U Bybel waarsku oor ’n tyd wanneer oorlog in die ruimte die planeet Aarde en alle lewende wesens sal skud. Hoe sal dit u toekoms raak? U behoort te weet!


Byna 50 jaar gelede, op 25 Mei 1961, het die Amerikaanse President John F. Kennedy vir sy nasie ’n doelwit gestel – ’n doelwit wat baie mense as onmoontlik beskou het. Hy het die Amerikaanse Kongres toegespreek en gesê: “Hierdie nasie behoort hulself te verbind om, voor die einde van hierdie dekade, die doelwit te bereik om ’n man op die maan te plaas en hom weer veilig na die aarde terug te bring”.

Kennedy se oproep het weerklank gevind by baie Amerikaners. Mense was nog altyd bekoor deur die buitenste ruimtes – en inderdaad, dit behoort so te wees. Soos die Psalmdigter skryf: “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande” (Psalm 19:2).

In antwoord op Kennedy se uitdaging, het die Amerikaanse ruimteprogram duisende wetenskaplikes en ingenieurs gewerf. Vervaardigers het nuwe tegnologie ontwikkel om vuurpyle, rekenaars en navigasie-toerusting te vervaardig. Dit was ’n bietjie meer as agt jaar ná Kennedy se uitdaging dat Apollo 11 se ruimtevaarder Neil Armstrong op 20 Julie 1969 uit die maankapsule gestap en verklaar het: “Dit is een klein treetjie vir die mens, een groot sprong vir die mensdom”.

Drie-en-’n-half jaar later, in Desember 1972, het Apollo 17 se ruimtevaarders Eugene Cernan en Harrison Schmitt, die elfde en twaalfde Amerikaners geword om op die maan te loop. Niemand is sedertdien terug daarheen nie. Nou egter, is nasies soos Indië en China besig om ruimteskepe te lanseer en berei hul voor vir hul eie bemande maansendings.

Die Volksrepubliek van China het toegetree tot die ruimtewedloop en het gesofistikeerde ruimtebates ontwikkel, insluitende die vermoë om ’n satelliet af te skiet! Die China Real Time Report wat op die Wall Street Journal se Webtuiste geplaas was, toon ’n artikel getiteld: “China a Step Ahead in Space Race”. “Dit lyk of China die klomp verbysteek in Asië se ruimtewedloop, nadat hulle hul planne aangekondig het om hul tweede maanverkenningstuig, Chang’e-2 te lanseer op 1 Oktober 2011 – China se Nasionale Dag. Indien die missie suksesvol is, sal dit China nog ’n tree voor Indië plaas in die wedloop om die tweede nasie, naas Amerika, te word om ’n ruimtevaarder op die maan te laat land. China het hom verbind om dit te vermag teen 2025 en Indië teen 2020 en daardeur ’n 21ste eeuse Asiatiese weergawe van die Koue Oorlog ruimtewedloop tussen Amerika en die Sowjetunie daar te stel” (28 September 2010).

Neem ander Asiatiese nasies ook aan die ruimtewedloop deel? Die WSJ artikel stel dit so: “Intussen het Japan verlede jaar [2010] in Junie sy eerste maansatelliet gelanseer en hierdie jaar [2011] ’n plan aangekondig om binne vyf jaar ’n robot na die maan te stuur asook ’n onbemande basis daar te bou binne 10 jaar”.

Europa het ook ruimte doelwitte. Die President van die Europese Raad, Herman Van Rompuy sê die volgende: “Ons moet Europa bevorder as ’n ruimtemoondheid. Om dit te vermag, moet ons voortbou op die ondervinding van die ERA [Die Europese Ruimte Agentskap]. Die ERA moet versterk word om volle verantwoordelikheid te aanvaar vir die implementering van die ruimtesendings wat Europa se status as wêreldmoondheid vereis” (ESA News, 29 Oktober 2010).

Amerika se sending na Mars?

Op 15 April 2010 het Amerika se President Barak Obama ’n belangrike toespraak gelewer by die Kennedy Ruimte Sentrum in Florida en ’n verandering in Amerika se ruimtebeleid aangekondig. Hy het aangekondig: “Vroeg in die volgende dekade sal ’n paar bemande vlugte die stelsels wat nodig is vir verkenning buite die aarde se lae wentelbaan, uittoets en nagaan. Teen 2025 verwag ons nuwe ruimtetuie wat ontwikkel is vir lang reise, wat ons sal toelaat om te begin met die eerste ooit bemande sendings verder as die maan, die diepe ruimte in. Ons sal dus begin deur ruimtevaarders vir die eerste keer in die geskiedenis, na ’n asteroïde te stuur. Teen die middel 2030’s, glo ek, sal ons mense in ’n wentelbaan om Mars kan plaas en hulle weer veilig terugbring na die aarde. Daarna sal ’n landing op Mars volg. Ek verwag om hier te wees om dit te sien”.

