Verlede somer het verwoestende veldbrande oor groot dele van die Amerikaanse Weste voorgekom, terwyl die Verenigde State tans een van die ergste droogtes in dekades ondervind. Die Time tydskrif berig as volg daaroor: “Tans gebuk onder ’n droogte, rampspoediger as die droogte [van 1933] toe die Groot Depressie op sy ergste was, verkoop die boere in die Weste nou hulle kuddes uit, terwyl hulle plase na die Rotsgebergtes ‘wegwaai’. Met die koms van die oesseisoen sal kruideniersware se pryse styg en die land se saaiboere verligting soek, weereens, by ’n Kongres met sy eie begrotingsprobleme” (16 September 2002).

Ja, voedselpryse in die Verenigde State en Kanada asook Suid-Afrika is bestem om te styg as gevolg van die ernstige droogte. Die Wall Street Journal van 10 September 2002 spreek ook sy kommer uit: “Die termynmark is gekoppel aan die prys per boesel [tussen 25 en 33 kg] van 30 sent wat die daaglikse verhandelingslimiet op al drie die VSA koringmarkte is. Die nuwe vaste hoë kontrakpryse vir die oestydperk van koring wat aan die meulens voorsien word sowel as paniek oor verslegtende wêreldwye koringvoorrade [is kommerwekkend].... Daar is hierdie seisoen ernstige produksie tekorte in die wêreld se vier grootste koring uitvoerlande, naamlik die VSA, Kanada, Australië en Argentinië. Die totale oes van beide die VSA en Kanada is die kleinste sedert die vroeë 1970's, terwyl die skattings verder afwaarts aangepas kan word weens die besonderse nat toestande wat die oes van koring bedreig”.

Hoofsaaklik as gevolg van die uiters droë toestande, het enorme weghol veldbrande letterlik miljoene hektaar woude en plaasgrond regdeur die Weste verwoes. So ernstig was die droogte in die Midde-Atlantiese state, dat die kerke spesiale biddienste vir reën gereël het.

Is al hierdie buitengewone weerstoestande slegs ’n produk van Moeder Natuur? Die meeste klimaatsvoorspellers sal heel kalm verduidelik dat daar maar altyd veranderende weerspatrone regdeur die wêreld ondervind word. Hulle sal sê dat hierdie toestande inderdaad ook van verbygaande aard is.

Maar is dit?

Kan hierdie huidige weerstoestande as rampe beskou word - dit is nou die veldbrande van enorme omvang, die huidige verwarming van die aardbol en die ergste opgetekende droogtes in talle lande in die geskiedenis - is hierdie toestande van verbygaande aard en sal dit binne ’n paar jaar vergete wees? Sal skrikwekkende tornado's, orkane, massiewe aardbewings en ander soortgelyke buitengewone verskynsels slegs die normale patroon van die verlede volg?

Hier is ’n uitdaging aan al ons lesers: Indien sulke “normale” weerspatrone en ander rampverwante voorvalle soos weghol veldbrande en aardbewings nog voorkom volgens hulle “normale” tendens in die volgende 10 jaar, dan moet u eenvoudig net u Wêreld van Môre-tydskrifte weggooi, u subskripsie kanselleer en aanvaar dat die Wederkoms nie binnekort sal plaasvind nie! Maar, as hierdie ongewone weersomstandighede en verwante toestande aanhou om te versleg, dan moet u gerus begin luister! U beter begin erken dat daar ’n ware God is - en dat dit uiteindelik God die Skepper is wat die weer beheer!

Hoe so?

Omdat, as u eers vir uself bewys het (en u kan en moet!) dat die Bybel werklik direk deur God geïnspireer is, dan moet u regtig hierdie “Handboek vir Oorlewing” bestudeer en uself vergewis van die feit dat die ware God nog altyd die weer as ’n middel gebruik om opstandige nasies en soms individue te kasty. U moet dan bereid wees om uself die vraag af te vra: “Wat doen ek verkeerd? Is daar miskien ’n les wat ons moet leer uit die uiterste en wydverspreide weersomstandighede wat God voorspel vir die tydperk net voor Sy Wederkoms?”

