VRAAG: Gee God in Handelinge10:9-16 aan Christene toestemming om te eet wat voorheen as “onrein” diere beskou is (soos gedefinieer in Deuteronómium 14:3-21 en Levitikus 11:1-47)?

ANTWOORD: Wat was die doel van die visioen wat God aan die apostel Petrus gegee het? Het God aan hom getoon dat Hy nou die vleis “rein” gemaak het wat Hy vroeër as “onrein” verklaar het? Was daar dalk ’n ander doel vir hierdie visioen?

Een belangrike sleutel tot begrip van die Skrif is om gedeeltes binne konteks te ondersoek, wat die geskiedkundige omgewing sowel as die vertelling self betref. Die geskiedkundige opset van Handelinge 10 is die Nuwe Testamentiese Kerk in die vroegste jare van sy bestaan. Die Apostels het begin om die groot opdrag uit te voer wat Jesus aan hulle gegee het, om dissipels van alle nasies te maak en om die Evangelie aan almal te verkondig (Matthéüs 28:18-20). Ten tye van Petrus se visioen was hierdie opdrag op die punt soos nog nooit tevore nie om na die heidene uit te reik.

Sedert die tyd van die uittog, baie eeue tevore, wou godsdienstig ingestelde Jode niks met heidene te doen hê nie. In teenstelling met die Jode was heidene nie besny nie. Heidene [nie-Jode] het nie die Gebooie en insettinge van die God van Israel gehoorsaam nie en het die God van Israel nie aanbid nie. Heidene was as “onrein” beskou en die Jode wou nie met hulle assosieer nie.

Kyk nou na die konteks van Petrus se visioen. In Handelinge 8 het God die Evangelis Filippus gelei om ’n Ethiopiese eunug [ontmande] wat ’n heiden was, te doop. Daarna volg ’n beskrywing van Saulus se bekering. Saulus, wat die Kerk vervolg het, sou Paulus, die Apostel vir die heidene word.

Daarna, in Handelinge 10, is ’n visioen aan ’n heiden, met die naam Cornelius, gegee wat hom inspireer het om met Simon Petrus kontak te maak (Handelinge 10:1-8). Petrus het daarna ook ’n visioen ontvang. Petrus het ’n groot laken gesien wat met rein sowel as onrein diere gevul was, wat uit die hemel neergelaat is. Hy is aangesê om hulle te slag en te eet. Dit het drie keer gebeur. Petrus het geprotesteer en gesê dat hy nog nooit iets onrein geëet het nie (verse 11-14). Hy het nie die visioen geinterpreteer as dat hy nou die vleis van onrein diere kon eet nie; hy het eerder oor die betekenis van die visioen gewonder wat dit tog kon wees (verse 17-19).

Die betekenis van die visioen is duidelik gemaak deur wat daarna gebeur het. Petrus het die mans wat deur Cornelius gestuur is as gaste ontvang en aan hulle oornag verblyf gegee (vers 23), waarna hy saam met hulle gereis het om Cornelius te sien. Hy het verduidelik dat hoewel dit teen die Joodse wet was om met heidene te meng, hy deur die visioen van die laken en diere die volgende verstaan het: “God het my getoon dat ek geen mens onheilig of onrein mag noem nie.... Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is” (verse 28, 34-35).

Tydens hierdie besoek het Cornelius en dié in sy huishouding die Heilige Gees ontvang (vers 44). Petrus wat voorheen die heidene op ’n afstand gehou het, moes nou erken dat God werklik met heidene werk en het verstaan dat hy nou ’n verantwoordelikheid gehad het om heidene te doop.

Nuus van hierdie mylpaal het vinnig na die ander Apostels versprei, asook na die broeders in Judea. Dit was “groot nuus” dat die heidene ook die Woord van God aangeneem het (Handelinge 11:1). Tog was daar vir ’n tyd lank nog geskille daaroor. Terwyl Petrus Jerusalem besoek het, het sommige mense hulle beswaar uitgespreek dat hy nie net met die onbesnede heidene geassosieer het nie – wat onder die Joodse wet as “onrein” beskou word – maar dat hy werklik saam met hulle geëet het. Petrus het daarna die visioen wat hy ontvang het aan sy kritici verduidelik en die gebeure wat daarop gevolg het, om die betekenis van die laken vol onrein diere te openbaar.

Petrus het afgesluit: “As God dan aan hulle dieselfde gawe gegee het soos aan ons wat in die Here Jesus Christus geglo het, wie was ek dan, dat ek God kon verhinder? En toe hulle dit hoor, het hulle geswyg en God verheerlik en gesê: So het God dan ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk” (verse 17-18).

Dit was die rede en betekenis van die apostel Petrus se visioen. Dit was soos hy dit verstaan het. Sy begrip is hierna met die ander Christene gedeel wat sy beskrywing gehoor het van dit wat gebeur het. Die visioen het nié geopenbaar dat onrein diere nou as voedsel geëet mag word nie; dit het geopenbaar dat die heidene – wat vroeër deur die Jode as “onrein” beskou is – nou verlossing gegun is deur die God van Israel.