Die lewe is kort! Dit is baie korter as wat ons gedink het ná ons die eerste keer daarvan bewus geword het dat ons lewens eendag tot ’n einde sal kom. Jong verliefdes droom soms om te trou, kinders groot te maak en saam oud te word. Die realiteit van hierdie laaste fase is egter nie so romanties nie, aangesien die ouderdom ’n aantal probleme en werklikhede daarmee saambring. Een van hierdie werklikhede is dat die lewe inderdaad kort is en die tyd om iets te bereik, uitloop.

Ongelukkig het die meeste mense geen idee wat die doel van hulle bestaan is nie. Vir hulle bestaan die lewe net daaruit om soveel pret en plesier in te pas as wat moontlik is. Hulle dink of weet nie van enige doel aan die anderkant van die graf nie. Min mense vind werklik die konsep van die hemel opwindend. Om egter dit wat hulle geleer het, naamlik om nie hemel toe te gaan nie, te vermy, is die rede waarom baie daartoe gedryf word om hulle opwagting in hulle plek van aanbidding te maak. In werklikheid het hulle ’n “net íngeval” godsdiens, omdat min mense moeite doen om regtig vir ’n hiernamaals voor te berei! Die hier-en-nou geniet voorrang.

Hink op twee gedagtes

Wat van u? Leef u u lewe asof u werklik onsterflikheid nastreef? Op stuk van sake is die hiernamaals ’n realiteit of dit is nie. Daar kan geen ander uitweg wees nie! Dus, wat beteken dit vir u? Leef u u lewe met die opstanding in gedagte of “beoefen” u godsdiens of gaan elke week vir ’n uur kerk toe, net ingeval daar ’n hiernamaals of oordeel van een of ander aard is?

Ek wil u iets vertel wat onlangs gebeur het. Ek het ’n vertoning van Mendelssohn se “Elia”, saam met ’n paar vriende bygewoon en het opgemerk dat ’n paar mense in die gehoor die notas op die program volg. Tensy hulle ore beter as myne was, sou hulle gesukkel het om die storie te volg. Charlotte, Noord-Carolina is in die hart van die Amerikaanse “Bybelgordel” en dit is moontlik dat baie mense ten minste redelik vertroud sou wees met die Bybelse verhaal, maar ek moes wonder: “Hoeveel van die mense verstaan dit werklik?” Blykbaar nie baie nie en hier is waarom ek so sê.

Wat het Elia presies bedoel toe hy gevra het: “Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na” (1 Konings 18:21). Was dit net ’n vraag vir daardie tyd? Iemand kan immers vra: “Wie aanbid Baäl vandag?”

Die New Bible Commentary Revised werp lig op hierdie vraag. “Dit lyk of dit letterlik beteken: ‘Tot wanneer hunker julle tussen twee gedagtes?’ Die sonde van die volk was nie in verwerping van die aanbidding van Yahweh nie, maar omdat hulle probeer het om dit met die aanbidding van Baäl te kombineer. Sodanige samesmelting word altyd as ruimhartig beskou, terwyl die ander kleingeestig is. Yahweh (Here) van Israel maak egter geen voorsiening vir ander gode nie” (Guthrie, Motyer, eds., 1970, bl. 343).

Dit is onbetwisbaar dat vandag se belydende Christendom ’n samesmelting is – ’n vermenging van Bybelse en heidense gebruike. Die gekose dag vir aanbidding kom uit Mithraisme, 'n vorm van sonaanbidding. Die datum wat gekies is om die geboorte van Christus te vier, is die verjaardag van Mithra, die “god” van daardie stelsel. Byna alle Kersversierings is van verskeie heidense gebruike “ontleen”. Die naam “Easter [Paasfees]” kom van die heidense godin van lente en vrugbaarheid, Ishtar – ’n godin wat ook onder ander name bekend is, soos Astarte en Ashtoreth. Hasies en eiers is bekende vrugbaarheidsimbole en het absoluut niks met die kruisiging en opstanding te doen nie. (Om meer oor Kersfees en Paasfees te leer, vra u gratis eksemplare van die boekies aan: Is Kersfees Christelik? asook Paasfees, die storie wat nie vertel is nie).

’n Ander Evangelie?

In vandag se belydende Christendom word duidelike Bybelse opdragte verwerp. Die sewendedag Sabbat, een van die Tien Gebooie, word verwerp net soos die jaarlikse Heilige Dae wat deur Christus, Sy Apostels en die eerste-eeuse Christendom onderhou is. Die misleiding gaan egter veel dieper.

