Daar is sondes wat beskawings vernietig

Is toenemende nuwe idees aangaande seks en moraliteit slegs ’n oplewing van foute uit die verlede wat veroorsaak het dat vorige kulture misluk het?

Vandag kan ons getuig van ’n massiewe poging om die kulture van die Westerse wêreld totaal te verander. Gedrag wat lank reeds as immorele perversies beskou is, soos byvoorbeeld aborsie, prostitusie, homoseksualiteit, dieselfdegeslag huwelike, transvestisisme en transgeslagtelikheid, word nou as aanvaarbaar beskou en selfs as “alternatiewe leefstyle” aangemoedig.

Regerings en kerke verwelkom hierdie “bevrydende” tendens en skoolkinders word geleer om hierdie gedrag as geoorloof en wenslik te beskou. Baie mense wat hierdie agenda teëstaan of bevraagteken, word aangeval as bekrompe dwepers wat vasklou aan ’n verouderde stel waardes. Op sommige plekke word negatiewe gesprekke oor hierdie tans goedgekeurde gedrag dikwels as “haatspraak” bestempel en boetes of gevangenisstraf word opgelê. Is ons egter getuies van ware vooruitgang wat ’n nuwe era van aanvaarding, billikheid en sosiale harmonie sal inlui of kyk ons toe hoe die geskiedenis homself herhaal met die terugkeer van perversies wat die agteruitgang van nasies en die verval van die beskawing sal bespoedig?

Daar word lank reeds gesê dat indien ons nie die lesse van die geskiedenis onthou nie, ons die foute van die geskiedenis sal herhaal. Is daar dus lesse van groot belang uit die geskiedenis wat veral vandag vir ons toepaslik is? Maak ons dieselfde foute wat gelei het tot die ondergang en vernietiging van vroeë kulture en ryke? Indien wel, waarom wys moderne leiers en opvoeders nie op die gevare daarvan om blindelings dieselfde pad na vernietiging te gaan nie? Waarom daag die media nie diegene uit wat die tragiese lesse van die verlede ignoreer nie? Die opgetekende geskiedenis is beslis vol duidelike voorbeelde – indien ons net ons oë oopmaak.

 

Die opkoms van “gay regte”

Sedert die val van die Romeinse Ryk het algemene Bybelse morele waardes oor die huwelik en seksualiteit baie van die Westerse beskawing gekenmerk. Hierdie waardes was wydverspreid in Amerika, Wes-Europa, onder die nasies van Britse afkoms en in gebiede waar hulle invloed versprei het. Gedurende die afgelope paar dekades word hierdie morele waardes egter in die Westerse wêreld aangeval, bespot en geïgnoreer deur ’n stygende vlaag van gedwonge wêreldse waardes. Voor die vroeë 1960’s was daar wette teen aborsie en al 50 state in Amerika het wette gehad wat homoseksuele aktiwiteite strafbaar gemaak het. Tog, vandag ondersteun byna 70 persent van Amerikaners nou dieselfdegeslag huwelike – in vergelyking met slegs 27 persent in 1996 (“Gay marriage is the left’s biggest culture war victory,” TheWeek.com, 8 Junie 2021). “Die meerderheid van volwassenes in al 15 lande in Wes-Europa wat in 2017 deur Pew Research Centre ondervra is, ondersteun dieselfdegeslag huwelike … Daar is selfs groter ondersteuning hiervan in Swede (88%), Denemarke (86%) en Nederland (86%)” (“Where Europe Stands on Gay Marriage and Civil Unions,” PewResearch.org, 28 Oktober 2019). In onlangse jare het Gay “Pride”-parades miljoene toeskouers en duisende karig geklede deelnemers in baie Westerse lande gelok. Dit het heelwat dollars van die toeriste vir die stede wat die parades geborg het ingebring. In 2021 is VS ambassades opdrag gegee om die reënboogvlag te laat wapper ter ere van “Pride month”.

