Sosiale meningsvormers om elke hoek en draai verklaar dat tradisionele manlikheid ’n bron van kwaad en geweld is. Dit is nodig om daarvan ontslae te raak. Is hulle reg?

Dit is ’n verwarrende tyd om ’n seun te wees. Sommige mense sê dat die woord “seun” ’n sinnelose woord is – net een klein puntjie op die hele spektrum van “geslags”-keuses. Ander mense sê weer dat “seun” ’n goed-gedefinieerde woord is, maar dat dit van toepassing kan wees op enigeen van die twee geslagte – manlik of vroulik – afhangende van hoe hulle voel of verkies om geïdentifiseer te word.

Daar is ook diegene wat verklaar dat die versameling geneigdhede wat seuns en mans dikwels kenmerk en wat baie mense “manlike eienskappe” noem, potensiële bronne van kwaad is – vir hulleself en vir diegene rondom hulle. Sulke mense sal hierdie persoonlikheidskenmerke en geslagsgebaseerde ontvanklikheid definieer as “toksiese” eienskappe wat oorkom behoort te word. Trouens, sommige mense beweer dat sulke manlike eienskappe, risiko’s vir geestesongesteldheid inhou en dat maatskaplike ingryping in die vroegste stadiums van die lewe nodig is om te verseker dat seuns nie hierdie eienskappe idealiseer nie, sodat dit nie permanente sielkundige skade veroorsaak en dat hulle nie gewelddadige mishandelaars sal word teenoor diegene rondom hulle nie.

Die verwarring wat al hierdie dinge veroorsaak, strek verder as net vir seuns. Dit is ’n verwarrende tyd vir mans, oor die algemeen asook vir die meisies en vroue in hulle lewens wat vir hulle lief is.

Is manlikheid – die versameling van eienskappe wat algemeen en tradisioneel met mans geassosieer word – ’n bron van geestesongesteldheid? Is manlikheid toksies? Hoe sou ons weet?

Daar is duidelikheid oor hierdie kwessie te vinde, maar nie onder diegene wat deur baie mense as sogenaamde “kundiges” beskou word nie.

Manlikheid as geestesongesteldheid

Vroeg in 2019 het die Amerikaanse Sielkundige Vereniging (APA) ’n noemenswaardige nuwe publikasie vrygestel: Guidelines for Psychological Practice with Boys and Men. Daarin beskryf die Amerikaanse Sielkundige Vereniging vaagweg, “’n bepaalde groep standaarde wat aan die orde van die dag is in groot gedeeltes van die bevolking, met inbegrip van: Anti-vroulikheid, prestasie, ontkenning van enige voorkoms van swakheid asook avontuurlus, waagmoed en geweld. Na hulle word gesamentlik verwys as die tradisionele manlikheids-ideologie” (bll. 2-3).

Hulle gevolgtrekkings ten opsigte van hierdie “tradisionele manlikheids-ideologie” kan nouliks meer ongevoelig wees. Soos wat Stephanie Pappas beweer in ’n artikel op die Amerikaanse Sielkundige Vereniging-webwerf, dat navorsing kwansuis toon dat “tradisionele manlikheid, sielkundig nadelig is” (“APA issues first-ever guidelines for practice with men and boys”, APA.org, Januarie 2019). Hierdie gevolgtrekking is “die dryfveer” agter die Amerikaanse Sielkundige Vereniging se navorsing oor die aangeleentheid.

Slegs maande vroeër het die Amerikaanse Sielkundige Vereniging beskryf dat die “patriargale ideale manlike samestelling” elemente soos “taaiheid, heteroseksualisme, selfversorgende gesindhede en gebrek aan emosionele sensitiwiteit” insluit (“Harmful masculinity and voilence”, APA.org, September 2018).

Om die probleem van hierdie manlike ideale te bekamp, beveel die Amerikaanse Sielkundige Vereniging aan dat daar vroeg in die lewens van seuns ingegryp word om “[elke] adolessent se aanvaarding van tradisionele geslagsrolle te verminder”, asook om “bemarkingsveldtogte te skep met die doel om sosiale en kulturele norme wat die ongesonde manlike gedragskode onderskryf te verander” (ibid.). Op die gebied van bemarkingsveldtogte was die bekende skeermesmaatskappy Gillette tog te bly om deel te neem.

Die beste wat ’n advertensie kan wees?

