Om die Britse joernalis en TV-persoonlikheid, Piers Morgan, aan te haal: “Het die wêreld gek geraak?” Dit wil so voorkom, maar helaas, daar is meer as dít hieraan verbonde – daar is ’n beplande agenda agter hierdie dwaasheid. Dit is nodig om die geheelbeeld van wat besig is om te gebeur, te verstaan, want alhoewel ek my bes doen om die positiewe kant van dinge in hierdie rubrieke te probeer aandui, is ons wêreld besig om met rasse skrede agteruit te gaan.

Daar is egter lig aan die einde van die tonnel en dit word in die bladsye van die Bybel aangedui, maar hierdie selfde Bron openbaar dat die mensdom eers op die rand van algehele vernietiging sal kom (Matthéüs 24:21-22). Ons wêreld is besig om gereed gemaak te word vir daardie vernietiging, selfs terwyl u hier lees en die einde is nie ver in die toekoms nie. Ons weet nie al die fynere besonderhede asook die presiese tyd nie, maar ons het kennis van die geheelbeeld soos wat dit in daardie Boek van alle boeke geopenbaar word. Hierdie geheelbeeld wat in Bybelse profesieë vervat word, is iets wat ons al dekades lank verkondig, alhoewel ons weet dat ons wêreld in ’n afwaartse spiraal sal voortgaan, is dit steeds pynlik om dit te sien gebeur.

Ons streekdirekteur van Australasië, mnr. Rob Tyler, het onlangs ’n skakel van ’n artikel uit die Daily Mail aan my gestuur met die opskrif: “Melbourne-skole word versoek om op te hou om ‘mamma’ of ‘pappa’ te sê om meer ‘geslagsinklusief’ te wees”. Kan daar groter dwaasheid as dit wees? Waar het ons vandaan gekom? Hoe hard hulle ookal probeer: Ons benodig nog steeds ’n biologiese vroulike eiersel en ’n spermsel van ’n biologiese man. Dit is wetenskap – iets waarvan ons deesdae baie hoor! Dit is weersinwekkend dat selfs die sogenaamde “wetenskap” ’n politieke klub geword het om sy teenstanders te dwing om hieraan toe te gee.

 

Waarom die Bybelse familie saak maak

Dit wat lyk soos ’n wêreld wat besig is om kranksinnig te raak, is die handewerk van sosiale kwaadstokers wat strategies te werk gaan. Hulle is meesters op die gebied van verandering van die gedrag van die samelewing op verskillende maniere – veral deur die gebruik van taal. Soos wat ek al voorheen geskryf het, was ek in die middel van die sestiger jare besig om op universiteit te studeer en my klasgelde en uitgawes as opsigter te verdien. Op ’n dag is daar vir my gesê dat ons nie meer opsigters genoem word nie. Ons was nou toesighouers genoem, maar niks anders het verander nie. Ek was nog steeds besig om toilette en urinale skoon te maak en vensters te was. Hoe onskuldig dit ook al gelyk het, was die verandering deel van groter druk om ons denke op talle terreine te verander. Huisvrouens het tuisteskeppers geword, wat later huishoudelike ingenieurs geword het, maar uiteindelik is daar neergesien daarop om tuis te bly en die gesin – onder enige benaming – te versorg. Dit is verstommend dat hierdie vrouens en moeders bespot word in ’n wêreld wat daarmee spog dat dit gaan om almal goed te laat voel. Kan ons verbaas wees daaroor? “Insluiting” bevat byna nóóit Bybelse waardes nie.

Terwyl hulle voorgee om bekommerd te wees, is dit nie die einddoel van hierdie sosiale opstokers nie – of hulle dit nou besef of nie. Die eintlike doel met taalverandering is om abnormale keuses te normaliseer. “Homoseksueel” het “gay” geword en enigeen wat nie met daardie lewenstyl saamstem nie, word “homofobies” genoem – ’n leuen wat nou stewig vasgelê is in ons kultuur. Alhoewel sommige mense dalk “fobies” oor homoseksuele aktiwiteite mag wees, stem die meeste mense nie hiermee saam nie en sien gevaar vir ’n nasie wat dit aanvaar. Ons is subtiel geleer om na mense wat met iemand van dieselfde geslag saamwoon (self nou ’n konsep onder aanval) te verwys as “lewensmaats” of “die beduidende ander” in plaas van ’n eggenoot, man of vrou. Die idee is om abnormale huweliksverbintenisse te normaliseer – ’n poging wat blyk baie suksesvol te wees.