Wat het Jesus Christus voorspel?

Toe aan Jesus gevra is, “Wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” (Matt. 24:3), het Hy Sy dissipels gewaarsku dat “baie” valse profete (of leraars) te voorskyn sal kom en “baie” mense sal mislei. Jesus voorspel ook toe oorloë en wêreldoorloë : “Daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke” (vers 7). Die Bybel en geskiedenis toon dat daar, selfs tot die tyd van Jesus se bestaan as mens, ontelbare hongersnode en aardbewings was. Vanselfsprekend dan, praat Jesus hier van baie erger weersomstandighede as wat daar in die verlede was.

Sodanige toestande begin nou vorm aanneem! ’n Koerant berig op 11 September 2002: “Die VSA Senaat het gister oorweldigend gestem vir die besluit om $6 miljard beskikbaar te stel aan boere wat deur die droogte getref is. Die Senaat het President Bush se teenkanting geïgnoreer en beklemtoon dat die wetsopstellers onder druk is as gevolg van die naderende verkiesing ten opsigte van beheer deur die Kongres. Met ’n stemming van 79-16 het beide partye hierdie maatreël goedgekeur vir verligting aan boere met gesaaides en weiveld in die Weste, die Midde-Weste en Suidooste. Een-en-dertig Republikeine en een onafhanklike het die 47 Demokrate ondersteun met die voorstel. Die senators het nie kans gesien om hierdie nuwe druk van hulp aan boere tydens die hoogtepunt van die verkiesingseisoen teen te staan nie. Die Senaat se meerderheidsleier en hoofondersteuner wat die voorstel betref, Tom Daschle, sê die pleidooi van die boerderystate is: “Help ons met die droogte, gee vir ons hulp. Doen wat reg is”.

Wat betref die ongekende weerstoestande, het die meeste van u seker gelees van die “ergste vloede hierdie eeu” - soos dit genoem was - wat verskeie lande in Europa die afgelope somer getref het. Die Bybel voorspel dat ons mense gebuk sal gaan onder beide hongersnood en vloede. Nogtans het die oorgrote meerderheid van belydende Christene nie die vaagste benul hiervan nie! Ook nie hulle leraars nie! Want die meeste van hulle lees selde die profesieë in die Bybel en verstaan dit in elk geval nie. Hulle is dus onkundig oor die profesieë wat ’n kwart van die Bybel beslaan. Hulle is onkundig oor ons nasionale identiteit. Hulle is onkundig oor die ontsagwekkende ingryping van God wat sal plaasvind aan die einde van hierdie tydvak soos wat dit in die Bybel voorspel is.

In Lukas se weergawe van die profetiese rede, sê Jesus: “En daar sal groot aardbewings op verskillende plekke wees en hongersnode en pessiektes; en daar sal verskriklike dinge en groot tekens van die hemel kom” (Luk. 21:11). En, in vers 25: “En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun”. Dus, in Lukas se weergawe sê Jesus dat “groot” aardbewings hierdie aarde sal skud! Ons sal ongetwyfeld ontsaglike storms ervaar deur die see en branders wat “dreun” wat die kragtigste skepe, wat deur mense gebou is, sal verswelg - ook reusagtige vloedgolwe wat vir kilometers die binneland mag binnedring en stede totaal verwoes. Praat van Goddelike ingryping!

Ons vergeet heel dikwels die direkte boodskap van Jesus Christus in Openbaring: “Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het” (Op. 1:1). In Openbaring 11:6 beskryf God hoe Hy twee persone, bekend as die “twee getuies”, sal gebruik om beheer oor die weer uit te oefen: “Hulle het mag om die hemel te sluit, sodat daar in die dae van hulle profesie geen reën val nie; en hulle het mag oor die waters, om dit in bloed te verander en om die aarde te tref met allerhande plae so dikwels as hulle wil”. Die Almagtige God het nog altyd Sy beheer oor die weer gebruik as ’n metode om opstandige mense te kasty en ook om die uitslag van veldslae en selfs die lot van nasies te bepaal.

