Wat hou die toekoms in vir die nasies van die wêreld? Het God enigiets met die toekoms te doen?


Gryp God werklik in mense se sake in? Beslis Hy oor die opkoms en val van nasies? Of bepaal mense hul eie lot deur hul eie besluite? Deesdae wonder baie of daar werklik ’n God is – veral ’n God wat die geskiedenis lei. Nogtans, terwyl hulle oor God twyfel, het hulle geen twyfel oor die oorheersing van Westerse idees en militêre mag nie – wat hoofsaaklik uitgaan van noordwestelike Europa en Engeland en dan van die Verenigde State van Amerika. Soos die Engelse historikus John M. Roberts aandui, het hulle gesukkel om “die bron van die Weste se raaiselagtige mag” te verstaan (The Triumph of the West, bl. 21).

Vyf-en-twintig jaar gelede het die Italiaanse joernalis, Luigi Barzini, ’n vraag oordink wat vir dekades die denke van historici en staatsmanne besig gehou het: Wat het veroorsaak dat Brittanje ’n groot moondheid geword het? Barzini het gevra: “Hoe het die Britte dit gedoen? Hoe ... het ’n eiland aan die rant van die vasteland gestyg van primitiewe vuilheid na wêreldoorheersing?” (The Europeans, bl. 47). Barzini het, net soos baie ander, gespekuleer, maar geen werklike antwoorde gehad nie. Filosowe het soortgelyke vrae gevra oor Amerika se opgang tot grootsheid. Wat het toegelaat dat 13 worstelende kolonies Engeland se militêre mag kon oorwin en die wêreld se magtigste nasie word? Was dit slegs maar ’n sameloop van omstandighede? ’n Geskiedkundige toeval? Die gevolg van suiwer menslike besluite en optredes? Of was hierdie belangrike wêreldgebeure deel van ’n algehele plan wat God besig is om hier op aarde uit te werk?

Geleerdes mag spot, maar die Bybel bevat talle profesieë wat lank gelede die opkoms en val van sekere nasies voorspel het en dit voorsien ’n raamwerk om die koers van gebeure in ons moderne wêreld te verstaan. Historiese anale toon hoe profesieë oor die laaste paar eeue vervul is – volgens skedule en in besonderhede. Wanneer ons eerlik die geheelbeeld van die wêreld se geskiedenis ondersoek, dan bewys profesieë sonder enige moontlikheid van twyfel dat God besig is om Sy doel uit te werk deur dinge te laat plaasvind wat Hy ’n paar duisend jaar gelede in die Skrif voorspel het.

Bybelse profesieë verskaf ’n juiste en verstaanbare verduideliking van waarom die wêreld is soos dit vandag is – waarom sekere moderne nasies tot prominensie opgang gemaak en ander agteruitgegaan het. U Bybel openbaar ook wat vir die leidende nasies van die Weste voorlê asook vir ander sleutel-nasies reg oor die wêreld.

Profesieë, beloftes en identiteite

Om die betekenis te begryp van belangrike gebeure wat die koers van moderne geskiedenis bepaal of laat verander, moet ons allereers let op wat God aan ons openbaar het oor hoe Hy op die aarde optree. Let op hoe Hy met Egipte se Farao te werk gegaan het. Om aan die wêreld se magtigste nasie die identiteit van die ware God te toon, het Hy Farao se hart verhard om nie Moses en die Israeliete toe te laat om Egipte te verlaat nie (Eksodus 7:3-5). Toe Farao se towenaars nie die wonderwerke van Moses en Aäron kon nadoen nie, het hulle aan Farao gesê: “Dit is die vinger van God!” (Eksodus 8:19). God verkondig in die Skrif dat Hy die toekoms kan voorspel en dit dan teweeg kan bring. “Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen” (Jesaja 46:9-10). Dit is ’n aanspraak wat maklik getoets kan word, deur eenvoudig spesifieke Bybelse profesieë met geskiedkundige feite te vergelyk.