Dit is nie bloot ’n kwessie van die verkeerde dag of verkeerde Heilige Dae nie. Die ware Evangelie wat Christus gebring het, is met ’n ander evangelie vervang. Die ware Jesus Christus sou nie vandag herken word nie en daar is heeltemal ’n ander gees in moderne “Christendom” te vinde as dít wat in oorspronklike Christenskap was (2 Korinthiërs 11:4). Die heidense leerstelling van die onsterflike siel word byna universeel deur Christene aanvaar terwyl die Bybel ons nie so iets leer nie. Inteendeel, dit sê aan ons: “Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word” (1 Korinthiërs 15:53). Hierdie vals onsterflike siel leerstelling is teenstrydig met Romeine 6:23: “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.” Ja, wat ons deur die sonde verdien, is die dood, nie ewige lewe in die helse vuur nie. Die ewige lewe is nie iets wat ons alreeds het nie, maar dis ’n “gawe van God” en daar is nog baie, baie meer.

Verstaan mense dit? Blykbaar nie! Die mense van Elia se tyd het dit nie begryp nie en mense van vandag is nie anders nie. Dit lyk of feite nie saak maak nie. Mense gaan voort om God op ’n manier te aanbid wat Hom mishaag, omdat hulle nie vir Sy Woord bewe nie. Die blote gedagte aan bewe vir Sy woord is vreemd en klink hardvogtig. Tog stel God ons deur Sy profeet Jesaja in kennis: “Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord ... so sal Ek ook hulle ongeluk verkies en wat hulle met skrik vervul, oor hulle laat kom; omdat Ek geroep en niemand geantwoord het nie, Ek gespreek en hulle nie gehoor het nie; maar hulle het gedoen wat verkeerd is in my oë, en verkies wat My nie behaag nie” (Jesaja 66:2-4).

Mendelssohn plaas Elia en die dienaar van die koning in rolle as getuies teen die mense; en God het deur die eeue mense geroep om sulke rolle te vervul. Daar sal in die toekoms ’n dag kom wanneer twee individue deur God bemagtig sal word om op wonderbaarlike maniere teen ons opstandige wêreld te getuig. Daar word in Openbaring 11 vertel: “En Ek sal aan my twee getuies gee dat hulle, met sakke bekleed, duisend-tweehonderd-en-sestig dae lank sal profeteer ... Hulle het mag om die hemel te sluit, sodat daar in die dae van hulle profesie geen reën val nie; en hulle het mag oor die waters, om dit in bloed te verander en om die aarde te tref met allerhande plae so dikwels as hulle wil” (verse 3, 6).

Die rol wat hierdie twee persone sal speel, vergelyk met dié van die profete van ouds wat wonderwerke verrig het en die nasies gemaan het om hulle te bekeer. Ongelukkig herinner die verhaal van antieke Israel ons daaraan dat selfs in die teenwoordigheid van goddelike wonderwerke en vertoning van God se mag, baie mense hulle nie regtig sal bekeer en verander nie. Selfs wanneer hulle dit doen, keer hulle uiteindelik weer terug na ou, gemaklike en sondige gewoontes. Die geskiedenis boekstaaf dat dit beslis waar was van antieke Israel, wat keer op keer gewaarsku is oor die gevolge van hulle keuses, maar nooit die geheelbeeld gesien het nie.

Net soos antieke Israel dit nie verstaan het nie, begryp mense dit ook nie vandag nie! Sommige mense word mislei om in ateïstiese evolusie te glo. Andere het in nie-Christelike kulture grootgeword. Diegene wat egter grootgeword het in wat hulle glo Bybelgebaseerde godsdienste is, is ook mislei. Hulle is mislei om te dink dat hulle heidense leerstellings en gebruike met dié van die Bybel kan vermeng. God is vandag nie meer tevrede as wat Hy was toe Agab en Isébel die aanbidding van Baäl met dié van die ware God vermeng het nie.

Dit berus werklik by u. Indien daar lewe na die dood is, maak die keuses wat u nou maak wel saak. Dit maak weliswaar nie saak wat u buurman doen nie. Begryp u dit? Indien wel, wat doen u daaromtrent? Sal u voortgaan om “Baäl-aanbidding” met die aanbidding van die ware God te vermeng of het u die moed om u lewe te verander en ander mense te vind wat nie die knie voor Baäl buig nie? Indien u belangstel in ’n ontmoeting met sulke mense, kontak ons asseblief by u naaste streekkantoor, soos op bladsy 2 van hierdie tydskrif aangedui word.