VRAAG: Wat het die Apostel Johannes bedoel toe hy gewaarsku het dat “baie antichriste gekom het”? Wat is ’n antichris?

ANTWOORD: Om die term “antichris” te verstaan – wat slegs in 1 Johannes en 2 Johannes gevind word – is dit nuttig om die Skrifte wat die term gebruik te ondersoek. Die uitdrukking “baie antichriste” kom voor in 1 Johannes 2:18: “Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is.”

Die woord antichris in hierdie vers beteken “teen Christus” of “in plaas van Christus” of verwys na ’n valse Christus wat die ware Christus “teenstaan” (Vine’s Expository Dictionary). Die apostel Johannes het gewaarsku dat baie teenstanders van die ware Christus en Sy boodskap reeds gekom het. Sommige van hulle het in God se ware Kerk ingesypel. Johannes gaan voort: “Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie” (vers 19). Johannes gaan voort om dit met meer besonderhede te bevestig.

’n Bedrieër en ’n antichris

Let op wat Johannes in die volgende sendbrief skryf: “Want baie verleiers het in die wêreld ingekom: die wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie. Dit is die verleier en die Antichris” (2 Johannes 7). Hier beskryf Johannes ’n antichris as ’n bedrieër (verleier). Tydens die apostel se bediening het ’n abnormale groei van valse leerstellings ontstaan. Een sodanige misleiding behels die Gnostiese ontkenning dat Jesus Christus in die vlees gekom het as die eniggebore Seun van God. Die Gnostiese kettery het tot die gevolgtrekking gekom dat dit net gelyk het of Christus die menslike vorm aangeneem het (New Testament Introduction, deur Donald Guthrie, bl. 870). Gnostiese leraars was dus een van die baie antichriste wat Christus se koms in die vlees as die geïnkarneerde Seun van God verwerp het. Die gevolge van hierdie soort leerstellings is dat dit Christus se offer afwater en sonde nie na behore omskryf nie. Dit verander genade in ongebondenheid om te sondig (Judas: 4). Johannes het sy brief geskryf om hierdie valse idees te bekamp en om God se mense in die waarheid te versterk. Let daarop dat die Engelse NKJV hierdie vers weergee as sou Johannes geskryf het dat hierdie bedrieër ontken dat Christus “nou in die vlees kom” [as coming in the flesh]. Die toevallige leser van die Afrikaanse weergawe sal dit verstaan in die sin van Christus se eerste koms in die vlees, maar daar is ’n bykomende betekenis.

Williams se Nuwe-Testamentiese Vertaling maak hierdie vers duidelik deur dit weer te gee as “continues to come in the flesh [gaan voort om in die vlees te kom]”. Jesus Christus het met ander woorde, nie net in die vlees gekom om die volmaakte offer vir sonde te word nie, maar hy gaan voort om in die vlees van Christene te kom deur Sy lewe in ons te leef. Ons lees: “En hy wat sy gebooie bewaar, bly in Hom, en Hy in hom. En hieraan weet ons dat Hy in ons bly, aan die Gees wat Hy ons gegee het” (1 Johannes 3:24). Jesus Christus bly of leef in ons deur Sy Heilige Gees (Galásiërs 2:20). Hy het gesê: “As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak” (Johannes 14:23).

Die gees van wetteloosheid

In skrille kontras hiermee bely die gees van die antichris nie “dat Jesus Christus in die vlees gekom het” nie (1 Johannes 4:2-3). Hierdie leuengees ontken die realiteit van Christus se eerste koms en die wonderlike waarheid dat deur die Heilige Gees, Jesus Christus Sy lewe in ons kan leef – dieselfde lewe wat Hy geleef het toe Hy op aarde was – ’n lewe van gehoorsaamheid aan die Wet van God! Daarom is ’n antichris iemand wat teen Christus is – teen Sy Wet en teen Sy lewenswyse. Hierdie gees van antichris of wetteloosheid, wat so algemeen is vandag, was alreeds in die apostel Paulus se tyd wydverspreid: “Want die verborgenheid van die ongeregtigheid [wetteloosheid] is al aan die werk” (2 Thessalonicense 2:7). Vir meer inligting, kan u gerus ons gratis boekie, Wie of Wat is die Antichris?, aanvra.