Vraag: Baie mense glo dat 'n mens se siel of gees van die liggaam geskei kan word en dan na veraf plekke buite die liggaam se bereik kan reis. Dit is nie net 'n “New Age” of “Oosterse” godsdiens-opvatting nie; selfs party mense wat hulself Christene noem glo in “astrale projeksie” of “buite-liggaamlike ervarings”. Onderrig die Bybel in 2 Korinthiërs 12:2-4 dat 'n mens se siel en gees buite die liggaam kan funksioneer?

Antwoord: 
Baie mense het stories vertel dat hulle 'n “buite-liggaamlike ervaring” gehad het gedurende operasies of dat hulle “astrale projeksie” beoefen (waarin die siel kwansuis na veraf plekke reis terwyl die liggaam agterbly). Het die apostel Paulus 'n soortgelyke ervaring beskryf? Die antwoord kan u moontlik verras!

In 2 Korinthiërs 12:2-4, soos in die voorafgaan-de twee hoofstukke, het Paulus sy eie ervarings as leraar van die ware evangelie beskryf. Hy skryf: “Ek weet van 'n man in Christus, veertien jaar gelede – of dit in die liggaam was, weet ek nie, of buite die liggaam, weet ek nie, God weet dit – dat so iemand weggeruk is tot in die derde hemel. En ek weet van so 'n man – of dit in die liggaam of buite die liggaam was, weet ek nie, God weet dit – dat hy weggeruk is in die Paradys en onuitspreeklike woorde gehoor het wat 'n mens nie mag uitspreek nie.”

Dit is belangrik om daarop te let dat Paulus in die vorige vers (vers 1), verduidelik dat hy “tot gesigte en openbaringe” van die Here kom. Die woord wat as “gesigte” vertaal is, is in die Grieks optasia, wat beteken “'n gesig of visioen wat aan iemand voorgehou word, hetsy wanneer hy/sy wakker is of slaap”. Die woord wat as “openbaringe” vertaal is, is die Griekse woord apokalupsis wat beteken “om bloot te lê, om die waarheid te onthul, opdrag aangaande dinge wat voorheen onbekend was”. In hierdie verse erken Paulus dat hy nie fisiese ervarings oorvertel het nie.

Het Paulus egter 'n buite-liggaamlike ervaring beskryf? Hy vertel ons dat sy fisiese ervaring so intens was dat hy nie kon sê of dit 'n blote visioen in sy gedagtes was, en of hy werklik hemel toe geneem is nie. Hoewel Paulus aan die begin van 2 Korinthiërs 12 duidelik oor visioene praat, het hierdie bepaalde visioen so werklik gevoel dat hy nie in staat was om te verduidelik wat gebeur het nie, behalwe dat hy gevoel het of hy “buite die liggaam” was. Paulus het egter nie sy eie gevolgtrekking gemaak nie; hy sê eenvoudig – twee keer – “God weet [nie Paulus nie]” wat die aard van sy geestelike visioen van die Paradys was.

Nog 'n soortgelyke teksgedeelte kan ons help om Paulus se woordkeuse in sy gepaste konteks te beskou. Hy skryf aan die Kolossense: “Want al is ek ook na die vlees afwesig, tog is ek by julle in die gees” (Kolossense 2:5). Het Paulus die Kolossense vertel dat hy sy liggaam verlaat het om by hulle te wees? Natuurlik nie!

Die Bybel help ons gedeeltelik verstaan wat Paulus se visioen nié was nie. Die apostel Johannes herinner ons: “En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is” (Johannes 3:13). Johannes het daardie woorde ná Christus se opstanding geskryf. Het Paulus werklik tydens sy visioen na die hemel opgevaar, sou Johannes se woorde nie waar gewees het nie. Paulus het eerder 'n visioen ervaar, soortgelyk aan die visioen waarvan in Mattheus 17:1-9 vertel word. In daardie Skrifgedeelte is die woord wat Jesus vir “visioen” gebruik horama – 'n gesig wat goddelik verleen word in 'n ekstase of in 'n slaap. Onthou: Toe die dissipels hierdie ervaring gehad het, het nóg Moses nóg Elia na die hemel opgevaar. Soos Paulus se ervaring, was dit duidelik 'n visioen, nie 'n mistieke besoek van twee dooie mense nie!

Daarom, net soos Petrus, Jakobus en Johannes nie werklik na die hemel opgevaar het tydens hul visioen van die verheerlikte Jesus saam met Moses en Elia nie, kan ons verstaan dat Paulus nie na die hemel opgevaar het nie. Net so kan mense vandag voel dat hulle 'n “buite-liggaamlike ervaring” gehad het wat vir hulle werklik blyk te wees, maar die Bybel onthul dat hulle dit mis het.