Hou u Jerusalem dop? U Bybel maak melding van ’n mylpaal in Jerusalem gedurende die eindtyd wat ons wêreld sal skud, voordat Christus terugkeer!

Die Bybel skets die toekoms van die wêreld. Bybelse profesieë openbaar die volgorde van wêreldgebeure wat uiteindelik sal lei tot die einde van hierdie era van menslike wanbestuur. Watter wêreldgebeure behoort u dop te hou? U Bybel openbaar dat daar in die nabye toekoms, ’n groot supermoondheid in die wêreld tot stand sal kom en wat bo die kwynende Verenigde State sal uitstyg. Sal dit China wees? Ons het onlangs gesien dat China sy plek as ’n wêreldleier wil verseker – of sal Rusland, die opvolger van die voorheen magtige Unie van Sosialistiese Sowjetrepublieke, ’n herlewing beleef wat dit weer as die middelpunt van die globale geopolitiek sal plaas?

U Bybel openbaar die magtige rolle wat China en Rusland sal speel aan die einde van hierdie huidige tydperk, nét voor die Wederkoms van Jesus Christus. Tog openbaar u Bybel ook ’n skokkende waarheid wat die meeste mense nog nie raaksien nie – dat dit ’n opkomende Europa is wat die wêreld se top-supermoondheid sal word namate die wêreldgeskiedenis sy hoogtepunt by Armagéddon bereik.

Waar pas die Midde-Ooste in dit alles? “Armagéddon” is die weergawe van die Engelse woord wat uit Grieks vertaal is en afkomstig is van die Hebreeuse har Megiddo, wat verwys na ’n bergagtige gebied langs die vlakte van Jisreël – waar die wêreld se leërs bymekaar sal kom ter voorbereiding vir die geprofeteerde stryd wat sal plaasvind aan die einde van die tyd met Jesus Christus se Wederkoms. Hierdie “Armagéddon” is ongeveer 88 kilometer noord van Jerusalem – die stad wat die uiteindelike middelpunt van wêreldkonflik sal wees.

Ons lees in die Skrif dat voor Christus se Wederkoms, “Jerusalem sal vertrap word deur nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Lukas 21:24). Om Bybelse profesieë te verstaan, is dit nodig dat ons weet: Wie is die nasies? Wat is die geheimsinnige “tye van die nasies”?

 

Gevaar in die Midde-Ooste

Hoe sal ons weet dat ons naby die einde van hierdie huidige tydperk is? Die Bybel openbaar groot profetiese gebeure waarvan ons bewus behoort te wees. Jesus Christus, ons Verlosser, was ook die belangrikste beriggewer van nuus en Profeet wat nog ooit geleef het en Hy waarsku ons oor ’n groot eindtydse profetiese teken: “EN wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is” (Lukas 21:20). Natuurlik was en is daar reeds vir duisende jare oorlog in en om Jerusalem aan die gang. In 1967 het die oostelike deel van die stad onder Israeliese beheer gekom en vir die eerste keer in duisende jare was daar ’n verenigde Jerusalem onder beheer van ’n Joodse staat. Selfs daardie Sesdaagse Oorlog sal onbeduidend voorkom in vergelyking met wat voorlê.

Daardie toekomstige aanval op Jerusalem sal nié goed eindig vir die stad se Joodse inwoners nie. Christus het voorspel: “... hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Lukas 21:24). Let op dat hierdie ’n profesie vir die toekoms is, nie net ’n beskrywing van iets wat in die verlede gebeur het nie. Tydens vorige invalle van die Grieke asook die Romeinse Ryk, is die mense van Jerusalem nie na “alle nasies” geneem nie. Ons sien dat selfs tydens die Babiloniese verowering van Juda in 586 v.C. is die Jode hoofsaaklik na een nasie geneem, eerder as om oor die vreemde verstrooi te word, soos in die geval van die noordelike koninkryk van Israel.