Nou word daar van ons verwag om moeder en vader deur die neutrale ouer te vervang. Waarom? Wat is hierdie maatskaplike manipuleerders se doel? In die woorde van die voormalige UCLA-psigiater Miriam Grossman: “Hulle doel is ’n androgene kultuur, waar die verskille tussen manlik en vroulik nie in ag geneem word nie of ontken word en die verband tussen hulle beroof word van uitsonderlikheid” (Unprotected, bl. XXI). Hulle probeer nie slegs om die verskille tussen man en vrou te ontken nie; hulle wil met enige aspek van seksuele orde wegdoen. Meisies wil nou seuns word en andersom – dit maak egter geen sin nie, want selfs die benamings van “seun” en “dogter” word aangeval. Inderdaad is daar eintlik géén aspek van ons individualiteit wat nié aangeval word nie. Daar word in werklikheid géén aspek van ons individualiteit nié aangeval nie en beskuldigings word gemaak dat aanstoot gegee word teenoor enige nuwe poging van maatskaplike meningsvormers.

Sommige mense het al gewonder waarom ons by Die Wêreld van More, so baie oor die LGBTQIA+-beweging praat. Die rede is eenvoudig: Ons Skepper is besig om ’n plan uit te werk en die gesin is die middelpunt van hierdie plan. Die uiteensetting van die gebed wat Jesus vir sy dissipels gegee het, begin deur God as “Onse Vader” aan te spreek (Matthéüs 6:9). Christene word “seuns van God”, “kinders van God”, “erfgename van God en mede-erfgename van Christus” genoem (Romeine 8:14-17). Hierdie gedeelte gaan voort: “Want die skepping is aan nietigheid onderworpe – nie gewillig nie, maar ter wille van Hom wat dit onderwerp het – in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God. Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe” (vers 20-22). Ja, ons het die potensiaal om gebore te word in die Gesin van God!

Die menslike huweliksverhouding word vergelyk met die verhouding tussen Christus in die rol van die Man en die Kerk in die rol van Sy Vrou. “... want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar voed en koester dit, net soos die Here die gemeente. Want ons is lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy bene. Daarom moet die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees word. Hierdie verborgenheid is groot, maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente” (Efésiërs 5:29-32). Die boek Openbaring kyk na die toekoms wanneer die Kerk met Christus sal trou (Openbaring 19:6-9). Dit is nie ’n beskrywing van ’n poligame verhouding nie. In plaas daarvan sal die Kerk in geheel vir Christus die ondersteunende rol van ’n Vrou in die Koninkryk van God vervul.

 

Weerstaan die God van hierdie tydperk

Man, vrou, huwelik, gesin – dit is nie net belangrik nie, maar ook noodsaaklik om die doel waarvoor ons geskep is te vervul. Daar is tog ’n magtige geestelike wese wat haat wat God doen, wat geestelike verblinde mense werf in sy poging om God se plan vir die mensdom teen te werk. Die Bybel verwys na hierdie wederstrewige wese as “die god van hierdie wêreld” wat mense se sinne verblind vir die waarheid van die groot potensiaal wat aan ons gegee word (2 Korinthiërs 4:3-4). Dit is geen wonder dat Jesus drie keer na hierdie gees as “die owerste van hierdie wêreld” verwys het nie (Johannes 12:31; 14:30; 16:11). Hy word ook genoem “die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” (Efésiërs 2:2).

Ons by Die Wêreld van Môre verstaan Bybelse profesie en weet waarheen hierdie sosiale tendense op pad is – reguit gemik op ons kinders en kleinkinders, soos dit gesien word deur die bogenoemde nuus uit Melbourne. Die dinge wat vandag ons kinders se tyd in beslag neem sal binne ’n paar jaar die norm word wanneer hulle geïndoktrineerde volwassenes word. Stel uself voor dat hierdie volgende generasie groot word sonder om na “Mamma en Pappa” te verwys.

Die Bybel sê vir ons dat die eindtyd soos die dae van Noag sal wees (Lukas 17:26-27), waartydens die aarde “gevul was met geweld” en “dat al die versinsels wat hy in  sy hart bedink altyddeur net sleg was” (Génesis 6:5, 11). Verder word die eindtyd vergelyk met die antieke stad Sodom, wat bekend was vir seksuele losbandigheid en verdorwenheid (Lukas 17:28-29; Génesis 19). Jesaja waarsku: “Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter” (Jesaja 5:20).

Ja, die wêreld het kranksinnig geword en daar is fisiese en geestelike wesens agter hierdie gekkespul wat ons sien. Gaan voort om die tydskrif, Die Wêreld van Môre, te lees vir meer begrip van wat voorlê!