Bybelse profesieë in verband met die eerste perderuiter van die Apokalips openbaar waarna huidige gebeure lei.

Byna almal wil weet wat die toekoms inhou, maar die meeste mense glo dat niemand die toekoms akkuraat kan voorspel nie. Die God van die Bybel sê egter oortuigend: “Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie ... soos Ek dit gespreek het, sal Ek dit ook laat kom; Ek het dit voorberei, Ek sal dit ook doen” (Jesaja 46:9-11).

Verbasend genoeg, Bybelse profesieë verskaf die sleutel met betrekking tot ’n geheimsinnige eerste ruiter van die Apokalips (Openbaring 6:2) asook belangrike insig in die geskiedenis en openbaar waarheen huidige gebeure heen lei. Die Bybelse antieke profesieë is vandag besig om gestalte aan te neem en sal die mensdom verras wat die ware God van die Bybel uit die oog verloor het.

Byna 2,000 jaar gelede het Jesus Christus verduidelik dat ’n reeks herkenbare gebeure – valse profete en godsdienstige misleiding, oorloë en gerugte van oorloë, hongersnood en natuurrampe soos aardbewings en siekte-epidemies – Sy Wederkoms sal voorafgaan (Matthéüs 24:3-8; Markus 13:5-8; Lukas 21:8-11). Hy het Sy dissipels gewaarsku om op die uitkyk te wees vir hierdie tekens, want ’n niksvermoedende mensdom sal verras word deur die vinnig toenemende gebeure in die laaste dae (Matthéüs 24:36-44; Markus 13:32-36; Lukas 21:34-36).

Een van hierdie tekens word uitgebeeld deur die geheimsinnige eerste ruiter van die Apokalips, wat deur die apostel Johannes in ’n visioen gesien is en wat aan Christus se waarskuwing herinner dat valse leraars ’n ander Jesus en ’n ander evangelie sal kom verkondig – ’n waarskuwing wat deur die apostel Paulus herhaal word (2 Korinthiërs 11:1-4).

 

’n Geheimsinnige ruiter

Bybelgeleerdes erken dat die vier ruiters van die Apokalips, eindtydgebeure simboliseer wat Christus se Wederkoms sal voorafgaan. Tog bestaan daar meningsverskille oor die identiteit van die eerste ruiter wat op ’n wit perd ry. Sommige geleerdes beweer verkeerdelik dat die ruiter Jesus Christus verteenwoordig wat die Evangelie verkondig, vanweë sy oënskynlike ooreenkoms met Christus op ’n wit perd soos dit beskryf word in Openbaring 19:11-14. Ander geleerdes glo dat die eerste ruiter die Antichris verteenwoordig, wat Christus met Sy Wederkoms sal teëstaan.

Die Bybel verskaf natuurlik sy eie verduideliking. Die volgorde van eindtydgebeure wat in Matthéüs, Markus en Lukas uiteengesit word, stem ooreen met die gebeure wat deur die vier perderuiters van Openbaring 6 uitgebeeld word. In elkeen van hierdie Evangelies is die aanvanklike gebeurtenis van die eindtyd volgorde, ’n toenemende voorkoms van valse leraars en godsdienstige misleiding. Dit beteken dat die eerste ruiter nie Jesus Christus is nie, maar verpersoonlik eerder ’n magtige vals godsdienstige organisasie. Die kroon van hierdie ruiter – ’n simbool van leierskap en gesag – dui op ’n prominente godsdiensleier (Openbaring 6:2). Hy dra ’n boog om pyle te skiet – in teenstelling met Christus in Openbaring 19:11-15, wat met ’n swaard en ’n ysterstaf uitgebeeld word. Efésiërs 6:16 stel Satan voor wat pyle na ware Christene skiet, wat dus daarop dui dat die eerste ruiter kop in een mus met Satan is.

Dit behoort ontnugterend te wees wanneer ons lees dat die eerste ruiter “uitgegaan [het] as ’n oorwinnaar en om te oorwin” (Openbaring 6:2). Dit dui op die opkoms van ’n strydlustige vorm van valse Christendom nét voor Jesus Christus se Wederkoms. Dit pas in met die eindtyd-scenario wat die Groot Verdrukking – ’n tyd wanneer ware Christene vervolg sal word – net ná die gebeure wat deur die vier perderuiters uitgebeeld word, plaas (sien Matthéüs 24:8-9; Openbaring 6:9-11). Hoe verskaf die geheimsinnige eerste ruiter insig in die geskiedenis, verduidelik die koers van huidige gebeure en openbaar die toekoms?

