspireerde Woord van God, te raadpleeg. Tog beweer ons dat ons ’n “Christelike” nasie is. Op die Amerikaanse munte en note staan: “In God We Trust”. Ongelukkig, in plaas daarvan om God te gehoorsaam, lyk dit of opstandige mense al hoe meer daarop ingestel is om “God te speel” – deur vir hulleself te beslis van wat reg of verkeerd is.

Die Bybel self vertel vir ons deur Jesus Christus, die Seun van God: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4). Daar word dikwels na die Bybel verwys as die “denke van God” in gedrukte vorm. Dit is die geheelbeeld-beginsels van die manier hoe God die Skepper dink. Dit is waarom Jesus Christus aan ons gesê het om van elke woord van God te leef!

Die omverwerping van duisende jare se geskiedenis?

In die bespreking van “dieselfde-geslag” huwelik kwessie onlangs voor die Hooggeregshof, het een van die regters sy opmerkings begin deur “die rituele van die Kalahari-mense te bespreek, ’n Afrika-stam van antieke herkoms, wat nooit dieselfde-geslag verbintenisse as ’n vorm van huwelik erken het nie. Sy punt was dat die huwelik tot onlangs nog altyd aan voortplanting gekoppel was. ‘Ons het hierdie definisie vir duisende jare gevolg’, het hy aan Maria Bonauto gesê, die prokureur vir dieselfde-geslag pare. ‘Dit is ook baie moeilik vir die hof om te sê, “O wel, ons weet van beter”’” (Time, 11 Mei 2015).

Dit is egter presies wat die Hooggeregshof hoofsaaklik gedoen het. Hulle het probeer om ongeveer 6,000 jaar van menslike geskiedenis tot niet te maak – om die hele beginsel te verwerp dat die huwelik gaan oor kinders grootmaak en die gesin. Hulle probeer selfs om die Hooggeregshof van die Hemel te verwerp – die Almagtige God Self! Wat op aarde dink hulle doen hulle? Waarom weier hulle om die Een te raadpleeg wat die huwelik in die eerste plek ingestel het: Die Almagtige God? Waarom wil hulle nooit die Bybel raadpleeg nie, die geïnspireerde Woord van die een ware God, wat aan ons opdragte gee oor elke basiese onderwerp wat ons verhouding met God en met mekaar beïnvloed? Waarom word die Bybel byna altyd in sulke besprekings “uitgelaat”? Wat het ons, as ’n beweerde Christelike nasie, in werklikheid bereik wanneer die meeste mense weier om selfs net te oorweeg wat die Bybel sê?

“Wat het intussen met die Bybel gebeur?” Baie van u besef waarskynlik dat die Bybel vir die laaste paar dekades onder ’n absolute aanslag was. Liberaliste, kommuniste en wêreldse humaniste het hulleself in leierskap-posisies ingewurm in baie van die hoofstroom Protestantse kerke en selfs in die kweekskole. Hulle bring ’n begrip in waarvan u nie seker kan wees wat die Bybel werklik sê nie. U kan nie seker wees dat die manuskrip waarop die Bybel gebaseer is deur God geïnspireer was nie. U kan nie seker wees van dit of dat nie. “Dus” sê hulle, “laat ons net dat die menslike verstand self besluit”! Dit is die begrip van die wêreldse benadering van mense wat nie die vrees vir God of enige intense respek vir die Woord van God het nie.

Dink!

Wat het nog altyd met enige nasie gebeur wat hulle van God en die Wette van God gedistansieer het? Baie geskiedkundiges erken dat antieke Griekeland – wat homoseksualiteit en ander gruwelike praktyke toegelaat het – “ten gronde gegaan het” as gevolg van sy sedelike verval, wat tot verdere verval gelei het, tot so ’n mate dat dit nie meer ’n mag in die wêreld of ’n voorbeeld vir ander nasies is nie. Hulle erken dieselfde van Rome. Wanneer die antieke Romeine in verskillende areas die standaarde van moraliteit wat met baie van God se Wette en insettinge ooreenstem, gehandhaaf het, het dit daartoe bygedra dat hulle in daardie areas geseënd was. Ongetwyfeld, hoe meer daardie sekere Romeinse leiers en denkers hulle tot toenemend veragtelike praktyke van geweld, moord en seksuele perversie gewend het, hoe laer het die Romeinse Ryk gedaal, wat uiteindelik tot die “val van Rome” in 476 n.C. gelei het.

