Die Bybel beskryf die sewendedag Sabbat as ’n heilige dag van rus. Waarom aanbid die meeste belydende Christene dan op Sondag?

U Bybel toon duidelik dat Jesus Christus die sewendedag Sabbat onderhou het. Sy eerste volgelinge het dit ook gedoen. Tog aanbid die meerderheid van diegene wat hulleself “Christene” noem, op Sondae en doen hulle niks om die sewendedag Sabbat heilig te hou nie. Hoe het hierdie verandering plaasgevind? Wat behoort u daaromtrent te doen?

Die godsdienste van die wêreld sit ’n verskeidenheid vakansiedae of heilige dae opsy. Moslems aanbid op Vrydag. Jode regoor die wêreld het al vir millennia lank op die Sabbat aanbid – die dag wat elke Vrydagaand teen sononder begin en tot Saterdag sononder voortduur.

Jesus Christus het die sewendedag Sabbat onderhou. Die meeste belydende Christene kom vir Sondag-eredienste bymekaar en verkondig dat Sondag die ware dag vir aanbidding is. Dus, watter dag behoort deur Christene heilig gehou te word – die eerste dag van die week of die sewende dag?

Deur die geskiedenis heen het verskillende beskawings hulle dae in weke van verskillende lengtes opgeteken, soos vier of tien dae. Selfs die geskiedenis toon dat die week van sewe dae onder hierdie verskeidenheid baie antiek is. Aantekeninge wat so lank terugdateer as antieke Babilon, beskryf die onderhouding van die sewe-dag siklus. Die Joodse volk het ’n kalender met ’n week van sewe dae bewaar en het tred gehou met die siklus oor duisende jare heen. Selfs toe pous Gregorius XIII die kalender in 1582 hersien het, het hy nie hierdie siklus verander nie. Die sewendedag Sabbat is vandag dieselfde sewendedag as wat deur Jesus en die eerste-eeuse Christelike Kerk onderhou is.

U het moontlik as kind die Tien Gebooie geleer. Die vierde gebod gee ons hierdie baie duidelike opdrag: “Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God” (Exodus 20:8-10). Tog hou die meeste belydende Christene Sondag, al het die eerste-eeuse Christene dieselfde sewendedag Sabbat onderhou as wat Jesus onderhou het!

Waarom ignoreer die meeste mense wat hulleself “Christene” noem, dus die sewendedag Sabbat en heilig hulle in plaas daarvan, Sondag – die eerste dag van die week? Wat het geword van die voorbeeld van Jesus en die eerste-eeuse Christene? Die apostel Paulus het Christene aangespoor om hom na te volg net soos hy Christus navolg (1 Korinthiërs 11:1) en hy het die sewendedag Sabbat regdeur sy lewe onderhou deur dit te hou vanaf sononder Vrydag tot sononder Saterdag in navolging van sy Verlosser wat in die sinagoges op die Sabbat gepreek het (Lukas 4:16).

Die apostel Paulus het op die Sabbat vir Jode asook heidene in Antiochië se sinagoge gepreek. Onthou dat dit jare na Christus se dood, begrafnis en opstanding plaasgevind het. Indien Christene veronderstel was om Sondag te onderhou, sou hierdie heidene ongetwyfeld die volgende dag, naamlik Sondag, saam met Paulus bymekaar gekom het. Let egter op: “En toe die Jode uit die sinagoge gaan, het die heidene versoek dat daardie woorde op die volgende sabbat tot hulle gespreek sou word” (Handelinge 13:42). Nie Sondag nie!

Inderdaad, wat het gebeur? “En op die volgende sabbat het byna die hele stad saamgekom om die woord van God te hoor” (vers 44). Paulus het nie op Sondag met die heidene vergader nie, maar op die dag wat die eerste-eeuse Christene onderhou het: die sewendedag Sabbat.

Wie het dus die Sabbat na Sondag verander? Wat het met die vierde Gebod gebeur wat verklaar dat God se volk die sewendedag heilig behoort te hou? Dit is ’n belangrike vraag vir alle belydende Christene!

