Weet u, persoonlik, regtig wie u is?

Weet u werklik wie u voorouers is? U familie se agtergrond en ander inligting mag ’n geweldige uitwerking hê op hoe u funksioneer, die soorte talente en sterkpunte wat u moontlik mag hê – en op u ware toekoms!

Die meeste van ons kyk so nou en dan na ons familiefotos, om te sien hoe ons grootouers en oorgrootouers gelyk het. Ons kan dalk ook kyk na die inligting in ’n ou familie-Bybel waarin sommige van ons voorouers gelys mag wees. Ons weet moontlik dat ons afstam van die Engelse of Walliesers of Italianers of Hollanders of wie ook al. Ons mag by onsself dink: “Dit is alles nogal interessant, maar maak dit regtig saak? Het dit enigiets te doen met my daaglikse lewe, met my loopbaan of met my toekoms?”

’n Uitdruklike jaDit het verseker!
Die huidige benadering van sosioloë en historici (wat normaalweg met elke geslag verander) beklemtoon dat ons voorouers feitlik geen verskil maak in wie ons is nie, en die huidige kelm op “politiese korrektheid” kan dit moeilik maak om openlik sommige van die sake te bespreek wat dikwels as vanselfsprekend aanvaar was ’n geslag gelede en is dikwels so opmerklik as die neus op mens se gesig! Die meeste van ons wat die lewe al vir ’n klompie dekades ondervind het, weet sekerlik van beter! Indien ons gewillig is om te erken dat die Heilige Bybel werklik die geïnspireerde woord van God is, dan kan ons begin om allerhande soorte inligting te verstaan waaroor hierdie verwarde wêreld onseker is – of eenvoudig net “die kat aan die stert beet het”.

Een ooglopende voorbeeld sou wees om objektief die Joodse volk se talente en sterkpunte in ag te neem. In plaas daarvan om hulle te probeer blameer vir Christus se dood, of om met ’n teorie van “Joodse sameswering” vorendag te kom in ’n poging om hulle met een of ander groot kwade beweging te identifiseer, hoe dui die Bybel duidelik aan sal die afstammelinge van Juda wees? Weerspieël hulle inderdaad baie duidelik die sterkpunte en voorbeelde wat Juda en sy nageslag getoon het, net soos geopenbaar in God se geïnspireerde woord?  

Natuurlik weerspieël hulle dit! 
Die meeste opregte Bybelstudente weet dat name belangrik is vir God. Hy noem mense en dinge wat hulle is. Byvoorbeeld, Satan is in die begin “Lucifer” of “Ligbringer” genoem – toe het hy teen God in opstand gekom en sy naam was verander na “Teenstander”. Dus, wat beteken Juda se naam?

Juda se naam beteken “Loof”

In die Hebreeuse taal beteken Juda letterlik “loof”. Juda se ma, Lea, was so verheug om ’n vierde seun te hê, dat sy gesê het “Dié keer sal ek die Here loof. Daarom het sy hom Juda genoem” (Genesis 29:35). Heelwat later het God Jakob geïnspireer om Juda met hierdie woorde lof toe te swaai: “Juda, jy is dit! Jou sal jou broers loof. Jou hand sal op die nek van jou vyande wees; voor jou sal die seuns van jou vader hulle neerbuig. Juda is ’n jong leeu; van die roof af het jy opgeklim, my seun. Hy buig hom, hy gaan lê soos ’n leeu en soos ’n leeuin; wie sal hom opjaag? Die septer sal van Juda nie wyk nie, nòg die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees” (Genesis 49:8-10).

Inderdaad, as geheel is die Jode ’n absolute briljante ras of etniese groep. Alhoewel hulle slegs omtrent twee tiendes van een persent van die wêreld se bevolking uitmaak, laat die geweldige prestasies van die Joodse volk die verbeelding van almal wat met ’n oop gemoed daarna kyk, steier. ’n Klompie jare gelede het ek met ’n aantal professionele musikante gepraat oor die werklik uitstaande pianiste en violiste op die wêreldtoneel. Uit die top halfdosyn pianiste oor die ganse wêreld heen – mense soos Artur Rubenstein en Vladimir Horowitz – was die meeste van hulle Jode. Ook uit die paar top violiste was die meeste Joods – met inbegrip van Jascha Heifetz, Isaac Stern en David Oistrakh, wat Russiese Jode was.

