“Is God besig om die Verenigde State van Amerika te straf?” Dit is die vraag wat Sherwin Pomerantz onlangs in die Jerusalem Post gevra het. Hy het voortgegaan: “Ek is beslis nie een wat dit waag om te dink ek weet wat in die gedagtes aangaan van die God waarin ek glo nie, ek sou dit nogal as arrogant beskou om so te redeneer. Met die risiko om as ’n ou dwaas bestempel te word, is dit vir my nietemin ’n uitdaging om te glo dat die reeks ‘plae’ wat die Verenigde State van Amerika die afgelope tyd getref het, nie deel is van een of ander hemelse meesterplan nie” (24 Augustus 2022).

Die Amerikaans-gebore Pomerantz het die afgelope 38 jaar in Israel gewoon. Wat hy in sy vaderland sien, is ’n minder-as-perfekte land wat desnieteenstaande as ’n polisieman diens gedoen het om die wêreld teen selfvernietiging te beskerm na die Tweede Wêreldoorlog, waar die meeste mense in relatiewe vrede en voorspoed geleef het. “Dit lyk egter nogtans of dit 77 jaar ná die einde van die oorlog uitmekaar val” en hy wonder: “Waarom? Wat het gebeur?"

Pomerantz verwys na probleme wat deur die meeste Amerikaners verstaan word – die onoorbrugbare kloof tussen die twee groot politieke partye, vuurwapengeweld, haweloosheid en rampspoedige weer. Bogenoemde waarna hy verwys is natuurlik slegs ’n paar van die “plae” wat Amerika vandag teister, maar kom ons kyk kortliks daarna.

 

Burgerstryd wat voorlê?

Nie net is Amerika polities verdeel nie, maar die gaping tussen “liberaal” en “konserwatief” word groter met skynbaar geen gewone middeweg en geen einde nie. Sosiale media en kabelnuus-netwerke stook die vlamme van woede aan namate albei kante al hoe meer in hulle posisies ingegrawe raak. Een baie kommerwekkende gedagte is gevolglik dat die Verenigde State weer in ’n burgeroorlog betrokke kan raak. William Gale en Darrell West van die Brookings Institute het hierdie vraag geopper in ’n verslag van 16 September 2021:

Is dit werklik moontlik dat Amerika die moontlikheid van ’n burgeroorlog in die nabye toekoms in die gesig kan staar? Dit lyk dalk ondenkbaar en tog is daar baie rede tot kommer. ’n Nasionale opname van 2021 deur die meningspeiler John Zogby het bevind dat die meerderheid Amerikaners (46%), glo dat ’n toekomstige burgeroorlog waarskynlik is, 43% het gevoel dat dit onwaarskynlik is en 11% was onseker. Oorlog het meer waarskynlik gelyk vir jonger mense (53%) as ouer mense (31%) en vir diegene wat in die Suide (49%) en Sentraal/Groot-Mere-streek woon (48%), met betrekking tot dié persone in die Ooste (39%) (“Is the US headed for another Civil War?,” Brookings.edu).

Opinies opsygesit – daar sal nog gesien moet word of daar burgerlike onrus, een of ander vorm van ontwrigtende burgerlike ongehoorsaamheid of ’n regstreekse wapen-oorlog sal wees. ’n Mens kan nie anders as om te wonder hoe gereed die land is om enige soort ernstige onrus te hanteer wanneer die polisie se moraal daal te midde van ’n klein, maar luidrugtige anti-polisiebeweging in die land nie. Geweldsmisdade en wapengeweld is bewyse van toenemende wetteloosheid en het die afgelope paar jaar skerp toegeneem. Tot en met 27 Oktober 2022 het die Verenigde State 562 massa-skietvoorvalle gehad – so gedefinieer wanneer vier of meer mense beseer of dood is, met uitsondering van die skieter. Dit het die land in die situasie geplaas om in 2022 meer as 650 massa-skietvoorvalle te bereik! Dit sluit nie die duisende mense wat beseer of dood is in skietvoorvalle waarin daar minder as vier slagoffers was nie. Die totale aantal mense wat as gevolg van vuurwapengeweld dood is, het op 16,729 gestaan, met nog 19,800 gevalle van mense wat ’n vuurwapen op hulself gerig het in selfdood (GunViolenceArchive.org, 27 Oktober 2022).

