Soos die Hervorming ryper geword het, het leiers bykomend tot Luther verrys en die ware aard van hierdie nuwe lyn van “Christelikheid” duidelik na vore gekom in die skrywes van diegene wat dit gelei het.

Was die Protestantse beweging ’n opregte poging om die Nuwe-Testamentiese Christelikheid te herstel? Toon die “vrugte” dat dit gemotiveer en gelei was deur die Gees van God? Lees die verrassende WAARHEID in hierdie vierde aflewering van dr. Roderick C. Meredith se reeks artikels wat die gordyn op die Protestantse Hervorming lig!

Ons het alreeds die groot afvalligheid bespreek wat gedurende die tyd van die belydende Christelike Kerk plaasgevind het ná die dae van die Apostels. Die Heidendom – sy seremonies, tradisies en filosofieë – is vinnig in die vroeë Katolieke Kerk ingelyf.

Die gedokumenteerde verhaal van uiterste korrupsie en losbandigheid in die belydende “Christendom” is in skrille kontras met die geloofsoortuigings, gebruike en lewenswyse van die ware Kerk in die dae van die Apostels. Ons het bevind dat manne soos Huss en Savonarola gemartel was in hulle poging om die Katolieke Kerk van hierdie goddeloosheid te suiwer.

Miljoene gewone mense het gesmag na verligting van die politieke en finansiële tirannie van Rome. In die vorige aflewering het ons Luther se unieke vereenselwiging met hierdie vurige hoop van die massas bespreek.

Ons het die gedokumenteerde bewyse voorgelê dat Luther gebuk gegaan het onder ’n skuldgevoel omdat hy nie in staat was om gehoorsaam te wees aan wat hy gedink het God se wil is nie. Dit het hom tot op die punt gedryf om ’n woord by Romeine 1:17 se leer in te voeg: “Maar die regverdige sal uit die geloof alleen lewe.”

Benewens die opstand teen die Katolieke leer van aflate, het Luther gerebelleer teen die noodsaaklikheid van enige bepaalde gehoorsaamheid aan die Gebooie van God en het nou op “geloof alleen” staatgemaak vir verlossing. In sy opstand teen Rome het hy ’n politieke beroep op die Duitse adel gedoen vir hulle steun en geskryf: “Ons is gebore om meesters te wees... Dit is tyd dat die glorieryke Teutoniese volk behoort op te hou om die marionet van die Roomse pous te wees”. (Henry Bettenson, Documents of the Christian Church, bl. 278).
 

Die begin van Lutheranisme

Na sy finale breuk met Rome het Luther begin om ’n aantal van die belangrikste adel en prinse te bearbei om sy saak te ondersteun. Sonder behoorlike beskerming was hy ’n dooie man – onder die ban van die keiser en die pous.

Tydens sy geskille met John Eck en in sy prediking, skryfwerk en ander hervormingswerk, het Luther die respek van ’n aantal jong humaniste van Duitsland gewen. Onder hulle was Ulrich von Hutten en Francis von Sickingen. Von Hutten het Luther se godsdienstige besware gesekondeer deur nydige pamflette teen die pous en hoër geestelikes te skryf. Sy vriend, von Sickingen, het sy kasteel vir Luther aangebied as ’n toevlugsoord in geval van nood.

Twee ander manne het Luther se werk ondersteun en was geassosieer met hom by die Universiteit van Wittenberg. Die eerste persoon was Andreas Carlstadt, Luther se senior in die teologiese fakulteit, wat die doktorsgraad aan hom toegeken het. Carlstadt was ’n bekwame teoloog van daardie tye, maar het nie dieselfde tipe persoonlikheid en gewilde welsprekendheid as Luther gehad nie. Hy was beskou as ietwat voortvarend en wou dikwels ’n vollediger hervorming bewerkstellig as wat Luther gedoen het. Tot Luther se ontsteltenis het hy soms dinge waaroor Luther net gepraat het in die praktyk uitgevoer.

Die ander man wat verdiep geraak het in Luther se leerstelling was Philip Melanchthon, die professor in Grieks aan die universiteit. Hy was daardie tyd net een-en-twintig jaar oud, maar hy was geleerd, sensitief en briljant en sy reputasie vir sy vermoë het wyd gestrek. Sy bekering tot Luther se leerstelling was nie as gevolg van enige geestelike stryd nie, maar omdat hy entoesiasties met Luther se interpretasie van Paulus se geskrifte saamgestem het.