’n Tyd gelede was ’n gesaghebbende lys name vrygestel van die wêreld se belangrikste wetenskaplikes wat betrokke was in die ontwikkeling van kernwapens. Weereens was die aantal Jode onder hierdie groep top wetenskaplikes in hierdie baie uitdagende wetenskaplike veld, amper ongelooflik! Natuurlik word Albert Einstein bykans altyd erken as die “vader” van kernfisika – die hele veld daarvan. Dan die man wat die meeste mense voel verantwoordelik was vir die ontwikkeling van die atoombom, J. Robert Oppenheimer – ’n Amerikaanse Jood. ’n Engelse Jood, Edward Teller, word erken as die vader van die waterstofbom. Baie, baie ander Joodse wetenskaplikes is op hierdie lys – buite verhouding tot die getal wetenskaplikes uit enige ander etniese groep!

Raai watter etniese groep is normaalweg die meeste verteenwoordig in bykans elke veld van menslike strewes wat die hoogste vlakke van menslike intelligensie vereis – ver bo hul numeriese verteenwoordiging in die menslike ras? Die Jode!

Juda was genoem “loof”. U en ek behoort te verstaan dat ons Skepper wel spesiale talente of sterkpunte aan sekere etniese groepe verleen het – en ons is derhalwemoedswillig onkundig indien ons nie gewillig is om daardie ooglopende werklikheid te erken nie!

Natuurlik, soos ons nog altyd in hierdie Werk verkondig het, is ons almal beslis in geestelike sake, gelyk voor God. Ons is almal, deur God, die ontsaglike potensiaal gegee om Sy volle seuns te word en om, deur Sy Heilige Gees, deelgenote te word van Sy einste aard.  In hierdie menslike vlees verskil ons nogtans in baie opsigte en dit behoort so verstaan en waardeer te word. Mans is in sleutelaspekte sekerlik anders as vrouens. Mense met verskillende voorgeslagte – Duitsers, Chinese, Italianers, of wie ookal – het oor die algemeen verskillende sterkpunte. Daar is ook besondere sterkpunte en talente onder die Anglo-Saksies-Keltiese mense in die nasies van Brittanje, Amerika, Kanada, Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika. Hierdie is belangrike verskille – en ons en ons bure ontbeer baie noodsaaklike inligting as ons nie hierdie verskillende sterkpunte en swakhede begin verstaan en waardeer nie.

Indien ons al hierdie dinge verstaan, sal ons meer volledig kan weet wie ons is – en wat ons behoort te doen!

Wie is die “Seuns van Josef?”

Een absoluut noodsaaklike deeltjie etniese inligting is om te verstaan wie deesdae die “seuns van Josef” is – afstammelinge van die Bybelse patriarg wat in Genesis beskryf word. Indien ons daardie identiteit kan onderskei, dan kan ons weet wie geprofeteer was om in moderne tye beheer uit te oefen oor ’n groot deel van die hele wêreld se rykdom en mag! Ons sal kan weet wie beheer sou hê oor die uiters belangrike “poorte” van internasionale handel en die deurgang van militêre vaartuie en voorrade. Ons kan ook weet wie bestem was om die grootste ryk in die geskiedenis te word en wie die grootste enkelnasie in moderne tye sou wees.

En – verstaan dit – ons sal weet waarom daardie groot nasies se mag gebreek sal word, hulle verneder en uiteindelik in die grootste nasionale ballingskap in die geskiedenis weggevoer sal word – om uiteindelik bevry te word met Jesus Christus se Wederkoms as Koning van konings. U sal dus sien dat die identiteit van daardie mense ’nnoodsaaklike “sleutel” is om Bybelse profesieë te verstaan! Inderwaarheid sal omtrent 90% van eindtydse profesieë nie verstaan kan word, tensy mens die ware identiteit van die “Verlore Tien Stamme” van Israel verstaan nie – en veral die identiteit van die seuns van Josef.

