Dit kom. Dit kom gou. U Bybel toon duidelik dat ’n vlaag valse profete teen die einde van hierdie tydperk te voorskyn sal kom!

Hierdie eiesinnige, verwaande mense mag selfs die lewens van duisende van u, Wêreld van Môre-intekenaars, beïnvloed indien u hulle toelaat. Ons in hierdie Werk leer u herhaaldelik die lewensweg wat Jesus Christus aan Sy eie dissipels geleer het. Ons stuur – heeltemal gratis – miljoene tydskrifte en boekies uit wat die Tien Gebooie verduidelik en hoe om dit met God se hulp te gehoorsaam. Ons het u herhaaldelik aangemoedig om die “Oorspronklike Christenskap” van Jesus Christus en die Apostels aan te neem – alles op gehoorsaamheid aan die wet van die liefde en die weg van God geskoei.

Ondersoek hulle vrugte!

Menige valse leraars sal mettertyd te voorskyn kom en probeer om opregte mense van die ware Werk van God te distansieer. Dit was nog altyd so. Die apostel Paulus moes die ouderlinge van Korinthe waarsku: “Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan” (Handelinge 20:29-30). Jesus Self waarsku ons: “Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ’n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie! So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken” (Matthéüs 7:15-16, 20).

Dink!

Wat is die “vrugte” – die gevolge – van opregte mense wat geleer word om die voorbeeld van Christus en die oorspronklike Apostels te volg? Dit is mense wat werklik probeer om mekaar lief te hê en te dien. Dit is mense wat die Skepper-God liefhet en Sy weeklikse Sabbatte en Sy jaarlikse Heilige Dae vreugdevol onderhou – deur Christus wat in hulle leef. Hulle wandel volgens die weg van die Tien Gebooie.

In teenstelling hiermee, wanneer ’n gees van twyfel en moedeloosheid onder God se mense gesaai word, dikwels oor geringe en omstrede “tegniese punte” aangaande profesie of chronologie, is die “vrugte” nie goed nie. Paulus waarsku Timótheüs om “die gesonde leer” te beklemtoon en sê hom aan om in Éfese te “wag om sekere persone te beveel dat hulle geen ander leer moet leer nie, en hulle nie besig hou met fabels en eindelose geslagsregisters nie, wat net twisvrae bevorder meer as stigting van God wat in die geloof is. Maar die doel van die gebod is liefde uit ’n rein hart en ’n goeie gewete en ’n ongeveinsde geloof” (1 Timótheüs 1:3-5).

Liefde en nederigheid in teenstelling met eiesinnigheid en trots

Alle ware leerstellings kom terug na God se Gebooie wat op liefde (vers 5) en diens gebaseer is. Alle ware leraars van Jesus Christus beklemtoon daardie benadering – daardie lewensweg. Ware dienaars van Christus sal hulleself verootmoedig en op elke moontlike manier probeer om God se mense aan te moedig en te dien. In die apostel Petrus se brief soos dit in die Bybel opgeteken is, sê hy aan die ouderlinge dat hulle nie oor die gemeente toesig behoort te hou “as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde” (1 Petrus 5:3). Petrus gaan verder voort: “Net so moet julle, jongeres, aan die oueres onderdanig wees; en wees almal met ootmoed bekleed in onderdanigheid aan mekaar, want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade. Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd” (verse 5-6).

Terug in die tyd van die Apostels het een van die oorspronklike valse apostels begin om mense te mislei. U Bybel toon aan dat dié man daarop aanspraak gemaak het “dat hy iets besonders was” (Handelinge 8:9). Uiteindelik sal die finale groot opstand teen God deur ’n verwaande koppige man gelei word, “die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thessalonicense 2:4).

Pasop wanneer enige individu dus probeer om homself “aan te stel” as ’n “apostel” of om homself as ’n “profeet” te verklaar! God waarsku ons herhaaldelik: “Wie homself verhoog, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhoog word” (Matthéüs 23:12; sien ook Lukas 14:11; 18:14).

