“Daar was nog altyd oorstromings, droogtes en aardbewings”, mag die skeptici sê. U Bybel onthul egter die tekens om dop te hou, wat aan ware Christene sal wys wanneer Jesus Christus se wederkoms naby is. Kan u daardie tekens uitken? 

Bykans 2,000 jaar gelede het Jesus se dissipels Hom gevra wat die tekens sou wees van Sy wederkoms en die einde van hierdie wêreld. Watter tekens en profetiese neigings het Jesus opgenoem in reaksie hierop? Ons behoort te weet wat die Bybel sê!


Deur die eeue heen was daar baie mense wat voorspellings gewaag en datums vasgestel het, in afwagting op Jesus Christus se wederkoms. Tot dusver het alles gefaal. Beteken dit dan dat Jesus nie weer sal kom nie? Nee, glad nie! Van Adam en Eva se tyd af het die mense valse profesieë wat deur bedrieërs en aanspraakmakers verkondig is, geglo. Telkens is die profesieë in u Bybel egter juis bewys!

Meer as 100 profesieë in die Ou Testament het Jesus Christus se eerste koms voorspel. Van hulle is Jesaja se profesie dat die Messias ’n afstammeling van Koning Dawid, die seun van Isai, sou wees (Jesaja 11:1), dat die Messias uit ’n maagd gebore sou word (Jesaja 7:14), dat Hy in Galilea sou woon (Jesaja 8:23 NV.), dat Sy missie die heidene [nie-Jode] sou insluit (Jesaja 42:1-4) en dat Hy saam met die goddeloses sou sterf (Jesaja 53:9). Ander profesieë voorspel dat Hy in Bethlehem gebore sou word (Miga 5:2), dat Hy vir dertig silwerstukke verraai sou word (Sagaria 11:12-13), dat Hy Jerusalem op ’n donkie sou binnery (Sagaria 9:9) en dat Hy soos ’n geslane herder sou wees (Sagaria 13:7).

Al daardie profesieë is vervul. Dieselfde Bybel wat Jesus se eerste koms voorspel het, voorspel ook Sy wederkoms. Dosyne paragrawe in beide die Ou en die Nuwe Testamente voorspel Jesus Christus se wederkoms. Kyk na wat Jesus Self sê: “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Johannes 14:1-3).

Jesus se eie woorde

Waarom faal so baie mense om Jesus se eie woorde te glo? Hy het gesê: “Ek kom weer”. Die profeet Sagaria sê selfs aan ons waarheen Hy sal terugkeer. “En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ’n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide” (Sagaria 14:4).

Die Olyfberg is net oos van die Tempelberg in Jerusalem. Teen die suid-oostelike hang is ’n ou paadjie wat na die dorpie van Betánië lei. Jesus het tyd daar deurgebring saam met Maria, Martha, Lasarus en Sy dissipels. My vrou en ek het met daardie selfde paadjie vanaf Betánië na die Olyfberg geloop. Dit het ons omtrent ’n halfuur geneem.

Wanneer Jesus na die Olyfberg terugkeer, sal daar ’n massiewe aardbewing wees en die berg sal in twee dele geskeur word. Kyk na die tydsbepaling. “Kyk, daar kom ’n dag vir die Here; dan sal wat van jou buitgemaak is, binne-in jou verdeel word, o Jerusalem! Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem; en die stad sal ingeneem en die huise geplunder en die vroue onteer word, en die helfte van die stad sal uitgaan in ballingskap; maar die orige deel van die bevolking sal nie uit die stad uitgeroei word nie” (Sagaria 14:1-2). Die wêreld se leërs sal by Megiddo saamgetrek wees en af beweeg na Jerusalem om teen Christus te veg met Sy wederkoms. Openbaring 16:14 noem dit “... die oorlog van daardie groot dag van die Almagtige God” – meer algemeen bekend as “Armageddon”.