Om ruimtevaarders op Mars te laat land en hul later weer terug te bring na die aarde, vereis baie meer brandstof en ander hulpbronne as ’n tog na die maan. Met dít in gedagte, het die National Aeronautics and Space Administration (NASA) ernstig ’n eenrigting-vlug na Mars oorweeg. Een koerantberig het dit só verduidelik: “NASA is op die uitkyk vir vrywilligers om na Mars te vlieg – die haakplek is dat jy nie sal terugkom nie. Hulle ondersoek aktief die moontlikheid om die wêrelde soos die Rooi Planeet, met mense te koloniseer. Die setlaars sal van voorrade vanaf die aarde voorsien word, maar hulle sal gaan met die wete dat dit te duur sal wees om hulle weer terug te bring. NASA het aangekondig dat hulle alreeds meer as $1 miljoen ontvang het om met die projek te begin by hul Ames Navorsingsentrum in Kalifornië. Pete Worden, direkteur van die sentrum, wat beweer dat mense teen 2030 op Mars sal kan leef, ten spyte van die onherbergsame toestande, het gesê: ‘Die menslike ruimteprogram se doelwit is nou om ander wêrelde te vestig’”(“NASA Mars mission a one-way tripit’s the biggest dead-end job ever”, The Herald Sun, 29 Oktober 2010).

Sal enigiemand aanbied om vrywillig op ’n eenrigting vlug na Mars te gaan? ’n Medewerker van New York Times Op-Ed, het hierdie verslag gegee: “Indien dit onrealisties klink as voorgestel word dat ruimtevaarders gewillig sal wees om hul huise te verlaat om nooit lewendig terug te keer nie, oorweeg dan die resultate van verskeie informele opnames wat ek en verskeie kollegas onlangs uitgevoer het. Een van my ewe-knieë in Arizona het onlangs ’n groep wetenskaplikes en ingenieurs van die Jet Propulsion Laboratorium vergesel op ’n geologiese veld-uitstappie. Gedurende die dag het hy gevra hoeveel van hulle gewillig sou wees om op ’n eenrigting missie die ruimte in te gaan. Elke lid van die groep het sy hand opgesteek. Die bekoring van ruimtevaart bly bedwelmend vir ’n geslag wat grootgeword het met ‘Star Trek’ en ‘Star Wars’”. (“A One-Way Ticket to Mars”, Lawrence M. Krauss, 1 September 2009).

Nie net nasies stel belang in verkenning van die ruimte nie – privaat maatskappye en avontuurlustige individue wil dit ook graag die ruimte in waag. Boeing, die wêreld se grootste ruimtevaartmaatskappy, het ’n plan aangekondig om toeriste die ruimte in te neem. Lees hierdie verslag: “Boeing het Woensdag gesê dat hulle begin het met die ruimtetoerisme besigheid ... Die vlugte, wat so vroeg as 2015 kan begin, sal heel waarskynlik vanaf Kaap Canaveral in Florida gelanseer word na die Internasionale Ruimtestasie. Die Obama Administrasie het voorgestel dat die besigheid om NASA ruimtevaarders die ruimte in te neem, oorgedra moet word aan privaat maatskappye. Boeingen Bigelow Aerospace van Las Vegas het hierdie jaar ’n $18 miljoen kontrak verkry vir die voorlopige ontwikkeling en toetsing van ’n kapsule wat sewe passasiers sal kan dra. Die huidige NASA planne benodig vier ruimtestasie bemanningslede om op ’n keer op te gaan, wat dan tot drie sitplekke beskikbaar sal hê vir ruimtetoeriste. Die vlugte sal die eerstes wees om aan nie-professionele ruimtevaarders die geleentheid te bied om in ’n ruimtetuig in ’n wentelbaan te gaan, wat van Amerika gelanseer is. Sewe vroeëre ruimtetoeriste het besoeke aan die ruimtestasie afgelê aan boord van die Russiese Soyuz-kapsules”. (“Boeing Plans to Fly Tourists to Space”, New York Times, 16 September 2010).