Wie is dus vandag die seuns van Josef? Net soos die Bybel die aard en vermoëns van die Joodse volk beskryf het, het dit ook die aard en vermoëns van die seuns van Josef beskryf – duisende jare voor die tyd?

Ja! Dit het verseker!
Indien u noukeurig die hele storie van Josef en sy seuns lees, sal u baie boeiende inligting vind. Josef was nie slegs ’n uiters bekwame bestuurder wat deur die Egiptiese Farao aangestel was om oor die hele Egiptiese nasie beheer te hê nie, maar sy vader, Jakob, was geïnspireer om te voorspel dat Josef se seuns, in die “laaste dae”, twee van die grootste moondhede in die hele wêreld sou wees.

Nou toe nou! Wie is deesdae daardie moondhede?
Onthou, die aartsvader Josef se sterkpunte en talente het veroorsaak dat twee verskillende leiers hom aangestel het as ’n oorhoofse bestuurder. Eerstens was hy in  slawerny verkoop: “En Josef is afgebring na Egipte; en Pótifar, ’n hofdienaar van Farao, die owerste van die lyfwag, ’n Egiptiese man, het hom gekoop uit die hand van die Ismaeliete wat hom daarheen afgebring het. En die Here was met Josef, sodat hy ’n voorspoedige man was; en hy het in die huis van sy heer, die Egiptenaar, gebly. En toe sy heer sien dat die Here met hom was, en dat die Here alles wat hy doen, in sy hand voorspoedig maak, het Josef guns in sy oë gevind en hom gedien; en hy het hom aangestel oor sy huis, en alles wat in sy besit was, aan hom oorgegee” (Genesis 39:1-4). Josef was dus baie bekwaam om te lei en mense en eiendom te bestuur. Dít is ’n belangrike sleutel-element om te onthou!

Later vind ons dat Farao – koning van Egipte – daardie selfde eienskappe in Josef waarneem en hom, effektief, tweede in bevel oor die hele Egiptiese ryk aanstel! Let op: “Jý moet oor my huis wees, en na jou bevel moet my hele volk hulle skik; alleen deur die troon sal ek groter wees as jy. Verder het Farao vir Josef gesê: Kyk, ek stel jou aan oor die hele Egipteland. Toe trek Farao sy seëlring van sy hand af en sit dit aan die hand van Josef; en hy het hom fyn linneklere laat aantrek en die goue ketting om sy hals gehang en hom laat ry op sy tweede rytuig; en hulle het voor hom uitgeroep: Pas op! So het hy hom dan oor die hele Egipteland aangestel” (Genesis 41:40-43).

Gelei deur God, het Josef wyslik ’n stelsel regdeur die hele nasie georganiseer sodat hulle ontsaglike groot hoeveelhede graan opgeberg het, ter voorbereiding vir die voorspelde hongersnood wat sewe jaar sou duur (vers 54). Daarna, op ’n bedrewe besigheidsgrondslag, maar nogtans op grootmoedige wyse, het Josef begin om hierdie graan met die omliggende lande te deel (vers 57).

Dit is dus duidelik dat Josef oor ’n groot vermoë beskik het om mense en eiendom te bestuur – en dat hy van nature baie vrygewig was deur sy gewilligheid om die ekstra rykdom en voedingstowwe wat God aan die Egiptenare onder sy beheer gegee het, te deel. Hy was ’n seën vir al die omliggende nasies!

Josef se twee seuns

God het Josef intussen ook met twee seuns geseën – Manasse, die oudste, en Efraim, die jongste. Toe die aartsvader Jakob, (wie se naam verander was na Israel) hom voorberei het om te sterf, het God hom geïnspireer om die twee seuns se toekoms te voorspel. Toe hy sy hande uitstrek om hulle te seën, het Jakob sy regterhand met opset op Efraim se hoof geplaas (hoewel Efraim die jongste was) en sy linkerhand op Manasse se hoof; en hy het profeties gesê: “... mag deur hulle my naam [Israel] genoem word en die naam van my vaders Abraham en Isak, en mag hulle vermeerder in die land in menigte” (Genesis 48:16).