Gillette het lank reeds die leuse gebruik: “Die beste wat ’n man kan kry” om sy reeks skeerprodukte te verkoop. Heel moontlik geïnspireer deur die gewildheid van die #MeToo-beweging en die aandag wat gegee is aan die idee van “toksiese manlikheid” – sekerlik ook met die oog op hulle geskiedenis van advertensies met stereotipiese pragtige vroue wat die skoongeskeerde gesig van stereotipiese aantreklike en atletiese mans streel – het Gillette besluit om tot die geslagsoorlog toe te tree met sy eie openbare verklaring van lojaliteit aan die sosiale meningsvormers wat probeer om die definisie van manlikheid te herskryf.

Die gevolg was ’n feministies-ontwerpte advertensie wat meer daarop gerig was om mans te kasty as wat dit was om skeermesse te verkoop. (Om te dink dat Gillette nie gehoop het om meer produkte te verkoop deur die gebruik van so ’n advertensie nie, sou natuurlik naïef wees). Alhoewel die video net minder as twee minute duur, skilder dit effektief – hoewel verkeerdelik – die geskiedenis van mans asof die hele mansgeslag nie genoeg gedoen het om hulle eie giftigheid in toom te hou nie.

Op baie plekke in die video, bereik die prekerigheid van die boodskap ’n hoogtepunt op ’n besonder sieltergende wyse. Net meer as 30 sekondes na die begin van die video, sien ons byvoorbeeld ’n groep van meer as 15 mans – elkeen van hulle staan ongestoord agter sy eie, individuele braaiplek en neurie kultusagtig: “Seuns bly maar seuns”, terwyl hulle toekyk hoe ’n jong kind ’n ander een op die grond voor hulle afknou en niemand tree tussenbeide nie.

Ten spyte van al die stemme wat die advertensie verdedig en beweer dat dit slegs gemik was daarop om slegte gedrag aan te spreek en nie om alle mans te beskuldig nie, skilder die sorgvuldig ontwerpte tonele soos hierdie die teenoorgestelde prentjie. Die beeld van ’n skare stereotipiese mans wat braai en toelaat dat een kind ’n ander kind afknou terwyl hulle toekyk, totdat ’n enkele, verstandige kêrel besin en die bullebak keer, stuur ’n duidelike boodskap uit: Mans oor die algemeen is die probleem en tradisionele manlikheid (na alles, “seuns bly maar seuns”) is verkeerd en behoort reggestel te word. Klaarblyklik word wangedrag soos boelie en die afknou en verkleinering van vroue nie beskou as afwykings van tradisionele manlikheid nie. Dit word beskou as die natuurlike manifestasies daarvan.

Die idee dat ’n maatskappy en boonop een wat op daardie stadium in die nuus was as gevolg van kommer oor skaduagtige sakepraktyke, so blatant sou besluit dat dit die morele gesag het om die wêreld se mans voor te skryf oor hoe hulle behoort op te tree, het baie wrewel veroorsaak. Meer aanstootlik egter as die boodskapper was die boodskap self. Tydens die plasing van hierdie publikasie was die video reeds byna 30 miljoen keer op YouTube gekyk, wat 1,4 miljoen keer afgekeur is en waarop meer as 423,000 keer kommentaar gelewer is.

Die kultuurstryders en sosiale meningsvormers was beslis om tradisionele manlikheid te hanteer asof dit ’n gebrek is wat reggestel behoort te word en hulle sit hulle gang ongesteurd voort. Die druk om voor sulke idees te swig, is baie werklik en neem steeds toe.

In haar klassieke en ongelukkig akkurate boek, The War Against Boys, identifiseer die vrydenkende feminis Christina Hoff Sommers baie van die sosiale faktore wat druk uitoefen op seuns en jongmanne met die doel om hulle te omskep in iets anders as wat seuns en jongmanne van nature is.

Seuns dra vandag die las van verskeie kragtige kulturele tendense: ’n Terapeutiese benadering tot opvoeding wat gevoelens vooropstel en mededinging en risiko afkraak, beleidrigtings wat gewone kaskenades van jong mans ernstig straf asook ’n geslagsgelykheidsbeweging wat manlikheid as roofsugtig beskou. Natuurlike manlike uitbundigheid word nie meer geduld nie (bll. 39-40).

Sommers verduidelik dat op ’n stadium in die verlede,

... dit die mode geword het om die gedrag van miljoene gesonde seuns as ’n siektetoestand te beskryf. Ons het teen seuns gedraai en ’n eenvoudige waarheid vergeet: Die energie, mededingendheid en natuurlike waagmoed van normale mans is verantwoordelik vir baie van wat reg is in die wêreld. Niemand ontken dat seuns se aggressiewe neigings tot bedaring gebring moet word en na konstruktiewe doelstellings gekanaliseer word nie. Seuns het dissipline, respek en morele leiding nodig (én hunker daarna). Seuns het liefde en verdraagsame begrip nodig. Om ’n seun te wees, is egter nie ’n sosiale siekte nie (bll. 3-4).