Nie een van ons in hierdie Werk wat die Tomorrow’s World televisieprogram en hierdie tydskrif aan u bring het al ooit probeer om homself as ’n “profeet” of ’n “apostel” te verklaar nie. Die Woord van God beskryf die “tekens” van ’n apostel as “tekens en wonders en kragtige dade” (2 Korinthiërs 12:12). Niemand wat vandag leef, kon nog ooit daardie tipe “tekens” wat op ware Apostelskap of Profeetskap dui, teweegbring nie!

Aankoms van die “mens van sonde”

Ten slotte wil ek u almal in die Naam van Jesus Christus, ten sterkste waarsku dat daar aan die einde van hierdie tydperk, ’n “mens van sonde” sal wees (2 Thessalonicense 2:3). Hy sal kragtige “tekens” uitvoer en dit gebruik om miljoene verwarde mense gedurende die leeftyd van die meeste van u te mislei! God het die apostel Johannes geïnspireer om hierdie man as “’n ander dier” te beskryf (Openbaring 13:11). Hierdie man sal die krag van die herrese Romeinse Ryk gebruik, maar hy sal nie die Ryk se politieke of militêre leier wees nie. Hy sal ’n magtige godsdienstige figuur wees wat miljoene mense sal mislei! Johannes beskryf hom: “Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. En hy verlei [mislei] die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle ’n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het” (verse 13-14).

“Vuur uit die hemel” in ons moderne tyd?

Ja! Dit sal heel waarskynlik vir etlike jare nie gebeur nie, maar dit sal nog gedurende die leeftyd van baie van u plaasvind!

Let daarop dat God sê dat hierdie toekomstige godsdienstige leier die een sal wees wat “die bewoners van die aarde” sal verlei (vers 14) deur skouspelagtige wonderwerke te verrig. Onthou die waarskuwing van God se Woord: “En as hulle vir julle sê: Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê, wat piep en mompel – moet ’n volk nie sy God raadpleeg nie; moet vir die lewendes die dooies gevra word? Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ’n volk wat geen dageraad het nie” (Jesaja 8:19-20). Die “sleutel” is om u te distansieer van enige verklaarde apostel of profeet wat daarop uit is om u van God se Wet of Sy Werk weg te lei soos herhaaldelik deur Christus en die Apostels verkondig is.

Maak dus seker dat u God se bevel gehoorsaam: “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ’n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny” (2 Timótheüs 2:15). Wanneer u gevoed word deur Christus” en Sy Woord indrink – wat die denke van God openbaar – sal dit werklik moeilik wees om u te mislei! Soos Jesus sê, behoort ons altyd na die “vrugte” te kyk. Is ’n beweerde profeet of apostel werklik nederig in sy poging om sy medemens te dien en te onderrig in die lewensweg wat op die Tien Gebooie en die Bergpredikasie gebaseer is? Is hy moontlik net daarop ingestel om “volgelinge te versamel” en mense na idees en konsepte te lei wat nie Bybels is nie of wat eenvoudig nie ter sake is nie? Onderrig en beoefen hy die weg van vrywillige dienslewering en nederigheid soos die voorbeeld wat Jesus Christus gestel het of word sy leerstellings gebruik om homself te verhef?

Ter wille van u ewige lewe, onthou altyd die apostel Paulus se pragtige een-vers beskrywing van ware Christenskap: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in [van] die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Galásiërs 2:20). Voordat u die leerstellings van een of ander “profeet” of “apostel” aanvaar, vra uself af: “Word ek deur hom beïnvloed om die ware Christus van die Bybel deur die Heilige Gees Sy lewe in my te laat leef of ontbreek daar iets?”

Wat “ontbreek” kan die verskil wees tussen die ewige lewe en die ewige dood! Soos Jesus Christus beveel: “Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie” (Openbaring 3:11).