Hierdie humaniste, teoloë, die keurvors Frederik die Wyse en baie ander prinse, edeles en geleerdes – het almal begin om hulleself met Luther en sy leerstellings te vereenselwig. Vir die meeste van die prinse en adel was die motiewe suiwer polities en finansiëel. Hulle was moeg vir die oorheersing en inmenging van die Italiaanse pousdom. Luther het ’n konkrete simbool geword van hierdie langdurige opstand. Onder sy leierskap was hulle verenig in ’n gemeenskaplike verbond van haat teen die materiële mag van die Rooms-Katolieke Kerk (Johannes Baptist Alzog, Manual of Universal Church History, Vol. III, bl. 202).

Vir die humaniste het Luther ’n voorstander geword wat in gewilde welsprekendheid dít uitgespreek het waaroor hulle op gevatte wyse in skerpsinnige, hooggeleerde boeke en pamflette geskryf het, wat bo die vuurmaakplek van die gemiddelde mens was. Sy godsdienstige oproep het diepte en ’n positiewe betekenis aan die aanvalle op die hiërargie gegee, wat in hulle hekelende geskrifte ontbreek het. Alhoewel baie mense nie sy leerstelling van genade verstaan het nie, het sy gees van opstand teen Rome vinnig versprei.

Luther het dus oornag ’n kampvegter vir die hele Duitsland geword in hulle onderskeie griewe teen die pousdom. Daar het nou ’n ware beweging begin en die pous en nuwe keiser, Charles die Vyfde, sou vind dat dit sou groei tot ’n verwoestende botsing waarteen hulle nie heeltemal opgewasse was nie.
 

Die ontwikkeling van Luther se leerstelling

Luther se verhandeling met die titel, “Aan die Christelike adel van die Duitse Nasie” wat in 1520 uitgereik is, het hom baie gewild gemaak by die Duitse adel, plaaslike owerhede en boerestand. Sy praktiese voorstelle daarin word kortliks deur Walker opgesom: “Pouslike wanregering, aanstellings en belasting moet ingeperk word; onnodige ampte in toom gehou word; Duitse kerklike belange behoort onder ’n ‘Aartsbiskop van Duitsland’ geplaas te word; geestelikes toegelaat word om te trou; die oormaat heilige dae verminder te word in belang van nywerheid en gebalanseerdheid; bedelary, met inbegrip van dié van die ordes van bedelmonikke, verbied word; bordele gesluit word; luuksheid ingeperk word; en die teologiese opvoeding in die universiteite verander word. Geen wonder dat die uitwerking van Luther se werk verreikend was nie. Hy het dít uitgespreek wat toegewyde mense lank reeds gedink het” (Williston Walker, A History of the Christian Church, bl. 345).

Later in dieselfde jaar het Luther in sy “Babylonian Captivity of the Church” die sakramentele gebruike van die Roomse Kerk aangeval. Hy het die leer van transubstansiasie ontken en gesê daar is net twee werklike sakramente – doop en die Nagmaal. Hy het die Skrifgeldigheid van die ander Roomse sakramente ontken – aanneming, huwelike, bevele, die salwing van die siekes en geveinsde geesdrif, alhoewel hy gesê het dat boetedoening ’n sekere sakramentele waarde het as ’n terugkeer na die reinheid van die doop.

Dit is merkwaardig dat Luther in die verwerping van transsubstansiasie die absolute gesag van die Skrif in sake van geloof en praktyk verklaar het. Hy sê: “Dit wat sonder die gesag van die Skrif of bewese openbaring beweer word, kan as ’n opinie beskou word, maar daar is geen verpligting om dit te glo nie ... Transsubstansiasie ... moet beskou word as ’n uitvinding van menslike rede, aangesien dit nie op die Skrif gegrond is nie, nog minder op gesonde verstand ...” (Bettenson, Documents, bl. 280).

Indien Luther maar hierdie soort skriftuurlike toets op al sy leerstellings toegepas het, kon die wêreld vandag ’n ander plek gewees het! Wanneer hy, toe hy aangekla is omdat hy die woord “sola” (alleen) by Romeine 3:28 ingevoeg het, het hy hooghartig geantwoord: “As u Pous homself enige onnodige ergernis op die hals haal oor die woord sola, kan u dadelik antwoord: Dit is dr. Martin Luther se wil dat dit so behoort te wees” (Alzog, bl. 199). Ons kan met goeie gesag byvoeg dat geen ander rede vir sodanige onskriftuurlike veranderings soos hierdie, ooit gegee is nie. Wanneer dit by Luther se eie persoonlike leerstellige oortuigings gekom het, was Martin Luther werklik ’n eiewyse man.

 

Die kern van Luther se leerstelling

Die kern van die evangelie van Luther, was vergifnis van sondes deur ’n persoonlike, lewensveranderende geloof in Jesus Christus. Hy het dit as die enigste ware godsdiens beskou (Walker, bl 346).