Bybelse profesieë kan ons help om te verstaan wat met moderne nasies gebeur het, as ons verstaan hoe hulle afstam van antieke nasies wat spesifiek in die Bybel genoem word. Byvoorbeeld, die Skrif noem die afstammelinge van Abraham, Isak en Jakob ’n “uitverkore” volk wat die “kinders van Israel” geword het. As beloning vir sy gehoorsaamheid, het God aan Abraham belowe dat sy afstammelinge ’n groot nasie sal word en ’n bron van seën vir al die nasies van die aarde sal wees (Genesis 12:1-3). God het aan Abraham belowe dat hy die vader van baie nasies sal wees en die stamvader van konings (Genesis 17:4-6), en dat sy nakomelinge sal uitbrei na die noorde, suide, ooste en weste en beheer sal verkry oor die poorte van hul vyande (Genesis 22:17-18; 28:14). Hierdie beloftes is oorgedra aan Jakob wat op sy beurt 12 seuns gehad het – die voorvaders van die 12 stamme van Israel (Genesis 35:23-26).

God het selfs nog meer verstommende beloftes aan die seuns van Josef, Efraim en Manasse, gemaak, wat tesame met hulle broers “Israeliete” genoem sal word, vernoem na hul vader Jakob wie se naam na Israel verander is (Genesis 32:28; 48:16). God het belowe dat Efraim se afstammelinge ’n menigte van nasies sou word, net soos die Britse Gemenebes geword het. Hy het belowe dat die afstammelinge van Manasse ’n enkele groot nasie sou word, soos die Verenigde State van Amerika geword het (Genesis 48:18-20). Ander profesieë onthul dat die afstammelinge van Efraim en Manasse koloniserende volke sou word wat die uitgesoekte gedeeltes van die aarde sou bekom (Genesis 49:22, 25-26; Deuteronomium 33:13-16), hulle die teiken sou word van jaloerse vyande, maar sal oorwin (Genesis 49:23-24), asook dat hulle apart van hul broers sou woon (Genesis 49:26; Deuteronomium 33:16).

God het ook aan die kinders van Israel Sy wette gegee – en ’n roeping. Hulle moes sierade en voorbeelde vir die wêreld wees deur te demonstreer dat gehoorsaamheid aan God se wette seëninge meebring (Deuteronomium 4:1-10). Ongelukkig het die antieke Israeliete gefaal in hul verantwoordelikheid en is weggevoer in ballingskap sonder om die geprofeteerde seëninge te ontvang. Die antieke Israeliete het nooit die poorte van hul vyande besit nie, hulle het ook nie die uitgesoekte gedeeltes van die aarde besit of groot nasies onder hul eie konings geword nie.

Beteken dit dat God nie Sy beloftes vervul het nie? Nee! Hy het dit slegs vertraag, op ’n wyse wat die Bybel verduidelik. In die boeke Daniël en Levitikus vind ons profesieë wat die tydraamwerk verduidelik van hoe die geprofeteerde seëninge uiteindelik oor die kinders van Israel sou kom. Aan Daniël was ’n profesie gegee aangaande “sewe tydperke” of ’n sewejarige periode van straf wat oor die Babiloniese koning Nebukadneser sou kom (Daniël 4:16, 25). Aan Moses was ’n soortgelyke profesie gegee, naamlik dat indien die Israeliete God nie sou gehoorsaam nie, hulle sewevoudig en dan weer ’n keer sewevoudig gestraf sal word (Levitikus 26:18, 21, 23-24). Sewevoudig kan egter sewe jaar (elk met 360 dae) beteken, soos dit in Nebukadneser se geval was. Dit kan egter ook ’n periode van sewe profetiese tydperke of 7 x 360 jaar (’n dag vir ’n jaar; vergelyk Esegiël 4:6) beteken – ’n periode van 2 520 jaar.

Is dit slegs maar ’n “toeval van die geskiedenis” dat die nasie van Israel na Assirië as ballinge weggevoer was in ongeveer 720 v.C. en dat Amerika en Brittanje begin uitstyg het tot wêreldprominensie teen ongeveer 1800 n.C. – ongeveer 2 520 jaar nadat hulle voorsate in ballingskap weggevoer was vir hulle sondes? Is dit nog ’n “toeval van die geskiedenis” dat die nasie van Juda ongeveer 604 v.C. in ballingskap weggevoer was – en Jerusalem van die Turke bevry is in 1917 – ongeveer 2 520 jaar later?

Hoewel skeptici hierdie profetiese vervullings as interessante toevallighede mag afmaak, begin baie ander profesieë wat betrekking het op die moderne afstammelinge van antieke Israel, nou vervul word en dit tydens en na hierdie selfde periode. Spesifieke profesieë en beloftes is in verstommende besonderhede gedurende die afgelope eeue vervul deur Amerika (Manasse) en Brittanje (Efraim) en die volke van Britse en Noordwes-Europese afkoms, wat versprei het om die uitgesoekte plekke van die aarde te koloniseer, om beheer te verkry oor die poorte van hul vyande en om die Westerse idees oor die aarde heen uit te dra.

