Ons wêreld ly as gevolg van voortdurende ekonomiese en militêre probleme. Die bedreiging van kernoorlog, terrorisme, siekte-epidemies – en meer – mag veroorsaak dat u bedenkinge het oor u toekoms. Weet u dat u Bybel ’n nuwe wêreld belowe – in die nabye toekoms – waarin daar vrede en vreugde vir almal sal wees, asook ’n spesiale rol vir vandag se getroue Christene?


Oor die laaste honderd jaar het die mensdom twee wêreldoorloë verduur. Die Eerste Wêreldoorlog het uitgeloop op tien miljoen sterftes; die Tweede Wêreldoorlog het 55 miljoen sterftes gesien. Meer onlangs het die Westerse militêre bondgenootskappe voortgegaan om ongevalle te ly in Irak en Afganistan. Volksmoorde het miljoene lewens geëis onder die regerings van Nazi Duitsland en Kommunistiese Kambodja. Diktators, vanaf Stalin tot Mao, het miljoene van hul teenstanders vermoor. Die Midde-Ooste was nog altyd ’n “kruitvat” – Bybel profesieë dui aan dat dit so sal bly tot en met Jesus Christus se wederkoms, behalwe vir ’n kortstondige 3½ jaar tydelike “vrede” ná aan die einde van hierdie tydvak.

Kan die mensdom die wêreld se botsings, oorloë en probleme oplos? Teen die einde van die Eerste Wêreldoorlog het die Amerikaanse President Woodrow Wilson die Volkerebond voorgestel wat saam sou werk vir wêreldvrede. Daardie organisasie het gefaal, en na die Tweede Wêreldoorlog is die Verenigde Nasies in 1945 vir dieselfde doel saamgestel. Meer as 60 jaar later het sy 192 lidstate nog nie die weg na standhoudende wêreldvrede gevind nie.

Hoeveel jaar van vrede het die wêreld ervaar? Wanneer ons die wêreld se geskiedenis beskou, lyk dit of mense nog nie hul lesse geleer het nie. Historici Will en Ariel Durant het ons rekord van oorlog en vrede ondersoek en tot die gevolgtrekking gekom: “Gedurende die laaste 3,421 jaar van aangetekende geskiedenis, het slegs 268 jaar geen oorlog gesien het nie” (The Lessons of History, bl. 81).

Is daar hoop vir die mensdom? Aan die een kant openbaar Bybelse profesie ’n komende Derde Wêreldoorlog wat groot dele van die mensdom sal vernietig. Bybelse profesie gee ons egter ook hoop ná Armageddon! Kyk: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Mattheüs 24:21-22).

Ja, daardie dae sal verkort word! Die Redder van die wêreld, Jesus Christus, sal ingryp. Hy sal totale vernietiging van die aarde en alle lewe wat daarop is, voorkom. Daar is ’n nuwe wêreld aan die kom wat aan ons almal hoop en vertroosting bied. Een van die mees bemoedigende Skrifgedeeltes is te vinde in Openbaring 11. Aan die einde van die profetiese tyd bekend as die Dag van die Here, gee God Almagtig hierdie ontsagwekkende aankondiging tydens die blaas van die sewende basuin: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15).

Hoe sal die nasies reageer op hierdie aankondiging? Sal hulle die Messias verwelkom? Let daarop: “En die nasies was vertoornd, en u toorn het gekom en die tyd van die dode om geoordeel te word en om die loon te gee aan u diensknegte, die profete, en aan die heiliges en aan die wat u Naam vrees, klein en groot, en om die verderwers van die aarde te verderf” (Openbaring 11:18).

Hoe verbasend! Die nasies sal die Messias, Jesus Christus, nie verwelkom nie. Hulle sal selfs probeer om met Sy Wederkoms teen Hom te veg. Die wêreld se leërs sal by Megiddo saamtrek vir wat algemeen “Die Slag van Armageddon” genoem word – maar wat u Bybel eintlik “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” noem (Openbaring 16:14). Wie sal daardie oorlog wen? Die Skrif beskryf Christus se neerdaling na die aarde, vergesel van die heiliges – ware Christene – om te veg: “En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En uit sy mond gaan daar ’n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ’n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here” (Openbaring 19:14-16).

