Vraag: Ek het altyd verstaan dat wanneer Christene sterf, hulle siele reguit na die hemel gaan om saam met Jesus te wees. Hoe behoort ek dan Skrifgedeeltes soos Prediker 9:5 te verstaan wat sê: “... die dooies weet glad niks nie”. Wat gebeur dan wanneer ons sterf?

Antwoord: 
Mense interpreteer dikwels verskeie belangrike Skrifgedeeltes verkeerd wanneer hulle probeer om die waarheid te verstaan van wat gebeur by afsterwe. Jesus het aan een van die misdadigers wat langs Hom gekruisig was, gesê: “Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees” (Lukas 23:43). Beteken dit nou dat Jesus en die misdadiger daardie selfde dag saam na die hemel gegaan het? Dit kan mos nie wees nie! Christus het dan duidelik onderrig dat Hy drie dae en drie nagte in die graf sou deurbring – en Hy het dit “die teken van die profeet Jona” genoem (Mattheus 12:39-40). Indien Jesus en die misdadiger op die dag van kruisiging na die hemel gegaan het, dan het Hy mos nie die teken wat Hy belowe het vervul nie!

Wat het Jesus dan bedoel? Die Griekse taal van die Bybel beskik nie oor die leestekens wat ons aanneem in die Engelse of Afrikaanse teks nie. Die vertalers het dus hul eie bedrieglike leerstellings op die eenvoudige Griekse teks oorgedra. Jesus het werklik aan die misdadiger gesê dat hy saam met Hom in Sy Ryk sal wees, maar die woord “vandag” verwys nie na “Paradys” nie, maar eerder na “Ek sê vir jou”. Jesus het die misdadiger verseker van sy toekomstige hoop, nie die ontkenning van die teken van Sy Messiasskap nie.

In die Nuwe Testament lees ons dat God antieke Koning Dawid “’n man na my hart” noem (Handelinge 13:22). Dawid word in Hebreërs 11 onder die helde van die geloof gereken. Nogtans sê die apostel Petrus die volgende aangaande Dawid: “Broeders, ek kan vry-uit met julle spreek oor die aartsvader Dawid, dat hy gesterf het en ook begrawe is, en sy graf is by ons tot vandag toe” (Handelinge 2:29). Hy gaan voort om te beklemtoon: “Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie” (vers 34).

Ons lees: “En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is” (Johannes 3:13). Beteken dit dat ander mense ná Hom na die hemel opgevaar het? Nee! Die dooies is nou sonder bewussyn en sal so bly totdat God hulle bewuste sal herstel, wanneer: “... baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik” (Daniël 12:2). Slegs Jesus Christus het na die hemel opgevaar.

Toe die apostel Paulus 2 Korinthiërs geskryf het, het hy nog steeds Christus se Wederkoms tydens sy eie leeftyd verwag. Dit is die rede waarom hy skryf: “Want om hierdie rede sug ons ook en verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word” (2 Korinthiërs 5:2). Paulus het reikhalsend uitgesien na die geestelike liggaam wat Christus met Sy Wederkoms aan hom sal gee. Dit is in hierdie konteks dat hy van sy verlange skryf. Hy het nie geskryf, soos sommige mense verkeerdelik aanvaar, dat “om ... uit die liggaam te woon is om by die Here in te woon” nie. In sy afwagting van verandering van materie na gees, skryf hy dat hy “verkies om liewer uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon” (vers 8).

Paulus het uiteindelik verstaan dat Christus se Wederkoms later sal wees as wat hy aanvanklik aangeneem het, aangesien sekere geprofeteerde tekens eers moet plaasvind (2 Thessalonicense 2:1-12). Hy het egter nooit getwyfel aan sy begrip van wat gebeur by afsterwe nie. Paulus skryf: “Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring” (1 Thessalonicense 4:13-14). Hierdie “ontslapenes” verkeer nie in ’n geheimsinnige soort semi-bewustheid nie. Jesus, wat gesterf het, beskryf Sy dood op hierdie wyse: “Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees” (Mattheus 12:40). Is die hemel die “hart van die aarde?” Nee! Wanneer iemand sterf, is dit soos die Psalmdigter sê: “Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan” (Psalm 146:4). Jesus het geen planne beraam terwyl Hy dood was nie. Net so sal ons ook nie. Die dooies wag nie in die hemel rond as liggaamlose bewussyne nie. Hulle is bewusteloos, (Prediker 9:5) en sal so bly totdat God hulle opwek.

Om meer te wete te kom oor hierdie onderwerp wat so dikwels verkeerd verstaan word, skryf gerus om u gratis kopie van ons boekie: U uiteindelike lotsbestemming. Dit sal aan u die eenvoudige waarheid van u Bybel uitwys en noodsaaklike inligting openbaar wat u nog nooit voorheen verstaan het nie