Luther het egter heeltemal die Bybel se onderwysing oor die absolute bekering nagelaat wat enige vergifnis van sondes vooraf moet gaan. Sy verstand het voortgegaan om te rebelleer teen die noodsaaklikheid van gehoorsaamheid aan enige soort van gesag of wet nadat ’n mens deur geloof in Christus vergewe is. Hy het geskryf: “Die hoeveelheid mense wat in Christus glo, al is hulle ook hóe talryk en goddeloos as wat kan kom, sal nie verantwoordelik wees vir hulle werke nie – nog minder daarvoor veroordeel word”. Hy sê ook: “Ongeloof is die enigste sonde waaraan die mens skuldig kan wees; wanneer die naam ookal op ander dade toegepas word, is dit ’n verkeerde benaming ...” (Alzog, bl. 199).

Sy derde traktaat van 1520, “On Christian Liberty”, beweer dat ’n Christelike mens geensins geestelik onderworpe aan enige mens is nie, nog minder aan enige wet. Hy het aangevoer dat aangesien ons geregverdig word deur geloof alleen, ons nie meer verplig is om die Wet van God te onderhou nie.

Hier sien ons dat Luther voortgegaan het om klem te plaas op hierdie persoonlike, emosionele en sielkundige ervaring van vrye vergifnis as die sentrale beginsel van al sy leerstellings. Hy was self so terneergedruk deur ’n skuldgevoel terwyl hy in die Roomse kerk was, dat hy nou verplig gevoel het om alle sin van die wet en ’n rede om dit te gehoorsaam, tersyde te stel. Ons sal hierdie leerstelling elders met die Skrif vergelyk.

Luther se leerstelling was dus nou volledig in sy hoofraamwerk. Alhoewel hy homself later op baie kleiner punte sou korrigeer, was die grondbeginsels van Luther se teologiese stelsel nou gevestig (Walker, bl. 346).

 

Luther by Worms en by die Wartburg

In 1521 was Luther gedagvaar om voor die Ryksdag [keiserliker vergadering] van Worms te verskyn en sy vriende het hom gewaarsku teen die dodelike gevaar waarin hy verkeer het. Die keiser het egter aan hom ’n belofte van veilige begeleiding gegee en hy was vasbeslote om te gaan, selfs “al was daar net soveel duiwels in daardie stad as wat daar teëls op die huise [se dakke] was”.

Terwyl hy voor die Ryksdag verskyn het, is Luther onmiddellik met ’n ry van sy boeke gekonfronteer en hy is gevra of hy dit sou terugtrek of nie. Na ’n onderbreking vir oorweging het hy toegegee dat hy hom dalk te sterk teen sekere persone uitgespreek het, maar dat hy nie die inhoud van wat hy geskryf het sou herroep nie, tensy dit deur die Skrif of rede verwerp kon word. Hy het, na berig word, afgesluit met die woorde: “Hier staan ek; ek kan niks anders doen nie. God help my. Amen” (Jesse Lyman Hurlbut, The Story of the Christian Church, bl. 153).

Nadat hy van Worms af teruggekeer het is Luther deur goedgesinde mense na die Wartburg-kasteel naby Eisenach geneem waar hy byna ’n jaar lank weggekruip het. Hy was onder die ban van die Ryk geplaas en indien Duitsland deur ’n sterk sentrale gesag beheer was, sou Luther se loopbaan gou in martelaarskap geëindig het. Dit het geblyk dat sy sterk en vriendelike heerser van die gebied, Frederik die Wyse, elke keer Luther se redding was. Vanuit sy geheime toevlug by die Wartburg het Luther mense bewus gemaak van sy voortgesette werksaamhede deurdat hy baie briewe en pamflette geskryf het ten gunste van sy saak en dit oor die hele Duitsland gestuur is. Die mees blywende vrug van hierdie tydperk was sy vertaling van die Nuwe Testament. Hierdie vertaling van die Griekse teks van Erasmus na Duits toe was ’n werk van hoë literêre gehalte en word beskou as die grondslag van die Duits-geskrewe taal (Ludwig Hausser, The Period of the Reformation, bll. 60-61).

“Daar is nog nooit so ’n groot bydrae gelewer soos hierdie vertaling tot die ontwikkeling van die godsdienstige lewe van ’n nasie nie. Nog minder was Luther met al sy ontsag vir die Woord van God, sonder sy eie reëls van kritiek. Dit was die relatiewe helderheid waarmee hy sy interpretasie van die werk van Christus en die metode van verlossing deur geloof, onderrig het. Te oordeel aan hierdie standaarde, het hy gevoel dat Hebreërs, Jakobus, Judas en Openbaring van minderwaardige belang was. Selfs in die Skrif was daar verskille in waarde” (Walker, bl 349).