Terwyl die apostel Paulus die sogenaamde wyse manne en filosowe van sy dag beskryf het sê hy: “Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer – hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen. Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang. En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ’n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie” (Romeine 1:24-28).

Die mensdom se opstandige weë lei tot verwarring en uiteindelik vernietiging! Tog werk God se weë! Die geïnspireerde Woord van God sê duidelik aan ons: “Selfs ’n groot sprinkaanvoël aan die hemel ken sy bepaalde tye, en ’n tortelduif en ’n swaweltjie en ’n kraanvoël neem die tyd van hulle koms in ag; maar my volk ken die reg van die Here nie. Hoe durf julle sê: Ons is wys, en die wet van die Here is by ons? Waarlik, kyk, bedrieglik werk die leuenpen van die skrywers. Die slim mense kom in die skande, is verslae en verstrik. Kyk, hulle het die woord van die Here verwerp, en watter wysheid sou hulle hê? Daarom sal Ek hulle vroue aan ander gee, hulle landerye aan veroweraars; want van die kleinste tot die grootste maak hulle almal onregverdige wins; van die profeet tot die priester pleeg hulle almal bedrog. En hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste manier deur te sê: Vrede, vrede! – terwyl daar geen vrede is nie” (Jeremia 8:7-11).

Bybelgeleerdes sê aan ons in hierdie Skrifgedeelte waar dit sê dat die valse leraars God se mense “op die maklikste manier” genees, dat hierdie woord eintlik oppervlakkig beteken. Ja, soms help die “hoofstroom” predikante wat dikwels opregte “weldoeners” is, net tydelik. Hulle menslike oplossing is slegs “oppervlakkig”. Hulle gaan nie terug na die oorsprong van die probleem nie: Die feit is dat die mens eintlik moet doen wat God sê en die Bybel volg, nie menslike redenasie nie.

God se kragtige waarskuwings

Die Almagtige God het aan ons voorvaders in antieke Israel gesê: “Maar as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie; en as julle my insettinge verwerp, en as julle siel van my verordeninge ’n afsku het, sodat julle nie al my gebooie doen nie en my verbond verbreek – dan sal Ék dit ook aan julle doen: Ek sal verskrikking oor julle beskik: die tering en die koors wat die oë verteer en die lewe laat versmag; julle sal ook tevergeefs julle saad saai, want julle vyande sal dit opeet. En Ek sal my aangesig teen julle rig, sodat julle voor jul vyande verslaan word; en julle haters sal oor julle heers, en julle sal vlug terwyl niemand julle agtervolg nie” (Levitikus 26:14-17).

Namate Amerika hulle al hoe verder van God af gedistansieer het, het hulle “9-11” ervaar. Hulle Twin Towers is vernietig en die Pentagon se struktuur is deur “terreur” beskadig – terrorisme! As gevolg van wat in die vroeë stadiums van die homoseksuele beweging gebeur het, het ons ’n geweldige toename in “uitteer siektes” en koors – die toenemende voorkoms van VIGS, wat een van die grusaamste en verswakendste siektes is wat die hele wêreld raak. As gevolg van al hierdie dinge, gaan ons nasie die ander strawwe ervaar wat in Levitikus 26 beskryf word met inbegrip van droogte, hongersnood, siekte-epidemies en uiteindelik nasionale ballingskap op ’n skaal wat nog nooit in die moderne geskiedenis ervaar is nie!

