Vraag: Dit kom voor asof Kolossense 2:16-17 sê dat ’n mens nie behoort toe te laat dat iemand ’n mens oordeel omdat hy nie Sabbatte of Feeste onderhou nie. Bewys dit nie dat ons nié die Sabbat of die Bybelse Heilige Dae wat Jesus en die Apostels onderhou het, hoef te onderhou nie?

 

Antwoord: Dit is ’n algemene maar foutiewe oortuiging. In daardie gedeelte het Paulus in werklikheid die Christene in Kolosse opdrag gegee om nie toe te laat dat enige buitestaanders, ydele, heidense filosofieë aan hulle voorskryf oor wat om te eet of te drink met betrekking tot hierdie Bybelse Feeste nie, maar eerder om God toe te laat om in Sy Kerk te werk om Bybelse leerstellings in hierdie verband te vestig en in stand te hou.

Moeilikheidmakers – filosowe wat in die geskiedenis bekend staan as die gnostici – was besig om lede van die Kerk van God in Kolosse te verwar. Die Griekse woord gnosis beteken eenvoudig “kennis” en gnostici glo dat ’n mens sekere spesiale kennis nodig het om God te bereik. Daardie kennis het die spesifieke name van verskeie geestelike “tussengangers” ingesluit, aangesien hulle onderrig het dat Christus alléén nie voldoende was om die gaping tussen mens en God te oorbrug nie (sien The New Bible Commentary: Revised, 1970, bl. 1140.) Paulus het ’n stryd gehad met die invloed van die gnostici in die Kerk in Kolosse om Christus te verdedig as ons voldoende, Goddelike Bemiddelaar (Kolossense 1:15-22; 2:9-10) en gnostiese idees veroordeel as “verering van die engele” (Kolossense 2:18).

Net so het hierdie gnostiese moeilikheidmakers ook die Kolossense se gebruike van die Bybelse Sabbatte en Heilige Dae beïnvloed en God sê van hierdie dae: “... dit is my feeste” (Levítikus 23:2) en dat dit tye van vreugde is (byvoorbeeld Nehemía 8:9-12). In plaas daarvan om tydens God se Bybelse Feeste te juig, te eet en te drink – in matigheid – het hierdie gnostici onderrig dat Christene hulleself fisiese plesier behoort te ontsê, volgens streng, mensgemaakte reëls.

Ander verse in dieselfde hoofstuk (byvoorbeeld Kolossense 2:8, 20-22) maak dit sonder enige twyfel duidelik dat Paulus nie van God se Wette praat nie, maar van “filosofie”, “die oorlewering van mense” en “die gebooie en leringe van mense.” Die Sabbat en Heilige Dae kom uit die geïnspireerde Woord van God en Sy Goddelike Wet en nié uit die tradisies of leringe van menslike filosowe nie.

Baie vertalers verwar en verdoesel die betekenis van Kolossense 2:16-17 omdat hulle bevooroordeeld is teen die Bybelse Sabbat en Heilige Dae. Terwyl die ou Afrikaanse vertaling van die Bybel sê dat die Sabbat en Heilige Dae “’n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus” (vers 17). [Die King James Version is nader aan die oorspronklike Griekse bewoording, wat die laaste vertaling vertaal as deel van vers 17, “maar die liggaam van Christus.” Let daarop dat die KJV-vertalers die woord “is” in daardie vers in kursief geplaas het, wat aandui dat dit nie in die oorspronklike Grieks voorkom nie. ’n Meer letterlike vertaling lees, “maar die liggaam van Christus]. Slegs ’n paar verse vroeër, definieer Paulus wat “die liggaam van Christus” is en skryf: “En Hy [Christus] is die hoof van die liggaam, die gemeente;” (Kolossense 1:18) en “vir sy liggaam, wat die gemeente is” (vers 24, sien ook Efésiërs 1:22-23; 4:11-16). Die ware Kerk van God is die lewende, georganiseerde liggaam van Christus en God gee aan die Kerk ’n begrip van die leerstelling wat die filosowe nie het nie en wat op “menslike tradisie” en “die eerste beginsels van die wêreld” staatmaak (Kolossense 2:8).

Paulus verwys dus verwarde lidmate na die Kerk – níe na verwaande filosowe nie – vir ’n begrip van hoe om die Feeste van God te onderhou. Wanneer die konteks in ag geneem word, is die betekenis duidelik. In Kolossense 2:16-17 sê Paulus vir diegene in Kolosse om nie toe te laat dat enige gnostiese, asketiese filosoof hulle oordeel in hoe hulle feestelike vreugde vind tydens God se Sabbatte en Feeste nie. Dit dui op toekomstige profetiese vervullings en om eerder hulle oë te vestig op die Kerk, waarvan Christus die lewende Hoof is, om sulke sake te oordeel.

Wat betref hoe God se Sabbat en Heilige Dae dien as “’n skaduwee van toekomstige dinge”, vra ons gratis boekie, Die Heilige Dae – God se meesterplan, aan vir besonderhede of lees dit aanlyn by wvm.co.za. In plaas daarvan om dae van oordrewe boetedoening, selfopgelegde beperkings en vals nederigheid te onderhou, word hierdie Feeste regoor die wêreld deur diegene onderhou wat die hoop aangryp wat daardeur geopenbaar word.