Onthou, die Bybel maak dit baie duidelik dat die Jode afstam van Juda – slegs maar een van die twaalf stamme van Israel. Die ander elf stamme – insluitende Benjamin, Ruben, Simeon, Levi, Naftali, ens. – was almal verskillende volke en het deur die eeue tot verskillende nasies gegroei. Hoofstuk na hoofstuk van 1 en 2 Konings en 1 en 2 Kronieke, beskryf die oorloë tussen Israel en Juda. Ja, die Israeliete het teen “die Jode” geveg (2 Konings 16:5-6). Hulle was verskillende volke.

U Bybel maak dit natuurlik duidelik dat Juda – die Joodse volk – die Messias sou oplewer en die koninklike lyn sou bewaar tot en met Christus se Wederkoms (Genesis 49:10). ’n Heeltemal ander toekoms is egter voorspel vir die seuns van Josef, wat nie “Joods” was nie, maar nogtans deel was van Israel! Kyk wat Israel op sy sterfbed-seën aan Manasse sê: “Hy sal ook ’n volk word, en hy sal ook groot word; nogtans sal sy jongste broer groter wees as hy, en sý nageslag sal ’n menigte van nasies word. So het hy hulle dan dié dag geseën en gesê: Met jou sal Israel ’n seën toewens, met die woorde: Mag God jou maak soos Efraim en soos Manasse! So het hy dan Efraim voor Manasse gestel” (Genesis 48:19-20).

Indien u die Bybel glo, is dit duidelik dat die afstammelinge van Efraim en Manasse “groot” volke sou word, en dat die jongste broer, Efraim, ’n menigte van nasies – of soos sommige vertalings lees, ’n “kompanjie” of gemenebes van nasies – sou word.

Later beskryf God die toekoms van Josef se nakomelinge. Hy openbaar dat die nakomelinge van Josef meer seëninge sou ontvang as al die ander nasies, “van die God van jou vader, wat jou help, en met die hulp van die Almagtige wat jou seën met seëninge van die hemel daarbo, met seëninge van die watervloed wat daaronder lê, met seëninge van borste en moederskoot. Die seëninge wat jou vader ontvang het, oortref die seëninge van die ewige berge, die kostelike gawes van die ewige heuwels. Dit sal wees op die hoof van Josef en op die hoofskedel van die uitverkorene onder sy broers” (Genesis 49:25-26).

Wanneer Amerikaners die sinsnede lees “seëninge van die hemel daarbo ... die kostelike gawes van die ewige heuwels”, mag ons vergewe word as ons daardie einste woorde in herinnering roep wanneer ons sing: “God bless America ... from the mountains to the valleys to the oceans white with foam!”

Nêrens anders in die Skrif is daar enige ander profesie oor enige ander volk, wat voorspel dat sodanige diepgaande seën oor enige ander nasie in die eindtyd sal kom, as dié wat in Genesis 49 belowe is nie. Want hulle was bestem om die seën te hê van ’n “vrugteboom by ’n fontein” (vers 22), “seëninge van die hemel daarbo, met seëninge van die watervloed wat daaronder lê” (vers 25). Uiteraard sou hulle geil en oorvloedige oeste hê. Hulle sou ryk minerale en olie neerslae hê [“seëninge van die watervloed wat daaronder lê” (vers 25) en “seëninge van die ewige berge, die kostelike gawes van die ewige heuwels” (vers 26)]. Hulle sou geseënd wees bo al die nasies.

Wie is dus weereens hierdie volke wat so wonderlik geseënd is?
God het vroeër ander seëninge aan die nakomelinge van Israel toegesê, toe Hy aan hom gesê het: “Ek is God, die Almagtige. Wees vrugbaar en vermeerder. ’n Nasie, ja, ’nmenigte van nasies, sal van jou afstam, en konings sal uit jou lendene voortkom. En die land wat Ek aan Abraham en Isak gegee het, sal Ek aan jou gee; en aan jou nageslag ná jou sal Ek die land gee” (Genesis 35:11-12).

Dus, een “groot” nasie en ’n afsonderlike “menigte van nasies” sou uit Israel se lendene voortkom. Ander profesieë toon aan dat hierdie afstammelinge beheer sou hê oor die groot “poorte” van internasionale handel en militêre mag. Kyk na God se belofte aan Abraham: “... dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem. En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het” (Genesis 22:17-18). Ons vind dan dat Rebekka profeties “geseën” was met hierdie woorde: “Ons suster, mag jy duisende van tienduisende word, en mag jou nageslag die poort van sy vyande in besit neem!” (Genesis 24:60).