Agt “eerste dae”

“Kom ‘Sondag’ nie in die Nuwe Testament voor nie?” mag party mense wonder. U sal miskien verbaas wees om te verneem dat wanneer u in u Nuwe Testament daarna soek, u sal vind dat “Sondag” nie eers een keer genoem word nie! Wat u sal vind is agt verwysings na “die eerste dag van die week”.

Ses van hierdie verwysings beskryf die dag ná Jesus se opstanding, soos ons later sal bespreek. Wat dan van die ander twee? Dit moet tog sekerlik Sondagaanbidding uitbeeld of beveel, nie waar nie? Kom ons kyk na albei.

“Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is, sodat die insamelinge nie eers plaasvind as ek kom nie” (1 Korinthiërs 16:2). Was dit ’n soort van “kollektebordjie aanstuur” by ’n kerkdiens? Glad nie! Net soos in Romeine 15:26, vra Paulus hier vir die Korinthiërs om voorrade vir behoeftige broeders in te samel. Hy vra hulle nie om te aanbid nie, maar om die fisiese werk te doen deur goedere in te samel vir diegene in Jerusalem in nood. Dit was nie ’n aktiwiteit wat geskik was vir ’n dag van rus nie; dit was aktiewe, fisiese diens aan die kant van die broeders in Galásië.

Laat ons nou hierdie vers van naderby bekyk: “En op die eerste dag van die week, toe die dissipels vergader het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek, omdat hy die volgende dag sou vertrek, en hy het sy rede gerek tot middernag toe” (Handelinge 20:7). Eerstens sien ons dat Paulus se boodskap ongeveer teen middernag op die eerste dag van die week geëindig het. Dit beteken dat dit begin het op wat ons Saterdag sou noem. Wat het Paulus en sy metgeselle gedoen ná hulle ontmoeting? Sommiges van hulle het die harde roeiwerk gedoen (verse 13-14), terwyl Paulus ure lank gestap het – nie wat ’n mens ’n “Sabbatsrus” sou noem nie. Dit is duidelik dat dit nie ’n voorbeeld is dat die eerste dag van die week as ’n Sabbat beskou is nie.

Wat van Johannes 20? “EN toe dit aand was op daardie eerste dag van die week en die deure waar die dissipels vergader het uit vrees vir die Jode, gesluit was, het Jesus gekom en in hul midde gestaan en aan hulle gesê: Vrede vir julle!” (Vers 19). Let op die konteks; Jesus is slegs ’n paar dae tevore gekruisig en die dissipels het nog nie verstaan dat Hy opgestaan het nie (vergelyk Markus 16:14; Lukas 24:37-41). Hulle het saam weggekruip uit vrees vir die Jode wat hulle Verlosser gekruisig het. Toe Jesus op die eerste dag van die week aan hierdie dissipels verskyn het, het Hy nie sommer net by ’n erediens ingestap nie! Inderdaad, soos ons sal sien, het Hy reeds die vorige dag uit die dood opgestaan – die sewende dag!

Wat van die opstanding?

Wanneer het Sondag die sewendedag Sabbat vervang as die rusdag vir belydende Christene? Die Catholic Encyclopedia verduidelik oor die onderwerp van “Sondag”: “Tertullianus ... is die eerste skrywer wat die Sondagsrus uitdruklik noem: ‘Ons behoort egter (net soos tradisie ons geleer het) op die dag van die Opstanding van die Here, daarteen te waak om nie net te kniel nie maar ook teen liggaamshouding en amp van versoening, selfs ons besigheid uit te stel, sodat ons nie enige plek aan die duiwel gee nie’” (vol. XIV, bl. 335). Tertullianus het dit eers in 202 n.C. geskryf – meer as 170 jaar na die begin van die Nuwe-Testamentiese Kerk!