Soos die profesieë ook beskryf, woon die kinders van Josef (Efraim en Manasse – Brittanje en Amerika, Kanada, Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika) wel afgesonderd van hul Europese broers (Frankryk, Holland en België), hulle Skandinawiese broers (Denemarke, Noorweë, Swede en Finland), asook van die Joodse nasie van Israel. Die profesieë van Genesis 49 en Deuteronomium 33 voorsien leidrade om die verskillende Israelitiese nasies “in die eindtyd” te kan identifiseer. Deur kennis te neem van die geprofeteerde karaktertrekke en na die geskiedenis te kyk, kan ons herken watter nasies teen die einde van hierdie tydperk aan spesifieke aspekte van hierdie gedetailleerde profesieë en beloftes voldoen.

Die opkoms en val van nasies

In die 1400’s en 1500’s het Portugese en Spaanse seevaarders uitgevaar op ontdekkingsreise om dele van die wêreld op te eis en hul Rooms-Katolieke geloof te versprei. Die pous het vanuit Rome in 1500 n.C. tussenbeide getree om hul mededingende aansprake op die “nuwe wêreld” te besleg. Hy het die grootste deel van die nuwe gebied aan Spanje toegesê, maar wat nou Brazilië en die grootste deel van Afrika is het na Portugal gegaan. Oor die volgende eeu het die Hollanders, die Franse en Britte ook ontdekkingstogte onderneem en nuwe gebiede opgeëis.

Die nasies wat ons moderne wêreld oorheers het, het begin uitstyg as moondhede toe Filippus van Spanje in 1588 met sy Armada ’n aanval geloods het teen Brittanje. Filippus het 130 skepe, 2 500 kanonne en 30 000 soldate gestuur in ’n poging om Protestantse Brittanje terug te bring na die Rooms-Katolieke kraal. ’n Swaar storm het egter die Armada voos geslaan nog voor dit arriveer het en die vinniger Engelse skepe met hul langafstand kanonne het die Spaanse Armada gepeper toe hulle in die Engelse Kanaal op beweeg het, met die gevolg dat die Spaanse skepe noordwaarts na Skotland gevlug het – agtervolg deur Engelse skepe wat byna sonder ammunisie geraak het. Toe hulle om Skotland en Ierland vaar, het baie van die Spaanse skepe gestrand en verlore geraak in ’n noord Atlantiese storm – ’n storm wat Engeland beskou het as God se ingryping. “Die neerlaag van die Spaanse Armada lui die ondergang van Spanje en die opkoms van Engeland as ’n wêreldmoondheid in” (The Battle 100, bl. 54, Lanning).

Onthou, God het voorspel dat die afstammelinge van Josef groot nasies sou word – die Spanjaarde is nie afstammelinge van Josef nie. God het begin om Sy antieke beloftes te verwesenlik.

In die middel van die 18de eeu het mededingende aansprake in Kanada en die Ohio-vallei gelei tot botsing tussen die Engelse en die Franse. In die veldslag van Quebec in 1759, het die Engelse troepe die Franse verslaan en volgens ooreenkoms die hele gebied waarop Frankryk op aanspraak gemaak het oos van die Mississippirivier en noord van die Groot Mere, verkry. Dit kom daarop neer dat die hele Kanada toe aan Engeland behoort het. Tussen 1759 en 1805 het die Engelse vloot die Franse vloot oortuigend verslaan in die Baai van Quiberon en by Trafalgar. In 1815 het ’n gekombineerde mag van Britte, Hollanders, Belge en Pruise, gelei deur die Britse Hertog van Wellington, Napoleon verslaan in die slag van Waterloo. ’n Reënstorm die nag voor die geveg het Napoleon gedwing om sy aanval te vertraag, wat tyd aan die Pruise verleen het om te arriveer en die magsbalans te laat oorhel na die Britte. Napoleon se nederlaag, aangehelp deur ’n reënstorm, het ’n einde gemaak aan die Franse oorheersing van Europa.

In ’n profetiese sin was die wedywerings by Quebec, die Baai van Quiberon, Trafalgar en Waterloo wedywerings tussen Efraim (Brittanje) en Ruben (Frankryk). God het voorspel dat Efraim, volgens Sy plan, ’n groot nasie sou word en sou seëvier, maar Ruben sou “die vernaamste nie wees nie” (Genesis 48:19; 49:3-4).

