Vraag: Wat het Jesus bedoel toe Hy gesê het: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie” (Johannes 6:44). Beteken dit dat daar sommige mense is wat God nie na Hom trek nie?

Antwoord: 
Baie mense verstaan hierdie vers verkeerd, omdat hulle nie besef dat God nie almal nou tot redding roep nie. God sal sekerlik uiteindelik redding bied aan almal wat ooit geleef het (Romeine 9:15; 1 Timotheüs 2:3-5). Hy begeer dat almal die ewige lewe moet ontvang en dat nie een moet vergaan nie (Johannes 3:16-17; 2 Petrus 3:9). Die Skrif maak dit egter duidelik, “daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Handelinge 4:12). Hoe kan God dus Sy woord hou en nogtans al die miljarde mense wat alreeds gelewe en gesterwe het red sonder dat hulle ooit eens Sy Naam of van Sy Ware boodskap gehoor het?

Die Bybel vertel ons van ’n toekomstige tyd wanneer almal die ware Evangelie sal hoor en deur God geroep sal word (Openbaring 20:5, 11-12). Daardie tyd staan bekend as die “Groot Wit Troon Oordeel”. Dit sal nie ’n “tweede kans” wees nie – dit sal die tyd wees wanneer miljarde mense opgewek sal word tot fisiese lewe en vir die eerste keer die geleentheid gegun word om die naam van Christus en wat Hy verkondig het, te hoor.

God trek egter enkele persone na Hom toe in hierdie huidige tydperk. Hulle word die “eerstelinge” genoem (Jakobus 1:18). Hierdie Christene – individue wat God se Heilige Gees ontvang het om hulle te help om hul eie menslike natuur in hierdie huidige tydperk te oorwin en volgens God se weg te lewe – moet veg om nie slegs hul eie sondigheid te oorwin nie, maar ook die sondige invloed van die samelewing en van Satan, wat die Skrif “die god van hierdie wêreld” noem (2 Korinthiërs 4:4).

In teenstelling daarmee sal diegene wat deur God geroep word tydens die Groot Wit Troon Oordeel, in staat wees om hul vorige lewe – wat hulle tydens hierdie huidige tydperk geleef het onder die invloed van Satan, die samelewing en hul eie sondigheid – te vergelyk met die omstandighede in die duisendjarige vredetydperk waarin God hulle sal opwek, en die meeste sal verseker God se aanbod om redding en ewige lewe aanvaar.

Omdat hierdie eerstelinge moet “oorwin” in baie moeiliker omstandighede, belowe God aan hulle selfs ’n “beter opstanding” (Hebreërs 11:35). Tydens Christus se Wederkoms, sal hulle lede van God se Gesin word en sal hulle Christus bystaan om oor die aarde tydens die Millennium te regeer, die duisendjarige periode wanneer die wêreld in vrede en eensgesindheid sal leef onder Christus se heerskappy, ter voorbereiding van die Groot Wit Troon Oordeel, wat aan die einde van die duisend jaar sal plaasvind. Na die Groot Wit Troon Oordeel sal alle menslike wesens wat die ware Evangelie gehoor het en dit nog steeds verwerp, heeltemal verbrand word in die poel van vuur – vir altyd vernietig in die “tweede dood” (Openbaring 20:14-15).

God verwag van Sy mense om die ware Evangelie te verkondig tot en met Christus se Wederkoms (Mattheüs 24:14, 46). Nogtans verstaan ons dat nie elke persoon wat ’n eksemplaar van die Wêreld van Môre-tydskrif optel, in hierdie tyd deur God “getrek” word nie. Vir hulle sal die artikels wat hulle lees slegs dien as ’n “getuie”, sodat hulle nie in die toekoms sal kan sê: “Niemand het my ooit vertel nie! God is onregverdig!”

God verwag van ons om te handel volgens wat Hy ons geleer het. Selfs nadat ons gedoop is, behou ons nog steeds ons vrye morele keuse. Redding is ’n gawe wat ons nooit kan “verdien” nie – ons kan egter daardie gawe verwerp as ons moedswillig teen ons Verlosser rebelleer. Indien u dus verstaan wat u in hierdie tydskrif lees, moet nie die wonderlike geleentheid wat God aan u bied, verbeur nie, die geleentheid om onder Sy eerstelinge gereken te word wat – as konings en priesters – die unieke voorreg sal geniet om onder Jesus Christus in die Millennium te heers. Hou aan om die Wêreld van Môre-tydskrif te lees en vergelyk wat u hierin lees met wat in u eie Bybel staan. Indien u reken dat u gereed is om gedoop te word, vra asseblief u gratis kopie van ons boekie, Behoort u gedoop te word? aan of kontak ons verteenwoordigers by een van die adresse gelys op bladsy 2 van hierdie tydskrif.