Die boek Handelinge bevestig ook Christus se wederkoms. In Handelinge 1 is die dissipels getuie van Jesus se Hemelvaart. “En toe hulle nog stip na die hemel kyk terwyl Hy weggaan, staan daar twee manne in wit klere by hulle, wat sê: Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het. Daarop draai hulle om na Jerusalem van die berg af wat genoem word Olyfberg, wat naby Jerusalem is, ’n sabbatsreis ver” (Handelinge 1:10-12).

Hier het ons drie duidelike Skriftuurlike verwysings na Christus se wederkoms gesien – en daar is baie meer. Onthou die aankondiging van die sewende basuin: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15).

Let ook op na hierdie gedeelte uit Openbaring 19: “En Hy was bekleed met ’n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En uit sy mond gaan daar ’n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ’n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here” (verse 13-16).

Jesus het gesê dat vals godsdienste en vals tekens en wonders Sy wederkoms sal voorafgaan en baie mense sal mislei. Hy vermeld: “Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei” (Mattheüs 24:24). Daar sal kragtige godsdienstige misleidings wees. Nie net die paar mense nie, maar baie sal mislei word deur vals godsdienste – en selfs vals Christelikheid.

Hoe om dit uit te ken?

Hoe kan u weet wat waar en wat vals is? U behoort wat ons sê na te gaan – en ook alle ander predikers – deur u Bybel te lees! Toe Jesus tot die Vader gebid het, sê Hy: “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid” (Johannes 17:17). God se Woord, die Bybel, is waarheid! Baie mense aanvaar onbedagsaam dat hul predikant of priester uit die Bybel preek. Baie van die leerstellings wat “as vanselfsprekend aanvaar word”, kom egter nie uit die Bybel nie! U behoort aan uself te bewys wat die Bybel sê. Onthou: “Beproef (NV sê “toets”) alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21).

U hoef nie mislei te wees nie. Jesus Self het die profetiese tendense en tekens gegee wat Sy wederkoms vooraf sal gaan. U behoort te weet wat hulle is. Een van die tekens wat Christus se wederkoms sal voorafgaan, sal die opkoms wees van ’n magtige valse godsdiens met onmeetbare invloed. U kan lees van hierdie stelsel wat Openbaring 17 bestempel as “die groot hoer”. Die vals profeet van wie die apostel Paulus skryf, sal daardie stelsel lei. U kan van die “mens van sonde” lees in 2 Thessalonicense 2:3. Vir meer besonderhede oor hierdie profeties-belangrike saak kan u ons Streekskantoor die naaste aan u, soos gelys op bl. 2 van hierdie tydskrif, kontak om u gratis kopie van ons boekie, Wie of Wat is die Antichris? aan te vra.

Nog ’n spesifieke teken wat Jesus ons beveel om voor uit te kyk, is ’n toekomstige ontheiliging van die heilige plek in Jerusalem. Jesus het gesê: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom – laat hy wat lees, oplet – dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug” (Mattheüs 24:15-16). Let op dat hierdie groot vals profeet, die mens van sonde, God se tempel sal ontheilig. Hierdie “gruwel van die verwoesting” is een van die tekens wat Jesus gesê het Sy wederkoms sal voorafgaan.

Watter ander tekens sal Christus se wederkoms voorafgaan? Jesus waarsku ons in Mattheüs 24:7 dat daar “aardbewings op verskillende plekke” sal wees. Hoe kragtig kan aardbewings wees? Die historiese Mississippi-vallei aardbewing naby Nieu Madrid, Missouri, op 16 Desember 1811, het in werklikheid die vloei van die Mississippirivier omgedraai! Die Tangshan skudding in China, gedurende Julie 1976, het soveel as 779,000 mense gedood. Vroeër, op 12 Januarie 2010, het ’n kragtige aardbewing wat 7.0 op die Richterskaal gemeet het, meer as 220,000 mense gedood, meer as 300,000 beseer en baie miljoene mense in Haïti haweloos gelaat. So moeilik as wat dit is om mens dit in te dink, openbaar die Skrif dat daar in die toekoms selfs nog erger aardbewings sal wees – dit sal selfs in streke plaasvind waar dit nog nie voorheen voorgekom het nie.