Is Sondag egter die dag van die Here se opstanding, soos Tertullianus gesê het? Geensins! Toe Maria Magdaléna Sondagoggend by die graf van Jesus gekom het, het sy gevind dat dit alrééds leeg was. Ons lees: “EN op die eerste dag van die week kom Maria Magdaléna vroeg, terwyl dit nog donker was, by die graf en sien dat die steen van die graf weggeneem was. Sy hardloop toe en kom by Simon Petrus en by die ander dissipel vir wie Jesus liefgehad het, en sê vir hulle: Hulle het die Here uit die graf weggeneem, en ons weet nie waar hulle Hom neergelê het nie” (Johannes 20:1-2).

Let daarop dat Maria by die graf aangekom het terwyl dit buite nog donker was! Die son het Sondagoggend nog nie opgekom nie en Jesus was nie daar nie! Jesus is nie teen sonop uit die dood opgewek nie – maar teen die tyd dat die son Sondagoggend opgekom het, was Hy alrééds weg en die graf was alrééds leeg. Onthou Hy het beloof dat Hy presies drie dae en drie nagte ná Sy begrafnis sou opstaan om die teken van Jona te vervul (Matthéüs 12:40). Jesus is kort voor sononder op ’n dag van voorbereiding, wat ’n jaarlikse Heilige Dag voorafgegaan het begrawe (Johannes 19:31). Ons weet dus dat Hy drie dae later, kort voor sononder, opgestaan het. Maria het op die Sondagoggend, die graf leeg gevind omdat Jesus die dag tevore, Saterdag, kort voor sononder uit die dood opgestaan het.

Soos ons kan sien, kom die idee om Sondagaanbidding te baseer op Christus se opstanding, nie uit die Bybel nie, maar uit foutiewe menslike tradisies. Inteendeel, Jesus het klem gelê op die teken van Jona as die teken dat hy die Messias is: “’n Slegte en owerspelige geslag soek na ’n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees” (Matthéüs 12:39-40).

Indien Jesus Saterdagmiddag uit die dood uit opgestaan het, is Hy Woensdagmiddag in die graf geplaas. Die “Goeie Vrydag”-tradisie kom nêrens in u Bybel voor nie. Jesus het gedoen soos Hy beloof het en het drie dae en drie nagte in die graf deurgebring – nie twee nagte en ’n dag soos die Goeie Vrydag-tradisie dit sou vereis nie. U kan meer lees oor die drie dae en drie nagte, asook die tydsberekening en betekenis van Jesus se dood en opstanding, in ons inspirerende, gratis boekies Watter Dag is die Christelike Sabbat? en Paasfees: Die storie wat nie vertel word nie.

Die eerste-eeuse Christelike Kerk het op die sewende dag van die week aanbid – die dag wat ons nou Saterdag noem. Toe die Romeinse keiser Konstantyn, ’n heidense sonaanbidder, sy eie weergawe van die Christendom in sy ryk afgedwing het, het hy aanbidding op Sondag verpligtend gemaak. Hy het die volgende verordening in 321 n.C. uitgevaardig: “Laat alle landdroste en mense van die stad ... rus op die eerbiedwaardige dag van die son” (The New Schaff-Herzog Encyclopedia of Religious Knowledge, “Roman Legislation for Sunday,” vol. XI, bl. 147).

Net ’n paar jaar later het die Roomse kerk ook ’n kommerwekkende besluit in die Raad van Laodicéa aanvaar, waarin hulle verklaar het: “Christene sal nie soos die Jode ledig wees op Saterdag nie, maar sal werk op daardie dag; maar die dag van die Here sal hulle veral eer en omdat hulle Christene is, sal hulle, indien moontlik, op daardie dag geen werk doen nie. Indien daar egter gevind word dat hulle die Joodse gebruike navolg [deur onderhouding van die sewendedag Sabbat], sal hulle van Christus uitgesluit word” (A History of the Councils of the Church, vol. 2, bl. 316). Met ander woorde, Christelike onderhouers van die Sabbat is tot ketters verklaar.