Gedurende hierdie toekomstige tydperk, wanneer leërs van regoor die wêreld, óm Jerusalem sal saamtrek, word God se volk wat daar woon, aangespoor om te vlug weens “groot nood in die land” (Lukas 21:1-23). Diegene wat nie daarin slaag om te ontvlug nie, sal as “krygsgevangenes geneem word na al die nasies” en hierdie verwoesting sal voortduur, want “Jerusalem sal vertrap word totdat die tye van die nasies vervul is” (vers 24).

Om hierdie aanslag op Jerusalem te verstaan en die “tye van die nasies” te identifiseer wat sal volg, is noodsaaklik vir ons om die eindtydse Bybelse profesieë te begryp. Wat is dus die “tye van die nasies” en wat dít betref – wat is ’n “nasie [heiden]”?

 

Heidene en Israeliete

In die konteks van u Bybel is “heidene” die volke van die wêreld wat nie afstam van die antieke aartsvader Jakob, wie se naam na Israel verander is nie (Génesis 32:28). Dit is maklik genoeg om uit te ken dat nasies soos China en Japan nie afstammelinge van Israel is nie. Rusland en Duitsland is twee ander prominente nie-Joodse nasies.

Vandag weet baie mense egter nie wie die hedendaagse afstammelinge van die antieke stamme van Israel is nie. Jakob het twaalf seuns gehad. Sy seun Juda is die patriarg van die stam van Juda, van wie die moderne Joodse volke afstam. Van sy ander seuns was die voorouers van wat soms die “tien verlore stamme” genoem word. Dit het die nasie net noord van Juda gevorm wat in Assiriese ballingskap weggevoer is – meer as ’n honderd jaar voordat Juda verower is deur die Babiloniese invallers.

Lesers wat die Wêreld van Môre-tydskrif al vir ’n geruime tyd lees, is bewus daarvan dat die noordelike koninkryk van Israel, wat in 721 v.C. in Assiriese ballingskap weggevoer is, aanskou het hoe hulle volke ná hulle vrylating verstrooi is toe die Assiriese Ryk omvergewerp is. Baie van hulle het na die noordweste gereis en hulle in die verre uithoeke van Europa gevestig. Regdeur die Israelitiese geskiedenis, wanneer hulle met nie-Israelitiese stamme in kontak gekom het, het hulle baie nie-Israelitiese gebruike as hulle eie aanvaar. Hierdie volke sluit die nasies van Britse afkoms in met inbegrip van die Verenigde State, asook die Franse, Switsers en Nederlanders. Vir ’n volledige verduideliking van hierdie en ander nasies van Israelitiese afkoms, lees ons kragtige publikasie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? wat aanlyn beskikbaar is by wvm.co.za of bestel u eie gratis gedrukte eksemplaar van u naaste streekkantoor (lys verskyn op bladsy 2 van hierdie tydskrif).

 

Heidense Babilon

Die Babiloniërs – die nasie wat antieke Juda in ballingskap weggevoer het – was ’n nie-Joodse nasie wat lank gelede in die land Sínear tot stand gekom het. Babilon was ’n ryk, magtige en vasbeslote nasie en hulle het hulle mag gebruik om die Skepper-God uit te daag en hulle selfs versit teen Hom. Die Skrif beskryf Babilon se trotse houding soos wat die land se mense dit self verklaar het: “Kom, laat ons vir ons ’n stad bou en ’n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons ’n naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie” (Génesis 11:4).

U het dalk al kunsuitbeeldings van die toring van Babel gesien. Die meeste van u ken die verhaal: God het die taal van die volke in dié gebied verwar en dit het veroorsaak dat hulle nie meer verenig was nie. “So het die Here hulle dan daarvandaan oor die hele aarde verstrooi; en hulle het opgehou om die stad te bou. Daarom het hulle dit Babel genoem, want daar het die Here die taal van die hele aarde verwar, en daarvandaan het die Here hulle oor die hele aarde verstrooi” (Génesis 11:8-9). In een hoogaangeskrewe Bybelkommentaar verskyn ’n opmerking in verband met hierdie mense dat “hulle eie verdere verstrooiing uit Babel (vv. 8f.) opgeteken is as ’n buitengewone oordeel oor hulle blatante verpersoonliking van die goddelose gees wat weer ná die Vloed die menslike beskawing gekenmerk het … Die stad word weereens die kulturele fokus van toenemende menslike arrogansie” (vergelyk Génesis 4) (The New Bible Commentary: Revised, 1970, bl. 91).