My vriende, indien u bereid is om alles wat werklik hierby betrokke is te bestudeer en dit te bewys, skakel ons of skryf vandag vir ’n gratis eksemplaar van ons kragtige boekie met die titel: Die Bybel: Feit of fiksie? Begin dan om werklik aan uself te bewys dat die Bybel waarlik die “Woord van God” is, soos dit daarop aanspraak maak.

Die Bybel maak dit baie duidelik wat die Skepper-God se opinie van “dieselfde-geslag huwelike” en baie ander kwessies is. Jesus Christus beantwoord ’n vraag oor die reg van mense om van mekaar te skei: “Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie, en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees; sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie” (Matthéüs 19:4-6). Die hele rede vir die huwelik was dat die Skepper-God ons manlik en vroulik gemaak het, sodat ons gesinne kan wees en ons kinders kan hê. Homoseksuele pare kan nie kinders deur hulleself voortbring nie. Ek hoop dat almal dit kan uitpluis!

God se doel met die huwelik

Aan die heel begin vertel u Bybel: “En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip” (Génesis 1:27-28). God het heel eerste slegs die man geskep. “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ’n hulp maak wat by hom pas” (Génesis 2:18).

Die vrou is dus geskape om ’n “helper” vir die man te wees – om sy metgesel te wees; om sy horisonne, fisies, verstandelik en emosioneel te verbreed. Dit is voor die hand liggend dat indien u na die geheelbeeld kyk, u sal sien dat dit hierdie helper is wat die skepping van die hele gesin-struktuur moontlik maak. In die Nuwe Testament noem God Homself “Vader”. Hy beplan om Sy Gesin te bou en ons Sy werklike seuns te maak. Ons leer dit deur die instelling van die menslike huisgesin. Mans en vrouens leer om aan mekaar onderdanig te wees, mekaar te vergewe, vir mekaar om te gee en mekaar op ’n spesiale manier lief te hê. Die Bybel vertel dit aan ons op ’n hele aantal maniere: Dit beeld die verhouding tussen Jesus Christus en die Kerk uit. Die geïnspireerde Woord van God sê: “Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam. Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees. Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het” (Efésiërs 5:22-25).

Wanneer twee mans met mekaar “trou”, watter een gaan die kinders baar? Sal een “voorgee” om die vroulike eienskappe in die verhouding te hê – of sal hulle erken dat daar geen manlike-vroulike vennootskap of band in hulle “huwelik” is nie? Indien hulle kinders aanneem, sal daardie kinders ooit die voorbeeld hê van ’n “man wat ’n man is” en ’n “vrou wat ’n vrou is”? Satan het alreeds, selfs in huwelike tussen mans en vrouens, ’n aanval op die idee van “eggenoot en eggenote” geloods – elkeen met verskillende geslagsrolle en pligte om mekaar in die gesinsverhouding aan te vul. Nou, met dieselfde-geslag “huwelike” lyk dit asof alles “alkant selfkant” is. Kan daar enige langtermyn voordeel voortspruit uit hierdie rebellie teen lank-bestaande maatskaplike en biologiese werklikhede?

Op geen manier nie!

Al die lesse van die huwelik, om ’n gesin saam te bou, van natuurlike liefde en onderwerping aan mekaar in die verskillende rolle volgens God se bedoeling – al hierdie dinge gaan verlore in die vreemde verhoudings wat mense hulle nou probeer indink as “huwelike” tussen twee mense van dieselfde geslag. Dit is werklik ’n verdraaiing van die hele doel van God wat ons in die eerste plek manlik en vroulik gemaak het!

Indien ons hierdie vernietiging van die normale gesin toelaat om plaas te vind, sal dit in toekomstige dekades enige samelewing waarin dit beoefen word aan flarde skeur. Dit is natuurlik een rede waarom Jesus Christus na hierdie aarde moet terugkeer om die mensdom van homself te red!

