Word kinders die geleentheid ontneem van die waardes wat ware opvoeding voorsien wanneer hulle van humanisme en materialisme leer?

Vandag se maatskaplike manipuleerders slaag nie daarin om studente te leer wat hulle werklik nodig het om te weet nie. Hoe kan u seker wees dat u en u kinders voorberei word vir die toekoms en ware en blywende waardes aanleer? Die goeie nuus is dat u ware suiwer opvoeding vir uself en u geliefdes kan vind.

Westerse onderwys is nie wat dit voorheen was nie. Indien u ’n grootouer is, kan u sien hoe u opvoeding verskil van die skoolopleiding wat u kleinkinders ontvang. Van “nuwe wiskunde” wat selfagting net soveel as akkurate berekening aanmoedig, tot die maatskaplike manipuleerders wat in baie klaskamers grootliks die “drie R’e” (usually said as "reading, 'riting, and 'rithmetic") [lees, skryf en rekenkunde] vervang het, wyk opvoedkunde in die Westerse nasies vandag baie ver af van die standaarde van die verlede.

Hoewel die meeste van die Verenigde State se voorste en mees prominente universiteite in die naam van Christelikheid gestig is, ignoreer die meeste opvoedkundiges van vandag die grondslag van Waarheid – God se Woord. Studente word geleer dat daar geen absolutes is nie en dat daar geen finale outoriteit buite die self is nie. In plaas daarvan om God se ewige Wet te leer, leer hulle humanisme en materialisme.

Hoe behoort u dit dus alles te verstaan? Watter benadering kan u volg om uself te verdedig en om te verseker dat u en u geliefdes die soort opvoeding ontvang wat uself en hulle sal help om te oorleef en te floreer in moeilike tye wat voorlê? Hoe kan u verstaan wat dit beteken om ’n ware opvoeding te kry?

Wat om te leer?

Nadat die burgers van Loudoun County, Virginia, in Junie 2021 ’n saamtrek gehou het met die tema “Onderwys nie indoktrinasie nie”, het hulle hul kommer uitgespreek oor wat al hoe meer algemeen in die Verenigde State raak. Organiseerders van die saamtrek was gekant teen wat genoem word “’n roekelose en verdeelde agenda wat ons gemeenskap uitmekaar skeur en ons kinders indoktrineer in plaas daarvan om hulle op te voed”. Hierdie agenda sluit in “om graad neges van verkragting en ook groepseks te leer – dinge wat totaal onvanpas is” (“Rally opposing critical race theory,” The Loudoun Times-Mirror, 12 Junie 2021).

Dit is ook nie net in die staat Virginia nie. Toenemende getalle state en plaaslike skooldistrikte volg verpligte kurrikulums wat baie onderwysers sowel as ouers ontstel. In sommige skole word beveel dat hulle nie geskiedenis moet onderrig op ’n manier wat rassisme bevorder nie – ’n lofwaardige doelwit, maar is onderhewig aan soveel vertolkings van die feite dat sommige mense sê dat dit die onderrig van die slawerny-era in die Verenigde State se geskiedenis verbied. Ander skole word aangesê dat hulle moet onderrig dat hulle nasie “in wese rassisties” is, maar dat “anti-rassisme” vereis dat hulle verskillend behoort te onderrig op grond van hulle studente se velkleur.

Hoe en waarom het ons onderwysstelsels dus hulle klem verskuif? Baie universiteite het teen die 1960’s toevlugsoorde van nihilisme [ontkenning van vroeëre stelsels] en ’n anti-God idee geword. Vanaf die negentiende eeu het hulle die struktuur en later die ideale van die Duitse universiteite en filosowe aangeneem.