God se ingryping in die weer

Ons word in die Nuwe Testament deur Jakobus herinner hoe Elia, ’n profeet in Ou Testamentiese tye, vir God gevra het om in te gryp deur middel van die weer: “Elía was ’n mens net soos ons, en hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie, en dit het op die aarde drie jaar en ses maande lank nie gereën nie; en hy het weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy vrug laat uitspruit” (Jak. 5:17-18).

Een van die mees belangrike gebede wat in die Bybel opgeteken is, is die gebed van koning Salomo toe die tempel in Jerusalem ingewy is. Hier volg ’n gedeelte van hierdie geïnspireerde gebed: “As die hemel toegesluit bly, dat daar geen reën is nie, omdat hulle teen U gesondig het, maar hulle na hierdie plek toe bid en u Naam bely en van hulle sonde hul bekeer, omdat U hulle verootmoedig, wil U dan hoor in die hemel en die sonde van u knegte en van u volk Israel vergewe - want U leer hulle die goeie weg waar hulle in moet wandel - en gee reën op u land wat U aan u volk as ’n erfenis gegee het. As daar hongersnood is in die land, as daar pes is, as daar brandkoring, heuningdou, sprinkane, kaalvreters is, as sy vyand hom in die land, in sy poorte dit benoud maak, watter plaag, watter siekte ook al, enige gebed, enige smeking wat enigeen van u hele volk Israel sal doen, as elkeen die plaag van sy hart ken, sodat hy sy hande na hierdie huis toe uitbrei - wil U dan hoor in die hemel, u vaste woonplek, en vergewe en handel en aan elkeen gee volgens sy weë, U wat sy hart ken - want U alleen ken die hart van al die mensekinders - sodat hulle U kan vrees al die dae wat hulle leef in die land wat U aan ons vaders gegee het” (1 Kon. 8:35-40).

Salomo was baie na aan God in hierdie tyd. Die Almagtige Vader het direk met Salomo gespreek en hom wysheid en ’n verstandige hart gegee soos aan niemand voor of na hom nie (1 Kon. 3:10-12). Dus, wanneer Salomo dan in die gebed hierbo sê dat “die hemel toegesluit bly, dat daar geen reën is nie, omdat hulle teen U gesondig het”, dan kan ons gerus luister!

Ons moet almal besef dat die ware God absolute beheer oor die weer het! In ’n tweeledige profesie - ’n profesie wat op antieke Israel van toepassing was asook op ons mense van vandag - sê God: “As julle in my insettinge wandel en my gebooie hou en dit doen, sal Ek julle reëns gee op die regte tyd, en die land sal sy opbrings gee, en die bome van die veld sal hulle vrugte gee. En die dorstyd sal vir julle aanhou tot die druiwe-oes, en die druiwe-oes sal aanhou tot die saaityd, en julle sal jul brood volop eet en veilig in julle land woon” (Lev. 26:3-5). Ook rig God ’n verdere waarskuwing in verse 14-15 en 18-20: “Maar as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie; en as julle my insettinge verwerp, en as julle siel van my verordeninge ’n afsku het, sodat julle nie al my gebooie doen nie en my verbond verbreek ... En as julle dan nog nie na My luister nie, sal Ek voortgaan om julle sewevoudig weens julle sondes te tugtig. En Ek sal julle trotse mag verbreek, en sal julle hemel maak soos yster en julle aarde soos koper. En julle krag sal tevergeefs verbruik word, want julle land sal sy opbrings nie gee nie, en die bome van die land sal hulle vrugte nie gee nie”.