Op grond van watter gesag het die Roomse kerk hierdie verandering gemaak? Die bekende Katolieke teoloog, James Cardinal Gibbons, het hierdie moedige stelling neergeskryf: “U kan die Bybel van Génesis tot Openbaring lees en u sal nie ’n enkele reël vind wat magtiging gee vir die heiliging van Sondag nie. Die Skrif dwing die godsdienstige onderhouding van Saterdag af, ’n dag wat óns nooit heilig nie”. Dit is ’n aanhaling uit Gibbons se The Faith of Our Fathers, wat die eerste keer in 1876 gepubliseer is (bl. 97, 1917).

Met ander woorde, wat Kardinaal Gibbons sê, is dat indien die Bybel u gesag is, het ’n mens nie enige grondige rede om Sondag te onderhou nie. Die Skrifte, soos hy sê, “dwing die godsdienstige onderhouding van Saterdag af, ’n dag wat óns nooit heilig nie”.

Wat Gibbons en ander Katolieke owerhede verklaar, is dat die gesag van die Katolieke kerk – nie die Nuwe-Testamentiese Skrifte nie – in die Christelike wêreld, die onderhouding van Saterdag na Sondag verander het – ’n gebeurtenis wat nie plaasgevind het voor die Raad van Laodicéa, in die middel van die vierde eeu nie.

Wat ’n verstommende erkenning! Gibbons is egter nie al een nie. Ons gratis boekie Watter Dag is die Christelike Sabbat? dokumenteer soortgelyke erkennings van Baptiste, Presbiteriaanse, Episkopale en ander godsdienstige leiers, wat almal saamstem dat die Bybel nêrens Sondag as ’n “nuwe” Sabbatdag magtig nie.

Maak dit enigsins saak? Kan ons nie maar op enige dag aanbid nie?

Christus het Sy antwoord op hierdie vraag baie duidelik gemaak. Die Skrif meld dat Hy ’n baie ernstige waarskuwing gegee het oor die nakoming van tradisies wat in stryd is met die Gebooie van God. Baie kerke het dáárdie verkeerde weg gevolg, net soos die Fariseërs van Jesus se tyd. Wat sulke praktyke betref, het Jesus gewaarsku: “Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is. Want terwyl julle die gebod van God nalaat, hou julle aan die oorlewering van mense vas: ... Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou” (Markus 7:7-9).

Dit is ’n waarskuwing wat ek hoop almal van ons ter harte sal neem. Jesus het gesê dat Hy die Here van die Sabbat is. Hy het die Sabbat gereeld onderhou en Hy het nie God se Wet oortree soos sommige teoloë beweer nie. Soos Hy gesê het: “... net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar” (Johannes 15:10). Behoort u dus die voorbeeld van Jesus Christus en die instruksies in u Bybel te volg of behoort u dit teen te staan en die tradisies van mense na te volg?

Wanneer is die sewendedag Sabbat ingestel?

Ons het gesien dat die vroeë Nuwe-Testamentiese Kerk die sewendedag Sabbat onderhou het. Wanneer is die sewendedag Sabbat ingestel? Toe Moses op die berg Sinai was? Glad nie! Dit is baie vroeër gevestig, met die grondlegging van hierdie wêreld. “So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag. En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak” (Génesis 2:1-3). Ja, God het die sewendedag Sabbat tydens die grondlegging van hierdie wêreld reeds gevestig, lank voor Moses se tyd.

Let op dat Jesus gesê het: “Die sabbat is gemaak vir die mens, en nie die mens vir die sabbat nie” (Markus 2:27). Die Stigter van die Christendom het nie gesê: “Die Sabbat is gemaak vir die Joodse volk nie”. Die Sabbat is gemaak vir die mens, vir die hele mensdom – vir elke mens op aarde.

