Vraag: Wanneer ek u tydskrif lees besef ek hoe ernstig Jesus Christus wil hê dat Sy volgelinge Hom moet gehoorsaam. Na jare van gebed en Bybelstudie kry ek dit egter nie reg om Hom te gehoorsaam en geestelik soveel te groei as wat ek graag sou wou nie. Daar is mense wat sê al wat ek moet doen is om te “glo” – en ek glo wel – waarom vind ek dit dan so moeilik om Jesus se opdragte te gehoorsaam?

Antwoord: Geloof is sekerlik u eerste noodsaaklike stap om ’n Christen te word. Wat moet u egter glo – en daarna doen? Jesus sê: “Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word” (Markus 16:16). Let daarop dat om slegs te glo nie genoeg is nie. Ons lees: “Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder” (Jakobus 2:19). Dit is noodsaaklik om op u geloof te handel en gedoop te word. Wat moet egter vóór die doop kom? Kyk wat het die apostel Petrus op Pinkster aan die skare gesê: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” (Handelinge 2:38).

Voordat hy gedoop is, het die apostel Paulus gedink dat hy “onberispelik” was in sy ywerige gehoorsaamheid aan God se Wet (Filippense 3:5-6). Slegs nadat God hom platgeslaan het op pad na Damaskus het Paulus begin besef dat hy besig was met ’n nuttelose poging om redding te verkry deur sy eie werke. Het Paulus dit egter altyd maklik gevind om die begeertes van die vlees te oorwin en God te gehoorsaam? Kyk wat skryf hy: “Ek vind dus hierdie wet: as ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig. Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens; maar ek sien ’n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is. Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!” (Romeine 7:21-25).

Ja, selfs ná sy doop het Paulus geweet dat hy sy eie menslike wil saam met die Heilige Gees moet gebruik om die sondige neigings te oorwin wat hy in homself bespeur het. Die doop is nie ’n soort “magiese koeël” wat ons volmaak maak nie, ook stel dit ons nie vry van die noodsaaklikheid om God te gehoorsaam nie. Wat dit wel doen is om aan ons God se hulp te verleen om Hom te gehoorsaam. Dit word gedoen deur die gawe van die Heilige Gees en deur die vergifnis wat Hy skenk wanneer ons diep berou het oor ons ongehoorsaamheid. “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Johannes 1:9).

Jesus Christus, die Woord van God (Johannes 1:1-5), het na hierdie aarde gekom om in die vlees onder die mensdom te leef en daardeur te bewys dat ons, as mense, wel ons Skepper se Wette kan gehoorsaam – nie deur ons eie krag nie maar deur die krag van God wat in ons leef, soos Hy in Jesus geleef het. “Hy wat in die dae van sy vlees gebede en smekinge met sterk geroep en trane aan Hóm geoffer het wat Hom uit die dood kon red, en ook verhoor is uit die angs – Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het” (Hebreërs 5:7-8). Ja, Christus het gely, gehoorsaamheid geleer – en geloof openbaar!

Wat van werke? Ons lees: “Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood. Maar iemand sal sê: Jy het die geloof en ek die werke. Toon my jou geloof uit jou werke, en ek sal jou uit my werke my geloof toon” (Jakobus 2:17-18).

Werke – ons uiterlike uitlewing van die eise van ons geloof – is nie die manier waardeur ons redding verkry nie. Dit is die gevolge van ons geloof wat ons deur die krag van die Heilige Gees uitleef.

Indien God u roep tot ware berou tot bekering en behoorlike doop, moedig ons u aan om kontak te maak met ons streekskantoor die naaste aan u, soos gelys op bl. 2 van hierdie tydskrif. Met God se hulp kan u Hom gehoorsaam en die vreugde en baie seëninge smaak wat kom wanneer u volgens God se weg lewe!