Ons vind dus, hoewel Luther verkondig het dat alle ware leerstellings op die Skrif gegrond behoort te wees, dat wanneer dit op die interpretasie van die Skrif neerkom, hy sy eie gunsteling teorieë gehad het, selfs met betrekking tot die relatiewe waarde van volledige boeke van die Bybel! Soos ons sal sien, het hy hewig uitgevaar teen diegene wat nie met sy leerstellige teorieë saamgestem het nie.

 

Voortgesette Hervorming by Wittenberg

Terwyl Luther in Wartburg in afsondering gebly het, het verskeie van sy medewerkers die kerklike revolusie in Wittenberg voortgesit. In baie gevalle het hulle die einste hervormings geimplimenteer waaroor Luther gepraat het, maar nog nie uitgevoer het nie.

Teen Oktober 1521 het Luther se medemonnik, Gabriel Zwilling, die mis veroordeel en die verwerping van geestelike geloftes aangemoedig. Baie van die inwoners van die Augustynse klooster in Wittenberg het gou hulle beroep verlaat en Zwilling het spoedig die gebruik van beelde aangeval.

Teen Kersfees 1521, het Carlstadt die stad byeengeroep om die Nagmaal volgens die nuwe manier te vier. Hy het in gewone klere dienste gelei, alle verwysings na offerandes in die liturgie weggelaat, die brood sowel as die wyn aan die leke gebied en die Duitse taal gebruik om die sakrament te bedien (Roland Bainton, The Reformation of the Sixteenth Century, bl. 64).

Die aanhoor van belydenisse en die vastye is spoedig laat vaar. Carlstadt het verkondig dat alle predikers moes trou en het later in 1522 self getrou.

Die algemene opwinding is in Desember 1521 verhoog deur die aankoms van verskeie radikale “profete” van Zwickau. Hulle het onmiddellik goddelike inspirasie geëis, teen kinderdoop geleer, asook die vinnig-naderende einde van die wêreld geprofeteer (Walker, bl. 350). Melanchthon was ontsteld oor al hierdie gebeure en was te onseker van homself om hierdie nuwe leerstellings te bevestig of te ontken.

Carlstadt het egter net probeer om Luther se oproep tot terugkeer na die praktyke volgens die Skrif na te volg. Dit is dalk jammer dat die aankoms van die Zwickau-“profete”, die beweging vir ’n tyd lank met radikalisme besmet het. Hierdie voorvalle was hoogs onaangenaam vir die keurvors, Frederick die Wyse en het waarskuwende protestering van ander Duitse prinse ontlok. Dit is belangrik om te besef dat Luther op dun ys moes loop om die guns te behou van hierdie Duitse prinse wat politieke, militêre en finansiële steun gegee het.

Deels om enige verdere afkeuring van radikalisme van die Duitse prinse te voorkom en deels weens ’n duidelike jaloesie teenoor Carlstadt (G.H. Orchard, A Concise History of Foreign Baptists, bl. 339), was Luther vasbeslote om na Wittenberg terug te keer en weer beheer van die hervormingsbeweging oor te neem.

 

Carlstadt se Hervormings

Laat ons eers ’n paar van die veranderings sien wat Carlstadt aangebring het:

Carlstadt het alle kerklike kleredrag verwerp en alhoewel hy self ’n predikant was, het hy hom in ’n groot grys mantel soos ’n plattelander geklee. ’n Tweede beginsel het hierdie posisie weer versterk, naamlik maatskaplike gelykheid. Die leerstelling van die priesterskap vir alle gelowiges is so ernstig opgeneem dat Carlstadt nie Doktor genoem wou word nie, maar slegs “Broeder Andreas”. Die begeerte wat ook vir Luther aangespoor het om die patroon van vroeë Christelikheid te herstel, is verder gevoer om baie Ou-Testamentiese gebruike in te sluit. Die vernietiging van beelde was gebaseer op die Mosaïese bevel, asook die bekendstelling van streng sabbatarisme. Die hele program was vreemd aan die gees van Luther, wat geglo het die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan en dat enige deel daarvan gebruik mag word in die belang van godsdiens (Bainton, bll. 65-66).

Nadat hy van hierdie nuwe program gehoor het, het Luther dadelik na Wittenberg teruggekeer, die guns van die keurvors en die stadsraad verkry en Carlstadt uit die stad verban.

Die verrassende feit wat hier bekend gemaak is, is dat Carlstadt, hoewel hy sekere punte verkeerd verstaan het, probeer om baie van die gebruike van Christus en die Apostels weer in te stel. Luther wou niks hiervan weet nie. Hy sou soms praat oor die terugkeer na die Bybelse Christenskap, maar het altyd enige werklike poging verwerp om dit regtig te doen.