Die boek Openbaring maak melding van verskeie kragtige aardbewings. Na twee-en-’n-half jaar van die Groot Verdrukking waarvan Jesus in die Olyfbergprofesie praat, sal die hemelse tekens – die sesde seël van Openbaring – die Dag van die Here inlui. Kyk wat gebeur: “En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ’n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ’n harige sak, en die maan het geword soos bloed” (Openbaring 6:12).

Hierdie aardbewing, tesame met die astronomiese [hemelse] tekens, lui die Dag van die Here in – die jaar wat Christus se wederkoms voorafgaan. “En die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ’n vyeboom wat deur ’n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos ’n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit; en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Openbaring 6:13-17). Ja, die aarde sal in ’n beroering wees gedurende die Dag van die Here wat hier beskryf word as “die groot dag van Sy toorn”. Dit sal die tyd van God se oordeel oor die nasies wees.

God se waarskuwing

Let op wat God sê sal gebeur met die aarde en die hemele. Die skrywer van Hebreërs leer ons: “Pas op dat julle Hom wat spreek, nie afwys nie; want as húlle nie ontvlug het nie wat Hom afgewys het toe Hy op aarde ’n goddelike waarskuwing gegee het, veel minder óns wat ons van Hom afkeer nou dat Hy uit die hemele spreek. Toe het sy stem die aarde geskud; maar nou het Hy belowe en gesê: Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe. En hierdie woord: nog een maal, wys duidelik op die verandering van die wankelbare dinge as geskape dinge, sodat die onwankelbare kan bly. Daarom, omdat ons ’n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees. Want onse God is ’n verterende vuur” (Hebreërs 12:25-29).

Ons Vader in die hemel wil net die beste vir elkeen van ons hê. Hy gee aan die vleeslike mensdom 6,000 jaar – en aan elkeen van ons afsonderlik ’n leeftyd – om te leer. Indien ons ag slaan op God se waarskuwings, kan ons die aaklige oordele vryspring, dit wat nog oor ons Westerse nasies en uiteindelik die ganse wêreld, gevel gaan word.

Nog ’n tendens waarteen die Bybel waarsku, is droogte. Wêreldtemperature verskuif op dramatiese wyses. Die ergste droogte in 100 jaar het onlangs in Australië ten einde geloop en sommige kundiges voorspel ’n voortsetting van herhaalde droogtes oor die volgende 20 tot 30 jaar. “Droogte kan hierdie land twee maal so dikwels as nou tref, oor ’n area twee maal so groot en dit mag strawwer wees in sleutel landbou-produksiegebiede”, volgens ’n verslag wat uitgereik is deur die Australiese Buro vir Meteorologie en die Statebond se Wetenskaplike en Navorsingorganisasie.

“Is water die nuwe olie?” vra skrywer Juliette Jowit. Sy wys daarop dat 1.4 miljard mense nou in gebiede leef wat “onderworpe is aan waternood”. Die voorspelling is dat die aanvraag na water teen 2030 met 50% sal styg. Dit is ook nie net ’n “Derde Wêreld” probleem nie. Juliette Jowit herinner ons daaraan dat die Rooi Kruis in November 2007 ingeroep was om water te verskaf aan Orme, ’n dorp in Tennessee. “Ek het gedink: ‘Dit kan nie die Rooi Kruis wees nie. Ons is Amerikaners!’ het inwoner Susan Anderson aan ’n verslaggewer gesê” (The Guardian/UK, 2 November 2008).

Intussen word ander dele van ons planeet verwoes deur oorstromings. In Pakistan het oorstromings op 22 Julie 2010 begin, en regdeur September voortgeduur, wat 20 miljoen Pakistani’s dakloos gelaat en volgens ’n raming van die Wêreld Gesondheidsorganisasie, tot soveel as 6 miljoen mense blootgestel het aan die risiko van lewensgevaarlike siektes wat veroorsaak word deur besoedelde water.

