U liggaam se chemiese samestelling is verbasend ingewikkeld. Kon evolusie so ’n samewerking van chemikalieë tot gevolg hê?

Terwyl u hierdie artikel begin lees, vind daar ’n hele aantal chemiese prosesse in u liggaam en brein plaas. U liggaam bevat hordes selle wat elke sekonde chemiese reaksies ondergaan. Die aantal selle in die menslike liggaam word geskat op meer as 30 triljoen; selfs al sou elke sel slegs een chemiese reaksie per sekonde ondergaan, sou dit steeds meer as 30 triljoen chemiese reaksies per sekonde wees. Stel u voor so baie chemiese reaksies in ’n chemiese klaskamer op hoërskool, wat nog te sê in een menslike liggaam: Dit is genoeg om ’n wetenskaponderwyser ’n hartaanval te gee.

Terwyl u lees, flits neuropeptiede deur u brein heen, ’n leër immuunfaktore reageer op die gewone daaglikse aanslag van omgewingspatogene, maagsure breek die gesoute pretzels af wat u so pas geëet het en boodskappermolekules wat hormone genoem word, verbind met die reseptor-gebiede wat regdeur u liggaam is. U liggaam “diagnoseer” en “behandel” ook gesondheidstoestande voordat dit selfs deur mediese professionele persone opgespoor kan word. Aanvaar dit maar, u is ’n lopende, pratende menslike apteek.

 

Chemikalieë, chemikalieë, chemikalieë!

Selfs die apteke wat deur mense opgerig word, is ongelooflik ingewikkeld. Dit moet wees, aangesien diagnoses, behandelings en klassifikasie van die tienduisende behandelbare mediese afwykings self baie ingewikkeld is. Die Internasionale Klassifikasie van Siektes is ’n koderingsinstrument wat nou meer as 70,000 kodes bevat vir moontlike diagnoses (“The switch from ICD-9 to ICD-10: When and why,” ICD.codes, 29 Oktober 2015).

Die stelsel word verder bemoeilik deur die magdom oorvleuelende behandelings en moontlike interaksies tussen medikasies. Mediese dokters en aptekers moet voortdurend opleiding kry om op hoogte te bly van die toepassings, waarskuwings, interaksies en toediening van ’n magdom van medisyne en farmaseutiese middels. Om hierdie uitgebreide stelsel te administreer, verg aansienlike menslike intelligensie – asook ontwerp.

Tog is u liggaam se verwerking van sy eie chemie nog meer verstommend in sy kompleksiteit. Soos ’n farmaseutiese vervaardigingsfasiliteit, ’n geneesheer en ’n apteek wat alles in een verenig is, verrig u liggaam al daardie rolle en meer. U liggaam kies en versprei op die regte tyd presies die regte chemikalieë wat op die regte tyd in die regte hoeveelhede die regte selle teiken. Die idee van toevallige evolusie wat so ’n reaksie van chemikalieë kon skep, is absoluut belaglik.

 

Harmonie van u hormone

Baie belangrike chemikalieë vorm ’n interne “apteek” in u liggaam, met inbegrip van die kragtige biochemikalieë genaamd hormone, wat gepaard gaan met tienduisende reseptore in verskillende spesifieke selle. Hormone word geproduseer deur agt hoofkliere – ’n meesterklier in die hipotalamus en sommige klieragtige weefsels, insluitend die ingewande en die hart (“Anotomy of the Endicrine System,” HopkinsMedicine.org). Net soos die senuweestelsel, dra hormone ook boodskappe deur die liggaam. In teenstelling met elektriese impulse wat deur senuwees beweeg, word hormone in klein hoeveelhede in die bloedstroom vrygestel. Hierdie hormone is so kragtig dat die middelafstand-konsentrasies een deel van ’n hormoon per triljoen dele bloed kan wees. Dit kan vergelyk word met ’n druppel blou voedselkleursel in 38 miljoen liter water.

Gedurende u hele lewe probeer u liggaam ’n kritieke balans handhaaf, byna soos om te loop op ’n sweeftou. Met te veel van een hormoon begin u sterf; met te min van ’n ander hormoon, begin u verswak en word siek. Te veel estrogeen? Polisistiese ovariumsindroom of kanker. Te min testosteroon? Verswakte hart en immuunstelsel. Te veel skildklierhormoon? Hipertireose. Te min skildklierhormoon? Hipotiroïedisme. Die lys word al langer: insulien, glukagoon, adrenalien, kortisol, ens. Vol negatiewe en positiewe terugvoerende boodskappe soos termostate op u lugversorging, is hormooninteraksies in lae gerangskik vir oorvleuelende kontroles. Nie net funksioneer die endokriene kliere in ’n interafhanklike netwerk nie, maar ook ander stelsels soos die senuweestelsel, die kardiovaskulêre stelsel en die immuunstelsel werk almal in oënskynlike harmonie met die endokriene stelsel.

