Wie vra die regte vrae en kyk na die feite terwyl die debatte oor die wettiging van dagga voortduur?

Pogings om die gebruik van dagga te wettig – vir “medisinale” sowel as ontspanningsdoeleindes – neem voortdurend toe en vind aanklank in die sale van staats- en nasionale regerings. Kanada beplan om in die middel van 2018 die eerste G7-nasie te word om dagga landwyd vir ontspanning te wettig.

Is daar rede tot kommer? Is die dwelm so onskuldig soos wat sy voorstanders beweer? Watter gevaar skuil daar in die gebruik van dagga?

Hierdie Wêreld van Môre-reeks deur Stuart Wachowicz sal in twee artikels in twee uitgawes hierdie vrae en nog meer beantwoord!

Oor die afgelope paar jaar het talle beduidende maatskaplike veranderings die Westerse wêreld oorweldig – veranderings wat veroorsaak het dat ons huidige sosiale omgewing bykans onherkenbaar gemaak is vir diegene wat net twee of drie geslagte gelede geleef het. Hetsy veranderde maatskaplike rolle vir mans en vroue, nasionale en internasionale veiligheidskwessies, kommunikasie via sosiale media, veranderende geslagsdefinisies of selfs die manier hoe reg en verkeerd bepaal word – so baie het verander.

In die 1960’s het die eerste tekens van die maatskaplike revolusie die Westerse wêreld geskud, toe ’n jong geslag die konsepte van vrye liefde algemeen omhels het, eeue oue morele waardes verwerp het en hulle al hoe meer na sinsbedrieënde dwelms gewend het vir vermaak en ontvlugting. Die “hippie”-beweging van hierdie era het een antieke dwelmmiddel gewild gemaak wat as dagga of hennep bekend staan. Sedert daardie tyd het die gebruik van dagga uitsonderlik toegeneem in Noord-Amerika, ten spyte van die klassifikasie daarvan as ’n onwettige dwelm. Beide georganiseerde misdaad en plaaslike produsente het winsgewende geleenthede gesien om die dwelm aan ’n groeiende publiek te bemark. Baie groot, en dúúr pogings is aangewend om die verbod op dagga af te dwing, met beperkte sukses.

Toenemende druk vanuit voorspraakgroepe en die media het geleidelik gelei tot ’n groter openbare en dus politieke beweging om dagga te dekriminaliseer of te wettig. Die wetgewers in agt state van die Verenigde State het nou volledige wettiging goedgekeur, terwyl ander verskillende grade van wettiging goedgekeur het, saam met die verdraagsaamheid teenoor “medisinale” dagga. Kanada se liberale regering het alreeds wetgewing goedgekeur wat dagga teen 1 Julie 2018 wettig sal maak. Regerings beskou wettiging ongetwyfeld as ’n gewilde maatreël – goed vir stemme in daaropvolgende verkiesings.

Dit lyk of daar twee beweegredes vir dekriminalisering of wettiging is. Die eerste is ’n groeiende maatskaplike oortuiging dat dagga ’n onskadelike middel is en nie nadelig is vir die gebruiker se gesondheid of die gemeenskap se welsyn nie. Die tweede is ’n gevoel dat wetstoepassing voortdurend ontsaglike groot hulpbronne aanwend om die dagga-verbod af te dwing, wat tot weinig nut is, terwyl die dwelm se onwettige status toelaat dat georganiseerde misdaad voordeel trek uit die bemarking daarvan. Derhalwe redeneer baie mense dat indien dagga gewettig sou word, kan openbare hulpbronne elders ontplooi word, terwyl die ekonomie baat sal vind by die wins op dwelms en nie misdadigers nie.