 

Luther se alliansie met die prinse

Na Luther se terugkeer uit Wittenberg het hy in alle opsigte ’n besliste konserwatiewe gesindheid getoon en sy invloed by die Duitse prinse teruggekry. Hy was gedwing om die meeste van die tyd politiek te bedryf, want die sukses van die Lutherse beweging was geheel en al afhanklik van hulle goedgesindheid.

Die keiser was nou besig met ’n groot oorlog teen Frankryk vir die beheer van Italië. Pous Leo X is in Desember 1521 oorlede en sy opvolger was nog nie invloedryk genoeg om Luther se aktiwiteite te bekamp nie. Onder hierdie gunstige omstandighede het dit gelyk of die Hervorming die hele Duitse nasie vir sy saak kon wen (Hausser, bll. 68-69).

Baie Lutherse gemeentes het nou in verskillende streke van Duitsland gevorm en die probleem van kerkorganisasie en regering was voorgelê. Sonder om die Bybel te raadpleeg om uit te vind watter soort kerkregering Christus in Sy Kerk ingestel het, het Luther sy eie stelsel uitgedink. “Luther was nou oortuig dat sulke verenigings van gelowiges volle mag gehad het om hulle predikante aan te stel en van hulle ontslae te raak. Hy het egter ook bevind dat die belangrikste plig van die wêreldlike heersers was om die Evangelie te bevorder aangesien hulle die gesagsposisies beklee en die grootste verantwoordelikheid in die Christelike gemeenskap gehad het. Die gebeure van die onmiddellike toekoms en die noodsaaklikheid van werklike kerklike organisasie binne uitgebreide gebiede, sou Luther die rug laat keer op enige simpatie van mense wat hy op daardie stadium geniet het met hierdie vrye kerklikheid, na ’n streng afhanklikheid van die staat”. (Walker, bl. 351).

As gevolg van hierdie soort menslik-uitgedinkte kerkregering, vind ons dat die Lutherse Kerk polities beheer en tot onlangs feitlik heeltemal afhanklik van die staat was. Luther se pogings om die guns van die Duitse prinse te behou en sy geneigdheid om ontelbare idees en gebruike te behou wat van die heidense Roomse kerk oorgebring is – het veroorsaak dat hy as baie “konserwatief” beskou was. Hy het trouens in baie opsigte nie van die Rooms-Katolieke tradisies afgewyk nie.

Luther het besluit dat groot vryheid toelaatbaar was in die fyner besonderhede van aanbidding, solank as wat die “Woord van God” hoofsaaklik behou is. Die verskillende Lutherse gemeentes het spoedig ’n groot verskeidenheid gebruike in hulle dienste ontwikkel. In plaas van Latyn is die Duitse taal toenemend gebruik. Luther het heelwat van die Katolieke vorm van die mis behou en het in 1526 ’n mis in Duits uitgereik. Hy het ook die Katolieke gebruik om belydenis te doen, behou, alhoewel dit nie verpligtend was nie. “Te oordeel aan die ontwikkeling van die Hervorming elders, was Luther se gesindheid teenoor metodes van aanbidding heel konserwatief. Sy beginsel was ‘wat nie teenstrydig is met die Skrif nie, is vir die Skrif en die Skrif is daarvoor’. Hy het dus baie Roomse gebruike behou, soos die gebruik van kerse, die kruis en die illustratiewe gebruik van prente” (Walker, bl. 352).


’n Skeuring in Luther se party

Teen hierdie tyd het die eerste ernstige skeurings onder Luther se volgelinge te voorskyn gekom. Die eerste ontevredenheid het onder die humaniste ontstaan, wie se leier, Erasmus, baie min simpatie gehad het met Luther se leerstelling van “regverdiging deur geloof alleen”. Hy was bang vir die gevolge van ’n leerstelling wat die morele verantwoordelikheid van die individu feitlik ontken. Die stormagtige geskrifte van Luther, tesame met oproerige opstande op verskeie plekke, het hom [Erasmus] al hoe meer ontstel.

In die herfs van 1524 het hy begin om Luther se ontkenning van vrye wil uit te daag. Hierdie leerstelling wat ons later in meer besonderhede sal bespreek, beweer dat die mens se natuur in die sondeval van Adam so radikaal bedorwe het dat hy nie in staat is om God te gehoorsaam of om werklik enige goeie ding te doen nie.

Met die daadwerklike besef van die growwe fout van hierdie leerstelling en ander wat Luther voorgestaan het, was Erasmus bang vir die toenemende afname van belangstelling in onderwys en in openbare sedes, wat gelyk het of dit met Luther se leerstellings gepaardgaan en hy het amptelik met Luther gebreek (Alzog, bl. 226-227).