Tot onlangs het God die Amerikaanse en Engelssprekende volkere meer ryklik geseën as al die nasies op die aarde. Op een tydstip het ons driekwart van al die ontwikkelde hulpbronne in die wêreld beheer. Ons het al die belangrikste oorloë gewen en het ’n hoër lewensstandaard as alle ander mense. Nou begin God egter ingryp om ons te verootmoedig - om ons tot ons sinne te bring voordat dit te laat is! Hy begin ook om die weer te gebruik as deel van die proses van verootmoediging.

Ons dae van nasionale grootsheid is getel tensy ons ware berou toon en ons wend tot die ware God en Sy gebooie begin onderhou (Matt. 19:17)! Ons sal enorme aardbewings belewe en vulkaniese uitbarstings soos nog nooit tevore ervaar in mense heugenis nie. Ons sal aanhoudende droogtes hê, hongersnood en angswekkende siekte-epidemies op ’n ongekende skaal. In ons gesaghebbende boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? word ’n belangrike sleutel onthul wat presies verduidelik hoe en waarom hierdie tragedies sal toeslaan. U sal hierdie ten volle gedokumenteerde boekie uiters leersaam vind en die ongeveer 90 persent profesieë wat op die eindtyd van toepassing is, verstaan. Ons sal hierdie boekie op versoek absoluut gratis aan u stuur. Bel of skryf aan ons vir ’n kopie.

God spreek ons mense aan

As ons eers eenmaal verstaan dat die Amerikaanse en Britse volke die werklike afstammelinge is van die sogenaamde “Verlore Tien Stamme van Israel” dan sal ons sien dat God direk met ons mense spreek in talle van die Ou Testamentiese profesieë. So deel God dan ook mee in ’n profesie aan ons vir vandag: “Hulle het nie in hulle hart gesê nie: Laat ons tog die HERE onse God vrees, wat reën gee, vroeë reëns en laat reëns op hulle tyd, wat vir ons die vasgestelde weke van die oes in stand hou. Julle ongeregtighede het hierdie dinge afgeweer, en julle sondes het die goeie van julle teruggehou” (Jer. 5:24-25).

Tog moet ons almal besef dat God nie ’n paaiboelie is nie. Hy is ’n God van liefde en genade wat begeer om almal van ons te onderrig - individueel en gesamentlik - lesse wat ons nodig het ter voorbereiding vir die ewige lewe in Sy Koninkryk. Voortspruitend uit Sy belofte aan Abraham het God ons geseën en nogmaals geseën met algemene goeie weer - reën op die regte tyd - en voortreflike natuurlike hulpbronne. Keer op keer het die ware God ingegryp in die weer om die Amerikaanse en Britse volke te red. Hierdie suksesvolle ingrypings het godsdiensvryheid moontlik gemaak sowel as vooruitgang en mag, iets wat die Anglo-Saksiese-Keltiese magte van die VSA, Kanada, Australië, Nieu-Seeland en die Britse Koninkryk nog steeds geniet.

In 1586-1587 is Katolieke oorheersing van die Engelse troon onmoontlik gemaak deur die teregstelling van Mary, koningin van die Skotte. Die volgende jaar het die Spaanse koning, Philip II, sy skeepsarmade van 124 bote teen Engeland ontplooi in ’n poging om Katolieke beheer weer in te stel. Alhoewel die Engelse vlootmag hardnekkig teruggeveg het, het hulle buskruit opgeraak! Op daardie kritieke oomblik het ’n onverwagse stormsterk wind opgesteek en talle van die swaar bewapende Spaanse galjoene laat sink. Die orige skepe wat deur die slegte weer geteister is, is sukkel-sukkel terug na Spanje waarna talle nooit weer gebruik kon word nie. Koningin Elizabeth het ’n silwer medalje met die volgende inskripsie laat slaan vir die herdenking van die Spaanse nederlaag: “God het geblaas en hulle is verstrooi” (letterlik vertaal). Sy het geweet wie in beheer van daardie stormsterk wind was op daardie kritieke oomblik in die geskiedenis van haar mense!

