Wie kan ons lei uit die moeras van ons tuimelende sedelikheid, ons onseker ekonomie en die toenemende spanning in ons samelewing? Terwyl die Verenigde State voorberei om ’n nuwe President te kies, hoe sou ons Saligmaker reageer het?


Die verkiesingsveldtog is reg oor die Verenigde State in volle swang. Maande voor die Demokrate hulle nominasie konvensie in Augustus gehou het en die Republikeine hulle s’n in die eerste dae van September, het die media ons gevoelens begin bombardeer met slagspreuke soos: “Verandering waarin ons kan glo: Stem vir Barak Obama!” of “Wees gereed vanaf dag een: Stem vir John McCain!”

Aansprake en teenaansprake word uitgeruil. Kampvegters vir een kant sê dat hul opponent slegs maar die voortsetting van iemand anders se mislukte beleidsrigting is. Partygenote van die ander kant sê dat die ander kandidaat te linksgesind en onervare is om te dien as Opperbevelhebber. Venynige moddergooiery kryt die een uit as ’n moontlike “Mantsjoerynse Kandidaat” wat die vyand tydens die oorlog bygestaan het en die ander as ’n verkleurmannetjie wat nie eerlik is ten opsigte van sy godsdienstige en nasionale lojaliteite nie.

Wat behoort ’n ware Christen te doen? Hoe behoort ons te reageer? Meer belangrik nog, hoe sou Jesus Christus reageer het in hierdie polities-gelaaide atmosfeer?

Amerikaanse troepe is reeds vir meer as vyf jaar in Irak. Behoort hulle daar weg te kom? Indien wel, hoe? Die Amerikaanse ekonomie word gemoker deur skuld en massiewe verlies aan internasionale vertroue in die stewigheid van die dollar – en in Amerika se vermoë om die regte keuses te maak ten einde ’n naderende ekonomiese afswaai te kan deurstaan. Wie kan die Verenigde State lei uit die moeras van sy tuimelende sedelikheid, sy onseker ekonomie, sy verlagende lewenstandaard en toenemende maatskaplike, etniese en rassespanning, wat die einste wese van sy samelewing affekteer? Wie?

Ons behoort almal te erken dat ’n ware Christen iemand is in wie Christus deur die krag van die Heilige Gees leef. Die apostel Paulus skryf: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Galasiërs 2:20).

’n Ware Christen moet leer om te leef soos Jesus Christus werklik geleef het – nie soos so baie mense hul foutiewelik verbeel dat Hy dalk geleef het nie. Jesus Self sê aan ons: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4). Die werklike antwoord van hoe ons behoort te leef en te funksioneer in ’n demokratiese nasie is in die Bybel te vinde – die geïnspireerde Woord van God. Ons moet die “gesindheid” [manier van dink] van Jesus Christus hê (Filippense 2:5). Die Bybel is die openbaring van die denke, die gesindheid, van God – wat aan ons sê hoe die Vader en Jesus Christus werklik oor die fundamentele kwessies van die lewe dink.

Regdeur hierdie afgelope somer was Amerikaners verswelg deur boodskappe wat die kiesers aangespoor het om die een of ander kandidaat te ondersteun. As ons na die mans kyk wat President kan word, vra ons onsself af: “Dink hy werklik hy is opgewasse om die wêreld se enigste supermoondheid te kan lei? Dink hy dat enige mens bevoeg is vir die taak?”

Waar is God in dit alles? 
Vanaf die begin het mense probeer om hulself te regeer sonder God se direkte leierskap. Die meeste belydende Christene besef nie eens wat Jesus Christus met regering te doen het nie. Hulle is baie meer vertel van “die klein Here Jesus in ’n krip”, as wat hulle geleer is van die Bybelse Jesus Christus wat nou aan die regterhand van God in die hemel staan (Handelinge 7:55-56). Die werklike Christus sal binnekort terugkeer in majestueuse glorie as die letterlike Koning van die konings oor die ganse aarde! Hierdie Jesus is aan die meeste mense onbekend.

Onthou, baie min belydende Christene besef dat Jesus se evangelie gegaan het oor wêreldregering. Een van die mees geslepe Sataniese misleidings wat ooit versprei is, behels dat Jesus Christus se boodskap hoofsaaklik oor Homself gegaan het. Die beginpunt van ware Christenskap is die aanvaarding van Jesus Christus se gestorte bloed na werklike berou tot bekering uit sonde (selde iewers vermeld!) Christus se hoofboodskap – die evangelie wat Hy verkondig het – is egter gesentreer om wêreldregering en elke mens se gewilligheid om sigself heeltemal aan God te onderwerp en uiteindelik deel van Sy goddelike gesin te word. Hierdie goddelike regering sal binnekort oor die hele aarde heers!