Die mees onlangse stryd in die voortslepende kulturele oorlog is transgeslagtelikheid. Die Amerikaanse president Joseph Biden het “transgeslagtelike regte” as “die burgerregtekwessie van ons tyd” verklaar en daar word druk uitgeoefen om enigiets uit te skakel wat lyk of dit teen transseksuele mense diskrimineer. In Amerika borg openbare biblioteke selfs “Drag Queen storie-ure” waartydens mans wat soos vroue aangetrek is vir kinders van twee wurms lees wat vir mekaar lief is en van ’n babadiertjie wat twee mammas of twee pappas het – temas wat ook in tekenprente uitgebeeld word in vandag se kindertelevisie programme.

Tragies genoeg word daar min of geen melding gemaak van die ernstige gesondheidsrisiko’s wat met hierdie “bevrydende” lewenstyle geassosieer word nie: Aansienlik verhoogde gevalle van MIV-infeksies en ander siektes, groter risiko vir verskeie soorte kanker, ernstige depressie, verhoogde risiko van selfmoord en dood, 10 tot 20 jaar vroeër as die gemiddelde persoon (“Negative Health Consequences of Same-Sex Behavior,” CMDA.com, Junie 2019). Hierdie belangrike inligting word doelbewus nie genoem nie weens dreigemente van regstappe en intimidasie en ook as gevolg van wydverspreide propaganda daarteen om enigiets negatief oor hierdie leefstyl te sê of om ander mense te ontmoedig om dit te volg.

 

Die verval van Bybelse waardes

Gedurende die dekades toe die bevordering van homoseksualiteit al hoe meer toegeneem het, het ’n ander tendens ook ontwikkel wat die media selde in verband bring met die vooruitgang van hierdie wêreldse agenda – die kwynende invloed van Bybelse Christelikheid in die Westerse wêreld. In die vroeë 1960’s het die Amerikaanse Hooggeregshof verklaar dat gebed en die lees van die Bybel in openbare skole ongrondwetlik is. Gevolglik is studente nie meer aan Bybelse beginsels van reg en verkeerd buite hulle huise blootgestel nie en word hulle aangemoedig om hulle eie besluite oor morele waardes te neem, ongeag of hulle idees heeltemal in stryd is met wat die Bybel openbaar.

Die impak van wêreldse teorieë en idees is onbetwisbaar. Die Darwinistiese evolusieteorie argumenteer dat daar geen noodsaaklikheid vir ’n Skepper bestaan nie. Teoloë betwyfel die Bybel, opvoeders beweer daar is geen morele absolutes nie, wetenskaplikes dring daarop aan dat menslike redenasies alleen voldoende is om menslike probleme op te los – alles terwyl akademici en die media die Christendom bespot. Saam het hierdie faktore die afname van invloed van Bybelse waardes in die Westerse samelewing versnel en ’n omgewing geskep wat bydra tot die bevordering van ’n immorele en onsedelike agenda.

Dit het die afgelope dekades gelei tot ’n drastiese afname in kerkbywoning. Doopgetalle neem steeds af en die aantal mense wat beweer dat hulle geen godsdienstige affiliasie het nie, het regoor die Westerse wêreld toegeneem. Vandag woon slegs sowat 24 persent Amerikaners gereeld kerk by (Statista.org). In die Verenigde Koninkryk behoort slegs sowat 2 persent van jongmense aan die Church of England (TheGuardian.com), wat veroorsaak dat die ledetal die afgelope 50 jaar geleidelik afgeneem het. In Australië dui byna die helfte van die bevolking aan dat hulle geen godsdiens het nie (RoyMorgan.com). In Nieu-Seeland woon slegs sowat 9 persent van die mense gereeld kerk by (NZHerald.co.nz).

In die lig van hierdie tendense is dit geen verrassing dat die hoogste aanvaarding van homoseksuele gedrag in die wêreld gevind word in die sogenaamde “Christelike” nasies van die Weste, onder die jonger geslag in Eerstewêreldlande wat polities na links neig en godsdienstig ongebonde is nie (“The Global Divide on Homosexuality Persists,” PewResearch.org, 25 Junie 2020).