In 1940 het Hitler se magte Frankryk en die laaglande onverwags binnegeval. Hulle het daardeur die room van die Britse mag, naamlik 330,000 troepe afgesny en hulle met die rug teen die muur gedwing om tot by die Dunkirkse hawe aan die oewer van die Engelse Kanaal terug te val. Indien die Engelse hierdie soldate sou verloor, sou hulle kwalik enige hoop gehad het om die Nazi hordes af te weer wat hulle aandag nou toegespits het op die Britse magte. ’n Noodberig is oor die hele Brittanje versprei: “Winnie [Churchill] het bote nodig”. Gedurende hierdie tyd van die jaar is die see in die Engelse kanaal normaalweg baie rof en bedrieglik, maar nogtans is honderde bote, seiljagte en klein bootjies gestuur - enige ding wat op water kon beweeg sonder om te sink - is gestuur om ten minste ’n deel van die leër te red. Die situasie was uiters benard.

Toe, teen alle verwagtinge in, het swak weer op die Europese vasteland die meeste van die Duitse lugmag op die grond vasgepen. En, daar word die Engelse Kanaal wat gewoonlik rof en stormagtig en eintlik te gevaarlik vir kleiner vaartuie is, toe terselfdertyd so kalm soos water in ’n bad! Mense wat hulle hele lewe lank langs die kanaal woon het nog nooit die see so kalm gesien nie. Churchill se vloot van ’n mengelmoes van drywende vaartuie waarvan sommige ‘wrakke’ was, red toe bykans een derde van ’n miljoen Britse troepe - die ruggraat van die hele leër! Hitler was stomgeslaan. Die Nazi generaals was bitter omdat so ’n maklike oorwinning hulle ontneem is. Die Britte daarenteen, was diep dankbaar en het dit die “wonderwerk van die kalm waters genoem”.

Ek het vier jaar van my volwasse lewe in Brittanje deurgebring en met ouer mense gesels wat persoonlik bekend was met die reddingspoging te Dunkirk. Hulle het almal ’n glinstering of ’n traan in die oë gekry wanneer daaroor gepraat is. Hulle onthou almal die groot dankbaarheid deur die Britse volk teenoor God na hierdie gebeure. Sondag, 9 Junie 1940, is afgesonder as “'n Dag van Nasionale Dankbetuiging” vir God se uitredding te Dunkirk. Talle Engelse predikante sal vertel dat hulle kerke nog nooit weer so volgepak was soos daardie dag nie. Die vorige dag het ’n Britse koerant ’n artikel gepubliseer getiteld, “Die wonderbaarlike redding” te Dunkirk. ’n Britse offisier wat self te Dunkirk gered is sê: “Een ding kan verseker gesê word oor môre se Danksegging in ons kerke. Van niemand sal die dank met groter opregtheid wees of dieper dankbaarheid as van die offisiere en manskappe wat die Hand van God in die gebeure gesien het nie, magtig om te red en hulle red uit die hand van ’n magtige vyand, terwyl menslik gesproke, hulle aan die genade van die vyand oorgelaat was” (London Daily Telegraph, 8 Junie 1940). Ja, God beheer die lot van nasies - en individue - dikwels deur in te gryp deur middel van die weer.

Sal ons waarlik berou toon?

In ’n tweevoudige profesie vir Israel wat sekerlik ook vandag op ons van toepassing is, sê God vir Sy mense: “Alhoewel Ék julle reinheid van tande gegee het in al julle stede en broodsgebrek in al julle woonplekke - nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die HERE. Alhoewel Ék die reën van julle teruggehou het toe dit nog drie maande voor die oestyd was en op die een stad laat reën maar op die ander nie laat reën het nie, die een stuk land reën gekry het, maar die ander waarop geen reën geval het nie, verdor het; en twee, drie stede na een stad geslinger het om water te drink sonder om die dors te les - nogtans het julle jul nie tot My bekeer nie, spreek die HERE. Ek het julle met brandkoring en met heuningdou swaar getref, baie van julle tuine en julle wingerde en julle vyebome en julle olyfbome het die sprinkaan verslind - nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die HERE” (Amos 4:6-9).