 

Ergste droogte in meer as ’n duisend jaar

Asof politieke verdeeldheid en vuurwapengeweld nie erg genoeg is nie, wonder Pomerantz ook of God Amerika met rampspoedige weer straf. Daar was nog altyd natuurrampe, maar die uitsonderlike droogte in die Amerikaanse Weste het verreikende gevolge vir die land én vir die wêreld. Oorweeg hierdie ontnugterende verslag:

Meer as 60 persent van die Amerikaanse Weste, Suidweste en Sentrale vlaktes word beskou as D3-waarskuwings vlakke – ernstige droogtes of hoër. Sewentien state wat verantwoordelik is vir byna die helfte van die land se $364 miljard se landbouproduksie, worstel met watertekorte, met inbegrip van Kalifornië ... [wat] die grootste landboustaat in die land is en wat 60 persent van alle gekweekte vrugte, groente en neute in die V.S. produseer (“California droughts spur ‘Water for Farms’ video series,” AGDaily.com, 7 September 2022).

Alhoewel ’n mate van tydelike verligting in die middel van September 2022 vir die Suidwestelike V.S. gekom het as gevolg van die tropiese storm Kay, veroorsaak die langtermyn-effekte van ernstige en buitengewone droogtetoestande dat westelike mere opdroog, wat op twee fronte angstigheid veroorsaak. Lake Mead en Lake Powell is volgens volume inhoud die twee grootste opgaardamme in die Verenigde State. Gesamentlik verskaf hulle water en elektriese krag aan miljarde mense in die V.S se Suidweste wat die belangrike metropolitaanse gebiede van Los Angeles, San Diego, Phoenix en Las Vegas insluit. Water is van uiterste belang vir landbou sowel as vir huishoudelike behoeftes. Let op hierdie kommerwekkende verslag van CBS News:

Die Amerikaanse Weste staar die ergste droogte in menslike geskiedenis in die gesig. Navorsing dui daarop dat toestande nou droër is as wat dit in 1,200 jaar was en vererger deur die gevolge van klimaatsverandering, sal dit waarskynlik vir nog ’n dekade voortduur.

Gemeenskappe regoor die streek worstel met die gevolge van minder water ... Toenemende kommer oor die geweldige droogte het in 2022 ’n hoogtepunt bereik, toe die gevolge daarvan skrikwekkend duidelik geword het by Lake Mead.

Die reservoir, die land se grootste in terme van volume, het gedurende die somer tot rekord-lae vlakke gedaal. Foto’s het gebarste grond en ernstige erosie blootgelê terwyl satellietbeelde die reservoir se krimpende kuslyne vanuit die ruimte aangedui het (“Lake Mead’s waterlevel has never been lower. Here’s what that means,” 4 September 2022, my beklemtoning).

Daar word minder berig oor wat met Utah se Great Salt Lake gebeur. Weens groter eise vir menslike gebruik, met inbegrip van landbou, het die hoeveelheid water wat daarin vloei afgeneem; voeg hierby die uiterste droogtetoestande van onlangse jare en die meer het tot sy laagste vlak gedaal sedert daar begin is om statistiek te hou vanaf die middel 1800’s. Waarvan baie mense nie bewus is nie, is die ekonomiese impak van hierdie buitengewone watermassa. “Miljarde pekelgarnale word daar geoes ... [en] verteenwoordig een derde van die wêreld se voorraad”. Dit “dra $57 miljoen by tot Utah se ekonomie” (“Get To Know Great Salt Lake,” Utah departement van natuurlike hulpbronne, verkry op 14 September 2022). Pekelgarnale is slegs ’n klein deel van die ekonomiese prentjie. Minerale en kunsmis is belangrike industrieë in Salt Lake en verdamping van die meer verskaf vog vir wintersneeuvalle wat die winsgewende winter se ontspanningsbedryf voed.

 

Wat is besig om met Amerika te gebeur?

