Die vermaaklikheidsbedryf het mense se gedagtes gevul met baie vals idees aangaande die einde van die wêreld. Sal u Jesus Christus erken by Sy wederkoms – sal u daarvoor gereed wees?

Invalle uit die ruimte! Aardbewings! Tsunamies! Welkom by die rolprente ... en by u toekoms?


Een van die mees suksesvolste rolprent genres in die laaste drie dekades was die “ramp-rolprente”. Spesiale digitale effekte maak dit moontlik om tonele van rampe baie meer realisties uit te beeld as ooit tevore. In opwindende volgorde word stede vernietig of mense kom tegnologies meer gevorderde wesens teë wat daarop uit is om die aarde te verower. Alles lyk so werklik. Trouens, die tonele en karakters lyk so realisties en boeiend op die skerm dat mense hul maklik kan voorstel sulke dinge gebeur werklik.

Hoe sou u egter reageer indien ’n betroubare gesag aan u sou vertel dat daar ’n dreigende inval van nie-mense aan die kom is om oor die aarde te regeer? Sal u help om teen hulle te veg? Die karakters in die rolprente weerstaan mos altyd die invallers uit die ruimte ... en u wil sekerlik tog aan die kant van die helde wees.

Die idee van “invallers uit die ruimte” word ernstig opgeneem deur sommige vooraanstaande wetenskaplikes. Oorweeg die volgende: “Die Britse fisikus, Stephen Hawking, sê daar is ruimtewesens in die ruimte, maar dit mag te gevaarlik wees vir mense om interaksie te hê met buite-aardse lewe. Hawking beweer in ’n nuwe dokumentêr ... dat intelligente uitheemse lewensvorms byna verseker bestaan, maar waarsku dat kommunikasie met hulle ‘te riskant’ kan wees. ‘Ons kan maar net na onsself kyk om te sien hoe intelligent lewe kan ontwikkel in iets wat ons nie graag sou wou ontmoet nie’, het Hawking gesê. ‘Ek vermoed dat hulle moontlik in massiewe skepe leef ... nadat hulle al die hulpbronne van hul tuis-planeet opgebruik het. Sulke gevorderde ruimtewesens kon miskien nomades geword het, op die uitkyk vir watter planete hulle kan bereik om te oorwin en te koloniseer’” (“Hawking: Aliens may pose risks to Earth”, MSNBC, 25 April 2010).

Interessant genoeg, ’n soortgelyke rolprent-komplot het afgespeel in die suksesvolle rolprent “Independence Day” wat in 1996 vrygestel is, lank voor Professor Hawking se 2010 kommentaar. In daardie rolprent was ruimte-invallers met gevorderde tegnologie daarop uit om menslike lewe te vernietig, ten einde die aarde se hulpbronne te ontgin.

’n Boek van wetenskap?

Is die Bybel net ’n versameling van antieke literêre werke? Behoort dit vertrou te word as ’n wetenskaplike boek? Sou u verwag dat die Bybel inligting bevat aangaande ’n komende inval uit die ruimte? Is dit ’n boek van literatuur, wetenskap, of fiksie?

Hierdie vrae bied vals keuses. ’n Beter vraag sou wees: “Is die Bybel ’n boek van geskiedenis”? Dit is beslis. Die geskiedenis wat dit bevat word konsekwent deur moderne argeologie bevestig. Dit is ook onder andere ’n “handleiding” om ’n suksesvolle lewe te lei.

Op die koop toe, as geskiedenis, is die Bybel uniek in dié sin dat dit beide die verlede en die toekomstige geskiedenis bevat. “Profesie” is ’n ander naam vir daardie toekomstige geskiedenis. Die God van die Bybel sê aan ons: “Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen” (Jesaja 46:9-10). Wat God aan ons sê oor toekomstige gebeure is so seker soos die geskiedenis wat reeds plaasgevind het.

Hoe lyk vervulde profesie?