Nog ’n skeur in die beweging het plaasgevind weens party mense se ontevredenheid met sommige van die halfhartige stappe wat Luther as hervormer geneem het. Baie mense wou werklik terugkeer na die model van die Nuwe-Testamentiese Christelikheid. Dit het egter gelyk asof Luther vasbeslote was om soveel van die Roomse gebruike en leerstellings te behou as wat hy kon, sonder om sy basiese leerstellings van regverdigmaking deur geloof alleen en verwerping van die pouslike hiërargie en sakramentele stelsel prys te gee. Hy het sonder twyfel gevoel dat hy dit moes doen om die politieke steun van die Duitse prinse te behou.

Dit is waar dat die leiers van sommige van hierdie bewegings radikaliste geword het. ’n Voorbeeld hiervan is Thomas Munzer, wat Romaniste en Lutherane aangeval het oor hulle leerstellings en daarop aanspraak gemaak dat hy direk geïnspireer was en sy volgelinge gelei het om kloosters te beroof en te vernietig en om alle beelde in kerke af te breek (Walker, bl. 353).

Dit lyk gewis dat indien Luther bereid was om op God alleen te vertrou vir sy beskerming, eerder as om te flikflooi vir die guns van die menslike prinse, hy die volk sou kon lei om geheel en al te breek met die heidense Katolieke stelsel, leerstellings en gebruike. Hy sou baie duisende opregte manne en vroue in Duitsland alleen gevind het wat graag sou wou volg. Die massas was alreeds moeg vir die Roomse en leenstelsel en was gereed vir ’n verandering.

Hier was ’n perfekte geleentheid om ’n ware herstel van die Apostoliese Christelikheid te bewerkstellig. Indien Luther en sy genote maar net hulle wil volkome aan God oorgegee het, Hom gevra het vir Sy leiding in elke faset van hierdie herstel en eerlik die duidelike, letterlike woord van die leerstellings en gebruike gevolg het wat deur Christus en sy Apostels ingestel is, sou die grootste deel van Duitsland waarskynlik gevolg het.

Dit was egter nie die geval nie. Luther se weiering om ’n volledige hervorming deur te voer het baie opregte, maar ongeleerde plaasboere en dorpenaars as prooi van ongebalanseerde leiers gelaat, wat in baie gevalle sommige van die ware Apostoliese gebruike herstel het wat Luther gewilliglik geïgnoreer het – maar wat dit al te dikwels, met vreemde buitensporighede van hulle eie versinsels, vermeng het.

 

Die plaasboere se oorlog

Die situasie wat pas beskryf is, het die nou berugte opstand van die Duitse plaasboere meegebring. Die manier waarop Luther ’n flater begaan het in die hantering van hierdie situasie, het verreweg die ernstigste skeiding van sy beweging meegebring.

Die Duitse plaasboere was vir geslagte lank onderdruk en hulle stand was een van toenemende ellende. Die prediking en godsdienstige opwinding van Luther se hervormingsbeweging, het as ’n vonk gedien om hulle in die langverwagte optrede van opstand teen hulle meesters aan te hits.

“In Maart 1525 het die plaasboere twaalf voorwaardes gestel, wat die reg van elke gemeenskap eis om sy predikant te kies of af te dank, dat die groot tiendes (van graan) gebruik word ter ondersteuning van die predikant en ander gemeenskapsuitgawes en die klein tiendes afgeskaf word sodat weggedoen word met slawerny, dat besprekings vir jag beperk word, die gebruik van die woude vir die armes beskikbaar gestel word, dwangarbeid gereguleer en behoorlik vergoed word, regverdige huurgeld vasgestel word, nuwe wette nie meer uitgevaardig word nie, gemeenskaplike lande teruggegee word aan die gemeenskappe van wie dit weggeneem is en betalings vir erfenis aan hulle meesters afgeskaf word. Vir moderne denkers was dit matige en redelike versoeke. Gedurende daardie stadium het dit revolusionêr voorgekom” (Walker, bl. 354).

Alhoewel baie Protestantse geskiedkundiges beweer dat Luther geen aandeel in die plaasboere se opstand gehad het nie, is dit ’n verdraaiing van die waarheid om die feit te ontken dat die kleinboere bloot die beginsels van vryheid wat opgeneem was in Luther se eie geskrifte toegepas het. Dit lei geen twyfel dat as Luther nie in hulle uur van nood teen hulle gedraai het nie, talle duisende lewens gespaar sou gewees het – en die ekonomiese slawerny van die Duitse plaasboere nie verleng sou gewees het nie (Hausser, bl. 102).

