VRAAG: Verbied of ontmoedig die Bybel Christene om alkoholiese drank te drink?

ANTWOORD: Het Jesus toe Hy Sy heel eerste openbare wonderwerk in Kana verrig het en “sy heerlikheid geopenbaar” het, sommer net druiwesap gemaak? (Johannes 2:11). Indien die troue in Kana volgens Joodse gebruik gehou is, sou die gaste beslis gefermenteerde wyn by die bruilof gedrink het. Nadat die gaste se wyn gedurende die feestelikheid opgeraak het, het Jesus hulle gehelp deur die water te verander in wat die Skrif “wyn” noem. Indien Jesus vir die gaste druiwesap gemaak het, sou hulle nooit aan die bruidegom die volgende gesê het wat in die Skrif opgeteken is nie: “Elke mens sit eers die goeie wyn op en, wanneer hulle goed gedrink het, dan die slegste; maar u het die goeie wyn tot nou toe bewaar” (Johannes 2:10).

Die Griekse woord wat Johannes vir wyn gebruik het is oinos en dit beteken altyd die gefermenteerde sap van die druif. Die Bybel lys 13 Hebreeuse en Griekse woorde vir “wyn”. Deur die gebruik van die woorde te vergelyk, kan ons die Skriftuurlike betekenis van wyn vind. Die woord wyn word die eerste keer in die Ou Testament in Genesis 9:21 gebruik. Noag het “... van die wyn gedrink en hy het dronk geword”. Die Hebreeuse woord wat hier gebruik word is yayin. Hierdie wyn het gemaak dat Noag dronk word”. Yayin beteken altydgefermenteerde wyn. God Self het wyn aan Abraham, die vader van die gelowiges, gegee. “En Melgisédek, die koning van Salem, wat ’n priester van God, die Allerhoogste, was, het brood en wyn [yayin] gebring” (Genesis 14:18). Ons behoort daarop te let dat Melgisédek dieselfde Geestelike Wese is wat later uit die Heilige Gees en Maria gebore is om Jesus die Christus te word, die God van die Ou Testament. Indien u nie met Melgisédek se identiteit vertroud is nie, skryf asseblief aan die streekskantoor naaste aan u (gelys op bladsy 2 van hierdie tydskrif) en vra gerus u gratis eksemplaar aan van ons herdrukte artikel, Wie is die God van die Ou Testament?

Die sinsnede “vrug van die wynstok” word net drie keer in die Bybel gebruik – Mattheüs 26:29; Markus 14:25 en Lukas 22:18 – in ’n verwysing na die Pasgadiens wat Jesus ingestel het op die aand voor hy gesterf het. Pasga word in die lente, herfs in Suid-Afrika, lank voor die jaarlikse druiwe-oes herdenk, dus sou enige “vrug van die wynstok” wat op daardie aand gebruik sou word, gegis moes wees, aangesien druiwesap lankal bederf sou wees in die houers wat in Jesus se tyd vir opberging gebruik is. Sommige mense beweer spottender wyse dat die produk wat gebruik was, “molasse” was – nog ’n manier om druiwe te bewaar sonder om wyn te maak. Dit maak nie sin nie, want soos ons kan onthou, was dit ’n maaltyd en Jesus en Sy dissipels sou nie molasse saam met hulle ete drink nie.

Dieselfde Griekse woord, oinos, wat in Johannes 2:3-10 gebruik word, word ook in Efesiërs 5:18 gebruik: “Moenie dronk word van wyn nie – daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul”. Druiwesap veroorsaak nie “losbandigheid” nie. Let ook op die beskrywing van die Apostels op die dag van Pinkster: “Maar ander het gespot en gesê: Hulle is vol soetwyn [oinos]” (Handelinge 2:13): Verder: “Dit is goed om geen vleis te eet of wyn [oinos] te drink of iets te doen waardeur jou broeder aanstoot neem of struikel, of waarin hy swak is nie” (Romeine 14:21). Paulus skryf aan Timótheüs: “’n Ouderling moet onberispelik wees, getrou aan sy vrou, nugter, verstandig, beskaaf, gasvry en bekwaam om te onderrig; hy moenie aan drank verslaaf of ’n rusiemaker wees nie, maar inskiklik, vredeliewend en nie geldgierig nie” (1 Timótheüs 3:2-3 NV). Wanneer ons “druiwesap” in hierdie konteks gebruik, sou die verse nie sin maak nie.

Nadat Paulus aan Timótheüs die medisinale waarde van wyn verduidelik het, skryf hy: “Moenie langer water alleen drink nie, maar gebruik ’n bietjie wyn ter wille van jou maag en jou herhaalde ongesteldhede” (1 Timótheüs 5:23). Weereens, die Griekse woord wat gebruik word is oinos, gefermenteerde wyn, nie druiwesap nie. Soos u kan sien, terwyl die Bybel dronkenskap veroordeel, leer die Skrif ons ook dat dit aanvaarbaar is om alkohol matig te gebruik.