Sedert die tyd van die Konfederasie, het Kanada 42 federale verkiesings gehou, met die mees onlangse wat op 19 Oktober 2015 plaasgevind het. Die aanloop tot 19 Oktober, die 78-dae lange veldtog – ’n lang tyd volgens Kanadese standaarde – het bestaan uit saamtrekke, TV debatte en die tradisionele deur-tot-deur beroepe op kiesers vir die ondersteuning van hulle party. Die Liberale Party van Kanada, onder leiding van mnr. Justin Trudeau, het ’n beslissende oorwinning behaal – die werwing van 39,5% van die algemene stemming en 54% (184 uit 338) van die setels in die Laerhuis, dus het dit ’n meerderheidsregering gevorm.

Die Konserwatiewe Party se leier mnr. Stephen Harper, wat die 22ste Eerste Minister sedert die Konfederasie was, het op 4 November 2015 amptelik uitgetree toe Kanada se nuwe Eerste Minister, mnr. Justin Trudeau, ingesweer is om Kanada se 23ste Eerste Minister te word.

Mnr. Trudeau verteenwoordig ’n tweede generasie Trudeaus wat hierdie setel van gesag beset. Hy woon nou in Sussex Drive, Ottawa waar hy baie jare gelede saam met sy ouers gewoon het toe sy vader, Pierre Elliott Trudeau, as die 15de Eerste Minister van Kanada gedien het vanaf 20 April 1968 tot 4 Junie 1979 en weer vanaf 3 Maart 1980 tot 30 Junie 1984.

Baie mense beskou mnr. Trudeau se verkiesing as deurslaggewend en baie mense wonder watter rigting die land onder sy leierskap en in die jare van die Liberale Party mandaat sal inslaan. Sy omstrede standpunt, byvoorbeeld, oor die nodigheid van die wettiging van dagga, was ’n duidelike beroep op baie van die kiesers.

Verandering en leierskap?

Moontlik kan ons ’n verdere blik verkry uit die voorbereide slagspreuk van sy party op die dinge wat gaan kom. Die frase “ware verandering” is dikwels deur die Liberaliste herhaal tydens die 78-dae veldtog. Daar moet nog gesien word wat dit in werklikheid sal beteken, namate die maande en jare verbygaan.

Die ander twee grootste partye, die Konserwatiewes en die Nuwe Demokratiese Party, het ook hulle slagspreuke gehad. Die Nuwe Demokratiese Party s’n is byna soortgelyk, naamlik “gereed vir verandering” en die Konserwatiewes s’n is, “bewese leierskap vir ’n sterk Kanada”. Kan enige politieke party van enige oortuiging egter dit lewer wat werklik nodig is vir die voortgesette welsyn van die nasie?

Baie Kanadese is baie trots op hulle reg om te stem vir wie hulle dink dalk beter sal wees om in die behoeftes van die land te voorsien – om Kanada op die wêreld-verhoog te verteenwoordig – gebaseer op hulle party se agendas en platforms. Hulle word dikwels finansiële bydraers vir hulle gunsteling party en word dus deel van hulle party se veldtogbestuur in die hoop dat hulle stem ’n verskil sal maak. Baie mense dink dat om nie te stem nie, ’n ontduiking van verantwoordelikheid is. Sommige mense mag dit selfs as onpatrioties beskou indien versuim word om hierdie reg uit te oefen.

Stel die Almagtige God belang in Kanada se leierskap, sowel as in al die regerings regoor die wêreld? Ja, Hy doen wel! In werklikheid is God die Een wat oor die regerende gesag van nasies besluit.

Die profeet Daniël het aan Koning Nebukadnésar van antieke Babilon gesê “dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil” (Daniël 4:25). Weer, “Hy sit konings af en stel konings aan” (Daniël 2:21).

So, ja, God is by die keuse van die leierskap van Kanada betrokke, so ook van alle nasies.

Die Hoofredakteur van hierdie tydskrif het voor die laaste VSA presidensiële verkiesing geskryf: “Waar is God in al hierdie dinge? Van die begin af het die mens probeer om hulleself te regeer sonder God se direkte leierskap. Die meeste belydende Christene besef nie eers wat Jesus Christus met die regering te doen het nie” (“How would Jesus vote for President?”, Tomorrow’s World, September-October 2012, bl. 5).

’n Lied wat dikwels gedurende die tyd rondom 25 Desember gesing word, is die beroemde “Hallelujah koor”, wat die dikwels herhalende woorde insluit: “Die koninkryke van hierdie wêreld sal die Koninkryke van ons Christus word ... en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid”.

Dit sal bewys word as die finale oplossing vir al die euwels van die mensdom – nie net dié van Kanada nie.

’n Christen se verantwoordelikheid

Met al hierdie feite in gedagte, watter verantwoordelikheid het ’n Kanadese burger wat ook ’n Christen is teenoor die regerende magte wat God toelaat om in plek te wees?

Jesus Christus het nie deelgeneem aan die regeringstrukture van hierdie wêreld toe Hy die planeet Aarde bewandel het nie, maar Hy het ’n beroep op die mense gedoen om hulle aan die regerende gesag te onderwerp – selfs tot op die punt om belastings te betaal: “Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom” (Matthéüs 22:21). Christus het ’n voorbeeld gestel as Een wat Homself aan die burgerlike wette en owerhede onderwerp het en het van Sy volgelinge van daardie tyd en van nou verwag om dieselfde te doen.

Die apostel Paulus skryf: “Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel, sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang” (Romeine 13:1-2). Paulus verduidelik verder: “Want daarom betaal julle ook belastings; want hulle is dienaars van God wat juis hiermee voortdurend besig is. Betaal dan aan almal wat aan hulle verskuldig is: belasting aan die wat belasting, tol aan die wat tol, vrees aan die wat vrees, eer aan die wat eer toekom” (verse 6-7).

Bid vir leiers

Paulus leer ons ook om vir diegene in posisies van gesag te bid. “In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid” (1 Timótheüs 2:1-2). Daar is baie in God se Woord aangaande almal se verantwoordelikheid om hulle aan die leierskap te onderwerp, selfs wanneer ons besef dat, in die geval van konflik, God se Wette en voorskrifte die verordeninge van menslike regering vervang.

Ja waarlik, Kanadese word inderdaad baie geseën om deel te wees van ’n nasie wat baie wette en voorregte in plek het tot almal se voordeel. Daar was ongetwyfeld in die verlede Kanadese politici en leiers wat ten spyte van hulle menslike tekortkominge en swakhede daarna gestreef het om voorsiening te maak vir wat hulle as die beste vir die mense beskou het. God het toegelaat, selfs in die jongste verkiesing, dat leiers in poste geplaas word, wat sal toesien dat Sy wil oorhoofs volgens Sy plan, wat Hy hier benede uitwerk, sal geskied. Daardie wil mag tot Kanada se seën of tot sy vervloeking wees, dit hang alles van die mense af en hoe hulle op hulle God gereageer het.

God is in beheer. ’n Demokratiese vorm van regering mag wel die beste wees wat die mensdom kan hoop om op sy eie te bereik, maar soos die voormalige Britse Eerste Minister, Winston Churchill, so pragtig aan die Laerhuis gesê het: “Demokrasie is die slegste vorm van regering, behalwe vir al daardie ander vorms wat van tyd tot tyd probeer is” (11 November 1947).

Daar moet dus nog gesien word wat hierdie land se rigting en koers oor die volgende aantal jare sal wees. Om te herhaal wat die apostel Paulus vir Timótheüs gesê het: “In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid” (1 Timóthéus 2:1-2).