Luther was egter agterdogtig teenoor die ongeletterde boereklas – ten spyte van die feit dat sy eie familie van dieselfde klas was. Nog belangriker, Luther het sy vertroue in die ondersteuning van die prinse geplaas en was altyd versigtig om hulle nie te na te kom nie – alhoewel hy aan hulle ’n getemperde waarskuwing gerig het en hulle herinner het aan hulle verantwoordelikheid in die verwagte opstand (Hausser, bl.103).

 

Luther staan gewelddadige onderdrukking voor

Omdat Luther lank die raadgewer en voorstander was van liefde en selfbeheersing het hy goed geweet dat Christus beveel het dat mens jou vyande sal liefhê en daarom is sy ommekeer in die kwessie van die plaasboere se opstand niks minder as verbasend nie. Bowendien, die situasie het nie die mate van geweld geregverdig wat hy voorgestaan het nie – selfs al sou so ’n verloop in ooreenstemming met Christelike beginsels wees.

Daar was ongetwyfeld foute aan albei kante. Luther se bombastiese beroep op die prinse om die kleinboere genadeloos te vernietig, openbaar ’n gees wat so ver is van die Gees wat Jesus Christus gelei het, as wat mens jou moontlik sou kon indink.

Henry C. Vedder skilder ’n akkurate prentjie van die lelike situasie:

Alhoewel die plaasboere ’n goeie saak gehad het, het hulle nie altyd goeie metodes gebruik nie. Die meeste van hulle was onkundig, almal was verbitterd en sommige was woedend oor die onreg wat teen hulle gepleeg is. In hulle opstand is gruweldade gepleeg; kastele is afgebrand en geplunder en meedoënlose onderdrukkers is doodgemaak. Hierdie dade is daarna as verskoning gebruik vir ’n vergelding waarvan die wreedheid selde in die geskiedenis oortref is. Dit word deur geskiedskrywers, wat geen motief gehad het om te oordryf nie, beraam dat ten minste honderdduisend mense doodgemaak is voordat die woede van die prinse en ridders bedaar het.

Die vernaamste persoon onder diegene wat hulle aangehits het, was Luther. Dit wil voorkom asof hy geskrik het vir diegene wat volgehou het om te probeer om hom en sy leerstellings die oorsaak vir die plaasboere se oorlog te maak. Sy hoop was in die beskerming en guns van die prinse, aan wie die blote woorde wat hy uitgespreek het, diep aanstoot moes gegee het. In die middel van die oproer het hy dus ’n tweede pamflet aan die pers gestuur waarin hy heeltemal van plan verander en die plaasboere so heftig veroordeel as wat hy voorheen die prinse bestraf het.

“Hulle veroorsaak oproer, voer geweldadige rooftogte en plundering van kloosters en kastele uit wat nie aan hulle behoort nie. Hiervoor alleen, as openbare rowers en moordenaars, verdien hulle ’n dubbele dood van liggaam en siel. Dit is reg en wettig om by die eerste geleentheid ’n opstandige persoon wat as sodanig bekend is en alreeds onder God en die keiser se ban is, dood te maak. Vir ’n openbare rebel is elke man regter sowel as teregsteller. Net soos wanneer ’n vuur begin brand, is hý wat dit die eerste blus, die beste man. Rebellie is nie ’n veragtelike moord nie, maar is soos ’n groot vuur wat ’n land aan die brand steek en verwoes; dus veroorsaak rebellie ’n land vol moord, bloedvergieting, weduwees en weeskinders en vernietig dit alles, soos in die geval van die grootste ramp. Daarom behoort elkeen wat kan, in die geheim of in die openbaar doodslaan, verwurg en doodsteek en onthou dat daar niks meer giftig, skadelik en duiwels is as ’n opstandige man nie. Net soos wanneer mens ’n mal hond moet doodmaak; as jy nie teen hom veg nie sal hy teen jou en ’n hele land saam met jou, veg.

“Laat die siviele mag vol selfvertroue voortgaan en doodslaan solank dit ’n spier kan beweeg. Hier is die voordeel: Die plaasboere het slegte gewetes en onwettige goedere en wanneer ’n plaasboer doodgemaak word, het hy liggaam en siel verloor en gaan vir ewig na die duiwel. Die siviele owerheid het egter ’n skoon gewete en wettige goedere en kan met alle sekerheid van die hart aan God sê: ‘Kyk, my God, U het my as prins of heer aangestel, daaraan kan ek nie twyfel nie en u het die swaard teen boosdoeners aan my toevertrou (Romeine 13:1-4). Daarom sal ek straf en slaan so lank as wat ek ’n spier kan beweeg; U sal oordeel en goedkeur’... Sulke wonderlike tye is hierdie dat ’n prins die hemel makliker kan haal deur bloed te vergiet as ander met gebed” (Vedder, A Short History of the Baptists, bl. 173-174).