Jesus het ’n verstommende stelling gemaak. Het Hy gesê dat Hy Here is oor Sondag – dat Sondag die dag van die Here is? Nee hy het nie. Hy het gesê: “Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie. Daarom is die Seun van die mens Here ook van die sabbat” (Markus 2:27-28). Indien Jesus die Here van die Sabbat is, watter dag is die Here se dag? Sondag? Dink daaroor! Die Sabbat is die Here se dag – Jesus het dit Self gesê. Ons lees: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Hebreërs 13:8). Hy is stééds, Here van die Sabbat. Die Skrif vermaan ons om Sy voorbeeld asook dié van die Apostels te volg. Die apostel Paulus het aan die Kerk in Korinthe geskryf: “WEES my navolgers, soos ek dit ook van Christus is” (1 Korinthiërs 11:1). Die apostel Petrus vermaan ons om die voorbeeld van Christus te volg: “Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ’n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg” (1 Petrus 2:21). Ja, Jesus en die Apostels het die sewendedag Sabbat heilig gehou en God verwag dat ons hulle voorbeeld sal volg.

Die “rus” van die verhaal

Daar is baie meer Nuwe-Testamentiese bewyse wat betref die onderhouding van die Sabbat. Die Sabbat beeld byvoorbeeld die Millenniale rus uit en is ’n herdenking van God se rus tydens die skepping. Ons lees: “Daar bly dus ’n sabbatsrus oor vir die volk van God” (Hebreërs 4:9). Die oorspronklike Griekse woord vir “rus” hier is sabbatismos, wat “’n Sabbatsonderhouding” beteken. In die Ou asook die Nuwe Afrikaanse Vertalings word sabbatismos in vers 9 vertaal as “’n sabbatsrus”. Ja, daar wag nog ’n Sabbatsrus vir die volk van God, selfs tot vandag toe!

Let op na hierdie belangrike stelling: “... want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne” (Hebreërs 4:10). Die konteks hier is albei van simboliese asook letterlike rus. Die Griekse woord katapausis is die tweede van die twee basiese woorde wat in hierdie afdeling as “rus” vertaal word. Let egter op wat God sê van diegene wat nou in Sy rus ingegaan het – dit wil dus sê diegene wat hulle bekeer het – diegene wat bereid is om Christus nou te volg. Indien ons as bekeerde Christene met ons werk behoort op te hou net soos God gedoen het, is dit nodig om eenvoudig net een vraag te vra: Hoe het God opgehou met Sy werke? Die Skrif gee vir ons die antwoord: “Want Hy het êrens van die sewende dag so gespreek: En God het op die sewende dag van al sy werke gerus” (Hebreërs 4:4).

Die betroubare bron, Anchor Bible Dictionary bevestig die verantwoordelikheid van Nuwe-Testamentiese Christene om die Sabbat te onderhou. Dit verklaar: “Fisiese Sabbatsonderhouding, aan die kant van die Nuwe Verbond-gelowige, soos bevestig deur ‘sabbatsrus’, dui op die staking van ‘werke’ (Hebreërs 4:10) ter herdenking aan God se rus tydens die skepping ([Hebreërs] 4:4 = Génesis 2:2) en bevestig geloof in die verlossing wat deur Christus voorsien is” (vol. 5, bl. 856). Dit is ’n baie duidelike stelling! Ja, die Skrif bevestig dat Christene van die Nuwe Verbond soos wat dit in die vierde Gebod vermeld word sal doen: “Gedenk die sabbatdag dat jy dit heilig” (Exodus 20:8).

Die belangrikste vraag is: Wie of wat is u gesag? Is dit die Bybel of ’n kerk en godsdiens buiten die Bybel?

Soos ons gesien het, beweer sommige godsdienstige leiers, met inbegrip van Rooms-Katolieke asook Protestante, dat tradisie of kerklike administrasie – die Bybel is uitgesluit – hulle rede is om eerder Sondag as die Sabbat te onderhou. Let byvoorbeeld op na hierdie uitspraak van die vooraanstaande Anglikaanse predikant, Isaac Williams, in 1847: “[E]n waar word ons in die Skrif aangesê dat ons hoegenaamd die eerste dag moet hou? Ons word beveel om die sewende dag te hou; maar ons word nêrens beveel om die eerste dag te hou nie ... Die rede waarom ons die eerste dag van die week heilig hou in plaas van die sewende dag, is om dieselfde rede as wat ons baie ander dinge doen, nie omdat die Bybel so sê nie, maar omdat die kerk dit gelas het” (Plain Sermons, by Contributors to the Tracts for the Times, vol. IX, Sermon CCCIV, bll. 267, 269, klem bygevoeg).