Wie HEERS oor hierdie huidige wêreld?

Hoewel baie mense gelei is om te glo dat hierdie nou God se wêreld is, vertel die Bybel ons iets heel anders. Die apostel Johannes was geïnspireer om te skryf: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie” (1 Johannes 2:15).

Tydens Jesus Christus se versoeking was Hy na ’n berg geneem en die glorie van al die koninkryke van die aarde getoon: “En die duiwel sê vir Hom: Ek sal U al hierdie mag gee en hulle heerlikheid, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil” (Lukas 4:6).

Het Jesus Satan weerspreek en aan Hom gesê dat hy nie in beheer was van al die koninkryke van hierdie aarde nie? Nee, Hy het nie. Jesus het eerder, na aan die einde van Sy bediening, op hierdie wyse van Satan gepraat: “Nou is dit die oordeel van hierdie wêreld, nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word” (Johannes 12:31). Net soos Hy ook gesê het: “Ek sal nie veel meer met julle spreek nie; want die owerste van hierdie wêreld kom en het aan My niks nie” (Johannes 14:30).

Later skryf Paulus: “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Korinthiërs 4:3-4). Satan die Duiwel is die onsigbare heerser – die “god” van hierdie tydvak, wat ongeveer 6 000 jaar van die mens se geskiedenis dek, sedert die skepping van Adam. Hierdie tydperk sal egter eindig met die Wederkoms van Jesus Christus as die Koning van die konings! God het Paulus geïnspireer om aan ons te openbaar Satan is “... die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” (Efesiërs 2:2). Die onsigbare geestelike heerser – die owerste – oor hierdie wêreld se samelewing is dus in werklikheid Satan die Duiwel!

Nietemin, die ware Skepper God gryp in wanneer dit nodig is om Sy doel te bereik. In Galasiërs 1:4 leer Paulus ons van Christus “... wat Homself gegee het vir ons sondes, sodat Hy ons kan uitred uit die teenwoordige bose wêreld ... ” Egoïstiese menslike wesens wat glo dat hulle alle wysheid in pag het, is in werklikheid onbewus daarvan dat hulle onder die kragtige heerskappy van die onsigbare Satan is. Hulle dink dat hulle idees oor die samelewing en oor regering – dikwels lynreg teenstrydig met dié van God – sin maak. God sê egter: “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spreuke 14:12).

Satan mislei hierdie wêreld op duisende verskillende maniere! In die boek Openbaring kon Johannes ’n geestelike oorlog vooruitsien: “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei [mislei], hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp” (Openbaring 12:9).

Later onthul God aan ons dat met die aanvang van Christus se heerskappy oor die aarde, Satan in die afgrond gewerp sal word en toegesluit en verseël sal word “sodat hy die nasies nie meer sou verlei [mislei] totdat die duisend jaar voleindig is nie ...” (Openbaring 20:3). Die Bybel maak dit besonder duidelik dat hierdie huidige samelewing aan Satan behoort. Eerder as om werklik God se wil na te streef, is die hedendaagse beskawing gebaseer op ydelheid, wedywering, misleiding en bedrog.

Jesus het aan Pontius Pilatus gesê: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie” (Johannes 18:36). Dit is dus duidelik dat Jesus geen bedoeling gehad het om te probeer om in hierdie wêreld se politiek en oorloë betrokke te raak nie. Hy het ’n ander wêreld, ’n ander regering – die Koninkryk van God – verteenwoordig. Jesus sou dus verseker nie probeer het om hierdie wêreld te reorganiseer en betrokke te raak in ’n leuenagtige, knoeiende, politieke stelsel onder die mag van Satan die Duiwel nie!

Opleiding om konings te wees

Heel moontlik nog binne hierdie einste geslag sal die Bybelse Jesus Christus weer kom om op ’n werklike troon in die stad Jerusalem te sit. Sy regering sal oor die hele aarde gevestig word – ’n letterlike regering bemagtig deur die Almagtige God en onder die beheer van die Koning van die konings en Here van die here (Openbaring 19:15-16). Wat sal Jesus se volgelinge – die ware heiliges van God – dan doen? “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?” (1 Korinthiërs 6:2-3). In die volgende paar verse gaan Paulus voort om uit te brei hoe die Christene in Korinthe veronderstel was om te leer hoe om God se regering in die Kerk toe te pas deur probleme wat tussen hulle ontstaan, korrek te “oordeel”. Van Genesis tot Openbaring was ’n amp in God se regering nog altyd deur aanstelling gevul – nie deur politiekery of om andersins aan mense bedrieglike beloftes te maak om hul stemme te koop nie. Dit was in hierdie konteks dat Paulus kon vra: “As julle dan alledaagse regsake het, [waarom] moet julle dié persone daaroor laat sit wat in die gemeente die minste geag word” (vers 4)?