Ongeveer dieselfde tyd het die Verenigde State begin opgang maak na grootsheid. Gedurende die laat 1700’s het die Amerikaanse koloniale weermag onder George Washington die magtiger Britte teengestaan en uitoorlê, dikwels met die hulp van gunstige weersveranderings op presies die regte tyd (soos tydens die veldslag van Long Island en Yorktown), asook deur ’n kombinasie van dapper besluite deur Washington (soos te Trenton) en swak besluite deur die Britse bevelvoerders (soos te Saratoga). Die Britse oorgawe te Yorktown in 1781, een van die mees invloedryke veldslae in die geskiedenis, het gelei tot die onafhanklikheid van die Verenigde State en het Amerika op die pad gesit om die wêreld se welvarendste nasie te word en uiteindelik die enigste supermoondheid. In profetiese terme het Manasse (Amerika) en Efraim (Engeland) afsonderlike nasies geword – ’n groot nasie en ’n groot gemenebes van nasies – dit is presies wat gebeur het as gevolg van die Amerikaanse Revolusie. Ten spyte van die verlies van die Amerikaanse kolonies, het Engeland voortgegaan om ’n oorsese ryk op te bou “waaroor die son nooit gesak het nie” – en ’n menigte van nasies of ’n gemenebes van nasies geword – net soos God duisende jare gelede voorspel het.

Wonderwerke en Wêreld-oorlog

Sommige van die moderne geskiedenis se verstommendste voorbeelde van goddelike ingryping het plaasgevind tydens die “donker dae” van die Tweede wêreldoorlog. In die somer van 1940 het die Duitse “blitzkrieg” 400 000 geallieerde troepe teen die Europese kus naby Dunkirk, Frankryk, vasgedruk waar die Britse militêre-beplanners die grootste nederlaag in hul geskiedenis verwag het. Nogtans, te wyte aan ’n taktiese flater, het Hitler skielik die oprukking van die Duitse tenks gestop net toe hulle wou toeslaan. Die Koning van Engeland het ’n nasionale dag van gebed aangekondig en derduisende mense het na die kerke gestroom. Tydens die nege dae van die Dunkirk-ontruiming het die normaalweg onstuimige Engelse Kanaal so kalm soos ’n visdam gebly – terwyl ’n storm oor Vlaandere losgebars en die Duitse Luftwaffe verhinder het om op te styg. Hierdie onvoorsiene gebeure het toegelaat dat bykans 338 000 onvervangbare soldate kon oorleef om weer te veg – ’n verstommende ontwikkeling wat die Britse Eerste Minister, Winston Churchill, die “wonderwerk van verlossing” genoem het. Duisende Engelse het die eer aan God gegee soos Walter Lord geskryf het in The Miracle of Dunkirk (bl. 272-274).

Die Britte het God gedank en ’n beroep op Hom gedoen vir Sy ingryping. Tydens die Slag van Brittanje, terwyl Duitse en Britse vliegtuie in die lug oor Brittanje en die Engelse Kanaal geveg het, het die Koning weer ’n Nasionale Dag van Gebed uitgeroep. Eerste minister Churchill het oor die radio aangekondig: “Terwyl ons onsself nederig voor God stel, maar bewus is daarvan dat ons ’n openbarende doel dien, is ons gereed om ons vaderland te verdedig ...” (We have a Guardian, Grant, bl. 13). Na die Slag van Brittanje het die bevelvoerder van die Koninklike Lugmag opgemerk: “Ek sê dit met absolute oortuiging, dat ek God se ingryping kan volg, nie slegs in die geveg self nie, maar in gebeure wat daartoe gelei het ... dit was alles deel van ’n magtige plan” (Grant, bl. 19). Toe die Britse troepe in Egipte saamgetrek was vir die Slag van El Alamein, is nog ’n Nasionale Dag van Gebed in Brittanje uitgeroep. Generaal Bernard Montgomery, wat die Britse leër te El Alamein aangevoer het, het sy troepe as volg aangemoedig: “Die soldate moet geloof in God hê”, en aangekondig: “Laat ons bid dat die Here, wat magtig is in oorlog, ons die oorwinning sal gee” (Grant, bl. 30-31). Die Britte het die hand van God gesien in hoe dinge plaasgevind het – nie slegs was die Duitse bevelvoerder, Erwin Rommel, weg in Duitsland toe die geveg begin het nie, maar sy tydelike plaasvervanger, Generaal Georg Stumme, het aan ’n hartaanval gesterf onderweg na die gevegslinie. Die Duitsers se Afrika-korps het later teruggeval nadat hulle hewige verliese gelei het.