Vervulde profesie mag so dramaties wees soos ’n riller-rolprent. Dit mag selfs gesien word as roetine soos ’n storie in u oggend-koerant – behalwe dat die profesie duisende jare gelede gegee is. In een opsig is God ’n voortydige nuusleser. Byvoorbeeld, in 70 n.C. het Romeinse soldate die tempel in Jerusalem vernietig terwyl hul ’n Joodse rebellie onderdruk het. Die Jode was gou daarna versprei in wat dikwels die “Diaspora” genoem word. Lank voor daardie tyd het God egter deur Sy profeet Sagaria voorspel dat die Joodse volk baie eeue later sou terugkeer uit ’n verstrooiing, as deel van ’n reeks geprofeteerde gebeure wat sal plaasvind net voor die wederkoms van die Messias. “Kyk, Ek maak Jerusalem vir al die volke rondom tot ’n beker van bedwelming, en ook teen Juda sal dit wees tydens die beleëring teen Jerusalem. En in dié dag maak Ek Jerusalem tot ’n baie swaar klip vir al die volke: elkeen wat dit optel, sal hom daarmee sekerlik seer maak; en al die nasies van die aarde sal daarteen vergader word ... In dié dag sal Ek die stamhoofde van Juda maak soos ’n pan met vuur onder ’n hoop hout en soos ’n brandende fakkel onder gerwe – hulle sal regs en links al die volke rondom verteer; maar Jerusalem sal nog bewoond wees op sy plek in Jerusalem” (Sagaria 12:2-3, 6).

Trouens, na byna twee millennia van ballingskap, het afstammelinge van die antieke koninkryk van Juda in 1948 hulself weer in hulle tuisland gevestig as die volk van Israel. Die omliggende Arabiese nasies, toegespits op die vernietiging van Israel, het onmiddellik aangeval, maar hulle is “verbrand” en teruggedryf. Gedurende 1967, is Jerusalem in die “Sesdaagse Oorlog” weer teruggeneem deur die Israeli’s, sedert daardie tyd, is Jerusalem “’n baie swaar klip” en ’n hardnekkige politieke probleem vir alle nasies. Daardie gebeure is nou geskiedenis, nogtans het die profeet Sagaria, dit duisende jare gelede aangeteken as “toekomstige geskiedenis”!

Watter ander bykomende “toekomstige geskiedenis” sal u as nuus sien in die nabye toekoms? Die Wêreld van Môre het lank reeds sommige van die belangrikste ontwikkelings wat ons kan verwag, geëien:

• ’n Tien-nasie “Verenigde State van Europa” sal gevorm word, onder leiding van Duitsland. Dit sal nie ’n sekulêre unie wees, soos die EU tans nie, maar sal gelei word deur ’n baie charismatiese godsdienstige leier en ’n kragtige politieke figuur. Die politieke leier sal nie sy mag deur geweld verkry nie; die tien nasies – of “konings” – sal dit aan hom gee, waarskynlik vir ekonomiese redes. Brittanje sal nie deel vorm van hierdie Unie nie.
• Hierdie groot Europese leier sal ’n ooreenkoms aangaan met Israel wat, onder andere, die Jode sal toelaat om godsdienstige offers in Jerusalem te hervat.
• ’n Magtige Islamitiese leier sal opstaan en teen die Europese Moondheid “in botsing kom”. Dit sal lei tot ’n Europese inval in die Midde-Ooste, wat die Islamitiese mag sal verslaan. Dit sal ook die offers in Jerusalem beëindig (sien Daniel 11).
• Die beëindiging van die offers in Jerusalem sal die begin wees van ’n tydperk van groot beproewing op die aarde, ook bekend as “Die Groot Verdrukking” (sien Mattheüs 24:15-22).
• Vir baie waarnemers wat nie bewus is van Bybelprofesie nie, sal hierdie gebeure – so dramaties as wat hul ook al mag wees – “normaal” lyk in die moderne konteks, alhoewel hulle in werklikheid lank gelede voorspel is deur ’n God “wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie” (Jesaja 46:10). God se plan vir die mensdom sal nie faal nie. Baie waarnemers sal egter verblind wees deur sekulêre aannames wat die moontlikheid uitsluit dat die Skepper werklik bestaan en dat Hy besig is om Sy plan uit te werk.

