Wilskrag is ’n belangrike eienskap van die mens se karakter. Benut u die Bron wat u kan help om die wilskrag te ontwikkel wat u nodig het?

Wil u graag meer wilskrag hê?
U kan – indien u staatmaak op die primêre Bron van krag!

Die meeste van ons wil graag meer wilskrag hê. Ons dink dikwels dat om dit te ontwikkel, omtrent so onaangenaam is soos om ’n tand te trek of ’n splinter te verwyder. Soos wat elke nuwe jaar begin, neem miljoene mense nóg ’n reeks besluite om hulle lewens te verander: Oefen meer, eet minder, hou op rook of drink, bestee meer tyd saam met familie.

Soms kan selfs die eenvoudigste doelwitte totaal buite bereik lyk. In hulle boek van Januarie 2021, The Power of Bad, kom skrywers John Tierney en Roy Baumeister tot die volgende gevolgtrekking: “In ons boek oor selfbeheersing, onder “Wilskrag”, het ons opgemerk dat gemorskos dalk die moeilikste van alle versoekings is om te weerstaan, maar mense is besig om te leer om dit te doen” (bl. 244). Inderdaad, net soos ons kan leer om gemorskos nie in ons liggame toe te laat nie, net só kan ons die wilskrag ontwikkel om “verkeerde gedagtes” en “optredes en verkeerde dade” te weerstaan!

Waarom maak wilskrag saak? Sonder wilskrag het ons nie die vermoë om morele keuses te maak nie. Ons kan die blaam vir foute en tekortkomings op genetika, agtergrond, ouers, omgewing of net “slegte geluk” plaas. Die teorie dat die “wil nie bestaan nie” is net nog ’n manier van ’n verwarde en misleide mensdom om voort te gaan met sy eie begeerlikhede sonder die pyn van skuld en skaamte.

Wat presies is “wilskrag”? Waarom glo baie sosiale wetenskaplikes nie eers meer in die bestaan daarvan nie? Baumeister en Tierney beskryf hierdie verandering: “Wilskrag het so onbelangrik begin lyk dat dit nie eers gemeet of genoem word in moderne persoonlikheidsteorieë nie. Sommige neurowetenskaplikes beweer dat hulle bewys het dat dit nie bestaan nie. Baie filosowe weier om die term te gebruik … hulle verkies om te praat van vryheid van optrede, nie van wilskrag nie, omdat hulle twyfel of daar só iets is” (Willpower, bl. 8).

Wilskrag is egter ’n realiteit. Die wyse koning Salomo het verduidelik dat enigiemand wat daarna streef om ander mense te lei, eers moet leer om die eie-ek te regeer: “Die lankmoedige is beter as ’n held; en hy wat sy gees beheers, as een wat ’n stad inneem” (Spreuke 16:32). Hy het verder opgeteken: “’n Afgebreekte stad sonder muur, so is ’n man wat sy gees nie kan inhou nie” (Spreuke 25:28).

 

Veg of vlug?

Die apostel Paulus sê dat ons “worstel” teen owerhede of geeste wat ons probeer mislei (Efésiërs 6:12). Ons moet dus altyd gereed wees as Christene om vas te staan en die goeie stryd van geloof te stry (2 Timótheüs 2:3; 1 Timótheüs 6:12). Soos die apostel Jakobus skryf: “... weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug” (Jakobus 4:7).

Om te veg is egter nie die volle antwoord nie. Dikwels moet ons van die versoeking af wegvlug. Paulus waarsku ons: “Vlug vir die hoerery. Enige sonde wat ’n mens doen, is buite die liggaam, maar wie hoerery bedryf, sondig teen sy eie liggaam” (1 Korinthiërs 6:18). Om van versoeking weg te vlug, dui nie op ’n gebrek aan wilskrag nie – om die waarheid te sê, dit hou ons wilskrag sterk. Diegene wat verskonings maak om naby versoeking te bly, is diegene wat die meeste geneig is om daaraan toe te gee.

Daar is selfs wetenskaplike navorsing wat hierdie grondige Bybelse beginsel bevestig. Om ’n proefneming te doen is persone in ’n kamer gesit om na ’n rolprent te kyk. Sommige van hulle was binne ’n armlengte van ’n bak lekkergoed laat sit; die ander het aan die anderkant van die kamer, ver van die lekkergoedbak af gesit. Ná die rolprent is gevind dat diegene wat die naaste aan die aanloklike lekkergoed gesit het, aansienlik minder wilskrag as die ander gehad het! Navorsers het tot die gevolgtrekking gekom dat diegene wat die verste van die lekkergoed af gesit het, minder geestelike krag gebruik het om dit te weerstaan en daarom is meer wilskrag “in reserwe” gespaar vir die volgende oefening (bl. 225).