Kan ons sien dat die “toenemende menslike arrogansie” van Babilon ook vandag se baie algemene anti-God gesindheid beskryf? God het daardie gesindheid in die verlede tot ’n val gebring. Tog lees ons dat dit in die toekoms weer sal herleef. Die apostel Johannes skryf:

“EN ná hierdie dinge het ek ’n engel sien neerdaal uit die hemel, met groot mag, en die aarde is verlig deur sy heerlikheid. En hy het met ’n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword ’n woonplek van duiwels en ’n versamelplek van allerhande onreine geeste en ’n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls, omdat al die nasies gedrink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery, en die konings van die aarde met haar gehoereer het, en die handelaars van die aarde ryk geword het deur die mag van haar weelderigheid” (Openbaring 18:1-3).

Hoe behoort ons op sulke goddeloosheid te reageer? God waarsku ons om nie deel te neem aan die sondes van die toekomstige herlewing van Babilon nie. Johannes skryf: “En ek het ’n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie. Want haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtighede onthou” (Openbaring 18:4-5).

Nee, geagte Leser, u wíl nie deel wees van die heidene se rebellie teen God nie. U wil nie die plae beleef wat Babilon in die verlede getref het en wat Babilon weer in die toekoms sal tref nie. Die eindtydse stelsel met die naam, Babilon die Grote, (vergelyk Openbaring 17 en 18) sal ’n alliansie van ekonomiese oorheersing, militêr-politieke mag en valse godsdiens wees. Dit is nodig dat u op die uitkyk sal wees vir die tyd wanneer die heidene “die heilige stad twee-en-veertig maande lank [sal] vertrap” (Openbaring 11:2).

 

Nebukadnésar se droom

Die geskiedenis van die nasies wat God en Sy volk teëgestaan het, het duisende jare terug al begin. Die koning van Babilon, Nebukadnésar, het ’n geheimsinnige droom gehad van ’n groot beeld met ’n kop van goud. Die betekenis daarvan kon slegs deur die profeet Daniël uitgelê word. Daniël het vir koning Nebukadnésar gesê: “... ú is die hoof van goud” (Daniël 2:38). Onder die kop van goud het die beeld in Nebukadnésar se droom ’n bors en arms van silwer gehad, ’n buik en dye van brons, bene van yster en voete van yster en klei gemeng.

Daniël het verduidelik dat Nebukadnésar se ryk vervang sou word deur ’n ander ryk wat verteenwoordig word deur die bors en arms van silwer, wat ons as die Medo-Persiese Ryk ken. Dit sou gevolg word deur die buik en dye van brons, wat ons ken as die Grieks-Masedoniese Ryk – die ryk wat met groot invloed onder Alexander die Grote versprei het. Die bene van yster is wat ons as die Romeinse Ryk ken, wat van 27 v.C. tot 476 n.C. oor Europa, Noord-Afrika en die Midde-Ooste versprei het. Die voete van yster en klei gemeng verteenwoordig ’n toekomstige herlewing van daardie Ryk.

Dit klink alles dalk interessant, maar hoe kan ons seker wees? Ons kan, want die Bybel vertolk sélf die Bybel. Die boek Openbaring openbaar die geskiedenis en toekoms van die Romeinse Ryk: “Hier kom die verstand wat wysheid het, te pas. Die sewe koppe is sewe berge waar die vrou op sit. En hulle is sewe konings; vyf het geval en een is; die ander een het nog nie gekom nie; en wanneer hy kom, moet hy ’n kort tydjie bly. En die dier wat was en nie is nie, is self ook die agtste, en hy behoort by die sewe en gaan na die verderf” (Openbaring 17:9-11). Hier sien ons dat die koppe verteenwoordigend is van berge – ’n Bybelse simbool van regerings of koninkryke. Hierdie sewe koppe verteenwoordig sewe opeenvolgende konings wat elkeen ’n herlewing van die oorspronklike koninkryk is.