Dit wil voorkom asof die meeste mense nou met hierdie twee standpunte saamstem. Wat kan daarmee verkeerd wees om ’n onskadelike middel te wettig en misdadigers ’n mark te ontneem? Tog is daar stemme wat dit teenstaan. Vreemd genoeg kom luide besware teen dagga-wettiging nie uit ultrakonserwatiewe of godsdienstige bewegings nie, maar van ’n menigte mediese navorsers. Die pro-dagga drukgroepe spreek hulle minagting uit oor hierdie uitsprake uit, maar bied baie min hersiene navorsing van die jonger voorstanders om die bevindinge van sommige van die mees gerespekteerde mediese instellings op aarde teen te staan. Dus, watter groot bekommernisse het moderne mediese navorsing geïdentifiseer?

Verlies aan motivering

Die gebruik van dagga as ’n dwelmmiddel is nie nuut nie. Vir baie eeue het die laer klasse van die Indiese subkontinent dagga op groot skaal gebruik. Daar is omvattende geskiedkundige verwysings na sulke gebruikers wat in swak toestande in dorpe, stede en landelike gebiede gewoon het. Hierdie soort mense was gewoonlik as ongemotiveerd beskou en is oor die algemeen eenkant toe geskuif.

Interessant genoeg in 2013, berig Psycology Today, dat ’n studie gepubliseer is deur wetenskaplikes aan die Imperial College London en die King’s College London wat ’n konneksie gevind het tussen die beduidende gebruik van dagga en laer dopamienvlakke in die brein. Verlaagde dopamien werk in op neuro-chemiese vlakke in die brein, verminder motivering en maak die persoon geneig tot “amotiverende sindroom” (“Does Long-Term Cannabis Use Stifle Motivation?” Psycology Today, 2 Julie 2013). Dit verklaar die slegte reputasie van die ou Indiese daggarokers. Talle kliniese waarnemings ondersteun hierdie effek van dagga op gereelde gebruikers.

Die skaal waarteen dagga gebruik word is kommerwekkend. Die Kanadese Sentrum vir Dwelmmisbruik en Verslawing (CCSA) berig: “Die aantal jeugdiges (22%) en jong volwassenes (26%) wat dagga in 2013 gebruik het, was meer as twee en ’n half keer dié van volwassenes 25 en ouer (8%), volgens Statistiek Kanada se Kanadese Tabak, Alkohol en Dwelm Opname” (“Marijuana and Youth”, ccdus.ca).

Met wettiging wat nou hangende is, neem daardie getalle toe, wat daartoe lei dat dokters ’n waarskuwing rig – een wat oënskynlik geignoreer word deur politieke groepe.

Die Vennootskap vir ’n Dwelmvrye Kanada het vir jare lank betroubare, wetenskaplike studies van die teenstanders voorgelê wat die gevare en maatskaplike asook ekonomiese koste van daggagebruik toon. Tog, ten spyte van gesondheidskundiges se onderskrywing van hierdie studies, bestuur maatskaplike druk die politieke agenda.

Wie is reg? Is kommer oor dagga [cannabis] ongegrond? Baie mense sal sekerlik aanneem dat indien die gebruik van dagga so wydverspreid is, dit nie baie skadelik vir die samelewing kan wees nie. Byvoorbeeld, sommige mense sal daarop wys dat, volgens die CCSA, die Kanadese jeug die meeste dagga gebruik het van enige land in die ontwikkelde wêreld, maar sonder duidelike nadele. Alhoewel, met nadere ondersoek, lyk die wetenskaplikes se waarskuwings egter meer onheilspellend.

Verslawing

Die Amerikaanse Psigiatriese Vereniging se publikasie, Psychiatric News het oor ’n studie berig wat in die New England Journal of Medicine verskyn het. Die verslag kom tot die gevolgtrekking dat “daggagebruik aan verskeie nadelige effekte gekoppel kan word, veral vir die jeug” (“Research Review Prompts NIDA Warning About Marijuana Use”, Psychiatric News, 3 Julie 2014). Die leier in navorsing, dr. Nora Volkow beklemtoon dat “langtermyn daggagebruik tot verslawing kan lei ... Die gereelde gebruik van dagga tydens adolessensie is besonder kommerwekkend aangesien gebruik deur hierdie ouderdomsgroep geassosieer word met ’n groter waarskynlikheid vir skadelike gevolge”. Die skrywers verduidelik dat in 77 studies en literatuur-oorsigte, negatiewe gevolge vir die gesondheid met daggagebruik geassosieer word.