Indien ons deur seksuele wellus, hebsug of ’n begeerte na enigiets wat kan lei tot sonde versoek word, moet ons sonder versuim daarvan af wegvlug! Ons moet die versoeking ten alle koste vermy. Indien u sukkel met ’n verslawing aan alkohol, moenie drank in die huis aanhou nie en moenie plekke besoek waar u weet dat dit beskikbaar is nie. Indien u probleme ondervind om pornografie te weerstaan, plaas ’n filter op u rekenaar en laat iemand anders, wat deur u vertrou word, die wagwoord stel. Om ons wilskrag te versterk, moet ons doelbewuste pogings aanwend om van versoeking af weg te vlug.

 

Sal u u wilskrag oefen?

Atlete berei voor vir sportkompetisies deur te oefen. Hulle oefen – dan oefen hulle nóg meer. Om net te weet hoe om ’n kolf te swaai, ’n bal te skop of ’n netbal in die net in te gooi, bring nie vaardigheid mee nie. Dit neem honderde of duisende herhalings, uur na uur en dag na dag, voordat die bewegings so natuurlik word dat dit feitlik outomaties is.

Paulus beskryf die geestelike reis as ’n wedloop om met volharding gehardloop te word (Hebreërs 12:1). Hy het beklemtoon dat Christene dit doen deur om van God se Gees gebruik te maak. Dit bring baie voordele mee, met inbegrip van selfbeheersing (Galásiërs 5:23).

Goddelike selfbeheersing is soos ’n spier wat sal wegkwyn wanneer dit nie ontwikkel word nie. Wanneer ons besluit om iemand te vergewe wat ons kwaad aangedoen het, beoefen ons geestelike krag uit oor ons wil. Wanneer ons aanhou om dit te doen en die gedrag herhaal, raak dit al hoe natuurliker vir ons en selfs tweede natuur. Dit is geen wonder dat Jesus Christus sê ons moet ons broer “sewentig maal sewe” keer vergewe nie (Matthéüs 18:22). Hy wil hê dat ons die gewoonte aankweek om ander mense te vergewe. Hy wil hê dat ons die “spier” van selfbeheersing deeglik sal oefen!

Studies het getoon dat om selfbeheersing op een gebied te beoefen, ons help om selfbeheersing in alle areas van ons lewens te vestig. Dieselfde dissipline wat ons ontwikkel om ’n slegte humeur te vermy, om seksuele versoekings te weerstaan, om dronkenskap te vermy of te weerstaan of om ongesonde kos te verslind, het getoon dat dit lei tot gelukkiger huwelike, beter werk, beter gesondheid en gesonder finansies (Willpower, bl. 13).

Verbind u dus daartoe om beheer oor een area van u lewe te neem en die voordele sal na die res van u lewe uitkring! Paulus skryf dat geestelik volwasse mense, “geestesvermöens besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei” (Hebreërs 5:14). Stel ’n paar doelwitte vir uself – hoe eenvoudig ook al. Dalk wil u vroeër gaan slaap of meer hoflik teenoor ander motorbestuurders wees of regop sit om ’n beter postuur te behou. Namate u daarop fokus om selfs die eenvoudigste doelwitte in die praktyk toe te pas, kan die gevolglike resultaat van selfbeheersing oorgedra word na die moeilikhede waarmee u in u lewe te kampe kry.

 

Beoefen u wil om u wilskrag te versterk

Elke ouer weet dat indien ’n mens wil hê dat kindertjies hulle beter gedra, daar seker gemaak behoort te word dat hulle magies vol is. Voed dus u liggaam om u wilskrag te voed. Gebalanseerde voedsame maaltye, wat in matige hoeveelhede geëet word, help ons om goeie besluite te neem, goed te funksioneer en om ons wilskrag doeltreffend te beoefen. Indien wilskrag soos ’n spier is, het dit energie nodig. Ons breine waardeur ons wilskrag in fisiese handelinge tot uiting kom, het glukose nodig om te kan funksioneer. Sonder behoorlike brandstof, in voldoende hoeveelhede, sal ons breine nie funksioneer soos hulle behoort te doen nie en ons wilskrag sal verswak word.

Fisiese brandstof is egter net die begin. Dit is nodig, maar nie voldoende nie. Jesus Christus het Sy volgelinge gewaarsku om nie te veel fokus op die lewe se fisiese aspekte te plaas terwyl hulle die geestelike aspekte verwaarloos nie. Hy sê: “Moenie werk om die spys wat vergaan nie, maar om die spys wat bly tot in die ewige lewe, wat die Seun van die mens julle sal gee; want Hom het God, die Vader, verseël” (Johannes 6:27). Wat is die geestelike voedsel wat vir ewig hou? “Want die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee ... En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie” (Johannes 6:33, 35).