Dit is verbasende erkennings. Weereens, u kan meer hieroor lees in ons gratis, insiggewende boekie Watter Dag is die Christelike Sabbat?

Ons het gesien dat die oorspronklike Christelike Kerk die sewendedag Sabbat onderhou het in navolging van die voorbeeld van Jesus Christus en die Apostels. Dit was keiser Konstantyn wat in 321 n.C., die dag van die son verklaar het as die dag van aanbidding vir die Romeinse Ryk. Die Katolieke Raad van Laodicéa het in die vierde eeu n.C. Sondagaanbidding geproklameer en Christelike onderhouers van die Sabbat, soos in die vierde Gebod vermeld, as ketters verklaar. Selfs tot vandag toe word Christelike onderhouers van die Sabbat in baie lande regoor die wêreld vervolg.

Wie het dit gedoen?

Wie het dus die Sabbat na Sondag verander? Die antwoord is: “Niémand het dit verander nie!” Die mens kan nie verander wat God verorden het nie!

Deur die Een wat Jesus Christus geword het, het God die Almagtige, die Sabbat met die grondvesting van die wêreld, vir alle mense ingestel. God het “alles geskape ... deur Jesus Christus” (Efésiërs 3:9). Daarom is die seun van die mens tot vandag toe die Here ook van die Sabbat, soos dit in Markus 2:28 sê. Let wel, “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Hebreërs 13:8). Ja, selfs vandag volg ware Christene die voorbeeld van Christus, Sy Apostels en die Kerk van die Nuwe Testament in die onderhouding van die sewendedag Sabbat.

Indien u ’n jarelange leser van die Wêreld van Môre is en graag saam met ander Christene wat die Sabbat onderhou, wil aanbid, nooi ons u uit om met een van ons verteenwoordigers te praat. Kontak die streekkantoor naaste aan u. Die lys verskyn op bladsy 2 van hierdie tydskrif of kontak ons by wvm.co.za.

Liewe Lesers, ons leef in die eindtyd wat in u Bybel geprofeteer word. Ons sien uit na die toekomstige Koninkryk van God, wat regeer sal word deur die Vredevors – die Messias, Jesus Christus. As Koning van die konings en Here van die here, sal Hy alle nasies leer, regeer, lei en dien. Dus, een laaste vraag: Op watter dag sal al die nasies aanbid wanneer Christus Sy wêreldheersende Koninkryk op aarde gevestig het?

Let op hierdie aankondiging van God: “Want soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek maak, voor my aangesig sal bestaan, spreek die Here, so sal julle nageslag en julle naam bestendig wees. En elke maand op die nuwemaan en elke week op die sabbat sal alle vlees kom om te aanbid voor my aangesig, sê die Here” (Jesaja 66:22-23).

Indien u in daardie tyd leef, sal u dan u Heer en Verlosser gehoorsaam en Hom op die sewende dag aanbid saam met alle ander mense op aarde? Aanbid u selfs nou die Verlosser as Here van die Sabbat? Dink ’n bietjie na oor hierdie vrae en besluit in gebed, om God in gees en in waarheid te aanbid, soos dit in Johannes 4:24 aan ons sê. Ons sien uit na die dag waarop alle volke en nasies regoor die wêreld, Christus die Koning, sal aanbid. Die Messias sal Sy wêreldregering instel, wêreldvrede vestig, ware onderrig en die Bybelse weg van waarheid, liefde en lewe. Alle nasies sal die ware weeklikse Sabbat en die Bybelse Heilige Dae onderhou! Wat ’n wonderlike, vreedsame en voorspoedige wêreld sal dit nie wees nie!