Kerkgangers raak rusteloos. Derduisende verlaat hulle kerke. Menige onlangse studies en opnames onder kerkgangers toon dat “kerkdom” - as ’n geheel - nie die antwoorde op die lewe se belangrikste vrae verskaf nie. Daar word nie aan mense die waarheid vertel oor waarom ons hier op aarde is nie, wat werklik na die dood gebeur en of God ’n doel uitwerk deur middel van oorloë, katastrofiese gebeure en nasionale omwentelings, wat regoor die wêreld plaasvind nie.

In sy onlangse boek, How to Quit Church Without Quitting God, het die gewilde spreker en godsdienstige skrywer Martin Zender gesê dat kerke mense nie bied wat hulle nodig het nie. Volgens ’n berig in die tydskrif Insight van 27 Mei 2002: “Iets is verkeerd in ‘kerkland’” sê Zender. “Mense soek vertroosting en antwoorde. Die rede waarom mense nou die kerk verlaat, is omdat hulle werklik ernstige vrae het oor waar hulle gestorwe dogter is en oor hoe die wêreld gaan eindig. Kerke bied musiekuitvoerings en kos, maar antwoord nie die vrae nie”.

Ons vertrou dat al ons lesers daarop sal let dat Die Wêreld van Môre beslis in hierdie opsig “anders” is, want ons gee reguit antwoorde - gerugsteun deur toepaslike feite en duidelike teksverse uit die Bybel. Ons beskou die Bybel as die geïnspireerde Woord van God en moedig ons lesers aan om dit vir hulleself te bewys. Die werklike groot vrae in die lewe word nooit beantwoord deur die mens se redenasies, aannames en menslike voorstellings nie. Die werklike antwoorde word onthul deur die Skepper God in Sy “Handleiding” vir die mensdom, die Bybel.

Ons hoop dat u op entoesiastiese wyse sal voordeel trek uit ons noodsaaklike boekies oor fundamentele vraagstukke in die lewe. U sal oplet dat die aantreklike en maklik-om-te-lees boekies gratis aangebied word. Daar is nooit enige prys, opvolg of versoek vir geld nie. Boekies soos Die Ware God: Bewyse en Beloftes, kan u help om aan uself die bestaan van ’n Almagtige Skepper te bewys, wat ook in wêreldsake ingryp om Sy grootste doel uit te werk. Nog een van ons kragtige en inspirerende boekies, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje?, gee ’n egte “sleutel” ten einde eindtydgebeure te verstaan wat nou vinnig besig is om te gebeur. Ander lewensbelangrike boekies soos Bou ’n vreugdevolle huwelik! en Twaalf sleutels tot verhoorde gebed, kan u help om aan ’n dieper betekenisvolle verbintenis in u huwelik te bou en om ’n opregte verhouding met u Skepper te verdiep.

Verder bied ons (absoluut gratis) ’n merkwaardige Bybelstudiekursus aan. Hierdie uitstekende kursus kan sy studente help om feitlik al die lewe se fundamentele vrae te verstaan. Ek moedig almal van u, wat werklik wil verstaan waaroor die lewe gaan, ten sterkste aan om vir hierdie stimulerende kursus in te skryf. Dit is soos geen ander nie! Hierdie kursus bestaan nie slegs primêr uit sentimente oor die persoon en opoffering ván Jesus Christus nie - fundamentele punte waaraan baie lippediens gee, hoewel min mense dit verstaan. Ons Bybelstudiekursus bou eerder op daardie fondasie en kan u begrip open vir die hele boodskap van die Bybel en vir die grootste doel wat God hier onder uitwerk. Dit stel die student in staat om ’n werklike “gevoel” vir die Bybel te kry en die verband daarmee tot elke vraagstuk in die lewe te begryp.

Die almagtige God wat ons dien is werklik. Hy tree nou kragtig tussenbeide in wêreldsake - soos van ons in hierdie Werk oor dekades geprofeteer het. Hy orkestreer wêreldgebeure om die terugkeer van Jesus Christus as Koning van konings teweeg te bring (Op. 19:11-16). Met die leiding van Sy geïnspireerde Woord - nie menslike verbeelding nie - kan ons begin om die besonderhede van Sy plan en doel met hierdie geprofeteerde gebeure te begryp. Die hoofopskrifte in ons koerante sal meer betekenis begin kry as ons voor ons oë die gebeure sien ontvou wat God voorspel het!

Deur God werklik te ken en om daaglikse kontak met Hom te hê, kan ons lewens meer verryk as wat ons onsself kan voorstel. Ten spyte van die toenemende verwarring in hierdie wêreld, sê die Almagtige God vir ons: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Fil. 4:6-7).

Indien u God werklik ken en leer om u vertroue in Hom te plaas, sal die verskriklike gebeure wat oor die volgende vyf tot 15 jaar gaan plaasvind, u nie verwar of ontmoedig nie, want u sal weet - en weet dat u weet - dat die groot Skepper wat vir ons lewe en asem gee, beslis in beheer is. U sal die apostel Paulus se geïnspireerde stelling glo: “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is” (Rom. 8:28). U sal Paulus se stelling verstaan: “WAT sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees?” (vers 31).

Die ware Jesus Christus van die Bybel is nie dood nie! Hy leef tans - Hy staan aan die regterkant van die Vader in die hemel (Hand. 7:55). Op hierdie stadium is Hy en die Vader besig om - tot sodanige mate dit nodig is - in te gryp en wêreldgebeure te lei en te orkestreer om hulle groot Plan te vervul.

Jesus Christus het spesifiek hierdie komende jare, in hierdie “eindtyd” as die mees ontstuimige tye van die aarde se geskiedenis, beskryf: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Mat. 24:21-22). Christus gee opdrag aan Sy ware volgelinge om Hom en die Vader te gehoorsaam: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Luk. 6:46).

Daarenteen, vir diegene wat hulle lewens werklik aan God oorgegee het, het Jesus hierdie wonderlike woord van bemoediging: “En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is. Toe vertel Hy hulle ’n gelykenis: Let op die vyeboom en al die bome. Net soos hulle bot, weet julle vanself, as julle dit sien, dat die somer al naby is. So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat alles gebeur het nie” (Luk. 21: 28-32).

Iewers op hierdie aarde is ware dienaars van die lewende God. Jesus gee opdrag aan Sy ware predikers: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom” (Mark. 16:15). Dit beteken om die ware antwoorde wat in Sy Woord is, te verkondig. God sê vir ons deur die profeet Amos: “Want die Here HERE doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie. Die leeu het gebrul, wie sal nie vrees nie? Die Here HERE het gespreek, wie sal nie profeteer nie?” (Amos 3: 7-8). In Sy genade het God u in kontak gebring met Sy dienaars wat nou sy werk doen. Deur Sy genade het ons in hierdie werk die werklike “antwoorde” op die groot vrae in die lewe. Ons wil dit opreg met u deel op elke manier wat ons kan. Mag God u help om te verstaan en hierdie geleentheid ten volle te benut.