Ons weet dat moeilike tye vir die wêreld voorlê. ’n Glansryke beloning wag egter op diegene wat op God vertrou, aan Hom gehoorsaam is en tot die einde toe volhard!

Wanneer die hoefslae van die vier ruiters nog vars in die geheue van ’n oorloggeteisterde mensdom is, sal Christus op Sy wit perd terugkeer om ’n sterwende mensdom van die gevolge van hulle eie dwaasheid te red. Sal u daar wees? Sal u by Hom wees?

Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ’n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid Openbaring 19:11.

Byna 2,000 jaar gelede het Jesus se dissipels Hom gevra wat die teken van Sy Wederkoms sou wees en die voleinding van die wêreld. Watter tekens en profetiese tendense het Jesus in reaksie daarop genoem? Ons behoort te weet wat die Bybel sê!

Deur die eeue heen het baie mense voorspellings gemaak en datums vasgestel in afwagting op Jesus Christus se Wederkoms. Tot dusver het almal misluk. Beteken dit dat Jesus nie weer sal terugkom nie? Nee, dit is nie só nie! Sedert Adam en Eva se tyd het die mensdom vals profesieë geglo wat deur bedrieërs en huigelaars verkondig is. Dit is egter elke keer bewys dat die profesieë in u Bybel geldig is!

Meer as 100 profesieë in die Ou Testament voorspel Jesus Christus se geboorte. Onder hulle is Jesaja se profesie dat die Messias ’n afstammeling van koning Dawid, die seun van Ísai, sou wees (Jesaja 11:1), dat die Messias uit ’n maagd gebore sou word (7:14), dat Hy in Galiléa sou woon (9:1-2), dat Sy opdrag nie-Joodse nasies sal insluit (42:1-4) en dat Hy saam met goddelose mense sou sterf (53:9). Ander profesieë voorspel dat Hy in Bethlehem gebore sou word (Miga 5:1), dat Hy vir 30 silwerstukke verraai sou word (Sagaria 11:12-13), dat Hy Jerusalem op ’n esel sou binnegaan (9:9) en dat Hy soos ’n herder sou wees wat geslaan is (13:7).

Daardie profesieë is vervul. Dieselfde Bybel wat Jesus se eerste koms voorspel het, voorspel ook Sy Wederkoms. Talle gedeeltes in die Ou- en die Nuwe-Testamente profeteer Jesus Christus se Wederkoms. Kyk na wat Jesus Self gesê het: “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Johannes 14:1-3).

Jesus se eie woorde

Waarom faal so baie mense daarin om Jesus se eie woorde te glo? Hy het gesê: “... sal ek terugkom”. Die profeet Sagaria vertel ons selfs waar Hy sal terugkeer: “En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ’n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide” (Sagaria 14:4).

Die Olyfberg is net oos van die Tempelberg in Jerusalem. Op die suidoostelike helling is ’n ou pad wat na die dorp van Betánië lei. Jesus het saam met Maria, Martha en Lasarus en Sy dissipels tyd daar deurgebring. My vrou en ek het daardie selfde pad van Betánië af na die Olyfberg gestap. Dit het ons ongeveer ’n half-uur geneem.

Wanneer Jesus na die Olyfberg terugkeer, sal daar ’n massiewe aardbewing wees en die berg sal in twee verdeel word. Let op die tydsbepaling: “Kyk, daar kom ’n dag vir die Here; dan sal wat van jou buitgemaak is, binne-in jou verdeel word, o Jerusalem! Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem” (Sagaria 14:1-2). Die leërs van die wêreld sal by Megiddo bymekaar kom en na Jerusalem afgaan om teen Christus te veg met Sy Wederkoms. Openbaring 16:14 noem dit “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” – meer algemeen bekend as “Armagéddon”.

