Dit is weer daardie tyd van die jaar en dit laat my dink aan my ateïstiese oom George. In ons boekie Paasfees (Easter): Die storie wat nie vertel word nie het ek melding gemaak van die verband tussen Paasfeesvierings en die verwerping van God. Ek het ook ’n storie oor oom George vertel wat die kersvakansie wat nou so naby is, eintlik behels.

Op ’n dag, na aan die einde van sy lewe, het my oom die onderwerp van Kersfees aangeroer. Omdat hy geweet het dat ek ’n Christelike leraar is en aangeneem het dat ek die mees stereotipiese “Christelike” fees van alle geleenthede vier, wou hy my ’n bietjie aanvat deur die onmiskenbare heidense oorsprong van die vakansie te verduidelik. Hy het verduidelik dat Jesus nié op 25 Desember gebore is nie en dat vierings op en rondom die wintersonstilstand al lank voor die Christendom plaasgevind het. Hy het die oorsprong van een gebruik na die ander gebruik verduidelik met betrekking tot die gebruik om valse gode soos Mithra te vereer, wat getoon het dat dit geassosieer word met die Romeinse vierings van “Saturnalia and the Calends”. Hy het gewys op die skynheiligheid daarvan om die dag ’n Christelike vakansiedag te noem terwyl die oorsprong daarvan alles behalwe Bybels is.

Ek het aandagtig geluister totdat hy sy ongevraagde geskiedenisles afgehandel het en toe geantwoord: “Oom George, alles wat jy sê is waar”. Ek het verduidelik dat hy nou so pas die redes opgenoem het waarom ek nie Kersfees vier nie en toe kyk ek hom in die oë en vra: “Oom George, vier u Kersfees?” Ek het reeds die antwoord geweet, maar ek erken dat ek dit geniet het om die bordjies te verhang en hom in ’n hoek te dryf – om dit so te stel. Hy het ongemaklik in sy stoel rondgeskuif en verduidelik dat hy verplig voel om geskenke aan mense te gee wat vir hóm geskenke gegee het. Die druk van die samelewing het blykbaar ’n kragtige invloed op hierdie uitgesproke ateïs uitgeoefen.

So hier sit ons toe – ’n Christelike leraar wat nie Kersfees vier nie en ’n ateïs wat dit wél vier!

By die Wêreld van Môre kyk ons na die Bybel as die onfeilbare Bron van Waarheid en dit gee rigting aan ons persoonlike lewens. Ons opdrag is om die wêreld te waarsku oor wat sal gebeur indien daardie waarheid verwerp word, asook om te wys dat daar waarlik hoop vir ’n beter wêreld is – maar slegs met die Wederkoms van die Messías, Jesus Christus van Násaret. Ten spyte van vandag se meedoënlose aanval op Bybelse waardes, sal ons voortgaan om die Waarheid aan u bekend te maak, soos dit duidelik in die bladsye van die Bybel geopenbaar word. Dit is wat lesers van die Wêreld van Môre tog sou verwag – maar let op dat ek gesê het “sou”. Waarom dié voowaarde?

Die meeste lesers van hierdie tydskrif erken en stem saam dat die wêreld om ons in ’n gevaarlik en verkeerde rigting beweeg. Moraliteit is werklik op ’n ontstellende laagtepunt, baie nasies – indien nie almal nie – is erg verdeeld en selfs die natuurkragte het teen ons gedraai met verwoestende sneeustorms, hittegolwe, droogtes en bosbrande wat alle rekords oortref. Lank voor hierdie probleme het die belydende Christelike wêreld ’n verkeerde rigting ingeslaan wat die verwerping van God verder vererger het.

Heidendom en misleiding

My oom George is nie die enigste een wat skynheiligheid in die Christendom en die Kersfeesvierings raakgesien het nie. Christenskap het egter nie so begin nie. Daar was geen viering van Christus se verjaardag in die vroeë Kerk nie. Die Encyclopædia Britannica sê: “So laat as 245 n.C. verwerp Origenes in sy agtste preek oor Levítikus, selfs die idéé as sondig om die geboortedag van Christus te vier ‘asof hy ’n koning Farao is’” (1911, volume 6, bl. 293).

Feitlik elke hoogaangeskrewe geskiedskrywer erken dat “die Christelike kerk baie heidense idees en beelde oorgeneem het”.

Die viering van Christus se geboorte op die vyf-en-twintigste Desember, kom byvoorbeeld van sonaanbidding, die geboortedag van die Son. Saturnalia, die Romeinse winterfees van 17-21 Desember, het voorsiening gemaak vir die vrolikheid, geskenke en kerse wat tipies van latere kersvakansies was ... Sommige heidense gebruike wat later gekersten is [’n daad van ongehoorsaamheid aan God, soos ons sal sien], byvoorbeeld die gebruik van kerse, wierook en sierkranse, is aanvanklik deur die Kerk vermy omdat dit die heidendom gesimboliseer het (Eerdmans’ Handbook to the History of Christianity, 1977, bll. 131-132).

