In Handelinge 14:17 beskryf die apostel Paulus reën uit die hemel as ’n teken van God se goedheid wat Hy voorsien as ’n getuienis aan die hele mensdom. Die seën van reën word inderdaad dikwels oor die hoof gesien. Alhoewel ’n onverwagte reënbui hier en daar vir ons ’n tikkie hartseer kan meebring wanneer ons ons planne – wat afhanklik is van goeie weer – moet herskeduleer, is die lewe op aarde wonderbaarlik afhanklik van die vloeibare seëninge wat uit die wolke op ons afstort.

Terwyl die planeet Venus blykbaar ’n mate van swaelsuur in reën in sy atmosfeer ondervind en Titan, ’n maan van Saturnus, blykbaar reënbuie van giftige vloeibare metaan verduur, is die aarde geseën met reënval van lewegewende water. Baie kinders leer van reën en ons planeet se watersiklus in hulle vroegste wetenskapklasse: Hitte van die son laat water uit die see en ander bronne verdamp. Hierdie verdampte water vorm wolke in die lug en uit daardie wolke stort reën terug na die aarde. Die reën filtreer deur grond voordat dit weer verdamp en die proses word herhaal. Hierdie siklus is ’n lewensbelangrike, voortdurende proses in ons natuur en maak lewe op die aarde wêreld moontlik.

Tog is daar baie meer verbonde aan reën as die diagramme wat ons in ons eerste wetenskaphandboeke sien. Dit is maklik om nie op die voordele wat reën inhou te let nie. Ons wêreld is intelligenter ontwerp en fyner ingestel om die seën van reën ten volle te benut as wat die meeste van ons verstaan.

 

Die spesiale voordele van reën

Het u al ooit gesien dat die plante en boomblare rondom u ’n bietjie weliger en groener lyk ’n paar dae ná ’n reënbui?

Dit is omdat reën spesiale voordele inhou wat ander waterbronne nie het nie, deels as gevolg van die atmosferiese prosesse wat reëndruppels vorm. Reënwater se suurstofinhoud is byvoorbeeld baie hoër as ander waterbronne. Hierdie ekstra suurstof kan die plante help wanneer die grond besonder versadig is met water. Terwyl ander bronne van water, soos kraanwater, wortels kan laat vrot word wanneer die grond oorversadig is, help die suurstof in reënwater om dit te voorkom. Terselfdertyd is reënwater nie so lank in die grond voordat die plante dit inneem nie, wat dit “sagter” maak – met ’n baie laer konsentrasie sout – dus meer voordelig vir plante.

Terwyl die reën deur die lug na die grond val, bring dit bykomende stikstof saam – die oorvloedigste gas in ons atmosfeer. Stikstof, in die vorm van ammonium en nitrate, is noodsaaklik vir die gesondheid van plante en word deur hulle wortels en blare opgeneem. Interessant genoeg, die weerlig wat soms met reënstorms gepaard gaan, help om nitrate te produseer, stikstofmolekules te verdeel en die nuutgeskeide atome met suurstof te kombineer om die nitrate te vorm wat die reën na die grond bring – ’n proses wat ons herinner aan die psalmis se lof aan die Skepper: “Hy wat die dampe laat opgaan van die einde van die aarde af, bliksemstrale by die reën maak” (Psalm 135:7).

Bykomende atmosferiese komponente wat met die reëndruppels kombineer, veroorsaak dat die water effens suur is. Wanneer hierdie water in die grond ingesak het, help hierdie lae-vlak suurheid om sleutelvoedingstowwe, soos koper en sink, uit die grond vry te laat, wat dit meer tot die beskikking van die honger wortels van plante stel. (Dit is heeltemal anders as die effek van suurreën, wat meer skadelike verbindings vrystel as nuttige verbindings as gevolg van besoedelingstowwe of selfs vulkaniese uitbarstings.)

Selfs die fisiese impak van reëndruppels en die “wasproses” wat dit meebring, bied voordele. Wanneer die reënval nie te swaar is nie, help dit om stof en vuilheid van die blaaroppervlaktes – wat blootstelling aan die son nodig het – skoon te maak. Reën op blare help om hulle huidmondjies skoon te was – porieë wat oop- en toemaak op ’n blaar om die plant se asemhaling of gaswisseling te beheer.