Die boek Handelinge bevestig ook Christus se Wederkoms. In Handelinge 1 het die dissipels Jesus se hemelvaart aanskou. “En toe hulle nog stip na die hemel kyk terwyl Hy weggaan, staan daar twee manne in wit klere by hulle, wat sê: Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het. Daarop draai hulle om na Jerusalem van die berg af wat genoem word Olyfberg, wat naby Jerusalem is, ’n sabbatsreis ver” Handelinge 1:10-12).

Hier het ons drie duidelike skriftuurlike verwysings oor die Wederkoms van Christus gesien – daar is nog baie meer. Onthou die aankondiging van die sewende basuin: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15).

Let ook op hierdie gedeelte uit Openbaring 19: “En Hy was bekleed met ’n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En uit sy mond gaan daar ’n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ’n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here” (Openbaring 19:13-16).

Jesus het gesê dat voor Sy Wederkoms daar vals godsdienste en vals tekens en wonders sal wees wat baie mense sal mislei. Hy het gesê: “Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei” (Matthéüs 24:24). Daar sal kragtige godsdienstige misleidings wees. Nie net ’n paar nie, maar baie mense sal deur vals godsdienste mislei word – selfs valse Christelikheid.

Word u mislei?

Hoe kan u weet wat is waar en wat is vals? U behoort alles wat ons en alle predikers sê, na te gaan deur u Bybel te lees! In gebed tot die Vader, het Jesus gesê: “Heilig hulle in u waarheid. U woord is die waarheid” (Johannes 17:17). God se Woord, die Bybel, is die waarheid! Baie mense aanvaar sonder om seker te maak dat hulle leraar of priester uit die Bybel preek. Baie leerstellings wat gewoonlik as “vanselfsprekend aanvaar word”, is egter nie in u Bybel nie! U behoort aan uself te bewys wat die Bybel sê. Onthou: “Beproef [NV sê ‘toets’] alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21).

U hoef nie mislei te word nie. Jesus Self gee die profetiese tendense en tekens wat Sy Wederkoms sal voorafgaan. U behoort te weet wat dit is. Een van die tekens voor Christus se Wederkoms sal die opkoms van ’n kragtige vals godsdiens met ontsaglike invloed wees. U kan van daardie stelsel lees, wat in Openbaring 17 as “die groot hoer”, bestempel word. Die vals profeet, oor wie die apostel Paulus geskryf het, sal daardie stelsel lei. U kan van die “mens van sonde” in 2 Thessalonicense 2:3 lees. Vir meer besonderhede oor hierdie profeties beduidende saak, kontak ons streekkantoor wat die naaste aan u is (gelys op bladsy 2 van hierdie tydskrif) om u gratis eksemplaar van ons boekie, Wie of Wat is die Antichris? aan te vra.

’n Ander spesifieke teken waarvan Jesus gesê het ons op die uitkyk behoort te wees, is ’n toekomstige ontheiliging van die heilige plek in Jerusalem. Jesus sê: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom – laat hy wat lees, oplet – dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug” (Matthéüs 24:15-16). Let daarop dat die groot valse profeet, die man van sonde, die tempel van God sal ontheilig. Hierdie “gruwel van die verwoesting” is een van die tekens wat Jesus gesê het Sy Wederkoms sal voorafgaan.

Watter ander tekens sal Christus se Wederkoms voorafgaan? Jesus waarsku ons in Matthéüs 24:7 dat daar “aardbewings op verskillende plekke” sou wees. Hoe kragtig kan aardbewings wees? Die geskiedkundige Mississippi Vallei-aardbewing wat op 16 Desember 1811 naby New Madrid, Missouri plaasgevind het, het werklik die loop van die Mississippi-rivier omgekeer! In Julie 1976 het soveel as 779,000 mense in die Tangshan-aardbewing in China gesterf. In die Desember 2004 Sumatra-aardbewing en gevolglike tsoenami het meer as 230,000 mense gesterf. In Januarie 2010 het meer as 220,000 mense in ’n aardbewing van 7,0 gesterf, meer as 300,000 mense is beseer en soveel as ’n miljoen Haïtiane is haweloos gelaat. So moeilik as wat dit is om daaraan te dink, openbaar die Skrif dat daar selfs nog kragtiger aardbewings in die toekoms sal wees, selfs in streke waar dit nog nie voorheen ervaar is nie.