Toe die Geallieerdes troepe aan wal gesit het aan die Atlantiese kus van Marokko, die kus van Sicilië en die strande van Normandië, was die hand van God sigbaar in die merkwaardige omstandighede van hierdie pogings. Vir die inval in Noord-Afrika laat in 1941, het ’n vloot van 650 skepe uit Amerika en Brittanje na Casablanca geseil sonder om opgemerk te word deur die Duitse vliegtuie of duikbote, omdat baie van die skepe verberg was deur ’n “stormbui wat gelyk het of dit saam met ons skepe gevaar het” (Grant, bl. 31-34, 49). Slegte weer was voorspel, wat landing sou bemoeilik of onsuksesvol kon maak – nogtans het die Geallieerdes se skepe by hul aankoms ’n kalm, gladde see gevind! Die Geallieerdes se vlootbevelvoerder het dit as “ongelooflik” beskryf – en baie het dit herken as God se handewerk.

In Julie 1943 het die Amerikaanse Generaal Dwight Eisenhower sy inval in Sicilië geloods met ’n gebed en ’n opmerking: “Die dobbelsteen is gegooi en die gebeure is in die hande van God” (Grant, bl. 38). Gedurende die nag het stormsterk winde die Geallieerde skepe gepeper, maar die ongunstige weer het ook veroorsaak dat Italianers wat die Siciliaanse strande verdedig het, nie ag geslaan het op enige tekens van vyandige aktiwiteite nie. Teen die volgende oggend was die see egter skielik so kalm dat dit gelyk het na ’n “wonderwerk” (Grant bl. 39) en die Geallieerde troepe kon maklik die strande verower.

Net so het ’n tydelike verposing in ’n bykans maandlange stormagtige weer die Geallieerdes op 6 Julie 1944 toegelaat om hul D-Dag inval in Normandië te loods, terwyl die Duitsers onkant gevang was deur voortdurende slegte weer. Op D-Dag was Rommel weereens in Duitsland – hierdie keer om sy vrou se verjaarsdag te vier. Hierdie dramatiese gebeure in oënskou geneem, het die soldate wat die inval beplan en die skrywers wat dit geboekstaaf het, gepraat van “Die wonderwerk van D-Dag” (Daily Telegraph, 7 April 1947), en opgemerk: “Slegs die onnadenkende kan faal om te besef hoe ’n groot rol die Voorsienigheid gespeel het in die snelle en suksesvolle transformasie van die groot oorlog” (Daily Mail, 14 November 1942).

Daar is moontlik nie ’n beter voorbeeld van ’n skielike ommeswaai in gebeurlikhede as die Slag van Midway in Junie 1942 in die Stille Oseaan nie. ’n Japannese taakmag van vier swaar vliegdekskepe, 80 ondersteunende skepe, en honderde tegnies meer gevorderde vliegtuie wat deur ervare vlieëniers geloods was, het begin om die strategiese Amerikaans-beheerde eiland van Midway aan te val en te bombardeer. Die Amerikaanse mag wat hulle teengestaan het het bestaan uit verouderde vliegtuie, onervare vlieëniers en drie ouerige vliegdekskepe. Vlaag op vlaag Amerikaanse vliegtuie het die Japannese oorlogskepe aangeval sonder om ’n enkele een raak te skiet en baie Amerikaanse eskadrieljes was bykans vernietig deur die Japannese kanonvuur. Nogtans, toe die Japannese admiraal uiteindelik die Amerikaanse skepe gewaar, het hy sy loodse beveel om terug te keer na hul vliegdekskepe vir meer brandstof en torpedo’s. Toe skielik – asof uit die bloute – het ’n groep Amerikaanse duikbomwerpers uit die lug geduik en hul bomme op die hout-vliegdekke van die Japannese vliegdekskepe laat val wat besaai was met bomme, torpedo’s en vliegtuie vol brandstof. In slegs vyf of ses minute was drie swaar vliegdekskepe – die trots van die Japannese vloot – geruk deur geweldige ontploffings, verswelg deur rook en vlamme en op pad na die bodem van die Stille Oseaan. ’n Vierde vliegdekskip is gou daarna vernietig, tesame met 275 vliegtuie en 4 000 onvervangbare soldate – met inbegrip van ervare vlieëniers en een van Japan se briljantste bevelvoerders wat verkies het om saam met sy skip te sink. Hierdie skielike, dramatiese en onverwagte ommeswaai het die koers van die oorlog in die Stille Oseaan binne minute verander. “Voor Midway het Japan slegs oorwinnings ervaar, na die slag het hulle ’n reeks neerlae gelei” (Lanning, bl. 150).

