’n Neef van my was baie suksesvol in verskeie sake-ondernemings. Hy het oor baie jare hard gewerk en rykdom en eiendom bymekaar gemaak. Hy het die luukshede gehad wat mens sou verwag in terme van huise, motors, bote, ’n vliegtuig en ’n plaas op die platteland. Hierdie neef het baie gereis in die nastrewing van sy belangstellings en passies. Langs die pad het sy gesin uitmekaar gespat en het hy baie hartseer en pyn ervaar. Sy “sukses” het hom nie die gemoedsrus en tevredenheid besorg soos wat hy verwag het nie.

Wanneer ek hierdie familielid sien, wat nou selde is, vra hy my altyd dieselfde vraag. Nadat ons gegroet het, sê hy: “Haai, wat doen jy vir die pret?” U sien, na ’n leeftyd van swoeg, vind hy nie veel plesier of vreugde in die dinge wat hy nagejaag het nie. Hy is nog steeds op soek na daardie ontwykende iets om die leemte in sy lewe te vul, maar hy is nie die enigste een nie.

Die rolprentbedryf groei elke jaar met meer rolprentvrystellings, wat ’n groot wins vir die vervaardiger daarvan oplewer soos wat mense die teaters vol pak om hulleself vir ’n kort rukkie in ’n skynwêreld te verloor.

Om balans te vind

Dit is beslis nie verkeerd om dit te geniet om ’n speletjie te speel of na ’n goeie rolprent te kyk nie, net solank as wat ons dit met matigheid doen en ons aandag nie afgelei word van die basiese dinge wat ’n gelukkige lewe bied nie. Koning Salomo van Israel, aan wie God ’n gawe van groot wysheid gegee het, het geskryf: “Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ’n tyd ... ’n tyd om te ween en ’n tyd om te lag, ’n tyd om te weeklaag en ’n tyd om van vreugde rond te spring” (Prediker 3:1-4).

Ons as menslike wesens, behoort tyd te vind om te ontspan en iets te geniet wat ons genot en plesier verskaf, maar altyd met matigheid en nooit ten koste van ander mense nie. Indien een of ander item of aktiwiteit een van die Tien Gebooie verbreek of Goddelike beginsels bespot, is dit glad nie snaaks of lagwekkend nie. Wanneer dit ’n gesonde aktiwiteit is, soos liggaamlike oefening of as dit u intellektueel uitdaag en u kennis van iets wat die moeite werd is laat toeneem, dan is dit opbouend en voordelig. Daar is ’n knaende leegheid in alle mense wat nie met fisiese dinge of tydverdrywe gevul kan word nie, hoewel baie mense probeer om daardie gevoel met werk, “dinge” of ontspanningsaktiwiteite te bevredig.

Geen plaasvervanger nie

Vir jonk en oud is ontspan belangrik om die gebalanseerde lewe te ontwikkel wat ons Skepper vir ons wil hê. Ongeag of dit nou bordspeletjies of videospeletjies, verhoogproduksies of ’n roman, simfoniekonserte of rolprente, atletiekwedstryde of wandelings in die park is, sulke aktiwiteite dra daartoe by dat ons ’n gesonde balans in ons lewens kan handhaaf. Maak egter geen fout nie – hierdie aktiwiteite bevredig slegs tydelik en is nie ’n plaasvervanger vir ’n hegte verhouding met God nie. So ’n verhouding kan net met tyd ontwikkel, namate ons éérs Sy Koninkryk soek, soos Jesus die Christus in Matthéüs 6:33 sê: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”

Soos ons artikel Sewe stappe na ’n vreugdevolle lewe, elders in hierdie tydskrif verduidelik, is daar baie dinge wat ons kan doen wat sal bydra tot ons gevoel van vreugde en tevredenheid. Dieselfde artikel wys egter daarop dat een van die beste maniere om vreugde te vind, is om op te hou om spesifiek net daarna te streef maar om ’n groter doel vir ons lewens aan te gryp.

Ek hoop dat my neef eendag sal vind wat in sy lewe ontbreek en dat sy werk en sy vermaak hom uiteindelik sal bring na wat hy waarlik wil hê: “... die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan” (Filippense 4:7).

Wat doen u vir vermaak? Dit is ’n groot vraag. Indien u wil groei in ’n gebalanseerde lewe as ’n Christen en in u liefde vir God, kan u ons gratis boekie Die Tien Gebooie, aanvra.