Die eerste kop van die skarlakenrooi dier (Openbaring 17:3) verteenwoordig die eerste herlewing, naamlik die herstel van die Ryk onder Justinianus in 554 n.C. Die volgende herlewing het betrekking op Karel die Grote, wat op 25 Desember 800 n.C. as keiser in Rome gekroon is. Daaropvolgende herlewings het onder Otto die Grote, Charles V en Napoleon plaasgevind. Die sesde van die sewe herlewings het in 1945 geëindig met die val van Mussolini.

 

Nog een heidense herlewing

Selfs vandag hoop baie Europeërs dat die Europese Unie tot ’n nuwe Romeinse Ryk sal ontwikkel. Waar kry moderne Europeërs egter hierdie idee vandaan? Van vorige herlewings van die Romeinse Ryk. Let op die ooreenkomste tussen hoofstukke 2 en 7 van die Ou-Testamentiese boek Daniël, asook hoofstukke 13 en 17 van die Nuwe-Testamentiese boek Openbaring. Hieruit kan ons die volgorde van geprofeteerde koninkryke begin verstaan.

Die geskiedenis het die akkuraatheid van Bybelse profesieë bewys. Ryke het tot stand gekom en tot ’n val gekom – net soos die Bybel voorspel het. Die heel laaste ryk moet egter nog tot stand kom. Watter ryk sal dit wees? Let op hierdie opmerking oor Openbaring 17:11 in die nota aan die kantlyn van die New Catholic Edition van die Bybel, wat uit die Latynse Vulgaat vertaal is en ook bekend is as die Douay-Rheims-weergawe: “Die dier waarvan hier gepraat word, blyk die Romeinse Ryk te wees, soos in hoofstuk 13”.

Soos ander Bybelgeleerdes erken, verteenwoordig die diere van Openbaring 13 en 17 die Romeinse Ryk. Die New Catholic Edition maak hierdie opmerking oor Openbaring 13:1: “Die beeld van die eerste dier is gebaseer op die sewende hoofstuk van Daniël. Hierdie dier is die voorstelling van koninkryke van die wêreld, koninkryke wat gegrond is op passie en selfsug, wat in elke eeu teenstaanders van Christus was en probeer om die dienaars van God te onderdruk. Imperiale Rome verteenwoordig hierdie mag”.

Ja, selfs hierdie Rooms-Katolieke Bybel erken die identiteit van die dier!

 

Twee-en-veertig maande van heidense heerskappy

Die profeet Daniël openbaar ’n tyd van wêreldwye rampspoedige omwenteling: “EN in dié tyd sal Mígael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan, optree; en dit sal ’n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ’n volk bestaan het tot op dié tyd nie” (Daniël 12:1). Daardie tyd is dieselfde tyd wat beskryf word in Openbaring 13, wat die bose invloed en mag van die dier openbaar:

“En hy het sy mond oopgemaak om te laster teen God, om sy Naam en sy tabernakel en die wat in die hemel woon, te laster. Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin, en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie. En al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe van die Lam wat geslag is, geskrywe is nie” (Openbaring 13:6-8).

Die heidense diermoondheid sal sy invloed oor die hele wêreld uitoefen. God sal egter sy tyd beperk tot net twee-en-veertig maande oftewel drie-en-’n-half jaar. “En ’n mond is aan hom gegee wat groot woorde en godslasteringe uitspreek, en aan hom is mag gegee om dit twee-en-veertig maande lank te doen” (Openbaring 13:5).

Dit is dieselfde tydperk waarvan ons vroeër in Lukas 25 gelees het, waar Jesus ’n tyd beskryf wanneer heidene – nie Jode nie – vir ’n kort tydjie weer in Jerusalem sal regeer. Onthou dat, alhoewel ’n groot deel van Wes-Europa uit afstammelinge van die stamme van antieke Israel bestaan, Duitsland nie een van hulle is nie – ook nie na die ooste van Duitsland nie – daar is die Russiese volke of die Chinese. Dit is vanuit dié heidene dat ’n geprofeteerde leër van 200 miljoen man bymekaar gemaak sal word om weswaarts oor die Eufraatrivier na Armagéddon te marsjeer en verder na Jerusalem om teen die terugkerende Christus te veg (Openbaring 9:14-19).