 

’n Rit van valse godsdiens

Die profeet Daniël skryf van ’n “horing” wat geassosieer word met ’n Roomse stelsel wat “tye en wet sou verander” (Daniël 7:21, 25). Die Bybel toon aan dat Jesus, Sy dissipels en die vroeë Kerk, die Sabbat en die Bybelse Heilige Dae onderhou het (Lukas 2:41-42; 4:16; Handelinge 17:2). Daarteenoor is daar in die geskiedenis opgeteken dat die Roomse kerk die onderhouding van die Bybelse Pasga verbied het en by die Raad van Nicaea in 325 n.C. die viering van Paasfees verpligtend gemaak het. Die Roomse kerk het ook die onderhouding van die Bybelse Sabbat onwettig verklaar en het in 363 n.C. by die Raad van Laodicéa Sondag in die wet vasgelê as die dag van aanbidding. Die Roomse kerk het die heidense vierings van 25 Desember aangepas om Christus se geboorte te herdenk, kwansuis om dit vir heidene makliker te maak om hulle tot die Christendom te “bekeer”. Deur sulke veranderings het die leerstellings van die vroeë Kerk deur die heidendom bedorwe geraak en is profesieë sodoende vervul wat deur Daniël, Jesus en Paulus gegee is.

Daniël het geprofeteer dat die “horing” van die vierde ryk, naamlik Rome, beheer oor toekomstige herlewings van daardie ryk sou uitoefen (Daniël 7:7-8, 24), oorlog teen die heiliges sou voer en oor hulle sou heers tot Christus se Wederkoms (Daniël 7:21-22, 25). Hierdie herlewings verbind die “horing” met die strydlustige vorm van korrupte Christendom wat aan die einde van die tyd sal ontstaan asook aan ’n polities aktiewe kerk – die “groot hoer” wat op die dier ry wat uit tien konings bestaan en met wie wêreldse heersers intieme verhoudings sou hê (Openbaring 17). Die kerkgeskiedenis laat min twyfel oor watter instelling hierdie rol vervul het.

Die pouse van Rome het verskeie herlewings van die Romeinse Ryk oorheers. Gedurende die Middeleeue het die pousdom, kruistogte gereël om vyande van daardie dominante kerk te vernietig. Daardie “vyande” het nie net Moslem-“ongelowiges” ingesluit nie, maar ook baie ander mense wat bely het dat hulle in Christus en die God van die Bybel glo – met inbegrip van lede van die Oosters-Ortodokse Kerk wat tydens die verwoesting van Konstantinopel omgekom het asook baie Jode, Sabbatonderhoudende Katare en Albigense in Suid-Frankryk asook Waldense in Noord-Italië en Duitsland. Diegene wat die leerstellings van Jesus Christus, die Apostels en die vroeë Kerk gevolg het, is as ketters bestempel en is deur die eeue heen uitgemoor omdat hulle nie die verordeninge van die Roomse kerk wou nakom nie.

 

’n Terugkeer na Rome?

Ons moet onthou dat die “hoofstroom” Protestantse kerke die meeste van hulle leerstellings en praktyke – met inbegrip van die Drie-eenheid, die onsterflike siel en die viering van Kersfees en Paasfees – uit die leerstellings van die Roomse kerk oorgeneem het. Hierdie heidens-geïnspireerde leerstellings en gebruike word nie in die Bybel gevind nie, maar tog handhaaf die “hoofstroom” belydende Christendom dit steeds – selfs deur die Hervorming heen, wat dus hulle verbintenis met hulle “moeder”-kerk demonstreer (Openbaring 17:5). Rome sal verseker wou sien dat haar “dogters” na die kudde terugkeer en eenheid verkondig, selfs al sien hulle duidelik net hulleself as die een ware kerk (sien Jesaja 47:1-8).

Die Roomse kerk ondersteun ’n verenigde Europa waarin hulle die prominente rol kan herwin wat dit tydens die “Heilige Romeinse Ryk” gespeel het. Tydens die bewind van die heilige Romeinse keisers en ander Katolieke monarge, het die Roomse kerk, staatsmag en die Inkwisisie gebruik om sy “vyande” aan te val met die hoop om een ryk onder een monarg en een godsdiensleier te skep. Die geskiedenis van die Middeleeuse Europa werp lig op hoe ’n misleidende en militante valse vorm van Christenskap oor miljoene mense sal heers wanneer die eerste ruiter van die Apokalips sy intense en dodelike eindtyd-rit begin. Waak en maak seker dat u gereed is sodat u nie verras word wanneer hierdie gebeure plaasvind nie – moontlik veel gouer as wat die meeste mense besef!