Christene is tans in opleiding om konings en priesters in die Koninkryk van God, wat binnekort voorlê, te wees. Jesus sê: “En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ’n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het” (Openbaring 2:26-27). Ons behoort dus ons menslike weë en menslike selfsugtigheid te oorwin – en leer om God se regering nou toe te pas. Let op die “gebede van die heiliges” in Openbaring 5:9-10: “U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers”. Dit is duidelik, die ware heiliges van God sal binnekort heerskappy hê – nie bo in die hemel nie, maar op hierdie aarde!

Bestudeer noukeurig die gelykenis van die ponde in Lukas 19:11-27. Hier word Jesus uitgebeeld waar Hy na die hemel gaan om ’n koningskap te ontvang en weer terug te keer. Wanneer Christus terugkeer, beloon Hy Sy dienaars volgens wat elkeen vermag het deur sy Godgegewe tyd, talente en wysheid aan te wend om God te dien. Watter beloning het Christus aan Sy getroue dienaars gegee? “En hy sê vir hom: Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede” (vers 17). En aan die dienaar wat slegs vyf ponde bygekry het? “En hy sê ook vir hierdie een: En jy moet wees oor vyf stede” (vers 19).

Sien u hier enige aanduiding van politiekery of stemmery? Nie in die minste nie. Dit is slegs nog maar een skriftuurlike voorbeeld om aan Christene te bewys die beste vorm van regering – God se regering – is op geen wyse gegrond op menslike politiekery, kompromië, toutrekkery en die vorendagkom met halfgebakte oplossings vir ons probleme nie.

Jesus sê: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie” (Johannes 18:36). Hy sou Hom sekerlik nie verneder het om deel te wees van hierdie wêreld se verkeerde benadering tot regering nie. Trouens – deur aan ons ’n voorbeeld te stel – het Jesus Christus in Sy menslike bediening nooit enige toenadering gesoek by die menslike leiers van Sy tyd nie, Hom nooit bemoei met die politieke situasie en Sy volgelinge nooit geleer om te probeer om die politieke toestand te verander of om die menslike regering van Sy tyd uit te stryk nie!

Christus sal eerder beslissend met die konings van hierdie wêreld handel met Sy Wederkoms: “Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (Daniël 2:44).

Later in Daniël beskryf God duidelik hoe die ware heiliges, met die Messias se Wederkoms, heerskappy gegee sal word – onder Christus – oor al die regerings op hierdie aarde. “Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is ’n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees” (Daniël 7:27).

Hoe behoort Christene NOU op te tree teenoor menslike regerings?

Alhoewel Christus nie aktief deelgeneem het aan die regerings van hierdie misleide wêreld nie, het Hy tog aan ons ’n voorbeeld gestel van gehoorsaamheid aan die siviele wette en betoning van respek aan die ampsdraers. Toe die Fariseërs gekom het om Jesus te ondervra oor betaling van belasting, was Sy antwoord: “Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom” (Mattheüs 22:21).

God het Paulus geïnspireer om te skryf: “Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel, sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang” (Romeine 13:1-2). Paulus het ook verder verduidelik: “Want daarom betaal julle ook belastings; want hulle is dienaars van God wat juis hiermee voortdurend besig is. Betaal dan aan almal wat aan hulle verskuldig is: belasting aan die wat belasting, tol aan die wat tol, vrees aan die wat vrees, eer aan die wat eer toekom” (verse 6-7).

Paulus sê aan ons om te bid vir diegene wat in ampte van gesag is. “In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid” (1 Timotheüs 2:1-2).

Waaragtige Christene – wat die Kerk uitmaak (Grieks ekklesia, letterlik die “uitgeroeptes”) – is gelykstaande aan buitelandse ambassadeurs. “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus” (Filippense 3:20).

’n Klompie jare gelede het ek die geleentheid gehad om op te tree as adjunk-kanselier van ’n klein kollege naby Londen, Engeland. As gevolg hiervan en ook ander verantwoordelikhede, het ek ’n aantal vername onthale in Londen en aan huis van die Amerikaanse ambassadeur na Haar Majesteit se regering, bygewoon. By twee van hierdie geleenthede het ek die Amerikaanse Ambassadeur ontmoet.