Die boek Openbaring maak melding van verskeie kragtige aardbewings. Na twee-en-’n-half jaar van die Groot Verdrukking waarvan Jesus in die Olyfbergpredikasie gespreek het, lei die hemelse tekens – die sesde seël van Openbaring – die Dag van die Here in. Let op wat gebeur: “En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ’n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ’n harige sak, en die maan het geword soos bloed” (Openbaring 6:12).

Hierdie aardbewing, saam met die astronomiese natuurverskynsels, lei die Dag van die Here in – die jaar wat Christus se Wederkoms voorafgaan. “[E]n die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ’n vyeboom wat deur ’n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos ’n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit; en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Openbaring 6:13-17). Ja, die aarde sal in beroering wees gedurende die Dag van die Here wat hier beskryf word as “die groot dag van sy toorn”. Dit sal ’n tyd van God se oordeel oor die nasies wees.

God se waarskuwing

Let op na wat God sê met die aarde en die hemel sal gebeur. Die skrywer van Hebreërs gee aan ons opdrag: “Pas op dat julle Hom wat spreek, nie afwys nie; want as húlle nie ontvlug het nie wat Hom afgewys het toe Hy op aarde ’n goddelike waarskuwing gegee het, veel minder óns wat ons van Hom afkeer nou dat Hy uit die hemele spreek. Toe het sy stem die aarde geskud; maar nou het Hy belowe en gesê: Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe. En hierdie woord: nog een maal, wys duidelik op die verandering van die wankelbare dinge as geskape dinge, sodat die onwankelbare kan bly. Daarom, omdat ons ’n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees. Want onse God is ’n verterende vuur” (Hebreërs 12:25-29).

Ons Vader in die hemel wil die beste vir elkeen van ons hê. Hy gee aan die vleeslike mensdom 6,000 jaar en Hy gee aan elkeen van ons individueel ’n leeftyd om te leer. Indien ons op God se waarskuwings ag slaan, kan ons die verskriklikste straf wat nog op ons Westerse nasies en uiteindelik op die hele wêreld uitgestort sal word, vryspring.

Droogte is nog ’n tendens waaroor die Bybel ons waarsku. Wêreld temperature is besig om op dramatiese wyses te verander. Australië het onlangs uit sy ergste droogte in meer as 100 jaar gekom en sommige kenners voorspel ’n voortdurende herhaling van droogtes oor die volgende 20 tot 30 jaar. “Droogtes kan die land twee keer so dikwels as nou tref, ’n gebied twee keer so groot dek en erger wees in sleutel landbouproduksie areas” volgens ’n verklaring wat uitgereik is deur Australië se Buro van Meteorologie en CSIRO (Commonwealth Scientific and Industrial Research Organization).

Tans ondervind die westelike kus van die Verenigde State ongekende droogte, met ernstige waterrantsoenering wat veroorsaak dat die welige groen Kalifornië bruin word. Dele van Texas wat reeds lank onder ernstige droogte gebuk gaan, sit nou met ’n probleem wat algemeen is in gebiede waar reën tydens droogte val – die erge oorstromings wat plaasvind wanneer die verskroeide land nie die water wat daarop val kan absorbeer nie.

Tensy ons heelhartig na God draai, sal ons wêreld selfs nog ernstiger weerverwante uiterstes ervaar. Die Skepper God het hierdie waarskuwing deur die profeet Amos gegee: “Alhoewel Ék die reën van julle teruggehou het toe dit nog drie maande voor die oestyd was en op die een stad laat reën maar op die ander nie laat reën het nie, die een stuk land reën gekry het, maar die ander waarop geen reën geval het nie, verdor het; en twee, drie stede na een stad geslinger het om water te drink sonder om die dors te les – nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die Here” (Amos 4:7-8).