Is Sommers reg en ís natuurlike manlikheid ’n algemeen positiewe krag, “verantwoordelik vir baie van wat reg is in die wêreld”? Of is die Amerikaanse Sielkundige Vereniging, Gillette en ander “verligte” sosiale meningsvormers op die regte pad wanneer hulle ywerig probeer om mans in ’n nuwe selfontwerpte vorm te giet? Sal ons net bevry wees van probleme soos afknou en vrouehaat en sal seuns net gevrywaar wees teen geestelike skade en ’n gewelddadige toekoms as ons met die boeie van tradisionele manlike ideale wegdoen en die meer geslaglose verskeidenheid van “manne” aanvaar wat hulle gereed is om voor te skryf?

Verskillend ontwerp

Dit is waar dat individue van mekaar verskil, ook ten opsigte van ’n spesifieke geslag. Die samestelling en verspreiding van ons individuele eienskappe en persoonlike eienaardighede kan nouliks bepaal word deur slegs één veranderlike – selfs een so geweldig belangrik soos geslag.

Dit is egter net so waar dat daar werklike en betekenisvolle verskille is tussen dié van die manlike geslag en dié van die vroulike geslag en dit behoort nie ’n verrassing te wees nie! Die Skepper van die mensdom, die God van die Bybel, het ons op hierdie manier ontwerp. Jesus Christus verklaar: “Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie” (Matthéüs 19:4). Nee, geslag is nie fundamenteel ’n sosiaal saamgestelde werklikheid nie en nee, daar is geen “spektrum” nie. Die Ontwerper het die mensdom volgens Sy wil in twee verskillende geslagte geskep.

So onbegryplik as wat dit mag klink vir diegene wat verkies om te fantaseer oor die skepping van ’n mitiese geslaglose Utopia, word die verskille tussen man en vrou nog steeds in die samelewing gemanifesteer – eeu na eeu en kultuur na kultuur. Ja, daar kan merkwaardige individuele verskille tussen eras en kulture wees en ja, daar is merkwaardige verskille tussen individue, selfs binne dieselfde geslag, maar die basiese geneigdhede is daar vir almal om te sien.

Sodra ons besef dat die geslagte verskillend geskep is, sien ons ook die eenvoudige oplossing vir ons dilemma: Indien ons graag die soort manlike ideale wil verstaan waarna mans behoort te streef, behoort ons te kyk na die instruksies wat ons Skepper voorsien het en die manne wat Hy in Sy Woord as voorbeelde aan ons voorhou.

Ware manlike ideale

Wanneer ons die Skrif beskou as ons gids om die eienskappe van ’n gesonde manlike identiteit te ontdek, vind ons baie van die presiese eienskappe waarteen die Amerikaanse Sielkundige Vereniging mans waarsku.

Kyk byvoorbeeld na die tipiese manlike eienskap van selfvoorsiening of selfvertroue. Die apostel Paulus sê duidelik in Efésiërs 5:23 dat die mán in ’n gesin die leiding moet neem wat volgens die Bybel beteken dat hy homself sal toewy aan die bediening van andere (Matthéüs 20:25-28). Paulus sê elders dat ’n man wat nie vir sy eie gesin sorg nie, “die geloof verloën [het] en is slegter as ’n ongelowige” (1 Timótheüs 5:8). Inherent aan hierdie idees is dit noodsaaklik vir ’n man om die vermoë te ontwikkel om sy eie vaardighede en vindingrykheid toe te pas en iemand te word van wie ander mense materieel afhanklik is – nie een wat hoofsaaklik van ander afhanklik is nie.

Natuurlik kan daar moeilike tye kom en siekte en besering tref ons almal (Prediker 9:10-11). Met betrekking tot mans wat egter die vermoë het om te werk, maar weier om dit te doen, is Paulus duidelik: “... as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie” (2 Thessalonicense 3:10)!

Mans wil graag in staat wees om selfonderhoudend te wees en om deur hulle eie pogings dít te voorsien wat nodig is vir ander om te oorleef. Hierdie dryfkrag is deel van ’n man se fundamentele aard en die samelewing lê daardie dryfkrag aan bande tot hulle eie nadeel.