Die rolprente raak werklik

Afgesien van hierdie politieke en militêre ontwikkelings, sal ander besonderhede van ons “toekomstige geskiedenis” so dramaties wees dat hulle opvallend ooreen sal kom met die rampe wat in Hollywood se “ramp-rolprente” uitgebeeld word:

Aardbewings: Karakters in die gewilde film, 2012, wend pogings aan om te vlug vir die wêreldwye ramp, teweeggebring deur astronomiese gebeure wat veranderings in die aarde se kors veroorsaak en wat lei tot groot aardbewings. Terwyl karakters nouliks aan die dood ontkom, gly Los Angeles, Kalifornië, die see in. Los Angeles was ook vernietig in die 1974 suksesstuk, “Earthquake”, asook in ander rolprente. Dit wil voorkom of Hollywood se vervaardigers besorg is oor die vernietiging van “LA”. In die rolprente veroorsaak die aardbewings ook massiewe tsunami’s wat stede wêreldwyd vernietig.

Studente van Bybelprofesie sal besef die Skrif beskryf groot aardbewings net voor die wederkoms van Christus. Die apostel Johannes het ’n merkwaardige visioen geboekstaaf waarin verskeie groot aardbewings genoem word. “En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ’n groot aardbewing ... en die hemel het weggewyk soos ’n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit; en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Openbaring 6:12-17). Hierdie Skrifgedeelte alleen kon byna dien as die draaiboek vir ’n moderne ramp-rolprent.

Ander profetiese gedeeltes in die Skrif noem ook dat groot aardbewings voor die einde van hierdie tydvak sal realiseer. Die apostel Paulus verduidelik God se motivering hiervoor, dan haal hy aan uit Haggai 2:6: “... maar nou het Hy belowe en gesê: Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe. En hierdie woord: nog een maal, wys duidelik op die verandering van die wankelbare dinge as geskape dinge, sodat die onwankelbare kan bly” (Hebreërs 12:26-27).

Tsunami’s: Gedurende die afgelope jare beeld baie gewilde rolprente soos PoseidonTidal Wave en 2012 groot verwoesting uit wat veroorsaak word deur enorme golwe van die see. Dit boots die Bybelse beskrywing na: “En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word” (Lukas 21:25-26).

Asteroïdes en komete: Sommige ramp-rolprente – soos Armageddon en Deep Impact – beeld ’n asteroïed of komeet uit wat teen die aarde bots en groot skade veroorsaak. Die Bybel voorspel weereens ’n soortgelyke gebeurtenis: “... en ’n groot ster wat soos ’n fakkel brand, het uit die hemel geval, en dit het geval op ’n derde van die riviere en op die waterfonteine. En die naam van die ster word genoem Alsem; en ’n derde van die waters het als geword, en baie mense het gesterwe van die water, omdat dit bitter geword het” (Openbaring 8:10-11). Wanneer hierdie dinge uiteindelik plaasvind, sal mense dit beskou as ’n natuurlike ramp, of sal hulle die Bybelse waarskuwing erken?

Siekte-epidemies: Gedurende die afgelope jare is talle ramp-rolprente gebaseer rondom die tema van siekte-epidemies. Rolprente soos Outbreak en Ebola Syndrome boots die Skrif se waarskuwing na dat groot pandemiese siektes aan die einde van hierdie tydperk die aarde se bevolking sal verwoes. “Toe gaan die eerste een weg en gooi sy skaal op die aarde uit, en kwaai en bose swere het aan die mense gekom wat die merk van die dier gehad het en sy beeld aanbid het ... en hulle het die God van die hemel gelaster oor hulle pyne en oor hulle swere, en het hulle nie bekeer van hul werke nie” (Openbaring 16:2, 11). Let daarop dat in plaas daarvan om erkenning te gee aan God se waarskuwing en teregwysing, toon die Bybel dat baie mense God sal blameer vir hul siekte en hulle harte teen Hom verhard, in plaas van hulself te distansieer van hulle sondes. Hierdie verharding sal aanleiding gee tot ’n finale geprofeteerde wêreldwye opstand teen God, ’n groot stryd tussen goed en kwaad tydens die wederkoms van Jesus Christus.

’n Bybelse ruimte-inval?

Invallers uit die ruimte: Een van Hollywood se heel gewildste rolprentgenres is dié van invallers vanuit die buitenste ruim. Die ruimtewesens kan oulik wees soos in ET: The Extra-Terrestrial, of welwillend soos in Close Encounters of the Third Kind. Hulle mag selfs skrikwekkende wesens wees wat daarop uit is om die mensdom te vernietig, soos in War of the Worlds.