Wel, ons kan onsself afvra: “As dit die woorde van ’n hervormer is wat van God gestuur is, waaraan meet mens ware geloof?” Is dit die woorde van ’n man wat deur die Heilige Gees van God gelei word? Het die herrese Christus hierdie man gebruik om Sy “klein kudde” te reinig?

Deur hierdie wrede daad om so bitterlik teen die plaasboere te draai, het Luther groter aansien by die beskermende prinse verkry. Selfs menslik gesproke was die koste aansienlik. Van toe af het algemene simpatie vir sy saak onder die plaasboere van Suid-Duitsland afgeneem.

Erasmus het Luther bestraf vir sy skynheiligheid in hierdie gemene saak. Hy het geskryf: “Ons pluk nou die vrugte van u leerstellings. U sê inderdaad die Woord van God behoort volgens sy aard baie andersoortige vrugte te dra. Wel, volgens my mening hang dit baie af van die manier waarop dit gepredik word. U ontken enige verband met die opstandelinge, terwyl hulle u as hul ouer beskou en die outeur en omskrywer van hulle beginsels is” (Alzog, bl. 223).

Hierna is dit maklik om die plaasboere se gebrek aan simpatie te verstaan vir die man wat die prinse aangemoedig het om hulle en hul geliefdes “dood te slaan, te verwurg en dood te steek”.

 

Die verdeling van Duitsland

Die bloedige onderdrukking van die plaasboere se opstand het nou die prinse en stede in volle beheer van Duitsland gelaat. Politieke alliansies is nou gevorm vir of teen die Hervorming. ’n Bond van Katolieke is deur Hertog George van Sakse en ander Katolieke prinse georganiseer wat in Julie 1525 in Dessau vergader het. In Torgau is ’n opponerende Lutherse bond gevorm. ’n Hernuwing van die keiser se stryd – hierdie keer teen ’n alliansie van die pous en die Franse koning – het Charles die Vyfde te besig gehou om in die godsdienstige stryd in Duitsland in te meng (Walker, bl. 356).

By die Ryksdag van Spires in 1526 is ’n besluit geneem wat elke Duitse prins tydelik die reg gegee het om godsdienstige sake in sy eie grondgebied te hanteer – soos hy verantwoordelik gevoel het teenoor God. Hierdie wet het die Lutherse beweging sy eerste regsbestaan gegee en is as ’n triomf vir die Duitse hervormers beskou. Van toe af was Luther egter gebind aan die voorskoot van sy prinslike beskermers. Soos ons sal sien, was hy verplig om kompromie en bedrog te gebruik om in hulle goeie boekies te bly. As gevolg van sy eie stelsel, was hy nie meer toegelaat om die Woord van God “sonder vrees of guns” te verkondig nie. Hy en die Protestantse beweging was onlosmaaklik verbind aan die politiek van hierdie wêreld.

Die keiser het egter spoedig oor al sy vyande geseëvier en die prinse is in 1529 na die Ryksdag van Spires ontbied. Die Katolieke party was nou in die meerderheid en het ’n edik uitgevaardig wat die vordering van die Hervorming in die state wat dit nie aanvaar het nie verbied en volle vryheid verleen aan almal in die hervormde gebiede wat Katolieke gebly het.

Die keurvors van Sakse en verskeie ander prinse het formeel beswaar aangeteken teen hierdie onregverdige uitspraak. Van daardie tyd af was die term Protestant toegepas op die Lutherse party en hulle leerstellings (Fisher, The History of the Christian Church, bl. 304).

Daarna het die ontwikkeling van territoriale kerke ’n gevestigde beleid geword. Duitsland moes tussen die Katolieke gebiede in die suide en die Protestante in die noorde verdeel word.

Waar ’n mens gewoon het, het dikwels sy godsdiens bepaal. Die verspreiding van die Lutherse godsdiens was meer afhanklik van die politiek as van profete.

In die volgende aflewering sal ons die resultaat bespreek – die “vrugte” – van hierdie godsdienstig-politieke beweging. Dan sal ons voortgaan met die opwindende gebeure in ander fases van die Hervorming. Om ons perspektief te behou, behoort ons altyd hierdie vrae in gedagte te hou: Was hierdie beweging gemotiveerd en deur God se Heilige Gees gelei? Was dit ’n ware terugkeer na die “geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is”?

Vir meer antwoorde, moenie die volgende uitgawe se aangrypende aflewering in hierdie belangrike reeks misloop nie!