Die Globe and Mail het op 12 April 2017 berig dat die Kanadese Mediese Vereniging, die Kanadese Psigiatriese Vereniging en die Kanadese Kindervereniging hulle kommer uitgespreek het teenoor die Kanadese regering, maar met skynbaar min trefkrag (“What Canada’s doctors are concerned about with marijuana legalization”, TheGlobeAndMail.com). Hulle is veral bekommerd oor gebruikers onder die ouderdom van 25 jaar, aangesien tot op daardie stadium is die brein nog steeds besig om te ontwikkel. Professor Christina Grant van McMaster Universiteit sê: “Ons weet dat 1 uit 7 tieners wat begin dagga gebruik, daggagebruik versteurdheid sal ontwikkel” – ’n toestand wat die tiener se skool, werk en gesinsverhoudings vernietigend beïnvloed.

Brein beskadiging – verminderde geheue, aandagspan en redenasievermoë

Dieselfde dokument lê bewyse voor wat ’n sterk verband toon met psigose-ontwikkeling by daggagebruikers met ’n familiegeskiedenis van geestesongesteldheid en wys selfs daarop dat daar geen “veilige limiet” vir daggagebruik bestaan nie. Dr. Grant gaan voort en benadruk dat navorsing ook toon dat tieners wat dikwels pot rook langdurige skade aan ontwikkelende breine berokken, wat gemanifesteer word in probleme soos vermindering in geheuevermoë, aandagspan en hoërgraadse besluitnemingsvermoë. Sy voeg ook by dat MRI-studies “verdunning” van die korteks van die ontwikkelende brein toon, ’n kritieke streek vir denke, beplanning en organisering.

Twee jaar gelede het die Ottawa Citizen berig oor navorsing van die Kanadese Sentrum oor Dwelmmisbruik (CCSA): “Tieners wat vroeg begin dagga rook en dit dikwels doen, loop die risiko om hulle IK-tellings te verlaag”. Die artikel gaan voort om te sê:

“Die groeiende aantal bewyse van die gevolge van die gebruik van dagga tydens adolessensie gee rede tot kommer”, het Amy Porath-Waller, die hoofnavorser van die CCSA oor die kwessie gesê ... “Dit is nodig dat ons ’n oomblik stilstaan en daaroor nadink dat dit die toekoms van ons land is. Ons wil sekerlik ons jeug voorberei sodat hulle produktiewe lede van die samelewing kan wees in terme van indiensneming. Daar is dus beslis rede dat Kanada bekommerd behoort te wees oor die gebruik van dagga onder jongmense”. Net so kommerwekkend, het sy gesê, is baie van die Kanadese jeug daarvan oortuig dat dagga onskadelik is en dat dit geen invloed het op hulle vermoë om te bestuur of hulle vordering op skool nie. (“Early marijuana use can lower teen’s IQ’s, research shows”, OttawaCitizen.com, 20 April 2015).

Ironies genoeg, gaan die Kanadese regering voort om dagga te wettig, selfs terwyl die land se amptelike gesondheidsdepartement, Health Canada, ernstige waarskuwings rig oor pot [dagga] se bewese mediese gevare wat deur onlangse geloofwaardige mediese navorsing gesteun word. Health Canada se webwerf noem ’n afname in fisiese koördinasie en reaksietyd, verlies aan aandagspan en verminderde besluitnemingsvermoë. Dit verwys na ’n studie wat in die Proceedings of the National Academy of Sciences gepubliseer is. (“Persistent cannabis users show neuropsychological decline from childhood to midlife”, 2 Oktober 2012). Dit toon ’n permanente afname van IK onder volgehoue gebruikers aan. Health Canada dokumenteer ook die gepaardgaande risiko van die ontwikkeling van psigose of skisofrenie deur gebruikers van dagga.