Jesus verklaar dat hierdie ’n unieke tyd in die menslike geskiedenis sal wees – ’n tyd wat so gevaarlik sal wees dat slegs Sy Wederkoms die mensdom sal verhoed om hulleself te vernietig. “En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Matthéüs 24:22).

Die apostel Johannes sê aan ons:

“EN ’n riet soos ’n stok is aan my gegee, en die engel het gestaan en gesê: Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die wat daarin aanbid. Maar die voorhof buitekant die tempel moet jy uitlaat en dit nie meet nie, want dit is aan die heidene gegee; en hulle sal die heilige stad twee-en-veertig maande lank vertrap. En Ek sal aan my twee getuies gee dat hulle, met sakke bekleed, duisend-tweehonderd-en-sestig dae lank sal profeteer” (Openbaring 11:1-3).

Tydens die heidene se drie-en-’n-half jaar lange beheer van Jerusalem sal gevaarlike tye, wat die Groot Verdrukking (Matthéüs 24:21) sowel as die Dag van die Here of “die groot dag van sy toorn” insluit (Openbaring 6:16-17) wat gevolg sal word deur die slag van Armagéddon – meer presies gestel, “vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” (Openbaring 16:14). Om meer te wete te kom oor die dramatiese gebeure gedurende hierdie tydperk, bestel gerus ons kragtige en maklik leesbare publikasie Armageddon en daarna.

 

Oorlog teen Christus

Daar bly nog een finale herlewing van die Romeinse Ryk oor om vervul te word. Hierdie toekomstige herlewing sal bestaan uit tien konings of koninkryke wat verenig is as deel van die simboliese dier. Let op na verwikkelings in Europa. Neem die opkoms van die volgende wêreld-supermoondheid in oënskou. “En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier. Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier” (Openbaring 17:12-13). Let op die tyd van hierdie finale herlewing. “Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin – want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings – en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou” (Openbaring 17:14).

Ja, hierdie eindtydse militêre mag sal misluk in die oorlog teen Christus. Dit sal plek maak vir die Koninkryk wat vir ewig sal bestaan – die Koninkryk van God, wat regeer sal word deur die Koning van die konings en Here van die here. Hy sal ’n toekomstige bedrieglike godsdiensleier vervang wat dramatiese wonderwerke sal verrig. Daardie leier sal godsdienstige geesdrif oor die hele wêreld opwek:

“EN uit die aarde het ek ’n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad net soos ’n lam en het gepraat soos ’n draak. En hy oefen al die mag van die eerste dier uit voor sy oë, en hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid, waarvan die dodelike wond genees is. Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense” (Openbaring 13:11-13).

Christus se glorieryke oorwinning – ook ú oorwinning

Hoe sal die tye van die heidene tot ’n einde kom? “EN die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15). Dit sal ’n wonderlike tyd wees vir opgestaande Christene, aangesien hulle die ewige lewe en die groot voorreg sal ontvang om onder Christus oor die aarde te regeer (Openbaring 5:10). Dit is God se beloning vir diegene wat Sy opdrag gehoorsaam om hulle te bekeer en gedoop te word asook die Heilige Gees te ontvang wat hulle help om sonde te oorkom en God se heilige en regverdige karakter in hulle eie lewens te ontwikkel.

Met Christus se Wederkoms sal hierdie getroue Christene as “eerstelinge” opgewek word – die eerste mense wat deel van God se Gesin sal word (Jakobus 1:18; 1 Korinthiërs 15:52). Dit sal mense van alle nasies insluit en nie net die stamme van Israel nie, maar ook baie heidene wat as Christene deel geword het van geestelike Israel (Galásiërs 6:16). U wil nie toelaat dat ’n valse godsdiens en ’n valse godsdienstige leier u mislei om hierdie wonderlike toekoms mis te loop nie. Bly waaksaam en doen soos Jesus ons beveel het: “Waak dan en bid altyddeur, dat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:36).