Hierdie feite het nie veel effek op die meeste belydende Christene nie. Oom George het darem nooit beweer dat die dag iets is wat dit nie is nie. Wat is egter die nadele vir diegene wat Kersfees vier? Aangesien niemand weet wanneer Christus se geboortedag was nie, waarom dan nie sommer ’n tyd aanneem wanneer die heidene hulle god vereer het en dit ’n Christelike vakansiedag maak nie?

Daar is ten minste drie probleme wanneer dit gedoen word. Die eerste probleem is dat die beweerde betekenis van die “Kersdag” – met al sy gepaardgaande gebruike – ongetwyfeld ’n groot leuen is. Die tweede is dat God vir ons sê om nie gebruike van die heidene aan te neem om Hom te aanbid nie (Deuteronómium 12:29-32; Jeremia 10:1-4; vergelyk Markus 7:6-9). Die derde probleem is dat hierdie heidense vierings plaasvervangers geword het vir die dae wat God as heilig opsy gesit het.

Vreugde en begrip

Lede van die Lewende Kerk van God, die borg van die Wêreld van Môre, onderhou elke jaar gedurende September/Oktober die Huttefees. Vir baie van u mag dit dalk vreemd klink. Wie het al van “die Huttefees” gehoor? Jesus Christus het dit byvoorbeeld onderhou ten spyte van dreigemente om Hom dood te maak (Johannes 7:2-10). Wanneer Hy terugkeer om Koning oor die hele aarde te word (Sagaría 14:1, 4, 9), sal Hy alle nasies beveel om verteenwoordigers te stuur om dit in Jerusalem te onderhou (vers 16). Hy is só ernstig daaroor dat alle nasies hierdie Fees onderhou dat Hy enige nasie sal straf wat weier om dit te doen (verse17-19). Dit is waarskynlik nie iets wat u in enige Sondagdiens sal hoor nie, maar moenie ons woord daarvoor neem nie – soek self hierdie verse op.

Hou in gedagte dat Jesus die Huttefees onderhou het en van alle nasies sal verwag om dit te onderhou wanneer Hy terugkeer. Hou ook in gedagte dat ons nêrens in die Bybel lees van iemand wat Christus se geboortedag jaarliks gevier het nie. Ja, ons lees van Sy geboorte en deur dit te doen, sien ons dat die gewilde verhaal sedertdien deur sprokies verdraai is. Die wyse manne het opgedaag toe Jesus in ’n huis was, nie in ’n stal nie – weke of selfs maande nadat Hy gebore is (Matthéüs 2:11, 16). Hulle het geskenke gegee omdat Hy gebore is om ’n kóning te wees, nie omdat dit Sy verjaardag was nie. Dit en soveel meer word verduidelik in ons gratis boekie: Is Kersfees Christelik?

Ja, ons leef in ’n verwarde wêreld en dit geld nie net vir huidige gebeure en politiek nie. Belydende Christenskap is in ’n toestand van verwarring, wat presies is wat die Bybel voorspel. Die eerste teken wat Jesus gegee het wat “die voleinding van die wêreld” sal aandui, was ’n vals Christendom. “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld? En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom [wat Sy gesag opeis] en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei” (Matthéüs 24:3-5).

God se meesterplan vir die mensdom word versluier en vergeet wanneer selfs “Christene” heidense vierings in die plek stel van die dae wat Jesus, Sy Apostels en die vroeë Kerk gehou het. Daar is tog steeds mense wat Christus se voorbeeld volg en die Pasga, die Fees van Ongesuurde Brode, die Pinksterdag, die Fees van Basuine, die Versoendag, die Huttefees en die Laaste Groot Dag onderhou. Elke Fees verteenwoordig ’n opeenvolgende stadium in God se plan vir die mensdom en elkeen is ’n vreugdevolle onderhouding van daardie stadium.

Baie mense is nuuskierig oor hierdie dae; dalk is u een van hulle. Ek persoonlik onderhou hierdie dae al vir byna 60 jaar lank saam met duisende ander Christene en was nog nooit spyt dat ek dit gedoen het nie. Die ligsinnige gebruike wat ek baie jare gelede laat vaar het, is nie waardig om vergelyk te word met die ryk betekenisvolle en vreugdevolle dae wat God gegee het nie. Indien u belangstel om meer te wete te kom oor die Bybelse Feeste en Heilige Dae, kan u ’n gratis eksemplaar van ons studiegids Die Heilige Dae – God se meesterplan by u streekkantoor bestel (sien die lys op bladsy 2 van hierdie tydskrif) of u kan dit aanlyn lees by wvm.co.za.