Diegene wat in hierdie klimaktiese geveg teen Christus veg, sal gedood word. “En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees” (Openbaring 19:19-21).

Ja, ons sien uit na die goeie nuus van Christus se wederkoms! Die Koning van die konings sal die vyande van vrede verslaan. Openbaring 20 beskryf hoe God voorbereidings tref vir ’n duisend jaar van vrede wat sal volg op Christus se wederkoms. Satan die duiwel sal gebind en in die afgrond gewerp wees. Gedurende die Duisendjarige Vrederyk, terwyl Satan ingeperk is, sal hy nie langer in staat wees om die wêreld te mislei met valse godsdienste en afstootlike gebruike nie. Slaan ag: “En ek het ’n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ’n groot ketting in sy hand. En hy het die draak gegryp – die ou slang wat die duiwel en die Satan is – en hy het hom gebind duisend jaar lank, en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ’n kort tydjie ontbind word” (Openbaring 20:1-3).

 

’n Nuwe wêreldorde

Die Millennium sal begin met ’n nuwe wêreldregering – ’n nuwe wêreldorde wat ewigdurende wêreldvrede sal meebring! Wat is egter daardie nuwe wêreldorde? Hoe sal die Millenniale regering georganiseer wees? Die nuwe wêreldregering sal bestuur word deur die Koning van die konings en die Here van die here, Jesus Christus. Neem kennis van hierdie belangrike feit: Hy sal die heiliges, getroue Christene, aanstel om onder Hom te regeer. “En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank” (Openbaring 20:4).

U Bybel openbaar die toekoms en dit waarborg ’n duisend jaar van wêreldvrede. Hoe sal daardie wêreld egter wees? Hoe sal die nuwe wêreldregering funksioneer? Hoe kan ons seker wees dat geslag na geslag groot vrede en voorspoed sal geniet?

Ten eerste, Christus, die Koning van die konings, sal die mag hê om nasies en individue van opstandigheid en oorlog te weerhou. Lees hierdie bemoedigende profesie: “En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:4).

Christus sal oorlogsugtige volke en nasies teregwys. Die oorlogwapens sal omskep word in werktuie van vrede en produktiwiteit. Party van u het moontlik die beeld buite die gebou van die Verenigde Nasies in New York gesien, wat ’n man uitbeeld waar hy ’n swaard in ’n ploegskaar smee. Dink net hoe die wêreld verander sal word van vernietigende metodes na produktiewe metodes. Deesdae spandeer nasies miljarde rande aan oorlogwapens. Die Wall Street Journal se MarketWatch het hierdie hoofopskrif op 8 Junie 2009 vertoon: “Wêreldwye militêre uitgawes slaan ’n rekord in 2008. Amerika se oorloë in die Midde-Ooste verhef die wêreld se top militêre kontrakteurs”. Die artikel gaan voort: “Wêreldwye uitgawes aan militêre wapentuig en dienste het ’n rekord in 2008 bereik, aangedryf deur die Amerikaanse oorloë in Irak en Afganistan en aangehelp deur skerp stygings in die Chinese en Russiese verdedigingsbegrotings. Lande reg oor die wêreld het vir 2008 $1.5 biljoen aan wapens, voertuie, intelligensie en spioenasie bestee, volgens ’n verslag Maandag van die Stockholm Internasionale Vredesnavorsingsinstituut, of SIVNI. Die bedrag verteenwoordig ’n 4% toename sedert 2007. Die jaar het ‘vermeerderde bedreigings aan sekuriteit, stabiliteit en vrede om bykans elke hoek van die aarde gesien’, het die Sweedse groep in hul verklaring gesê: ‘Die uitwerking van die wêreldwye finansiële krisis sal waarskynlik hierdie uitdagings vererger, namate regerings en nie-regeringsorganisasies worstel om doeltreffend te reageer’”.

