V: Die apostel Paulus het geskryf: “Aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde” (Romeine 3:20). Beteken dit dat Christene nie nodig het om God se wet te onderhou nie?

A: Paulus herinner ons dat selfs die waaksaamste wetsonderhouding nie ’n Christen in God se oë kan regverdig nie. Slegs ons aanvaarding van Jesus Christus se offer en Sy gestorte bloed, kan boet vir ons sondes en ons tot God regverdig.

Ons weet “almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (vers 23). Selfs indien ons van vandag af vir die res van ons lewens op ’n manier die Wet volmaak kon onderhou, sal ons perfekte onderhouding van die gebooie nie kan betaal vir al die sondes van die verlede nie. Ons het Christus se offer nodig.

Wat is sonde? “Sonde is immers oortreding van die wet van God” (1 Johannes 3:4, NV). Wat is die gevolge van sonde? Die Woord sê: “Want die loon van die sonde is die dood” (Romeine 6:23). Danksy die Wet weet ons wat sonde is, maar slegs deur Christus se offer kan die straf van daardie sonde verwyder word.

Beteken dit dat ons kan voortgaan om ongehoorsaam te wees aan God se Wet en steeds verwag om ’n plek te hê in God se Koninkryk? Paulus vra: “Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?” (verse 1-2). Paulus herinner eerder dat ons “ook so in ’n nuwe lewe kan wandel” (vers 4).

Jesus onderrig ons duidelik dat ons die Tien Gebooie moet onderhou (Mattheus 19:17-19). Onthou dat Jesus sê: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul” (Mattheus 5:17). “Vervul” – volbring – beteken nie om te “elimineer” of te “kanselleer” nie. Christus se volgelinge onderhou die Wet. Kan ons dit doen deur ons eie krag? Nee! Ons gehoorsaam die Wet deur onderwerping aan Jesus Christus, wie in ons leef na die doop en oplegging van hande en deur die inwoning van die Heilige Gees. Soos Paulus skryf: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in [“van” is ’n beter vertaling] die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het. Ek verwerp nie die genade van God nie; want as daar geregtigheid deur die wet is, dan het Christus tevergeefs gesterwe” (Galasiërs 2:20-21). Ware Christene “verwerp nie die genade van God” deur onderwerping aan sonde of om die Wet te probeer hou deur hulle eie krag, afgesonder van God nie. Jesus onderrig Sy dissipels: “As julle My liefhet, bewaar my gebooie” (Johannes 14:15). Sal ons soms misluk? Ja. Wanneer ons egter misluk, sal ons voor ons Verlosser kom en ons opreg bekeer, mits ons Hom waarlik liefhet en ons aan Hom onderwerp. Bekering is nie net ’n gevoel van berou nie; dis ’n doelbewuste besluit om weg te draai van sonde en om ons geliefde Verlosser te gehoorsaam (2 Korintiërs 7:10).

Hoe weet ons dat ons ware Christene is? Die apostel Johannes verduidelik: “En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar. Hy wat sê: Ek ken Hom – en sy gebooie nie bewaar nie – is ’n leuenaar en in hom is die waarheid nie. Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het” (1 Johannes 2:3-6).

Indien Christus Sy lewe in ons leef en ons in Hom, sal ons God se gebooie onderhou. Ons sal dan die Wet vervul, wat God se liefde toon: “Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet” (Romeine 13:10). “Die werke van die wet” is die gevolg van ’n lewe onderworpe aan Christus; dit is nie ’n oorsaak van ons regverdiging nie.