In hierdie toenemend wêreldse omgewing het al hoe meer mense uit die oog verloor of nooit geweet wat die Bybel oor die huwelik en menslike seksuele gedrag sê nie. ’n Onlangse opname deur die Cultural Research Centre by die Arizona Christelike Universiteit het bevind dat die persentasie mense wat in God glo, oor die afgelope 30 jaar in Amerika van 86 persent tot 46 persent gedaal het en die persentasie mense wat die Bybel as akkuraat en as die betroubare Woord van God beskou, het van 70 persent tot 41 persent afgeneem. Die opname het ook bevind dat slegs ses persent van die Amerikaners ’n Bybelse wêreldbeskouing het, wat daartoe gelei het dat die navorsers tot die gevolgtrekking gekom het dat “die Bybel toenemend verwerp word as ’n betroubare en toepaslike dokument van lewensbeginsels” (“Just Two-Thirds of American Adults Say They Are Christian: Survey,” ChristianHeadlines.com, 9 Junie 2021).

Die Bybel bevat baie duidelike stellings oor die huwelik en seksuele gedrag wat presies die teenoorgestelde van die moderne progressiewe agenda is. Dit is dus geen verrassing dat Bybelse instruksies beswadder en geïgnoreer word nie. Die Bybel openbaar dat God biologiese manne en vroue na Sy beeld geskep het om vrugbaar te wees en heteroseksueel te vermeerder binne monogame [een vrou] huwelike (Génesis 1:26-28; 2:24). Die Bybel sê duidelik dat dit ’n gruwel vir mans is om seksuele verhoudings met ander mans te hê (Levítikus 18:22) en vir vroue om seksuele verhoudings met ander vroue te hê (Romeine 1:26-27) en sê ook dat dit ’n gruwel vir mans is om soos vroue aan te trek en andersom (Deuteronómium 22:5).

Daar word ook in die Nuwe Testament aan ons vertel dat hoereerders, afgodedienaars, homoseksueles en dronkaards nie die Koninkryk van God sal beërf nie (1 Korinthiërs 6:9-10). Die apostel Paulus het die homoseksuele verhoudings wat gedurende sy tyd algemeen was, duidelik veroordeel as onnatuurlike en “skandelike hartstogte” wat uit ’n “slegte gesindheid” voortspruit (Romeine 1:24-32). Hy skryf ook in 2 Timótheüs 3:16: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid”.

Ongelukkig het baie mense geen gewetensbesware daaroor om hierdie Bybelse instruksies te bespot en te verwerp nie. Daar is selfs diegene wat beweer dat Christelike waardes diskriminerend en haatlik is en vervang en aanvaar behoort te word deur gesindhede ten gunste van homoseksualiteit, dieselfdegeslag huwelike en transgeslagtelikheid. Die Bybel waarsku ons egter: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai” (Galásiërs 6:7).

Is dit net leë woorde? Kan individue en nasies eenvoudig ignoreer wat deur God in Sy woord geïnspireer is? Is daar belangrike lesse in die geskiedenis en duidelike voorbeelde in die Bybel wat opgeteken is van wat met nasies en kulture gebeur het wat gekies het om hulle Skepper se instruksies oor seksualiteit en die huwelik te ignoreer?

 

Sodom se siek samelewing

Een van die oudste en ontnugterendste lesse van die geskiedenis is opgeteken in die boek Génesis. Die stede Sodom en Gomorra is totaal deur vuur en swawel vernietig gedurende die dae van die aartsvader Abraham (ongeveer 2,000 v.C.). Sodom en Gomorra was voorspoedige stede in ’n waterryke vlakte naby die Dooie See (Génesis 13:10). Vandag is die hele gebied rondom die Dooie See ’n droë, dorre, verlate woesteny van rotse en sand, soos wat dit vir duisende jare was ná die vernietiging van Sodom en Gomorra.

Argeoloë het terreine gevind wat dalk die oorblyfsels van antieke Sodom kan wees – Tell el-Hammam en Bab edh-Dhra. Albei terreine toon vernietiging deur vuur en lae as van ongeveer die tyd van Abraham en albei terreine is naby die Dooie See. Alhoewel nie een van die terreine duidelik as die antieke stad Sodom geïdentifiseer is nie, verleen die tyd, wyse van vernietiging en ligging, geloofwaardigheid aan die Bybelse beskrywing van hierdie antieke stede (“Which Site is Sodom?,” Biblical Research Bulletin, volume XIV, nr. 1, 2014).