Wapens in die ruimte

Mense wil al baie lank die ruimte bokant die planeet Aarde beheer. Veertig nasies bedryf nou satelliete in die ruimte. Dit is ook geen geheim dat ontwerpers van militêre wapens nou ruimte gebaseerde lasers en partikel-straal wapens wat kern aangedrewe is, beplan nie. Generaal Joseph Ashy, Hoofbevelvoerder van die Amerikaanse Ruimtebeheer en ’n sleutelfiguur in Amerika, het dit etlike jare gelede onomwonde gestel: “Dit is polities sensitief, maar dit gaan gebeur ... ons gaan in die ruimte veg. Ons gaan uit die ruimte uit veg en ons gaan die ruimte in veg ... Dit is waarom Amerika programme ontwikkel het in gerigte energie en tref-om-te-dood meganismes. Ons sal in hierdie twee missies uitbrei – ruimtebeheer asook die aanwending van ruimtemag – omdat hulle toenemend belangrik sal word. Ons sal eendag veg teen aardgebonde teikens – skepe, vliegtuie en landteikens – vanuit die ruimte. Ons sal veg teen teikens in die ruimte vanuit die ruimte” (“Waging War in Space”, Nation, 9 Desember 1999).

Oorlog in die ruimte sal ook die gevaar van ’n toevallige kern-skermutseling verhoog, wat aanleiding kan gee tot algehele vernietiging van die moderne Westerse beskawing. Die artikel gaan voort met hierdie kommerwekkende voorbeeld: “Is oorlog in die ruimte onafwendbaar? Die gedagte van so ’n oorlog doen reeds die rondte sedert Sputnik, maar vir die grootste deel van die Koue Oorlog het dit veilig gebly binne die gebied van wetenskapfiksie en die versigtig verbode Amerikaans-Russiese wapenwedloop. ’n Dosyn lande kan nou die ruimte bereik met satelliete – derhalwe ook met wapens. China het in Januarie 2007 gepronk deur een van sy eie weersatelliete 530 myl bo die planeet af te skiet” (“U.S. leads in preparing for war in space”, New York Times, 9 Maart 2008).

Die Amerikaanse Adjunk-Staatssekretaris, Robert G. Joseph, het dit duidelik gemaak dat sy nasie kragdadig sal optree om sy ruimtestelsels te beskerm: “Ons behou die reg voor om onsself te beskerm teen vyandige aanvalle en inmenging met ons bates in die ruimte. Ons sal derhalwe andere teenstaan wat graag hulle militêre vermoëns wil aanwend om ons toegang tot en benutting van die ruimte te kortwiek of te verbied. Ons sal die beste bekwaamhede soek om ons bates in die ruimte te beskerm op hetsy aktiewe of passiewe maniere” (“Talk of Satellite Defense Raises Fears of Space War”, Washington Post, 17 Desember 2006).

Bedreiging deur ruimtewesens?

Namate die mens sy mag in die ruimte uitbrei, wat sal ons daar vind? Vir dekades het die populêre kultuur bespiegel oor ruimtewesens wat die aarde ontdek. Partykeer was daardie wesens goedgesind en vriendelik. Soms was die ruimtewesens egter net so gewelddadig en oorlogsugtig soos mense.

Bestaan daar ruimtewesens? Stephen Hawking, fisikus aan die Universiteit van Cambridge, dink so en hy dink dat ons versigtig moet wees. Neem hierdie nuusberig in aanmerking: “Die ruimtewesens is daar buite en die aarde moet liewer waaksaam wees, ten minste volgens Stephen Hawking. Hy gee te kenne dat buite-aardse wesens byna verseker bestaan – maar eerder as om hulle te soek, moet die mensdom alles moontlik doen om enige kontak met hulle te vermy ... Hy gee te kenne dat buite-aardse wesens die aarde se hulpbronne eenvoudig net sal stroop en dan sal aanbeweeg ... Hy kom tot die slotsom dat om kontak te probeer maak met buite-aardse wesens net ‘’n bietjie te gewaagd is’. Hy sê: ‘Indien buite-aardse wesens ons ooit sou besoek, dink ek, sal die resultaat omtrent dieselfde wees as toe Christopher Columbus die eerste keer in Amerika geland het, wat nie so goed afgeloop het vir die Amerikaanse Inboorlinge nie’” (“Don’t talk to aliens, warns Stephen Hawking”, The London Sunday Times, 25 April 2010).

Hawking se bespiegelings klink meer na fiksie as na gesonde verstand. U Bybel onthul egter die waarheid dat ’n Verlosser sal neerdaal uit die buitenste ruim en na die aarde sal kom om verlossing, voorspoed en vrede saam te bring. Hy sal die magte van Satan en die mense wat ’n bose, anti-God diktator ondersteun, oorwin.