 

Absolute minimum kompleksiteit op sy beste

Oorweldig? So is evolusioniste ook! Die raaisels van menslike hormone is baie en moeilik vir evolusionêre teoretici. ’n Swanger vrou se magdom van hormone word noukeurig opgestel om die ontwikkeling van ’n menslike fetus in die baarmoeder te verseker. Sonder immunologiese beheermaatreëls wat die ontwikkelende baba teen die moeder se eie immuunstelsel beskerm, sou al daardie kompleksiteit verniet wees. Die immuunstelsel van die moeder sou aanval wat hy as uitheemse selle sou beskou en geen fetus sou ooit gebore word nie. Hoe kon hierdie twee komplekse stelsels lukraak ontwikkel het om te voorkom dat mense uitsterf?

Net so verbasend is die oënskynlik onnodige hormoon-geïnduseerde verskille tussen die geslagte. Geslagshormone soos estrogeen, prolaktien en testosteroon lewer strukturele en funksionele veranderings op en nie alle verskille gaan bloot oor voortplanting nie. Hormone veroorsaak byvoorbeeld aanhoudende veranderings in die breinfunksie en breinstruktuur (Pilar Vigil et al., “Influence of sex steroid hormones on the adolescent brain and behavior: An update,The Linacre Quarterly, 2016, vol. 83, 3, bll. 308-329). Waarom? Indien hierdie verskille skynbaar onnodig is vir oorlewing, waarom is daar sulke duidelike fisiese verskille tussen mans en vrouens?

Evolusioniste trap klei in die verduideliking van weë en meganismes waardeur die endokriene stelsel sou kon ontwikkel het. Biologie- en dierkunde-tekste is opgeneem in die gebruik van “’n paar verslete woorde wat alomteenwoordig is in evolusionêre literatuur en niks verklaar nie: ‘met verloop van tyd’. Darwiniste gebruik dikwels ruim gedeeltes van ‘tyd’ om makro-evolusionêre probleme weg te redeneer – maar dit is nie bewyse vir evolusie nie” (Frank Sherwin, “Endocrine System Evolution: A Textbook Example?,” Acts and Facts, 2013, vol. 42, 9, bl. 15).

Ons vind ook sirkelredenasie in evolusioniste se geskrifte. Makro-evolusionêre progressie van spesies word swak geteoretiseer in pogings om morfologiese (of vorm) veranderings te verklaar op grond van afstammende spesies se vlakke van groeihormoon. In die lig van wilde statistiese onmoontlikhede word uitbundige woorde soos ‘bars’ mildelik in hoopvolle verklarings gestrooi (OC Wallis en M. Wallis, “Molecular evolution of growth hormone (GH) in Celartiodaclyla: cloning and characterization of the gene encoding GH from a primitive ruminant, the chevrotain (Tragulus javanicus),” General and Comparative Endocrinology, 2001, vol. 123, 1, bll. 62-72).

 

Samewerking ten goede

Die Bybel gee antwoorde wat veel verder strek as die toekenning van biologiese ingewikkeldheid aan niks meer as die towerkuns van gedagtelose tyd en gevoellose natuur nie. Die wonderlike lewende chemie van menslike hormone is een van die skepping se vele pragtige simfonieë van goed geordende ontwerp. Dit was God wat die man, die vrou en al die hormone en genetika wat daaraan verbonde is om ’n man of vrou te wees, geskep het (Génesis 1:27).

Daar is geen realiteit daarin dat die ontwerp van die mensdom afgeskryf kan word as ’n “gelukkige ongeluk” wat veroorsaak word deur blinde en ongekoördineerde natuurkragte nie. Inteendeel, elkeen van ons weerspieël die doelbewuste en doelgerigte hand van ’n Goddelike Ontwerper – een van verbasende intelligensie wat u met ’n duidelike doel geskep het. Na ’n tydperk van chaos en duisternis, het God gesê: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis” (Génesis 1:26). Waarom na Sy beeld? Johannes het geskryf: “Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is” (1 Johannes 3:2-3).

U hormone, geslag, genetika en u toekoms is nie ’n toevallige fout of gebeurlikheid nie. Alhoewel u nog ’n bietjie hormonaal is, het u die geleentheid om ’n onsterflike kind van God te word. Vir meer inligting oor u ongelooflike menslike potensiaal, bestel u gratis eksemplaar van U uiteindelike Lotsbestemming of lees dit aanlyn by wvm.co.za.