Wat van ’n “gebrek aan emosionele sensitiwiteit”? Eintlik was die manne van die Bybel ’n passievolle klomp – ’n karaktertrek wat lewendig uitgebeeld word in die Psalms van koning Dawid van Israel. Terselfdertyd is die vermoë om homself emosioneel los te maak van die omstandighede voorhande “om die werk gedoen te kry” – ’n lofwaardige eienskap wat hom toelaat om helder te dink en te presteer in tye wanneer emosies verlammend sou wees.

Ons sien dit ook in koning Dawid. Op een van die laagste tye in sy lewe het sy eie seun Absalom, ’n staatsgreep probeer uitvoer in ’n poging om die troon van Israel van hom af te neem. Toe Dawid se soldate Absalom doodgemaak het en so die konflik beëindig het, was Dawid ontroosbaar as gevolg van die verlies van sy seun. Tog het die koning, op advies van sy militêre leier, Joab, homself reggeruk, sy emosies onderdruk en voor sy manne verskyn in waardering vir hulle lojaliteit, ondersteuning en opoffering. Soms is ’n stoïsynse [ongestoorde] vermoë om gelate te reageer en dus gevoelens opsy te skuif, werklik noodsaaklik. Die vermoë om dít te doen wanneer die oomblik dit vereis, is ’n manlike ideaal.

Dink miskien aan sommige van die meer omstrede eienskappe wat verband hou met “tradisioneel manlike ideologie”: Selfgeldende optrede, strydlustige optrede en bereidwillige gereedheid om te konfronteer en gereed te wees om te veg. Sulke eienskappe is sekerlik altyd negatief – of is dit?

Nee, nie volgens die Bybel nie. Die apostel Paulus het die apostel Petrus “openlik teëgestaan” toe laasgenoemde geveinsd begin optree het teenoor die nie-Joodse gelowiges nadat Joodse leiers by die gemeente aangekom het (Galásiërs 2:11-14). Jesus self het die tafels van die geldwisselaars in die tempel omgegooi en dit wat op die tafels was is sekerlik oor die grond verstrooi. Hy het daarna ’n sweep van toutjies gemaak en die handelaars fisies uitgedryf (Matthéüs 21:12; Johannes 2:14-16)! Hy het gehandel in regverdige verontwaardiging as gevolg van die ontheiliging van Sy Vader se Huis!

Was Paulus se konfrontasie met Petrus – of Jesus (durf ons dit sê?) se gewelddadige reaksie deur die ontheiliging van die tempel – ’n voorbeeld van toksiese manlikheid? Geensins! Daar is tye en plekke vir konfrontasie en konflik en om die vermoë te hê om op te staan en persoonlik die bose te konfronteer, is ’n waardige ideaal van manlikheid waarna mans behoort te streef!

Wil ons in ’n wêreld woon waar ’n man en sy vrou in die middel van die nag wakker gemaak word deur die geluid van glas wat breek op die onderste verdieping, waar die man na sy liefdevolle vrou draai en sê: “Liefling, ek het die vorige keer gaan ondersoek instel na inbrekers en hierdie keer is dit jou beurt om ondertoe te gaan, terwyl ek veilig hier bly”? Kan ons dalk saamstem dat selfgeldende en strydlustigheid ’n gesonde plek kan hê in die samestelling van ideale manlikheid?

Die Bybel skets ’n prentjie van manlikheid wat baie ideale insluit. Die manne wat God as voorbeelde stel vertoon onverskrokkenheid, krag, taaiheid, moed, vasberadenheid en ’n gewilligheid om sonder huiwering te konfronteer wanneer konfrontasie nodig is. Hulle toon ook sagmoedigheid, deernis en besorgdheid oor ander – wat bewys dat tradisioneel manlike eienskappe nie inherent onverenigbaar is met ander eienskappe nie.

Vermoë om probleme reg te verstaan

Natuurlik kan elke eienskap, manlik of vroulik, op beledigende maniere uitgedruk word. Net soos die selfgeldende karakter van mans, afknouery kan word, kan die sagte en koesterende aard van vroue vertroeteling te ver voer.

Een van die merkwaardige kenmerke van die Bybel is die Goddelike Skrywer se gewilligheid om nie net die hoogtepunte van Sy helde se lewens op te teken nie, maar ook hulle laagtepunte – nie net slegs hulle suksesse nie, maar ook hulle mislukkings, maak nie saak hoe ernstig dit is nie. In baie gevalle sien ons die ander kant van hulle natuur en wat die gevolge daarvan is wanneer natuurlike gesindhede sonder leiding en onbeheersd deur groter ideale toegelaat word.