Die belangrikste onder hulle was Friedrich Nietzsche, wat die welbekende woorde geskryf het: “God is dood; maar gegewe hoe mense is, kan daar nog vir duisende jare grotte wees waarin hulle Hom dien. Ons moet nog Sy nalatenskap ook vernietig!” (The Gay Science, 1882). Alhoewel hy gevrees het dat die verbanning van die idee van God tydelik ’n tyd van chaos tot gevolg sou hê, het Nietzsche uitgesien na nuwe waardes wat die mensdom kon instel in die afwesigheid van toewyding aan ’n Skepper. Daardie anti-God-filosofie leef tot vandag toe voort in die denke van radikale akademici, liberale maatskaplike manipuleerders en steeds toenemende groepe van die algemene publiek. Die tydskrif Time het selfs in 1966 op sy voorblad gevra: “Is God Dead?”

Baie geleerdes van die agtiende en negentiende eeue het heeltemal tereg gesien dat die Christendom van sy oorsprong afgedwaal het en die heidense gebruike van die omliggende samelewing aangeneem het. In plaas daarvan om moderne onderwys op ware Christelike beginsels te herbou, het baie geleerde persone probeer om daardie beginsels heeltemal te vernietig. Hulle het een soort valse godsdiens en die valse opvoeding daarvan verwerp, maar het probeer om dit met godlose opvoeding eerder as Goddelike opvoeding te vervang.

Terwyl toenemende getalle ouers die waardes bevraagteken wat in hulle kinders se skole geleer word, behoort ons eers te vra of onderwys sonder waardes enigsins moontlik is. Wat is die sleutel om te bepaal wat kinders behoort te leer?

Eerlike evaluering is nodig

Ouers wat beswaar maak teen foutiewe onderrig in hulle kinders se skole word toenemend verneder en selfs gepenaliseer. Is dit God se manier? Nee. Anders as moderne anti-God teoretici wat mense wil dwing tot aanvaarding, dring God daarop aan dat Sy Weg bewysbaar en rasioneel is. Nadat die Christene van Berea nuwe leerstellings ontvang het, het hulle dit nie blindelings aanvaar nie. Ons lees hulle het “die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was” (Handelinge 17:11). Hulle was nie net leergierig nie; hulle het vir hulleself bewys dat hulle die Waarheid leer! Selfs in die Ou Testament het God Sy volk verseker dat hulle Sy Waarheid kon bewys. Nadat God seëninge beloof het aan diegene wat Hom gehoorsaam, spoor Hy hulle aan: “... beproef My tog hierin” (Maleági 3:10).

Wanneer begaafde studente vandag hulle linksgesinde instrukteurs daaraan herinner dat geen Marxistiese staat sy beloftes nagekom het nie óf regsgesinde instrukteurs ingelig het dat die menslike natuur kapitalisme die ideaal gemaak het om sosiale ongelykheid te bevorder, sal hulle waarskynlik bespot word en selfs sien dat hulle punte daaronder ly. God weet egter dat Sy weg staande kan bly wanneer dit noukeurig ondersoek word. Dit werk wanneer mense volgens God se manier leef.

Christene verstaan natuurlik dat geen sosiale of opvoedkundige stelsel sonder God werklik sal slaag nie. Hulle weet dat totdat Jesus Christus weer kom om oor die hele aarde te regeer, geen regeringstelsel of onderwysstelsel perfek sal wees nie. Hulle weet egter ook – uit die Skrif en uit ondervinding – hoe sukses lyk en hoe hulle die meeste daarvan in hulle individuele lewens kan maak.

Dit is nie net Bybelgelowiges wat die ontoereikendheid van materialistiese, anti-God filosofieë ingesien het nie. Die Skrif sê vir ons: “Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie” (Romeine 1:20). Selfs sonder Bybelse geloof sal ’n eerlike studie van die skepping ons baie van ons Skepper leer. U het dalk van Antony Flew (1923-2010) gelees, die Britse filosoof wat sy ateïstiese kollegas geskok het toe hy erken het dat hy deur rasionele denke tot ’n geloof in God gekom het. Dit is dus nie verbasend dat dit hom sy vriende en respek onder sy mede-akademici gekos het nie.

