Vraag: Jesus het vir een van die kwaaddoeners wat saam met Hom gekruisig is, beloof: “Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees” (Lukas 23:43). Wat en waar is die “Paradys” en het die kwaaddoener daardie dag werklik saam met Jesus daarheen gegaan?

 

Antwoord: Die Bybel toon dat die dooies in die graf is en op die opstanding wag; hulle is nie in die hemel nie. Die apostel Petrus het gesê: “Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie” (Handelinge 2:34) en Christus het gesê: “En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is” (Johannes 3:13).

Beteken dit dat die kwaaddoener op ’n spesiale plek is wat “Paradys” genoem word en wat nie “hemel” is nie? Nee – die Bybel toon duidelik waar die Paradys geleë is. Die apostel Paulus vertel van ’n man wat in ’n toekomsblik na die troon van God geneem is – “dat hy weggeruk is in die Paradys en onuitspreeklike woorde gehoor het wat ’n mens nie mag uitspreek nie” (2 Korinthiërs 12:1-4). Die Paradys is geleë in die teenwoordigheid van God se troon.

 

Bybelse Paradys?

Wat is die Paradys? Paradys beteken ’n “tuin, pretpark: bos, park ... ’n groot kamp of bewaringsgebied ... skaduryk en goed natgemaak ... omring deur mure” (“Lexicon – Strong’s G3857-paradeisos,” BlueLetterBible.org).

Die Bybel beskryf hoe die Paradys is: “Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne-in die paradys van God is” (Openbaring 2:7). Kyk nou na Openbaring 22:1-2: “en hy het my getoon ’n suiwer rivier van die water van die lewe, helder soos kristal, wat uitstroom uit die troon van God en van die Lam. In die middel van sy straat en weerskante van die rivier was die boom van die lewe wat twaalf maal vrugte dra en elke maand sy vrugte gee, en die blare van die boom is tot genesing van die nasies.”

Hierdie verse verwys na “die heilige stad, die nuwe Jerusalem, [wat] neerdaal van God uit die hemel” (Openbaring 21:2). Die nuwe Jerusalem sal uit die hemel kom nadat die aarde ’n “nuwe aarde” gemaak is (2 Petrus 3:10-13; Openbaring 21:1) en dit sal die boom van die lewe bevat. Die Paradys van God – naby of in die teenwoordigheid van Sy troon – is ’n park of tuin wat uiteindelik op die nuwe aarde gevind sal word. Dit was egter nog nie beskikbaar vir mense toe Christus Sy verklaring aan die kwaaddoener gemaak het nie en dit is ook nog nie vandag beskikbaar nie.

 

Die Hemelvaart

Dus, hét die kwaaddoener saam met Jesus daarheen gegaan op die dag van sy dood? Let daarop dat Jesus Sélf nie op die dag van Sy dood na die Paradys of hemel toe gegaan het nie. Paulus skryf: “Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte” (1 Korinthiërs 15:3-4). Christus was drie volle dae en drie volle nagte in die graf verseël. Let op wat Hy vir Maria gesê het toe sy by die graf kom nadat Hy opgestaan het: “Raak My nie aan nie, want Ek het nog nie opgevaar na my Vader nie; maar gaan na my broeders en sê vir hulle: Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God” (Johannes 20:17).

Wat het Christus werklik aan die kwaaddoener gesê? Lesers van die gewilde Afrikaanse vertalings word mislei deur die leestekens op foutiewe plekke wat nie die betekenis van die geïnspireerde Griekse teks korrek weerspieël nie. Hierdie vertalings plaas verkeerdelik ’n komma tussen “jou” en “vandag”. Soos een kommentaar verduidelik: “Die interpretasie van hierdie vers hang geheel en al af van leestekens, wat geheel en al op die menslike gesag berus. Die Griekse manuskripte het tot die negende eeu geen leestekens gehad nie en van toe af was dit slegs ’n kolletjie (in die middel van die reël) om elke woord van die ander te skei” (E.W. Bullinger, The Companion Bible, bylaag 173).

Met die leestekens op die korrekte plekke, lees Lukas 23:43 in Afrikaans: “Voorwaar Ek sê vir jou vandag, jy sal saam met My in die Paradys wees.” In hierdie vers het Jesus nie ’n belofte gemaak wat Hy nie nagekom het nie; Hy het eerder beklemtoon dat wanneer die Paradys na die aarde kom, die kwaaddoener saam met Hom daar sal wees.