Hoe voed ons onsself met Christus? Deur ons wil aan Sy wil te onderwerp en Hom te vra om Sy lewe in ons te leef (Galásiërs 2:20). Ons fisiese wilskrag kan versterk word indien ons ons brein van brandstof voorsien. Ons geestelike wilskrag kan versterk word wanneer ons die “brandstof” inneem van gebed, Bybelstudie, meditasie asook om af en toe te vas. Christus self sê: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Matthéüs 4:4). Ons versterk ons wilskrag deur gereelde kontak met God te hê en deur Sy wil in ons lewens te doen. Jesus het gesê: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring” (Johannes 4:34). Gebed, Bybelstudie, meditasie en vas is die geestelike “voedsel” wat ons nodig het om nader aan ons Verlosser te kom.

Moenie die belangrikheid van rus buite rekening laat nie. In baie gebiede van die wêreld is die moderne kultuur ’n slaap ontneemde kultuur. Dit is geen wonder dat ons minder selfbeheersing as ooit het nie! Wanneer ons geestelik uitgeput raak, sal ons wilskrag afneem. Dit is nodig om tyd te maak om te herlaai en te herstel. Soms beteken dit net om na ons fisiese gesondheid om te sien deur genoeg rus en voldoende slaap te kry. Fisiese rus is egter nie voldoende om ons uitgeputte gees te vernuwe nie. Christus het beloof: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig” (Matthéüs 11:28-30).

 

Sal u u onderwerp aan God se gesag?

Skynbaar teenstrydig genoeg het ons die grootste wilskrag wanneer ons ons aan die krag van God onderwerp. Om onder en deur Sy krag te leef, is bevrydend, gerusstellend en vul ons met vrede namate ons die krag van Sy Gees in ons lewens ervaar. Per slot van rekening beteken dit om te groei in wilskrag, om geheel en al en ongetwyfeld op God en Sy krag te vertrou om ons te lei. Wanneer u voor ’n versoeking te staan kom, onthou wat koning Dawid geskryf het:

“Vertrou op die Here en doen wat goed is; bewoon die aarde en beoefen getrouheid, en verlustig jou in die Here; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart. Laat jou weg aan die Here oor en vertrou op Hom, en Hý sal dit uitvoer; en Hy sal jou geregtigheid laat voortkom soos die lig en jou reg soos die middag. Swyg voor die Here en verwag Hom; wees nie toornig op hom wat voorspoedig in sy weg is nie, op die man wat listige planne uitvoer nie” (Psalm 37:3-7).

Vergeet nooit dat God Self, volmaakte wilskrag beoefen het in Sy plan om die mensdom van sy sondes te red nie. Die aand voordat Jesus Christus vir die hele mensdom gesterf het, het Hy voor die moeilikste keuse van Sy lewe te staan gekom. Om ons Verlosser te word, sou Hy deur ’n pynlike dood moes gaan. Die versoeking om om te draai en weg te loop moes geweldig sterk gewees het. Hy het saam met Sy dissipels na die Olyfberg gegaan: “En toe Hy op die plek kom, sê Hy vir hulle: Bid dat julle nie in versoeking kom nie.” Hy het ’n entjie verder geloop en uitgeroep: “Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied! En ’n engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk. En toe Hy in ’n sware stryd kom, het Hy met groter inspanning gebid, en sy sweet het geword soos bloeddruppels wat op die grond val” (Lukas 22:40, 42-44).

Het Christus net “op sy tande gebyt” en Sy wil “gedwing” om die regte ding te doen? Geensins! Wat Hom daartoe in staat gestel het om hierdie pynlike toets te slaag, was Sy bereidwilligheid om Hom te onderwerp aan die wil en die gesag van die Vader.

Dit is ook hoe ons die wilskrag kan vind om ’n versoeking te weerstaan en te oorkom. Namate ons ons lewens in ware gehoorsaamheid onderwerp aan die Een wat ons geskape het, kan ons deurdrenk word met Sy Geestelike krag. Paulus het aan die broeders in Filippi geskryf: “Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae” (Filippense 2:12-13).

Indien ons Hom soek en gehoorsaam, sal God deur ons werk “om te wil en Sy wil te doen” in ons lewens. Ons kán oorwin; ons kán ons gees en ons optrede beheer. Met God se hulp kan ons al die wilskrag hê wat ons nodig het.