Christene wat Flew se storie verkondig, laat dikwels belangrike inligting buite rekening. Ten spyte daarvan dat hy sy vroeëre ateïsme laat vaar het, het Flew nooit bely dat hy in die God van die Bybel glo nie. Sy rasionele denke het hom bloot daartoe gelei om eerlik te erken dat daar ’n Skepper-God moet wees. Dui dit op enige fout in Flew se logika? Nee. Christus het vir Sy volgelinge gesê: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag” (Johannes 6:44). God roep nog nie die meeste mense nie; Hy sal hulle in die Millennium roep asook tydens die Groot Wit Troon Oordeel. Selfs vandag nog sal eerlike studente van filosofie en wetenskap steeds dieselfde as Flew doen en erken dat daar ’n God is wat ons deur Sy skepping kan ken. Eerlike wetenskaplikes en filosowe sal erken dat daar baie dinge is wat hulle nie deur materialisme alleen kan verklaar nie.

Wat maak dit moontlik om te leer?

Mense is geskep om te leer. Diere kan egter ook leer. Is ons dan net meer gevorderd as die diere? Die meeste moderne opvoedkundiges sal met hierdie valse Darwinistiese idee saamstem. Die menslike brein kan tog baie meer verrig in vergelyking met die gewig van enige ander spesie se brein. Wetenskaplikes begin toenemend die belangrikheid van die bewussyn as faktor oorweeg bó blote breinchemie. Hierdie perspektief, hoewel dit nie die heersende wetenskaplike siening is nie, stem ooreen met wat die Skrif openbaar. Die apostel Paulus skryf: “Want wie van die mense weet wat in ’n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is?” (1 Korinthiërs 2:11).

Hierdie gees wat Paulus beskryf, is nie die Heilige Gees nie en ook nie ’n “onsterflike siel” nie. Dit is die diepste wese van die mens wat saam met die fisiese brein werk om mense ver bo diere te bemagtig (Job 32:8). Hierdie begrip bring die wetenskap en die Skrif in ooreenstemming met mekaar en dit verduidelik ’n aspek van die menslike verstand wat vir die meeste opvoedkundiges ’n raaisel bly. Onderrig wat uitsluitlik op materiële en fisiese kennis gebaseer is, is ongelukkig onvoldoende. Wanneer ’n onderwysstelsel die bestaan van God en van gees verwerp, verwerp dit die grondbeginsels van die werklikheid.

Lewenslange karakter-opvoeding

Selfs al voorsien ons moderne onderwysstelsel nie al die antwoorde wat ons soek nie, behoort ons ten minste deur die stelsel self beïndruk te wees? Universiteite kan sekerlik sommige areas van materiële kennis suksesvol onderrig. Ware opvoeding, soos die Skrif dit aanbied, strek egter veel verder as die oordra van kennis; dit moet die geestelike waardes onderrig wat aan alle ander strewes na kennis hulle uiteindelike betekenis gee. Kan enigiemand werklik opgevoed word sonder om te weet wat die verskil tussen reg en verkeerd is?

Die apostel Paulus veroordeel baie ernstig diegene wat die werklikheid van God verwerp: “want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar ... Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword” (Romeine 1:18-22).

Regdeur die Bybel is aanklagte teen anti-God opvoeding baie sterk: “Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie. Sleg, afskuwelik maak hulle hul dade; daar is niemand wat goed doen nie” (Psalm 14:1).

God wil ’n heilige en regverdige karakter in Sy volk ontwikkel en Hy wil hê dat Sy mense sal groei in die soort Goddelike kennis wat hulle sal lei om hulle aan Sy Heilige Gees te onderwerp en goed te doen (vergelyk Matthéüs 4:4; Lukas 4:4). Deur God se Woord te bestudeer en Bybelkennis toe te pas in alles wat ons dink, sê en doen, kan ons die impak van Jesus se stelling begin verstaan: “Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê” (Johannes 10:10).