Alhoewel bewyse van argeologie ons kan voorsien van ’n beskrywing van wat met Sodom en Gomorra gebeur het, teken slegs die Bybel aan waarom hierdie skielike vernietiging plaasgevind het – daardie rede is uiters toepaslik op ons huidige situasie.

Ons lees “die manne van Sodom was sleg en groot sondaars voor die Here” (Génesis 13:13) en dat hulle sonde “waarlik baie swaar” was (Génesis 18:20). Daar het twee engele, met die voorkoms van manne verskyn, om Abraham se broerskind Lot te besoek. Die mans van Sodom het toe die huis omsingel en geëis om met hulle omgang te hê (Génesis 19:4-5). As gevolg van hierdie verdorwe gedrag het die engele vir Lot en sy gesin uit die stad uitgelei voordat dit totaal deur vuur en swawel vernietig is (Génesis 19:24-28).

Sommige mense probeer om die rol wat homoseksualiteit in hierdie katastrofiese vernietiging gespeel het te verontagsaam deur te beweer dat ’n poging tot seksuele aanranding die enigste sonde was wat tot Sodom se ondergang gelei het. Hierdie argument ignoreer egter ander geskrifte wat duidelik dui op homoseksualiteit en ander seksuele perversies as belangrike faktore in hierdie ramp. Eségiël 16:40-50 noem hoogmoed, luuksheid, ledigheid, verwaarlosing van die armes en gruwels (wat homoseksualiteit insluit – sien Levítikus 18:22; 20:13). In die Nuwe Testament sê die boek Judas dat Sodom en Gomorra ’n voorbeeld van stede was wat deur vuur vernietig is omdat hulle “gehoereer en agter vreemde vlees aan geloop het” – onnatuurlike beoefening van seks (Judas 1:7).

Wat het die sonde van Sodom en sy vernietiging egter vandag met ons te doen? In Lukas 17:28-30 word aan ons vertel dat wanneer Jesus Christus terugkeer om hierdie aarde te oordeel, toestande sal wees net soos in Sodom gedurende die dae van Lot. Vandag sien ons die aanvaarding en bevordering van homoseksualiteit en ander seksuele perversies op ’n massiewe skaal in nasies wat voorheen beweer het dat hulle in God en Bybelse waardes glo. Hoe lank sal God dit nog laat voortduur?

 

Heidense Griekeland en Rome

In geskiedenisklasse hoor ons baie van Griekse demokrasie en Romeinse reg, maar ons hoor selde van wat sosiaal aanvaarbaar was in daardie antieke heidense kulture – praktyke en gesindhede teenoor seksuele gedrag wat tot onlangse dekades afstootlik was vir Westerse denkrigtings wat deur byna 2,000 jaar gekondisioneer was deur Bybelse leerstellings oor seksualiteit.

Seksuele losbandigheid was wydverspreid onder die heidense Grieke en Romeine. ’n Getroude man kon seksuele verhoudings met manlike en vroulike slawe hê. Prostitusie is aanvaar, wettig en belas – wat finansiële wins aan plaaslike regerings bevorder het en na heidense tempels wat deur manlike en vroulike “heilige” prostitute bedien is – soos in antieke Korinthe. Vir mans was daar geen stigma daaraan verbonde om biseksueel te wees nie en pederastie – seksuele verhoudings tussen volwasse mans en adolessente seuns – was as ’n normale praktyk beskou. Trouens, die verhouding tussen volwasse mans en adolessente seuns was beskou as ’n “hoër vorm” van liefde as wat ’n seksuele en intellektuele verhouding tussen gelykes behels. Dit is dus nie toevallig dat die Griekse god Eros en sy Romeinse eweknie Cupido as naakte seuns uitgebeeld word nie.