Die nasies van die wêreld is nie besig om te ontwapen nie. Hulle spandeer toenemend meer geld en hulpbronne aan militêre wapentuig en dienste. Hoe sal ons ooit vrede op hierdie aarde hê? Die goeie nuus is: Die Koning van die konings sal vrede tussen nasies afdwing. Hy sal daardie nasies en volke wat graag veg en doodmaak, bestraf. Dink aan die biljoene dollars wat spandeer word aan militêre wapens. In die Millennium sal mense daardie hulpbronne aanwend tot voordeel van nasies om produktiwiteit en vrede te verbeter.

Vir duisende jare het fanatiese godsdienste en supermoondhede die strategieë van oorlog geleer. Die Messias, Jesus Christus, is egter die Prins van Vrede (Jesaja 9:6). Die nasies moet heropgelei word in die lewensweg wat vrede voortbring. Hulle moet die weg van vrede aanleer, nie die weg na oorlog nie.

Aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog het Generaal Douglas MacArthur sy aandag toegespits op die sleutel tot wêreldvrede. Aan boord van die U.S.S. Missouri, toe die Japannese formeel oorgegee het, het hy gewaarsku: “Ons het ons laaste kans gehad. Indien ons nie ’n groter en meer regverdige stelsel kan bedink nie, is Armageddon ons voorland. Die probleem is basies teologies van aard en behels ’n geestelike herlewing en verbetering van menslike karakter wat sal saamval met ons bykans weergalose vooruitgang in wetenskap, kuns, letterkunde en alle materiële en kulturele ontwikkeling van die afgelope twee duisend jaar. Dit moet van die gees wees as ons die vlees wil red”.

Generaal MacArthur het duidelik besef dat ’n transformasie in die menslike karakter die sleutel is tot vrede tussen nasies. Hy het gesê: “Dit moet van die gees wees as ons die vlees wil red”. Daardie verandering sal slegs kom wanneer die wêreld sy lesse geleer het. Die goeie nuus is: Daardie verandering van gees sal tydens die Millennium kom, wanneer Jesus Christus die Koninkryk van God hier op aarde vestig. Dan, uiteindelik, sal ons mense begeer om volgens die Bybel en die Tien Gebooie te leef. U persoonlik, kan egter vandag die weg na vrede aanleer.

 

Konings en priesters

God is nou besig om Sy mense te roep om hulle op te lei as konings en priesters. Baie min belydende Christene verstaan egter vandag die glorieryke roeping en toekoms wat deur God voorberei word! Wat sal die heiliges – ware Christene – in die toekomstige Koninkryk doen? Slaan ag op hierdie lied van die heiliges: “U [Jesus Christus] is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Openbaring 5:9-10).

Ja, God sal ’n regverdige regering op hierdie aarde vestig, en vandag se bekeerde Christene sal in daardie tyd Jesus Christus bystaan om daardie regering te administreer. Hoe sal dit wees? Lees hierdie bemoedigende profesie: “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en die volke sal daarheen toestroom. En baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die Here en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem” (Miga 4:1-2).

Hier is wonderlike nuus. Nie baie jare van nou af nie, sal Jesus Christus terugkeer om ’n wêreld van oorlog, chaos en vleeslikheid te omskep in ’n wêreld van vrede, voorspoed, vervulling en vreugde! God se Koninkryk sal spoedig na hierdie aarde kom. Daar is hoop vir u en u gesin. Die Prins van Vrede sal onderrig gee in die weg van vrede en voorspoed. Jerusalem sal die hoofstad van die wêreld wees. “So sê die Here: Ek keer terug na Sion en sal midde-in Jerusalem woon; en Jerusalem sal genoem word: Die stad van trou, en die berg van die Here van die leërskare: Die heilige berg. So sê die Here van die leërskare: Daar sal weer ou manne en ou vroue op die pleine van Jerusalem sit – elkeen met sy stok in sy hand vanweë die veelheid van hulle dae. En die pleine van die stad sal vol wees van seuntjies en dogtertjies wat op die pleine daarvan speel” (Sagaria 8:3-5).