Benewens Dawid se manlike optrede en avonture, teken die Bybel ook die geval aan van owerspel en die moord wat hy gepleeg het in ’n mislukte poging om dit weg te steek (2 Samuel 11-12). God boekstaaf nie net die dapperheid en onverskrokkenheid van Jefta, die Gileadiet nie, maar ook die tragiese gevolge van sy voortvarendheid in oorwinning (Rigters 11).

Om sulke foute te noem asook die vele ander foute wat deur die geïnspireerde skrywers van die Bybel aangeteken is as voorbeelde van “toksiese manlikheid”, is om nie te verstaan hoe daardie twee woorde ’n werktuig van propaganda geword het wat aangewend word deur diegene wat Bybelse konsepte van die gesinstruktuur en geslagsrolle wil afbreek nie. Toksiese manlikheid en toksiese vroulikheid is bloot manifestasies van toksiese menslikheid: Uitdrukkings van ons vleeslike natuur wat besoedel is deur sonde wat nie van nature onderworpe is aan die Wet van God nie (Romeine 8:7).

Die oplossing vir die probleme wat deur sulke korrupsie veroorsaak word, is egter nie om die baba (seun of meisie) met die badwater uit te gooi nie. Manlikheid en vroulikheid is nie die probleem nie maar wel die hantering daarvan en die Amerikaanse Sielkundige Vereniging se benadering om tradisionele manlikheid te beskou as ’n toksiese brousel van probleme wat wag om te gebeur, is eenvoudig verkeerd en gevaarlik misleidend.

Die Bybel se verduideliking is baie behulpsamer en meer in lyn met die werklikheid: Sonde is die probleem. Indien sonde die probleem is, is die oplossing daarvan om die sonde aan te spreek. Sonde raak ons almal en enigeen van ons kan die geneigdheid van ons ontwerp misbruik – ongeag die geslag. Die oplossing is nie om die werklikheid te ignoreer en te fantaseer dat ons die geslagte kan hervorm om enigiets te wees wat ons graag wil hê hulle sal wees nie. Die antwoord is eerder om die verskille tussen die geslagte te aanvaar terwyl daar gesoek word na hulle gesondste eienskappe asook om die wysheid van die God wat die geslagte in die eerste plek ontwerp het te soek.

In sy artikel “Grown Men Are the Solution, Not the Problem” op NationalReview.org, beklemtoon rubriekskrywer David French hoogtepunte van die onderstebo aard van die benadering wat op ons afgedwing word deur ons self-aangestelde denkers:

Ons bewys ons seuns nie ’n guns wanneer ons hulle vertel dat hulle daardie stem binne-in hulle kan ignoreer wat hulle aansê om sterk en dapper te wees en om te lei nie. Ons bewys hulle nie ’n guns wanneer ons hulle toelaat om die soeke na ’n volwasse man te laat vaar wanneer daardie soeke moeilik raak nie ... Tradisionele manlikheid is nie die probleem nie. Dit kan deel wees van die genesing.

Wie sal in die bresse tree?

Ongelukkig probeer die samelewing om mans uit hulle bestaan uit te omskryf op die presiese oomblik in die geskiedenis wanneer ons hulle die nodigste het. Die God van die Bybel praat van verskriklike tye wat voorlê – ’n laat afspraak met die gevolge van ons verwerping van Hom, Sy Wette, Sy ontwerp en Sy leiding. Die tydperk wat in die geskiedenis van die mens sal kom, sal wees soos geen ander tydperk ooit was nie en geen tydperk daarna sal ooit gelyk wees aan die wreedheid en gruwels nie (Matthéüs 24:21; Jeremia 30:7).

Die Ewige openbaar egter duidelik waarna Hy op soek is om sulke dae te voorkom – en wat Hy nie vind nie: “En Ek het onder hulle ’n man gesoek wat ’n muur kan bou en voor my aangesig in die bres kan staan vir die land, sodat Ek dit nie sou verwoes nie; maar Ek het niemand gevind nie” (Eségiël 22:30).

Om selfgeldend en selfs aggressief te veg teen die skare om te doen wat reg is, op mens se eie twee voete te staan wanneer die res van die wêreld op sy knieë rondkruip en om sterk genoeg te wees om die geweldige gewig te dra van die samelewing se druk om toe te gee aan korrupte standaarde sonder om af te wyk van wat waar is ... Dit alles klink na die soort take waarvoor mans gemaak is. Laat ons hoop daar is nog van hulle oor.