Pornografiese kuns was algemeen in huise en openbare baddens uitgestal. Gimnasiums waar mans en seuns naak geoefen het om hulle liggaamsbou te ontwikkel, was dikwels waar hierdie volwasse-adolessente verhoudings begin het. Vandag noem ons hierdie seksuele rowers pedofiele. Kindermoord is ook wyd deur die Grieke en Romeine beoefen en in hierdie antieke heidense kulture is vroue as minderwaardig teenoor mans beskou en wat deur die gode geskep is om net lastig vir die mensdom te wees.

Die keiser Tiberius het groepe seuns aangehou vir sy persoonlike perverse plesier. Nero het in die openbaar met ’n transvestistiese man getrou en verhoudings met ander mans en vrouens gehad. Keiser Elagabalus het ook met ’n man getrou – afgesien daarvan dat hy verskeie vrouens en selfs meer vroulike minnaresse gehad het. Suetonius, ’n Romeinse skrywer in die tweede eeu n.C., het ’n lys van hierdie walglike gedrag in The Twelve Caesars saamgestel.

Ons leer uit die geskiedenis dat hierdie perverse gedrag al duisende jare bestaan. Die “playboy”-leefstyl, wydverspreide wettige prostitusie, babamoord, homoseksualiteit, dieselfdegeslag huwelike, transvestisisme en sodomie, is nie ’n nuwe of moderne verskynsel nie. Dit is nie verbasend dat morele verval en losbandigheid van die redes is wat vir die verval en die val van die Romeinse Ryk genoem word nie.

Dit was in hierdie heidense kulturele omgewing van moord, seksuele onsedelikheid, perversie en uitbuiting vir persoonlike bevrediging, dat Jesus en Sy Apostels begin het om die Evangelie van die Koninkryk van God te verkondig en Bybelse morele waardes aan te moedig. Jesus het die belangrikheid van die Bybelse huwelik beklemtoon en hoerery en egbreuk veroordeel. Hy het ook onderrig dat porneia – afwykende seksuele gedrag nie net boos was nie, maar ’n wettige rede vir egskeiding is (Matthéüs 19:4-9). Sulke gedrag is totaal in stryd met die Wet van God en sal mense daarvan weerhou om die Koninkryk van God binne te gaan (1 Korinthiërs 6:9-10; 1 Timótheüs 1:8-9).

Die koms van die Christendom en die verspreiding van Bybelse beginsels oor die hele Romeinse wêreld het standaarde van seksuele moraliteit verhoog, kindermoord beëindig, die status van vroue verbeter, die gesin versterk en het uiteindelik gelei tot die afskaffing van gladiatorgevegte in die arena (sien How Christianity Changed the World deur Alvin Schmidt). Selfs al het korrupsie mettertyd in die Evangelie van die Koninkryk van God ingetree, het Bybelse beginsels van moraliteit voortgegaan om die kulturele waardes van die Westerse beskawing te beïnvloed – tot die laaste paar dekades. Weereens is dit nodig om te vra: Het hierdie geskiedkundige voorbeelde enige verband met ons vandag en wat lê voor vir Westerse nasies?

 

Lesse uit die verlede

Vandag is ons getuies van ’n seksuele revolusie wat doelbewus Bybelse moraliteit verwerp en terugkeer na die seksuele losbandigheid en verdorwe perversies van die antieke heidense wêreld – met die verkeerde idees van verdraagsaamheid, vooruitgang en sosiale geregtigheid. Tog toon die geskiedenis aan dat individue en kulture wat die weg volg om onsedelike begeerlikhede te bevredig en ons Skepper se Wette te ignoreer, tot ’n verskriklike einde sal kom.

Baie stemme in die regering, universiteite, die media en selfs godsdiens beywer hulle vir die sake van aborsie, homoseksualiteit en transgeslagtelikheid. ’n Harvard-groep het selfs onlangs ’n referaat gepubliseer oor die veronderstelde voordele van die wettiging van prostitusie – soos “belastinginkomste” (“To Protect Women, Legalize Prostitution,” HarvardCRCL.org, 1 Oktober 2019).