Hoe herken mens ’n “oorvloedige” lewe? Die Grieke het na wysheid gesoek en die Jode het na wonderbaarlike tekens van God se krag gesoek. Die apostel Paulus het verduidelik dat die Seun van God albei hierdie elemente ver bo die grense van die sterflike mensdom verpersoonlik: “... want die Jode vra ’n teken en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, ’n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke; maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God. Want wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is sterker as die mense” (1 Korinthiërs 1:22-25).

Inderdaad, God roep baie min van diegene wat deur die wêreld as “wys” of “edel” beskou word – die rykes, magtiges en intellektueles. “Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; ... sodat geen vlees voor Hom sou roem nie” (1 Korinthiërs 1:26-27, 29).

Dit is hoeveel God ydelheid haat. Diegene wat dink dat hulle so wys is dat “geen vlees voor Hom sou roem nie”, is nie diegene wat deur God geroep sal word nie. God sal eerder Sy Waarheid aan “dwase” Christene openbaar indien hulle ’n berouvolle, nederige en leerbare gees het. Soos die apostel Paulus skryf: “Laat niemand homself mislei nie: as iemand meen dat hy wys is onder julle in hierdie wêreld, laat hom dwaas word, sodat hy wys kan word; want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God; want daar is geskrywe: Hy wat die wyse mense in hulle listigheid vang” (1 Korinthiërs 3:18-19).

Bou op die ware beginsels

Die Christenskap wat deur Jesus Christus en die Apostels onderrig en beoefen is, het ’n voorbeeld vir alle tye gestel. Dit was ’n voorbeeld van gehoorsaamheid aan God se geestelike Wette – die Tien Gebooie – en die weg van liefde wat deur Jesus Christus geleer is, wat aan Sy volgelinge gesê het: “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:31-32).

Ongelukkig bly die grootste deel van die mensdom van die wêreld in duisternis en onkunde. Kulture, volke en nasies as geheel word verblind deur valse opvoeding. Ons lees ’n skokkende stelling in die boek Openbaring: “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp” (Openbaring 12:9). Hierdie groot gevalle engel, wat die “duiwel en Satan” genoem word, mislei nie net ’n paar mense nie, maar die oorgrote meerderheid. Om bloot deel te wees van ’n derde van die mensdom wat hulleself “Christelik” noem, is geen waarborg dat ’n mens nie mislei is nie.

Presies wat is hierdie Waarheid waaroor Satan die hele wêreld mislei? Natuurlik is daar wetenskaplike waarheid wat getoets en bewys kan word. Wetenskap kan tot ’n mate die “wat” en “hoe” van natuurwette beskryf – tog kan dit nie die “waarom” van ons bestaan verklaar nie. Hierdie waarheid kan slegs deur die Skepper verklaar word. Wat sê die Skepper oor waarheid? Die aand toe Jesus voor Sy kruisiging tot Sy Vader gebid het, het Hy vir Sy dissipels gebid: “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid” (Johannes 17:17).

Ja, die Woord van God is Waarheid. Dit is nodig dat u dit aan uself bewys dat die Bybel die Openbaring van die Skepper-God is. Die apostel Paulus skryf: “Die hele Skrif is deur God ingegee” (2 Timótheüs 3:16). Die Griekse woord wat as “inspirasie” vertaal word, is theopneustos, wat “goddelike asem” beteken. Die World English Bible vertaal dit as volg: “Every Scripture is God-breathed.” Terwyl Paulus dit geskryf het, was die boeke wat ons die “Ou Testament” noem die enigste gekanoniseerde Skrif, maar vandag wil baie Christene die eenvoudige leerstellings van die Ou Testament ignoreer. Selfs die Nuwe Testament sê vir ons dat die hele Skrif deur God ingegee is.

God Self: Die grootste Leermeester van almal

Ware opvoeding moet op die Waarheid van God gebaseer wees. Alle ander beginsels is uiteindelik waardeloos. Slegs ’n Christen wat gewillig is om van die Groot Leermeester te leer en Sy voorbeeld te volg, sal op ’n behoorlike fondament bou waarop kennis uitgebrei kan word. Jesus Christus het Sy studente geleer: “Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie.” Hy het toe verskeie van die Tien Gebooie genoem (Matthéüs 19:17-19).