Tensy ons heelhartig terugkeer na God, sal ons wêreld selfs nog meer uiterste weersomstandighede ervaar. Die Skepper-God het hierdie waarskuwing deur die profeet Amos gegee: “Alhoewel Ék die reën van julle teruggehou het toe dit nog drie maande voor die oestyd was en op die een stad laat reën maar op die ander nie laat reën het nie, die een stuk land reën gekry het, maar die ander waarop geen reën geval het nie, verdor het; en twee, drie stede na een stad geslinger het om water te drink sonder om die dors te les – nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die Here” (Amos 4:7-8).

So ongelooflik as wat dit mag klink, verkondig sommige denominasies nou dat die “laaste dae” wat in die Bybel vermeld word, “twee jaar of twee duisend jaar of twee miljoen jaar mag voortduur”. Die implikasie is dikwels: “Moet nie Bybelse profesieë bestudeer nie; dit is slegs maar ’n afleiding”. Hierdie soort stellings ignoreer die ware opdragte van ons Verlosser. Net nadat Jesus van Sy wederkoms gepraat het, sê Hy: “En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is. So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur” (Mattheüs 24:32-33). Jesus verwag van Sy ware volgelinge om ingelig te wees oor hierdie tekens.

Oorlog en wêrelduitwissing

Jesus voorspel dat daar “oorloë en gerugte van oorloë” sal wees voor Sy wederkoms (Mattheüs 24:6). Skeptici en spotters mag opper: “Daar was nog altyd oorloë!” Inderdaad, die mensdom het nog selde vrede geken. Historici Will and Ariel Durant skryf in hul bekende boek, The Lessons of History, wat in 1968 uitgegee is: “Gedurende die afgelope 3,421 jaar van aangetekende geskiedenis, het slegs 268 geen oorlog beleef nie” (bl. 81). In ons moderne tyd is daar egter ’n verskil – slegs in die laaste 70 jaar of so beskik mense oor die tegnologie, deur kern, chemiese en biologiese wapens, om alle lewe op die planeet Aarde uit te wis. Wanneer u die beskrywings van die eindtydse oorloë in die boek van Openbaring lees, besef u dat aan die einde van die tydvak, oorloë nie slegs streke raak nie; dit sluit die hele aardbol in.

Ja, daar was nog altyd spotters, maar nou is die tyd om wakker te skrik en aandag te gee aan wat rondom u in die wêreld gebeur. God het met die profeet Esegiël gepraat oor die skeptici en spotters: “Mensekind, wat is dit vir ’n spreekwoord wat julle het in die land van Israel, naamlik: Die dae gaan voort, en van al die gesigte kom niks nie” (Esegiël 12:22). Wat het God te sê oor die mens se skeptisisme? “Daarom, sê vir hulle: So spreek die Here Here: Ek maak ’n einde aan hierdie spreekwoord, sodat hulle dit nie meer as spreekwoord in Israel sal gebruik nie. Maar sê vir hulle: Die dae is naby, en die woord van elke gesig” (vers 23).

Die tyd is op hande wanneer God selfs nog meer as ooit tevore, dramaties sal ingryp. Wetenskaplikes, staatsmanne en wêreldleiers het ons gewaarsku aangaande die baie gevare wat alle lewe op ons planeet kan beëindig. Daardie waarskuwings is nie afkomstig van godsdienstige mense nie, maar van kundiges wat bekend is met die realiteite van ons moderne wapens van massa-vernietiging en die geskiedenis van menslike natuur. Die heel belangrikste waarskuwing kom egter van die Redder van die wêreld, Jesus Christus. Hy sê: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Mattheüs 24:21-22).

Dank God dat daardie dae verkort sal word. Jesus Christus sal weer kom om die mensdom van selfvernietiging te red. Hy sal die Koninkryk van God op aarde inlui. Alle nasies sal uiteindelik die ware weg na blywende vrede, voorspoed en versoening leer. Jesus sê aan ons: “Waak dan en bid altyddeur” (Lukas 21:36). Mag ons almal geestelik paraat wees vir die tekens van Jesus Christus se wederkoms. Dan kan ons met vertroue, hoop en geloof uitsien na Sy koms. Dank God dat Sy Koninkryk aan die kom is. Dank God dat Jesus Christus spoedig weer sal kom om ons te red!