Die laaste paar dekades het ’n merkwaardige verskyning en toename van magte wat vyandiggesind teenoor Bybelse waarhede en Christelike oortuigings is beleef – veral onder die meer gegoede, opgevoede lede van die samelewing. Terwyl sommige mense hierdie verandering as die onvermydelike gevolg van maatskaplike en intellektuele vooruitgang beskou, het Bybelse profesieë lank gelede reeds voorspel dat dit ’n teken sal wees dat die einde van die era en die Wederkoms van Jesus Christus naby is. Hierdie antieke profesieë neem gestalte aan in ons moderne samelewings!

Antieke profesieë

Nadat Jesus deur Sy dissipels gevra is: “... wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” het Hy gewaarsku: “En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei” (Mattheüs 24:3, 11). Die apostel Paulus herhaal by verskeie geleenthede dieselfde waarskuwings: “... dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word [dit sal laat vaar, rebelleer teen die geloof] en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle gewete” (1 Timótheüs 4:1-2) en “dat daar in dielaaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, [lief vir hulle eie idees] ... lasteraars [arrogant, minagtend teenoor ander] ... onheilig [minagtend, sonder vroomheid, ongodsdienstig] ... kwaadsprekers ... meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God” (2 Timótheüs 3:1-4).

Die apostel Petrus het soortgelyke profetiese waarskuwings uitgereik: “Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer ... en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word” (2 Petrus 2:1-2). Petrus het voorspel dat “valse leraars” [leraars van leuens] sal “belaster [spot en hoon] wat hulle nie ken nie” en hulle sal “trotse woorde vol onsin” [arrogante onsin] spreek wanneer hulle ’n beroep doen op die mense se sinlike begeertes (2 Petrus 2:12, 18). Petrus plaas hierdie waarskuwings duidelik in ’n eindtydse konteks. “Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel” (2 Petrus 3:3). Judas, die broer van Jesus, skryf: “Maar julle, geliefdes, moet die woorde onthou wat tevore gespreek is deur die apostels van onse Here Jesus Christus, dat hulle vir julle gesê het: In die laaste tyd sal daar spotters wees wat volgens hul eie goddelose begeerlikhede wandel” (Judas 17-18).

Die Expositor’s Bible Commentary sê Petrus voorspel “die verskyning van spotters in die laaste dae, wat Bybelse waarhede ontken en op ’n goddelose manier lewe ... wat ’n toekomstige eskatologie ontken [’n eindtydse vervulling van hierdie profesieë]”, en: “Deur die geloof van Christene te bespot, ondersteun hulle hul eie posisie” deur te ontken dat gebeure enige profetiese betekenis het (sien kommentaar op 2 Petrus 3:3-4, bll. 284-285). Die merkwaardige veranderings wat in die afgelope dekades plaasgevind het en vandag steeds plaasvind, is beduidend en beslis in lyn met talle eindtydse profesieë in die Nuwe Testament.

Hedendaagse gebeure

Een van die mees verrassende ontwikkelings die afgelope tyd in die “Christelike” nasies van die Weste is die opkoms van militante ateïste en agnostici wat ’n vasberade aanval op die Christelike geloof en die Judeo-Christelike waardes wat die grondslag van die Westerse beskawing vorm loods. Boeke, artikels en webwerwe het verskyn om die Skrif bespotlik te maak, die God van die Bybel uit te tart en die idee dat Jesus weer sal kom, as onbelangrik af te maak en met Bybelgebaseerde sedelike opdragte die spot te dryf (“Secular and Proud of It”Wall Street Journal, 5 Januarie 2015). Hierdie selfaangestelde kritici en leermeesters van die mensdom beweer “God is denkbeeldig” en dat hele boeke in die Bybel versinsels is wat deur onbekende bedrieërs geskryf is. Ten spyte van die feit dat die meerderheid burgers in die Westerse nasies beweer dat hulle Christene is, het ateïstiese organisasies regsgedinge ingestel om die vertoon van die Tien Gebooie in openbare plekke te verwyder, gebede in klaskamers te verbied en om enige vorm van Christelike onderwys in staatsondersteunde skole te voorkom – nogtans word studente aangemoedig om van heidense godsdienste te leer en dit te beoefen!