Geprofeteerde ruimte-oorloë

Die boek Openbaring in u Bybel voorspel ’n groot oorlog in die hemele. Die groot teenstander, Satan die duiwel, word in die Bybel ontmasker. Hy was in ’n vroeëre poging om God se troon oor te neem, verslaan. Gaan hy ’n laaste poging aanwend om God te oorwin? Een van die grootste ruimte-oorloë in die geskiedenis moet nog plaasvind voor Christus se wederkoms. Dit sal ’n geveg wees tussen God se engele-mag en Satan se demoniese leër. “En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei [mislei], hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp” (Openbaring 12:7-9).

Hierdie mylpaal lui ’n opeenvolgende reeks eindtydse gebeure in wat tot die Messias, Jesus Christus, se wederkoms sal lei. Satan sal daardie oorlog in die hemel verloor. Hy sal so woedend wees dat hy sy gramskap sal uithaal op fisiese mense. Hoe sal u weet dat ’n groot ruimte-oorlog plaasgevind het? Die hemelse boodskap gaan voort: “Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon; wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openbaring 12:12).

Satan die duiwel sal groot verdrukking op planeet Aarde veroorsaak. Ons sal dit nodig hê om op God te vertrou vir beskerming tydens die gevaarlike tye wat voorlê! Tydens die tyd van Satan se gramskap, die Groot Verdrukking, waarvan Jesus praat in Mattheüs 24:21-22, sal Satan God se Kerk aanval. God sal die “vrou” – die Kerk (Openbaring 12:13-16) beskerm. Satan sal dan ’n onbeskermde oorblyfsel van God se Kerk, ware Christene “wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou” (Openbaring 12:17), aanval. Diegene wat getrou bly, sal in die eerste opstanding wees om met die laaste basuin, Christus in die lug te ontmoet (1 Korinthiërs 15:51-52; 1 Thessalonicense 4:16).

Dank God dat Satan net ’n kort tydjie sal hê voordat hy gebind en vir ’n duisend jaar in die afgrond gewerp sal word (Openbaring 20:1-3). U behoort egter waaksaam te wees en te bid, en die geprofeteerde ruimte-oorlog wat voorlê, te verstaan.

Ons het die Bybelse beskrywing van een groot oorlog in die hemel gesien. ’n Laaste oorlog sal nog plaasvind wanneer die wêreld se militêre magte sal veg teen die invaller “uit die ruimte”. Met Christus se wederkoms sal nie almal Hom van die begin af aanvaar as hulle Verlosser nie. Sommige mense sal hom vrees as ’n indringer wat gekom het om hul mag weg te neem. Kan u uself voorstel dat die gekombineerde krag van al die nasies se militêre mag losgelaat sal word teen Christus wanneer Hy uit die hemel neerdaal? Ja, die weermagte van die rebelse nasies sal teen die Messias veg wanneer Hy uit die hemel terugkeer! Hoe sal Hy daarop reageer? Johannes beskryf die toneel: “Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ’n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos ’n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ’n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self. En Hy was bekleed met ’n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En uit sy mond gaan daar ’n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ’n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here” (Openbaring 19:11-16).

Wat sal die resultaat wees van die geveg? Johannes beskryf dit: “En ek het een engel sien staan in die son; en hy het met ’n groot stem uitgeroep en vir al die voëls gesê wat in die middel van die lug vlieg: Kom hierheen en versamel julle tot die maaltyd van die grote God, dat julle kan eet die vlees van konings en die vlees van owerstes oor duisend en die vlees van sterkes en die vlees van perde en van die wat daarop sit, en die vlees van almal, vrymense sowel as slawe, klein sowel as groot” (Openbaring 19:17-18).

Jesus Christus sal al die nasies wat Hom teenstaan, oorwin. Ons lees: “En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees” (Openbaring 19:19-21).

Van oorlog na vrede

Die triomferende Prins van Vrede sal Sy regering vestig om oor alle nasies te heers. Die Koninkryk van God sal die nasies op planeet Aarde regeer met regverdigheid en billikheid. Dit is die goeie nuus waaroor ons verheug is!

Wie sal dus die ruimtewedloop wen? Die bemoedigende antwoord is: Jesus Christus sal wen! Hy beskik oor al die mag in die heelal. Christus “[dra] alle dinge ... deur die woord van Sy krag”, of soos die Nuwe Vertaling dit stel: “Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand” (Hebreërs 1:3).

Ons sien uit na die uiteindelike toekoms van vrede op aarde, vrede in die ruimte en vrede in die hemele. Na ’n duisend jaar van langdurige vrede sal God se plan dan na die volgende vlak verskuif. Let daarop: “En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ’n bruid wat vir haar man versier is. En ek het ’n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:2-4). Ja, ’n glorieryke toekoms lê voor vir die hemele en vir die planeet Aarde. Mag God u help om voor te berei vir daardie ontsagwekkende lotsbestemming.