Hierdie profesieë het baie groter betekenis as wat die meeste mense vandag besef. In moderne tye het die hoë bergpasse in afgeleë gebiede mos feitlik geen uitwerking op internasionale handel en nywerheid nie. Dit is die lewensnoodsaaklike “seepoorte” – soos die Suezkanaal, die Straat van Malakka, die Straat van Ormuz en ander soortgelyke seepoorte – wat geweldige implikasies gehad het in die bepaling van wie wêreldsake beheer!

Indien u die wêreldnuus noukeurig lees, sal u sien dat die Irakiërs gedurig dreig om die Straat van Ormuz te sluit, die straat waardeur 70% van die Midde-Oosterse olie vloei! U sal lees dat die skepe wat deur die Straat van Malakka vaar, deesdae soms lastig geval word, want die Britse beheer oor die seë is nie meer wat dit was nie. U sal onthou dat ’n ander groot “seepoort” – die Panamakanaal – oorgegaan het in vreemde hande, met onheilspellende gevolge vir Amerika se toekoms.

Wie het in moderne tye, tydens die toppunt van hulle mag, al hierdie “poorte” asook die ander groot seepoorte oor die hele wêreld, beheer? Hulle was almal, tot ’n paar jaar gelede, byna uitsluitlik onder Britse beheer, met Amerika wat in beheer was van die Panamakanaal! Meeste van daardie beheer is nou weg! Want God het daardie seepoorte weggeneem van die Anglo-Saksiese volkere van die Britse Ryk en van Amerika.

Die Britse en Amerikaanse volke geïdentifiseer

U het dit heel waarskynlik nou al geraai: Die moderne afstammelinge van Efraim en Manasse – die “seuns van Josef” – is die volke van Britse afkoms in Amerika en die Britse Statebond. Die Anglo-Saksiese mense van hierdie moderne nasies het dieselfde sterkpunte en talente as wat hul voorvader, die Bybelse patriarg Josef, gehad het. Veel meer asal die ander nasies tesame, neig hierdie nasies om – by wyse van spreke – “graan op te berg” en die honger massas van Afrika, Asië, die Midde-Ooste en dikwels ook ander nasies, te voed.

Alhoewel die meeste mense in die Verenigde State en Groot Brittanje nie eens weet wat hul nasionale identiteit en antieke verwantskap is nie, was hul geneig om “saam te staan” – soos in die twee Wêreldoorloë, die Koreaanse Oorlog, die “Koue Oorlog”, die Viëtnamese Oorlog en die twee onlangse “Golfoorloë” in die Midde-Ooste. Die Britte en Amerikaners is nie slegs “neefs” – soos soms gesê word nie – hulle is werklik “broers” – die nasate van die twee seuns van Josef. Ja, broers baklei en stry soms, soos ons gedoen het. Nogtans neig ons om saam te staan in belangrike sake – sedert die Amerikaanse Vryheidsoorlog – wanneer dinge begin skeefloop. Moet dit nooit vergeet nie! Te midde van meer oorlogsugtige nasies, het ons vir meer as twee eeue die “vredes-ewewig” bewaar. Ons het meer dokters, onderwysers en sendelinge uitgestuur om ander nasies te help, as al die ander nasies saam. ’n Aantal jare gelede, toe miljoene mense in Indië verhongering in die gesig gestaar het, was dit Amerika wat, volgens die voorbeeld van sy voorvader Josef, ’n ontsaglike groot vloot van 600 skepe – hoofsaaklik Amerikaans – met graan en ander voedingstowwe vanaf die plase en velde van Amerika en Kanada gestuur het om die hongerlydendes te help.