Dagga se uitwerking kan selfs ’n ongebore kind affekteer as die moeder ’n gebruiker is. Health Canada sê op sy webwerf onder “Gesondheidsgevolge van dagga”: “Die gifstowwe in dagga word deur die moeder se bloed na haar fetus oorgedra tydens swangerskap en in die borsmelk ná die geboorte. Hewige daggagebruik tydens swangerskap kan tot laer geboortegewig van die baba lei”. Die regering se webwerf wys ook daarop dat sodanige gebruik deur swanger moeders al geassosieer is met langtermyn ontwikkelingsgevolge op die kinders, met inbegrip van die afname in geheuefunksie, aandagspan en probleemoplossings-vaardighede, asook hiperaktiwiteit en ’n hoër risiko dat die kind in die toekoms dwelms sal misbruik.

Koue statistiek, ware lewenstragedies

Al hierdie studies weerspieël meer as getalle en statistieke. Dit verteenwoordig hartverskeurende gevolge in die lewens van diegene wat benadeel is deur daggagebruik.

’n Tyd gelede het ek ’n brief ontvang wat die tragiese verhaal vertel van ’n lewe wat vanaf geboorte onherstelbaar deur dagga verander is. ’n Deel van die brief lui soos volg: “Ek was wat mens ’n derde geslag daggaroker sou noem. Ek is daarin gebore ... My eerste asem wat in hierdie wêreld geneem is, was nie ’n long vol vars lug nie, maar daggarook! ... Ek kon nie leer om te lees, skryf en rekenkunde te doen teen ’n toepaslike tempo soos ander kinders van my ouderdom nie”.

Die skrywer van die brief het aangedui dat dagga hom in ’n groep laat beland het wat “pot” en ander dwelms gebruik het. Terwyl hy onder die invloed van dagga was, het hy begin om misdade te pleeg, aangesien die dwelm ’n mens se verantwoordelikheidsin afstomp. Teen die ouderdom van 21 het hy hom in afwagting op die doodstraf in ’n Arkansas-tronk bevind. Hy is aan verskeie moorde skuldig bevind wat onder die invloed van die “onskadelike” dwelm, dagga, gepleeg is.

Die skrywer, Kenneth Williams, het hom versoen met sy situasie en het probeer om andere te waarsku wat voorheen of steeds mislei word deur die leuen dat dagga skadeloos is. Hy het volle verantwoordelikheid vir sy misdade aanvaar, maar sy lewe en leervermoë is selfs voor sy geboorte beskadig. Hy het ’n boek geskryf om as ’n waarskuwing te dien in hierdie saak: The Unrelenting Burdens of Gang Bangers. Daarin het hy geskryf: “Ek deel my verhaal om ander mense wat in die duisternis wandel te waarsku. Dwelms soos dagga het baie mense na hulle dood gelei of na ’n koue tronksel. Dit is skadelik vir gebruikers en vir die nasie. Ek is ’n lewende getuie – ten minste vir die oomblik”. Mnr. Williams se verhaal bevat waarskuwings soos voorheen deur die Kanadese Mediese Vereniging en soos ons gesien het, selfs deur die Kanadese regering se eie webwerf. Hy is op 28 April 2017 terreggestel.