Instellings is gestig om die publiek te onderrig aangaande ateïsme, agnostisisme en nie-geloof en om geestelikes wat hulle geloof versaak het, te help. Optogte word gehou om ateïstiese idees te bevorder, waartydens die deelnemers baniere met “God is ’n mite” en “Ons is godloos, raak gewoond daaraan” rondswaai, (“‘Godless’ rally for recognition”, Washington Post, 24 Maart 2012). By ’n saamtrek in Washington, DC, het die Britse ateïs Richard Dawkins ’n skare van ongeveer 10,000 mense aangeraai om “gelowiges te konfronteer met hulle ‘heel absurde’ geloofsoortuigings” en “om hulle in die openbaar bespotlik en belaglik te maak”. Nog ’n spreker het die skare in die Eed van Getrouheid gelei en doelbewus die frase “onder God” weggelaat (“Richard Dawkins to atheist rally: ‘Show contempt’ for faith”, USA Today, 25 Maart 2012). Dit is ontnugterend om te sien hoe die moderne militante ateïste “vry wees van godsdiens” in Westerse nasies wat lankal reeds “vryheid vangodsdiens” toelaat, eis.

Vergete geskiedenis

Die Amerikaanse kolonies is hoofsaaklik deur Britse andersdenkendes, wat vryheid van godsdiens nagestreef het gevestig. Die vroeë koloniste was 80% Brits en 98% Protestants. Hulle het ’n gemeenskaplike taal gepraat, dieselfde godsdiens bely en ’n gemeenskaplike stel waardes gehad – en hulle het vas geglo dat leuens, steel, dronkenskap, egbreuk pleeg, egskeiding en homoseksualiteit sondes is soos in die Skrif beskryf. Die Franse skrywer, Alexis de Tocqueville het in die 1800’s opgemerk dat “die hele bestemming van Amerika” en sy Anglo-Protestantse kultuur gevorm is deur Puriteine uit Engeland en hulle siening van die oppergesag van die Bybel as ’n gids vir menslike gedrag is (Who Are We?, Samuel Huntington, bll. 18-19, 64-65).

Gedurende die afgelope dekades het dit nogtans alles in Europa, Brittanje en in Amerika verander met die ontstaan van magte wat vyandig teenoor hierdie geskiedkundig Christelike erfenis is. Gedrag wat eens as sondig veroordeel was word nou aanvaar en as normaal aanbeveel. Gebed en die vermelding van God se naam in skoolklaskamers word nou deur wetgewing verbied. Egskeiding en moord op ongebore babas word toegelaat en neem vinnig toe. In nasies wat hulleself eens “Christelik” genoem het, paradeer militante ateïste, agnostici en homoseksueles nou openlik en spot met diegene wat werklik in die Skrif en die God van die Bybel glo. Oos-Anglia, waar die Puriteine vandaan kom, word nou beskou as “die ateïste se hoofstad” in Engeland en is ’n “redelik godlose plek” (“We do things differently in Norfolk”, The Guardian, 3 Maart 2009).

’n Tyd van afrekening

Wat baie mense vandag nie besef nieis dat God wel bestaan en dat Bybelse profesieë wat die opkoms van ongeloof en eindtydse vyandigheid teenoor die Christelike geloof voorspel, ook bekend maak dat die oordeel oor die nasies sal kom wat hulle van hulle Bybelse erfenis distansieer. Moses het meer as drie duisend jaar gelede geprofeteer dat “aan die einde van die dae” sal die nasies van Israelitiese afkoms hulle sal distansieer van God en dat hulle “verderflik sal handel” (Deuteronomium 31:29). Die profeet Jeremia waarsku dat die Israelitiese volke God sal “verlaat” en hulle na afgodery sal wend en die “egte saad” sal “wilde lote” word (Jeremia 2). Die profeet Hosea het voorspel: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jý die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp ... omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet ... Ek sal by hom besoeking doen oor sy weë en hom vergeld na sy dade” (Hosea 4:6-9). Ons kyk toe hoe hierdie antieke profesieë vandag gestalte aanneem!