 

Vernietiging en ’n belofte

Natuurlik kan te veel van enige goeie ding ’n probleem wees en reën is geen uitsondering nie. Die reën wat gepaard gaan met die winde van siklone, orkane en tifone, kan ’n bron van verskriklike vernietiging wees. Vanaf die sonde van ons eerste ouers het die mensdom in ’n wêreld geleef waar die behoeftes van die mensdom nie eerste in ag geneem word nie. Te veel reën in sommige dele van die planeet veroorsaak oorstromings en modderstortings, wat geweldige verwoesting meebring. Trouens, in die Bybel is opgeteken dat die Ewige God meer as 4,000 jaar gelede, reën gebruik het, in kombinasie met die oopbreking van die “fonteine van die groot watervloed” (Génesis 7:11) om die hele wêreld van daardie tyd te oorstroom. Alle lewe op die aarde was vernietig, behalwe Noag se gesin en die diere wat hy op die ark moes beskerm.

Aan die einde van daardie verskriklike tydperk het God egter nog een van reën se wonderlike gawes vertoon. Die geïnspireerde Skrif vertel aan ons dat God die reënboog gebruik het as ’n teken van Sy belofte om nooit weer die wêreld te oorstroom nie (Génesis 9:12-17). ’n Verstommende eienaardigheid van die wette van fisika: Reënboë verskyn wanneer die son net in die regte hoek agter die waarnemer is. Die ligstrale wat deur die reëndruppels gebreek word soos deur klein prismas, word verander deur die reëndruppels in kleure van komponente te verdeel en ons sien ’n pragtige vertoning van rooi, oranje, geel, groen, blou en indigo.

Dit kom voor asof daardie pragtige kleure in die lug ’n boog in die lug vorm tussen die kyker en die storm, net soos God se belofte staan tussen die mensdom en die bedreiging van nog ’n wêreldwye oorstroming.

 

Uit die Hand van God

Terwyl ons nie al die kragte wat binne ons wêreld werksaam is, kan beheer nie, het ons die geleentheid om ’n beroep te doen op die Een wat kan. Die reën is Sy skepping en Hy sê vir ons dat Hy dit in ons tyd gebruik om Sy doel te vervul, net soos Hy in Noag se tyd gedoen het.

Die profetiese waarskuwings wat aan antieke Israel gegee is, wat vandag nog vir ons betekenis het, herinner ons daaraan dat reën slegs na God se wil aan ’n land voorsien word. Indien die Israeliete hulle Skepper sou gehoorsaam en Sy aangesig sou soek, het Hy hulle belowe dat Hy “sy goeie skatkamer, die hemel, vir jou [sal] oopmaak om die reën van jou land op die regte tyd te gee en om al die werk van jou hand te seën” (Deuteronómium 28:12). Indien hulle egter ongehoorsaam was, sou Hy “die reën van jou land poeier en stof maak” (vers 24). Reën is die lewensbloed van die aarde en dit vloei slegs op Sy bevel en binne die bestek van Sy wil.

As ’n vrygewige God “laat [Hy] sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges” (Matthéüs 5:45). Daar is nogtans ’n tyd in die toekoms wanneer daardie nasies wat nie die heerskappy van Sy heersende Christus sal aanvaar nie en wat sal versuim om hulle mense te stuur om die Huttefees in Jerusalem by te woon, nie die seën van reën sal smaak voordat hulle hul bekeer en hulle aan Hom onderwerp nie (Sagaría 14:17).

Tot daardie toekomstige tyd sal reënbuie voortdurend onverwags voorkom en soms onwelkome verandering van planne veroorsaak – miskien het ’n piekniek skielik tot ’n einde gekom toe piekniekgangers skuiling moes soek of ’n bofbalwedstryd wat gekanselleer is net toe die spelers op die punt gestaan het om op die veld te gaan. Die volgende keer wat dit gebeur, kan ons dalk ’n bietjie terugstaan en dink watter wonder dit is om op ’n planeet te woon waar lewegewende water so volop is dat dit uit die lug val. Dalk kan ons ook ’n vinnige gebed tot ons barmhartige Skepper rig vir die seën van reën.