Baie moderne skrywers beskryf hierdie gebeurlikhede as verbasende deeltjies geluk. As ons dit egter as deel van die geheelbeeld beskou, dan illustreer dit hoe God herhaaldelik ingryp om die uitkoms van wêreldgebeure te bestuur, ten einde Sy doel te verwesentlik.

God se goddelike doel

Baie leiers wat God se herhaalde en wonderbaarlike ingryping in hulle guns gedurende die Tweede wêreldoorlog gesien het, het ’n sterk oortuiging ontwikkel dat hulle deel was van ’n goddelike plan wat baie groter as hulself is. Vandag egter, vind die kinders en kleinkinders van die Tweede wêreldoorlog se veterane dit dikwels modieus om ’n goddelike doel in hul lewens te ontken. Die meeste mense in vandag se nasies wat van antieke Israel afstam – nasies wat deur God geseën en gered is uit ernstige beproewings – het die lewensbelangrike lesse van hul eie geskiedenis vergeet. Manasse en Efraim – Amerika en Brittanje, sowel as die nasies van Kanada, Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika – is vasgevang in ’n “na-Christelike” wêreld waar miljoene nie slegs twyfel dat God wêreldgebeure lei nie, maar selfs dat Hy geheel en al bestaan. Ander Israelitiese nasies, met inbegrip van Frankryk, Holland, België en Skandinawië het by hul broers aangesluit deur handelswyses en gesindhede aan te hang wat die Bybel duidelik as gruwels veroordeel. Die Weste se losbandige lewenswyses, gewelddadige en seks-beklemtonende rolprente en krasse musiek word regoor die wêreld uitgevoer.

Die moderne Israelitiese nasie is jammerlik onbewus van Bybelse profesieë wat ’n aaklige toekoms voorspel vir nasies wat hulle van God distansieer. Moses het die kinders van Israel gewaarsku: “Neem jou in ag dat jy die Here jou God nie vergeet deur sy gebooie en sy verordeninge en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, nie te hou nie ... [want God sê] as julle my insettinge verwerp, en as julle siel van my verordeninge ’n afsku het, sodat julle nie al my gebooie doen nie en my verbond verbreek – dan sal Ék dit ook aan julle doen: Ek sal verskrikking oor julle beskik: die tering en die koors wat die oë verteer en die lewe laat versmag ... En Ek sal my aangesig teen julle rig, sodat julle voor jul vyande verslaan word ... En Ek sal julle trotse mag verbreek ... En Ek sal julle onder die volke verstrooi en ’n swaard agter julle uittrek; en julle land sal ’n wildernis en julle stede puinhope word. En hulle sal struikel die een oor die ander soos vir die swaard, alhoewel niemand agtervolg nie; en julle sal voor julle vyande nie kan standhou nie. Maar julle sal omkom onder die nasies ...” (Deuteronomium 8:11-20; Levitikus 26:15-17, 19, 33, 37-38).

Ons het gesien hoe God in die verlede ingegryp het. Wat sê die Bybel aan ons, wat sal Hy in die toekoms doen? God waarsku dat Hy die Assiriërs (Duitsland) teen die moderne nasies van Israel (die Amerikaners en die nasies wat van die Britte afstam) sal gebruik. Die Skrif dui aan dat die moderne afstammelinge van antieke Israel sal struikel – saam met die Joodse nasie van Israel – en verlate sal word as gevolg van hulle sondes (Jesaja 10:5-6; Hosea 5:1-12). Dit is ’n sombere toekoms wat op ons wag, tensy ons gewillig is om ons te bekeer en ons te distansieer van ons Godverwerpende weë wat Sy wette en Sy doel misken. Net soos antieke Egipte wat Sy plae beleef het, sal die hele wêreld ook binnekort nie meer in staat wees om te ontken dat God bestaan en Sy doel hier op aarde uitwerk nie. Indien ons wys is, sal ons nou daarna streef om onsself in harmonie met daardie doel te bring.