Dit word van die Amerikaanse ambassadeur na Brittanje – of vir dieselfde prys na enige ander regering – verwag om die land waarin hy of sy woonagtig is, se wette te gehoorsaam, om die owerhede te respekteer en eer te betoon aan wie eer toekom. By twee geleenthede toe ek Winfield Huis – die ambassadeur se ampswoning – besoek het, was ’n heildronk ingestel op die Koningin. Almal het opgestaan en hul glasies gelig te ere van die minsame dame wat nog steeds monarg is oor die Britse volk. By elke geleentheid het die Amerikaanse ambassadeur – Elliot Richardson in een geval en Walter Annenburg in die ander – gedeel in die heildronk. Om hierdie soort respek te betoon teenoor diegene in gesag, reflekteer duidelik die gesindheid wat God in elkeen van ons verwag. Natuurlik ook om die wettige wette van die land te gehoorsaam en ons belasting te betaal. Indien enige totalitêre regering egter ooit sou probeer om ons te verplig om direk ongehoorsaam te wees aan die hoër Wette van die Almagtige God, dan behoort ons die geïnspireerde voorbeeld van die Apostels te volg, wie gesê het: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense” (Handelinge 5:29). Selfs dan, indien ons sou besluit om in daardie land aan te bly, moet ons verwag om enige boete of straf wat daardie regering ons mag oplê, te verduur – en in geloof na God op te sien om vir ons te sorg (sien Daniël 3).

Paulus het egter geskryf, ons is “gesante [ambassadeurs] van Christus” (2 Korinthiërs 5:20, NV). Ons behoort met liefde en respek teenoor alle menslike wesens op te tree – insluitende diegene in politieke ampte. Ons behoort egter altyd te onthou dat ons uiteindelike burgerskap nie uit of van die regerings van hierdie Satan-geïnspireerde samelewing is nie! Alhoewel ons ander mense van diens moet wees en aan hulle goed moet doen op ’n individuele grondslag, kan en mag ons nie met militêre of politieke pogings om Satan se misleide wêreld te herorganiseer of te verander, gemoeid wees nie. Die hele stelsel self is nie God se stelsel nie! Hy laat slegs toe dat misleide mense hul eie gang gaan en met verskillende tipes regering eksperimenteer gedurende hierdie huidige 6 000 jaar van menslike ervaring.

Paulus skryf: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige?” (2 Korinthiërs 6:14-15). Wanneer Hy na die godsdienstig-politieke stelsel verwys wat die grootste deel van die ontwikkelde wêreld sal domineer ten tye van Jesus Christus se Wederkoms, beveel God Sy mense: “En ek het ’n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (Openbaring 18:4).

Wat sou Jesus gedoen het in hierdie verkiesingsjaar in die Verenigde State? Hy sou so besig gewees het met die verkondiging van die goeie nuus van die naderende Koninkryk van God dat Hy geen tyd – nog minder belangstelling – sou hê vir politiekery, stemmery of deelname aan enige drukgroep om Satan se wêreld te verander. Hy sou weet dat – alhoewel hulle dit meestal goed bedoel – menslike pogings om hierdie wêreld te red gedoem is tot mislukking, omdat hulle onder Satan se heerskappy en deel van sy stelsel is, dit wat God “Babilon” noem (Openbaring 14:8).

Die missie en roeping van alle ware Christene is om te help om die weg voor te berei – as gesante in die voorhoede – vir die Koninkryk van God, die letterlike regering wat die lewende Jesus Christus binnekort sal vestig. Dit sal al die misleide menslike regerings op hierdie aarde vervang. “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15).

Wanneer die spesifieke eindtydse gebeure wat in God se geïnspireerde Woord voorspel is, reg rondom ons begin gebeur, behoort ons intens te verstaan dat Christus se naderende Regering werklik is! Namate die Amerikaanse dollar in waarde tuimel, namate die Amerikaanse en Britse aansien reg rondom die wêreld begin afneem en die Almagtige God voortgaan om ons “trotse mag te verbreek” (Levitikus 26:19), behoort ons te besef dat Christus werklik spoedig weer sal kom! Ons behoort ook werklik te verstaan dat alles om ons binnekort gaan verander. Wanneer ons ware fokus op daardie oorheersende faktor is, sal ons uiteindelik “alle kragte inspan” in ons voorbereiding om oorwinnaars te wees (Openbaring 2:26) en om ons deel te doen namate ons voorberei om die terugkerende Jesus Christus regtig by te staan om oor hierdie aarde teheers – op God se manier!