Ongelooflik soos dit mag lyk, verkondig sommige denominasies nou dat die “laaste dae” wat in die Skrif vermeld word, vir “twee jaar of tweeduisend jaar of twee miljoen jaar mag voortduur”. Die implikasie is dikwels: “Moenie Bybelprofesie bestudeer nie, dit is net ’n afleiding”. Sulke verklarings ignoreer die ware opdragte van ons Verlosser. Net nadat Jesus van Sy Wederkoms gepraat het, sê Hy: “En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is. So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur” (Matthéüs 24:32-33)! Jesus verwag van Sy ware volgelinge om kennis te dra van hierdie tekens.

Oorlog en wêreldvernietiging

Jesus het voorspel dat voor Sy Wederkoms, daar “oorloë en gerugte van oorloë” sal wees (Matthéüs 24:6). Skeptici en spotters mag uitwys: “Daar was nog altyd oorloë!” Inderdaad, die mensdom het selde vrede geken; dit is bekend dat die geskiedkundiges Will en Ariel Durant in hulle boek van 1968, The Lessons of History, sê: “In die laaste 3,421 jaar van opgetekende geskiedenis het slegs 268 jaar geen oorlog gesien nie” (bl. 81). In ons moderne tye is daar egter ’n verskil – net in die laaste 70 jaar of so beskik die mensdom oor die tegnologie, deur kern-, chemiese- en biologiese wapens, om alle lewe op die planeet Aarde te vernietig. Wanneer u die beskrywings van eindtydse oorlogvoering in die boek van Openbaring lees, sien u dat in die eindtyd, oorloë nie net streekverwant sal wees nie; die hele wêreld sal betrek word.

Ja, daar was nog altyd spotters, maar dit is nou die tyd om wakker te word en aandag te skenk aan wat in die wêreld gebeur. God het met die profeet Eségiël oor die skeptici en spotters gepraat. “Mensekind, wat is dit vir ’n spreekwoord wat julle het in die land van Israel, naamlik: Die dae gaan voort, en van al die gesigte kom niks nie” (Eségiël 12:22). Wat sê God oor die mens se skeptisisme? “Daarom, sê vir hulle: So spreek die Here Here: Ek maak ’n einde aan hierdie spreekwoord, sodat hulle dit nie meer as spreekwoord in Israel sal gebruik nie. Maar sê vir hulle: Die dae is naby, en die woord van elke gesig” (vers 23).

Die tyd kom wanneer God meer dramaties as ooit tevore sal ingryp. Wetenskaplikes, staatsmanne en wêreldleiers het ons gewaarsku aangaande die baie gevare wat lewe op die aarde kan beëindig. Daardie waarskuwings het nie van godsdienstige mense gekom nie, maar van kundiges wat vertroud is met die werklikhede van ons moderne wapens van massavernietiging en die geskiedenis van die menslike natuur. Die belangrikste waarskuwing kom egter van die Verlosser van die wêreld, Jesus Christus. Hy het gesê: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Matthéüs 24:21-22).

Dank God dat daardie dae verkort sal word. Jesus Christus sal terugkeer om die mensdom van selfvernietiging te red. Hy sal die Koninkryk van God op aarde inlei. Al die nasies sal uiteindelik die ware manier na blywende vrede, voorspoed en versoening aanleer. Jesus sê aan ons “Waak dan en bid altyddeur” (Lukas 21:36). Mag ons almal geestelik waaksaam wees vir die tekens van Jesus Christus se Wederkoms. Dan kan ons met vertroue, hoop en geloof na Sy Wederkoms uitsien. Dank God dat Sy Koninkryk gaan kom. Dank God dat Jesus Christus binnekort sal terugkeer om ons te red!