Waarom is die Tien Gebooie die grondslag van ware opvoeding? Omdat dit duidelik vir ons sê wat reg en wat verkeerd is. Dit openbaar die weg van vrede en voorspoed wat God vir die hele mensdom in gedagte het. Wat gebeur met diegene wat God se eenvoudige Wette ignoreer? Soos die apostel Paulus skryf: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai, maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai” (Galásiërs 6:7-8).

Koning Dawid het geskryf oor die opvoeding wat op ’n gesonde grondslag gebou word: “Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag. U gebooie maak my wyser as my vyande, want hulle is myne vir ewig. Ek is verstandiger as al my leermeesters, want u getuienisse is my bepeinsing. Ek het meer verstand as die ou mense, want ek bewaar u bevele. Ek het my voete teruggehou van elke verkeerde pad, dat ek u woord kan bewaar. Ek het van u verordeninge nie afgewyk nie, want Ú het my geleer” (Psalm 119:97-102).

God het koning Dawid onderrig en Hy wil ál Sy mense leer. Sodra u begin om die geestelike Wette van God toe te pas soos dit in die Bybel geleer word en deur Jesus Christus in die Bergpredikasie uitgebrei is, kan u groter begrip en ware kennis hê. Soos ons in Psalm 111:10 lees: “Die vrees van die HERE is die beginsel van die wysheid; almal wat dit beoefen, het ’n goeie verstand.”

Namate u daarna streef om Hom te gehoorsaam, sal God deur die Heilige Gees geestelike kennis aan u openbaar. Paulus gaan voort om die verskil tussen die kennis van ’n bekeerde Christen en van ’n onbekeerde persoon te verduidelik: “Want wie van die mense weet wat in ’n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God. Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het” (1 Korinthiërs 2:11-12).

Net soos ’n dier se brein nie die “dinge van die mense” kan verstaan nie, kan die vleeslike, natuurlike verstand van die mens ook nie die “dinge van God” verstaan nie. Paulus gaan voort om te verduidelik: “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en Hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word” (1 Korinthiërs 2:14). Geestelike waarheid word geestelik onderskei; dit kan nie deur die natuurlike menslike intellek verkry word sonder die gawe van God se Heilige Gees nie (Handelinge 2:38).

U kán ware opvoeding bekom

Omdat die ware opvoeding verwerp is, ken ons moderne wêreld nie die weg na ware vrede nie. Christene kan egter die Waarheid ken en kan uitsien na die tyd wat binnekort sal aanbreek wanneer alle nasies uiteindelik studente van die Groot Opvoeder sal word. Ons hoef nie die wêreld se skole en kolleges te vermy nie, maar ons moet hulle met behoorlike begrip benader. Ons kan gebruik maak van moderne opvoedkundige instellings om geskikte vaardighede en kundigheid aan te leer of om ons taalvaardighede te ontwikkel of om die wêreld se geskiedenis en wetenskappe te bestudeer. Ons moet dit egter met oop oë doen en versigtig wees om bewus te wees van die verskil tussen nuttige opleiding wat aan ons kennis en vaardighede kan verskaf om ons lewens te verbeter in plaas van skadelike indoktrinasie, wat probeer om ons waardes by die menslike en wêreldse materialisme wat so algemeen in die wêreld rondom ons is, te laat aanpas.

God se Woord gee ’n inspirerende beskrywing van opvoeding gedurende die tyd van die Koninkryk van God: “En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke ... nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:3-4).

Sodanige vrede sal slegs na die wêreld kom deur ware opvoeding in die toekomstige Koninkryk van God. U as Christen kan egter nou daardie vrede hê. ’n Omwenteling in onderwys sal binnekort na die hele wêreld kom, maar u kan dieselfde in u eie lewe hê deur u Bybelstudie die basis van al u ander studies te maak. Soos Jesus Christus sê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe” (Johannes 14:6). Daardie Waarheid sal u lewe vir altyd verander.