Tog herinner die Bybel – wat uitgesproke is teen prostitusie – ons dat Bybelse gebeure opgeteken is as ’n waarskuwing vir toekomstige geslagte, veral vir diegene wat aan die einde van hierdie tydperk sal leef (1 Korinthiërs 10:11). Jesus sê dat sosiale toestande aan die einde van die tyd en nét voor Sy Wederkoms sal wees soos in die dae van Noag en in die dae van Lot in Sodom (Lukas 17:26-30). In Noag se tyd was “die aarde verdorwe ... want alle vlees het sy wandel op die aarde verderwe” as gevolg van wydverspreide goddeloosheid en God het daardie wêreld tot ’n einde gebring met ’n groot vloed (Génesis 6:5-13). In die dae van Lot is Sodom en Gomorra totaal vernietig weens die omvang van hulle sondige weë – wat homoseksuele perversies ingesluit het. Tog was dit net sowat 400 jaar ná die vloed. Die antieke nasies van Israel en Juda, met kennis van hierdie opgetekende gebeure, het gekies om in die voetspore van Sodom en Gomorra te volg (Jesaja 1:10; Jeremia 23:14). Gevolglik is hulle deur Assirië en Babilon verower en in ballingskap weggevoer.

Vandag blyk die meeste nasies in die Weste blind te wees vir die feit dat ons die foute van die geskiedenis herhaal. In die antieke Grieks-Romeinse wêreld was kindermoord algemeen en aanvaarbaar. Vandag is aborsie wettig en beëindig dit die lewens van miljoene babas elke jaar. In die Grieks-Romeinse wêreld was pornografiese kuns, seksuele promiskuïteit, prostitusie en homoseksualiteit algemeen regdeur die Ryk. Vandag het pornografie ’n multimiljoen dollar industrie geword en word wêreldwyd via die Internet versprei. Seksuele losbandigheid vier hoogty en mensehandel is die tweede grootste kriminele aktiwiteit in die wêreld. Homoseksualiteit en prostitusie word deur howe verdedig en bevorder deur gegradueerdes van die Harvard Universiteit. Tog, toe Harvard in 1636 deur Puriteine gestig is, was dit bedoel om predikers op te lei om God en die Bybel te ken en daarvolgens te leef (“Shield and ‘Veritas’ History,” HCS.Harvard.edu).

Wat baie mense in die Weste vergeet het, is dat daar ’n God is wat die opkoms en ondergang van nasies bepaal (Job 12:23; Daniël 2:21; 4:17). Hy beloof seëninge vir gehoorsaamheid aan Sy Wette en ernstige gevolge vir individue en nasies wat daardie Wette ignoreer en oortree (Levítikus 26; Deuteronómium 28). Baie Westerse nasies het vergeet dat hulle die afstammelinge van die antieke Israeliete is – die mense aan wie Moses geïnspireer was om meer as 3,000 jaar gelede te skryf: “Want ek weet dat julle ná my dood gewis verderflik sal handel en sal afwyk van die weg wat ek julle beveel het, sodat die onheil julle aan die einde van die dae sal teëkom, omdat julle sal doen wat verkeerd is in die oë van die Here om Hom deur die werk van julle hande te terg” (Deuteronómium 31:29).

Die doelwit van die vroeë Kerk was om die Evangelie van die toekomstige Koninkryk van God te verkondig en om te waarsku wat die gevolge van die afwyking van God en Sy weë sou wees (Markus 1:14-15). Dit is ook die doelwit van die Kerk vandag: “roep uit die keel, hou nie terug nie, verhef jou stem soos ’n basuin! En verkondig aan my volk hulle oortreding en aan die huis van Jakob hulle sondes” (Jesaja 58:1). Tensy die nasies van die Weste wakker word en uit die lesse van die geskiedenis leer, sal hulle lot die pad van Sodom, Gomorra, Griekeland en Rome volg.

Sal u uit die foute van die verlede leer en die gevolge vermy wat in die komende dae sal kom? Sal u gereed wees vir die Wederkoms van Jesus Christus, wanneer die wêreld sal leer om werklik volgens die Wette van God te leef? Daardie besluit is u eie om te neem.