Long- en hartskade

In ’n 2015-verslag met die titel “Marijuana”, het die Vennootskap vir ’n Dwelmvrye Kanada opgemerk dat selfs wanneer mens die gevare van die sinsbedrieënde bestanddeel (tetrahydrocannabinol of THC) ignoreer, is die rook van dagga nog steeds baie skadelik vir menslike gesondheid: “Ongeag die THC-inhoud is die hoeveelheid teer wat deur daggarokers ingeasem word en die vlak van koolmonoksied wat geabsorbeer word, drie tot vyf keer hoër as onder tabakrokers”.

Ons kan by hierdie feite voeg dat dagga se hoër ontbranding-temperatuur, gekombineer met sy rookmetode, verhoogde verlies aan trilhaartjies in die longe veroorsaak, wat lei tot toenames in lewensgevaarlike emfiseem. (Sien, byvoorbeeld, Megan Howden en Matthew Naughton se verslag, “Pulmonary Effects of Marijuana Inhalation”, op Medscape.com).

Dit is interessant dat die Kanadese Kankervereniging vir jare veldtogte teen die rook van tabak gehad het en wydverspreide openbare steun verwerf het – nogtans lyk dit of baie mense wat self verstandige tabakgebruik teengestaan het, dikwels onverskillig staan teenoor die bevindings dat dagga baie skadeliker vir die menslike long is.

Die hart is ook nie immuun nie. Dr. Andrew Pipe, geneesheer en navorser wie se werke wyd gepubliseer is en die wetenskaplike dr. Robert Reid, van die Ottowa Hartinstituut se Afdeling vir Voorkoming en Rehabilitasie, het ernstige kommer uitgespreek oor die voortgesette of toenemende gebruik van dagga deur die algemene publiek. Die aanlyn hart- en kardiovaskulêre navorsingspublikasie, The Beat, het in Junie 2017 ’n berig geplaas oor hulle bevindings wat in die New England Journal of Medicine (2014) en die American Heart Journal (2013) gepubliseer is:

Die skrywers het bevind dat daggagebruik verbind word met vaskulêre toestande wat die risiko van hartaanvalle en beroerte verhoog, alhoewel die meganismes waardeur dit gebeur nie duidelik is nie ....

[Dr. Reid] het ook opgemerk dat daggagebruik problematies kan wees vir mense met ’n onreëlmatige hartklop of aritmie want dit aktiveer die simpatiese senuweestelsel (“Legalized Marijuana and Your Heart”, The Beat, Junie 2017).

Die artikel beklemtoon twee uitwerkings op u hart wanneer u dagga gebruik: Die hartklop versnel, bloeddruk verhoog en die bloed se vermoë om suurstof van u longe af na die res van u liggaam te vervoer, word verminder. Dit som die kumulatiewe kardiovaskulêre las op deur te sê: “Die resultaat is dat u hart harder moet werk en ’n verminderde vermoë het om verhoogde eise te hanteer”.

Blaas die rook weg en sien die waarheid!

Soos die gesegde lui, mense is geregtig op hulle eie opinie, maar nie hul eie feite nie. Die feite oor die gevare van dagga vir menslike gesondheid en welsyn – of dit gewettig is of nie – is al te duidelik. Vir diegene wat die Bybel se vermaning – om hulle liggame wat na Sy eie beeld geskape is te versorg (Génesis 1:26-27), as die tempel van God (1 Korinthiërs 6:19) – ernstig wil opneem, behoort hulle antwoord net so duidelik te wees: “Wettig of nie, dit is nie vir my nie”!

Afgesien van die vrae van geestelike en fisiese gesondheid, word ander fasette van die debat gehoor in die howe van ons onderskeie wetgewers en van die dosente in ons akademiese instellings: Wat van die moontlikheid om misdaad en dwelmgebruik in die algemeen te verminder deur dagga te wettig? Wat van die sogenaamde voordele van “medisinale dagga”? Met teleurstelling, die vraag wat te min mense vra – wat dink God hiervan?

Vir antwoorde op hierdie vrae, kyk in die volgende uitgawe van die Wêreld van Môre vir die gevolgtrekking in die tweede deel van ons verslag!