Eindtydse profesieë in die Bybel beskryf ’n buitengewone gebeurtenis waar ’n heerser met groot mag en heerlikheid uit die wolke sal neerdaal om ’n koninkryk op die aarde te vestig. “En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (Mattheüs 24:30).

Let daarop dat hierdie merkwaardige profesie, deur Jesus Self gegee, verklaar “al die stamme van die aarde [sal] rou bedryf” ten aanskoue van Christus se koms. Sal die mense hierdie dramatiese gebeure sien as goddelik vervulde profesie – of as natuurlike gebeure wat hulle alreeds, op die een of ander wyse, baie realisties uitgebeeld gesien het in een of andere van die rolprente? Sal hulle Christus sien as ’n Verlosser of as ’n indringer? Die Bybel dui op laasgenoemde.

Die apostel Paulus waarsku Christene dat ’n tyd van groot misleiding op die aarde sal kom: “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thessalonicense 2:3-4).

Paulus herinner dan die broeders in Thessalonika aan die profesieë wat hy met hulle gedeel het. “Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie? En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid” (verse 5-12).

Die ware Armageddon

Die Bybel voorspel dat Juda – die moderne nasie van Israel – weer diere-offers sal instel, maar dat dié offers gestop sal word deur ’n onregverdige koning wat Jerusalem sal beset. Dit sal plaasvind as deel van ’n inval in die Midde-Ooste deur ’n groot Europese “koning van die Noorde”. Die einde van die offers sal ’n reeks rampspoedige gebeure oor ’n tydperk van drie-en-’n-half jaar begin, wat ’n hoogtepunt sal bereik wat baie mense op die aarde sal glo, ’n inval is deur ’n vyandige ruimtewese en sy leërs. Daardie “inval” sal egter in werklikheid die lankverwagte wederkoms van die Messias, Jesus Christus – die Koning van die konings wees!

“En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armagéddon” (Openbaring 16:16). Die woord “Armagéddon” is afgelei van ’n plek omtrent 80 km noord van Jerusalem, wat “Har Megiddo” of die berg Megiddo, genoem word. Dit is geleë aangrensend aan die rant van die dal van Jisreël, waar genoeg ruimte is vir groot leërs om byeen te kom. Dit sit wydsbeen oor die noordelike invalsroete in Israel. Dit was in antieke tye die toneel van verskeie gevegte. Let daarop dat die leërs slegsversamel word by Armagéddon. Die werklike naam van die geveg is “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” en dit sal plaasvind op ’n ander plek – die dal van Jósafat (Joël 3:1-2) – wat die Kidronvallei is in Jerusalem. Die Kidronvallei is geleë tussen die Tempelberg en die Olyfberg.

Dit is ondenkbaar, maar die nasies van die aarde – in ’n toestand van “uiterste dwaling” – sal uittrek om teen Christus te veg met Sy wederkoms – net soos wat hulle sou veg teen ’n uitheemse vyand. “En die Here sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog. En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant” (Sagaria 14:3-4). In die rolprente verslaan die held altyd die invallende vreemdelinge – maar hierdie stryd is nie ’n draaiboek vir ’n rolprent nie. Hulle sal teen Jesus Christus veg, aan wie “alle mag in die hemel en op aarde” gegee is (Mattheüs 28:18) en die klimaks van die storie is dat die nasies se leërs uitgewis sal word (Sagaria 14:12)!

Geloof op aarde?

God sê aan ons dat Hy “die aarde sal skud” om die wêreld se aandag te verkry. Sal ’n wêreld in geestelike duisternis egter in staat wees om te besef wat werklik besig is om te gebeur? Slegs diegene wat gewillig is om na hierdie dramatiese gebeure deur die oë van geloof te kyk, sal sien. Indien ons onsself toelaat om ingelig te word deur geloof, dan sal ons glo wat God deur Sy profete sê. Indien nie, sal slegs misleiding in daardie dae oorbly. Op die ou end sal dit ’n keuse wees tussen die vlees en die Gees. Jesus het gevra, “maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” (Lukas 18:8).