Waarlik, die Amerikaanse en Brits-afstammende volke was geseënd “met seëninge van die hemel daarbo, met seëninge van die watervloed wat daaronder lê” (Genesis 49:25). Nogtans, ten spyte daarvan dat ons oorlaai was met al hierdie seëninge, het ons ons rug gekeer op God. Ons het verseker nie die Skepper wat ons al hierdie seëninge gegee het, vereer nie. Soos President Abraham Lincoln selfs in sy dag gesê het: “Ons was die ontvangers van die keurigste gawes van die Hemel. Ons was, deur al hierdie baie jare, in vrede en voorspoed bewaar. Ons het gegroei in getalle, rykdom en mag, soos geen ander nasie nog ooit gegroei het nie. Maar ons het God vergeet. Ons het die genadige hand vergeet wat ons in vrede bewaar het, wat ons vermenigvuldig, verryk en versterk het; en ons het ons ydellik verbeel, in die bedrieglikheid van ons harte, dat al hierdie seëninge voortgespruit het uit ’n soort meerderwaardige wysheid en deugsaamheid van ons eie. Dronk van ononderbroke sukses, het ons te selfversekerd geword om die noodsaaklikheid van verlossende en bewarende genade te besef; en te hoogmoedig om tot die God te bid wat ons gemaak het!”

Wat is ons TOEKOMS?

Dus, wat hou die toekoms in? Is die Amerikaners en die Brits-afstammende nasies God se “witbroodjies?” Sal Hy voortgaan om hulle te seën?

Op geen manier nie!
Die ewige God is nie ’n aannemer van die persoon nie, soos die Bybel dit oor en oor stel. Romeine 2:11 sê immers: “Want daar is geen aanneming van die persoon by God nie”.

Duisende jare gelede het God ons voorvaders gewaarsku: “As jy kinders en kindskinders sal verwek en julle in die land verouderd sal wees en verderflik handel deurdat julle ’n gesnede beeld maak, ’n gelykenis van enigiets, en doen wat verkeerd is in die oë van die Here jou God om Hom te terg, dan neem ek vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle dat julle sekerlik gou uit die land sal vergaan waarheen julle oor die Jordaan trek om dit in besit te neem; julle sal die dae daarin nie verleng nie, maar sekerlik verdelg word. En die Here sal julle onder die volke verstrooi, en ’n klein klompie van julle sal onder die nasies oorbly waarheen die Here julle sal drywe. En daar sal julle gode dien, die werk van mensehande, hout en klip wat nie sien en nie hoor en nie eet en nie ruik nie. Dan sal julle daarvandaan die Here jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek. As jy in die nood is en al hierdie dinge aan die einde van die dae oor jou kom, sal jy na die Here jou God terugkeer en na sy stem luister” (Deuteronomium 4:25-30).

Onthou! Die Almagtige God sê: “As jy in die nood is en al hierdie dinge aan die einde van die dae oor jou kom” (vers 30). Die moderne afstammelinge van antieke Israel isdus nie God se “troetel” volke nie. God – in Sy genade – sal ons verneder deur die beproewinge wat voorlê en aan ons lesse leer wat ons op geen ander manier wil leer nie. Dit is egter noodsaaklik dat ons weet wie ons is, sodat ons kan verstaan waarom die toekomstige rampe meer as ooit tevore oor ons volke sal toesak! U lesers wat nieafstam van ’n Anglo-Saksies Kelstiese agtergrond nie, kan verstaan dat ons nie probeer om onsself te verhef omdat ons God se doel verstaan nie. Die toekoms is inderdaad donker vir ons volke, tensy ons ons bekeer.

Ons almal – uit elke ras en etniese agtergrond – word in geestelike Israel “ingeënt” wanneer ons bekeer en gedoop word in God se huidige Kerk (Romeine 11:19-23). Ons moet almal, afgesien van ons agtergrond, gewillig wees om onsself te verneder onder die magtige hand van God en uit te roep tot Hom vir hulp om elke les te leer wat Hy wil hê ons moet leer, sodat ons vir alle ewigheid in Sy Koninkryk kan wees. Laat ons dus wêreldgebeure met meer ywer en begrip dophou. Jesus Christus bemoedig ons: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:36). Indien u dit nie alreeds gedoen het nie, skryf asseblief vandag nog en vra om u gratis eksemplaar van ons insiggewende boekie: Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? Dit sal u help om waaksaam te wees en gereed te wees vir die tye wat binnekort voorlê!