Ons is nou op die rand van toenemend meer “geslagsverandering”-operasies wat uitgevoer word sodat mense kan probeer om iets te wees wat hulle nie bedoel was om te wees nie. Selfs die idee van geslag word deur verwarde, misleide mense aangeval wat dink hulle kan self “besluit” om een dag manlik en die volgende dag vroulik te wees en iets “tussen-in” op ’n ander tyd. Watse onsin!

Indien u dink dat “dieselfde-geslag huwelike” die einde van die storie is, dink weer! Namate ons – veral die Amerikaners en nasies van Britse afkoms – ons heeltemal van die Almagtige God en Sy Woord distansieer en onsself verlaag deur grootskaals deel te neem aan poligamie, poliandrie en uiteindelik groep-huwelike, dan sal “bestialiteit” sonder twyfel op die ou end volg! God laat Hom nie bespot nie! Hy sal begin om op ’n manier in te gryp wat hy vir duisende jare nie gedoen het nie! My vriende, ons is waarlik by die eindtyd wat op talle plekke in u Bybel voorspel word!

Nou, meer as ooit tevore, lyk dit asof Satan die mens wil verwar en die basiese menslike gesinsverhouding wil uitdelg – dieselfde verwantskap waarop ons lot as ware kinders van God die Vader berus, in wie se Gesin ware Christene bestem is om in opgeneem te word (Galásiërs 4:5; Efésiërs 1:5). Ja, ware Christene sal ware kinders van die God-“soort” word – nie enige aangenome “ander soort” soos skape of bokke nie. Let op dat dit is wat u Bybel werklik verkondig, dit is wat Satan wil hê u sal vergeet of selfs ontken!

God het spesifiek die voorvaders van vandag se Amerikaners en nasies van Britse afkoms gewaarsku: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jý die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet” (Hoséa 4:6). Omdat ons vandag nie die “Wet” van ons Skepper geleer word nie, het hulle gevolglik na elke vorm van perversie afgewyk. Die predikante van hierdie wêreld het hulle nie die opregte respek geleer wat hulle vir Hom en vir Sy tien groot Wette, die Tien Gebooie, behoort te hê nie. In hierdie tydskrif verduidelik, verklaar en benadruk ons voortdurend die begrip van werklike gehoorsaamheid aan die Tien Gebooie en ’n lewe wat volgens elke Woord van God geleef word – nie deur ons eie menslike wil nie, maar met die hulp van die inwonende Heilige Gees wat ons die denke van God laat ontwikkel in alles wat ons dink, sê en doen. Dit is die denke van God, nie van ’n mens nie, wat die uiteindelike antwoorde het!

Satan wil hê dat elkeen van ons sal dink dat ons beter weet as die God wat ons geskape het! Wanneer ons dus in sy strikke beland, probeer die mensdom om “God te speel” deur die Skepper, die God van die Bybel, uit te tart! Dit sal in elke opsig tot vernietiging lei – die vernietiging van hoop en vreugde vir die mens, die verwoesting van enige samelewing wat dit toelaat en die uiteindelike vernietiging of “algehele uitwissing” van die samelewing indien die mensdom toegelaat word om met sy eie idees voort te gaan. Die Woord van die Almagtige God sê uitdruklik aan ons: “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spreuke 14:12). Ek hoop en bid dat almal van u wat intekenaars van die Wêreld van Môre is, sal begin om te bewys dat die basiese waarhede van die Bybel die werklike waarheid is – dat hulle gevolg en gehoorsaam behoort te word, nie net individueel nie, maar deur enige samelewing wat beplan om te bly bestaan. Mag God elkeen van u help om te begin met bestudering van die geïnspireerde Woord van God en om te leer om “van Christus te eet” (Johannes 6:57) en die denke van God in te drink en te leer om te dink soos God dink!

Dan sal u in staat wees om die doel te vervul waarvoor u in die eerste plek geskape is. Mag God u help om “wakker te word”, om “uit” hierdie moderne Babilon “uit” te kom (Openbaring 18:4), om die doel te vervul waarvoor God elke mens na Sy ewebeeld geskape het.