Let op - met die kastyding van Sy eie mense - sal die Skepper soms droogte toelaat in een streek en vloede in ’n ander! Sy doelwit is egter altyd dieselfde, naamlik om Sy mense te oortuig om opregte berou te toon oor hulle sondes!

In ’n ander soortgelyke profesie wat duidelik van toepassing is op die eindtyd, beskryf Joël God se ingryping in die weer: “Hoor dit, o oudstes, en luister, alle inwoners van die land! Het so iets ooit in julle dae of in die dae van julle vaders plaasgevind? Vertel daarvan aan julle kinders, en julle kinders aan hulle kinders, en húlle kinders aan die volgende geslag: Wat die afknyper laat oorbly het, het die treksprinkaan verslind; en wat die treksprinkaan laat oorbly het, het die voetganger verslind; en wat die voetganger laat oorbly het, het die kaalvreter verslind ... Die veld is verwoes, die akkerland treur; want die koring is verwoes, die mos het weggedroog, die olie het verdwyn. Die landbouers staan beskaam, die wynboere weeklaag oor die koring en oor die gars, omdat die oes op die land verlore is” (Joël 1:2-4, 10-11).

Dan gee God opdrag aan Sy leraars: “Heilig ’n vasdag, roep ’n vergadering saam! Versamel die oudstes, alle inwoners van die land in die huis van die HERE julle God, en roep tot die HERE. Ag, die dag! Want naby is die dag van die HERE, en Hy kom soos ’n verwoesting van die Almagtige” (verse 14-15).

Die meeste van u is bewus dat daar omtrent 30 keer in die Bybel van die “ dag van die Here” gepraat word. Hierdie “dag” is bestem vir ’n periode teen die einde van die “wêreld”, beginnende net voor en insluitend die Wederkoms van Christus. Die Skepper waarsku dus almal wat wil luister om “tot die HERE te roep” en om Hom om vergifnis te vra!

Met die vroeëre vervulling van hierdie profesie, sê Joël: “Tot U, o HERE, roep ek, want ’n vuur het die weivelde van die woestyn verteer, en ’n vlam het al die bome van die veld aan die brand gesteek. Selfs die diere van die veld smag na U; want die waterstrome het opgedroog, en ’n vuur het die weivelde van die woestyn verteer” (verse 19-20). God gee dan instruksies: “Maar selfs nou nog, spreek die HERE, bekeer julle tot My met julle hele hart, en met vas en geween en rouklag. En skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die HERE julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil” (Joël 2:12-13).

Omdat ons nasies as ’n geheel aanhou om hulle oor te gee aan verbode seks en hulleself verknog aan geweldadige en seksueel prikkelende rolprente en televisie aanbiedings, ook wat betref die styging in dwelmgebruik, veral onder die jongmense en selfs terwyl die wêreld se liberales volhou om die media te domineer, asook die politiek en selfs die meeste van die kerke, behoort u persoonlik te besef dat die handskrif aan die muur is soos wat God se ingryping in die weer meer en meer vanselfsprekend word. Wat kan u doen? Begin om God met u hele hart te soek. U kan uself na Hom wend in opregte berou en geloof deur die ware Jesus Christus van die Bybel en toelaat dat God u lewe beheer!

U sal dan in die jare wat voorlê oor die beloofde Goddelike beskerming beskik. U sal geseënd wees en deur die traumatiese toestande gelei word wat die mensdom binnekort sal oorval. Dit sal wees soos wat God aan antieke Juda gesê het: “Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister. En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart” (Jer. 29:12-13).

Nadat Jesus die verskriklike gebeure beskryf het wat voor die deur is, sê Hy: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36). Mag God u help om dit te doen! Mag Hy u lei om op te tree ooreenkomstig hierdie kennis wat nou tot u wete gekom het.