In plaas van stedelike geweld, bendemoorde en voortydige dood van kinders, sal gesinne veilig en in sekerheid lewe. Ouer mans en vrouens sal in vrede lewe en nie langer allerhande soorte mishandeling ondergaan nie. Plase sal floreer met onderhoubare landbou. Lees hierdie bemoedigende profesie: “Kyk, die dae kom, spreek die Here, dat die ploeër die maaier inhaal, en die druiwetrapper die saadsaaier; en dat die berge van mos sal drup, en al die heuwels daarvan oorvloei sal wees. En Ek sal die lot van my volk Israel verander, en hulle sal die verwoeste stede bou en bewoon, ook sal hulle wingerde plant en die wyn daarvan drink, en tuine aanlê en die vrugte daarvan eet. En Ek sal hulle plant in hul land, en hulle sal nie meer uitgeruk word uit hul land wat Ek hulle gegee het nie, sê die Here jou God” (Amos 9:13-15).

Ons besoedelde planeet sal hernu word! U Bybel onthul ons glorieryke toekoms in baie profesieë. Hier is een bemoedigende beskrywing van ons hernude aarde onder Christus se liefdevolle regering: “Dis woestyn en die dor land sal bly wees, en die wildernis sal juig en bloei soos ’n narsing; dit sal lustig bloei en juig, ja, met gejuig en gejubel; die heerlikheid van die Líbanon is aan hom gegee, die sieraad van Karmel en Saron; hulle dáár sal sien die heerlikheid van die Here, die sieraad van onse God ... Dan sal die lamme spring soos ’n takbok, en die tong van die stomme sal jubel; want in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis. En die gloeiende grond sal ’n waterplas word, en die dorsland fonteine van water; in die plek van die jakkalse waar hulle gelê en rus het, is gras met riete en biesies” (Jesaja 35:1-2, 6-7).

In God se toekomstige Koninkryk op aarde, sal Christus mense genees van al hul ongesteldhede. Onthou, toe Jesus die Evangelie van die Koninkryk van God verkondig het, het Hy duisende mense genees. Ons lees: “... en groot menigtes het Hom gevolg, en Hy het hulle almal gesond gemaak” (Mattheüs 12:15). Jesaja sê aan ons: “Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos ’n takbok, en die tong van die stomme sal jubel; want in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis” (Jesaja 35:5-6).

Daar is hoop vir die toekoms van die wêreld – en daar is hoop vir u toekoms! Vandag se getroue Christene, die ware heiliges, sal in die eerste opstanding wees om Christus te help om oor die wêreld te heers. Hulle sal die Millennium van wêreldvrede inlui. Die glorieryke Koninkryk van God op aarde sal skoonheid en produktiwiteit voortbring, soos wat die wêreld nog nooit geken het nie. In die Millennium sal God Sy kennis tot almal se beskikking stel – anders as in ons huidige tydvak waarin slegs relatief min van al die miljarde mense op aarde Sy ware Evangelie verstaan, wat as ’n getuienis gepreek word (Mattheüs 24:14). Terwyl hulle saam met Jesus Christus werk, sal vandag se getroue Christene hul Redder bystaan om die wêreld voor te berei vir die toekomstige “Groot Wit Troon Oordeel” – waarin almal wat nog nooit voorheen die ware Evangelie gehoor het nie, hul eerste geleentheid sal kry om God se lewensweg aan te leer en uit te leef!

Mag God die koms van Sy Koninkryk bespoedig! Dit sal spoedig kom! U behoort te bid: “Laat U Koninkryk kom”! U behoort op die uitkyk te wees vir profetiese tendense en tekens wat Christus se wederkoms aankondig!