Waarom loop alles skynbaar verkeerd? Waarom sou ’n waarnemer in Israel oor die vraag dink of God Amerika straf? Wanneer die land wat vir meer as 70 jaar lank relatiewe stabiliteit verskaf het probleme het, wat gebeur met die res van die wêreld?

Dit is maklik om onsself te mislei deur te dink dat ons wetenskaplike en tegnologiese vooruitgang ons wyser gemaak het as die “onkundige” mense van die verlede. Dit sou egter ’n fout wees. Baie leiers en geskiedskrywers besef dat iets in ons wêreld besig is om verkeerd te loop – dat iets baie sleg op die horison is en dat dit naïef is om te dink dat goeie tye sal voortduur omdat ons op een of ander manier wyser is as vorige geslagte. In 2018 het die Amerikaanse geskiedskrywer en buitelandse-beleidkommentator Robert Kagan ons herinner aan die broosheid van die geopolitieke balans in die wêreld.

Indien die vorige eeu ons enigiets geleer het, is dit dat wetenskaplike en tegnologiese vooruitgang en die uitbreiding van kennis, terwyl ons in staat is om ons lewens beslissend te verbeter, geen blywende verbetering in menslike gedrag meegebring het nie. Die geskiedenis word ook nie tereg beskou as ’n toenemende opwaartse opmars na ontwikkeling nie ... Wanneer dit by menslike gedrag kom, is die geskiedenis ’n gekartelde lyn [van verligting en duisternis] met geen waarneembare [opwaartse] helling nie (The Jungle Grows Back, bl. 5).

Kagan, net soos Pomerantz, sien onheilspellende neigings in Amerika en die wêreld. Kagan se vriendelike waarskuwing het voor COVID-19 gekom en die gevolge daarvan was: Inperkings, ekonomiese omwenteling wat inflasie en ontwrigting van voorsieningskettings veroorsaak het asook politieke verdeeldheid oor maskers en entstofmandate. Sedertdien het die wêreld ook gely onder die oorlog in die Oekraïne asook magsvertoning tussen die V.S.A en China.

Anders as Kagan, stel Pomerantz egter voor dat meer as die mislukking van leiers te blameer is vir die probleem. Hy mag die risiko loop om as “’n ou dwaas bestempel te word”, maar hy is nié ’n dwaas nie! Hy het iets herken wat ander mense nie raaksien nie naamlik dat die probleme wat Amerika tans in die gesig staar, die resultate is van God se misnoeë as gevolg van ons arrogante verwerping van Hom en Sy morele Wette. Hierdie probleme is nouliks beperk tot Amerika, maar wat in Amerika gebeur, het gevolge vir die wêreld. Kanadese sê dikwels: “Wanneer die Verenigde State nies, kry Kanada ’n verkoue”. Wanneer Amerika ’n verkoue kry, beteken dit oral moeilikheid vir nasies. Diegene wat oor die ondergang van Amerika sal juig, beter versigtig te wees waarvoor hulle wens!

Die Wêreld van Môre kyk na die geheelbeeld uit die bladsye van die Bybel. Ons verstaan dat daar ’n oorsaak is vir elke gevolg (Spreuke 26:2). Ons besef dat antieke profesieë verduidelik wat vandag besig is om met die V.S. en die nasies van Britse afkoms te gebeur.

 

Die Bybelse identiteit van Amerika

Die meeste mense, selfs teoloë, neem aan dat die term, Israeliet en Jood ’n vereiste vervanging in hedendaagse konteks is. Dit is volgens die Bybel sowel as geskiedkundig, klaarblyklik vals. Die Bybelse aartsvader Jakob, wie se naam na Israel verander is, het twaalf seuns gehad – een van hulle was Juda, die vader van die Joodse volk. Eeue later het koning Salomo die troon van die nasie Israel, na die dood van sy vader, koning Dawid, oorgeneem as heerser van al twaalf stamme. Anders as Dawid, het Salomo van God se weë afgedwaal en God het tien van die twaalf Israelitiese stamme weggeneem om heeltemal ’n ander aparte nasie te vorm. Vanaf die tyd van Salomo se seun Rehábeam tot nou toe is die huis van Israel (tien stamme) en die huis van Juda (die Joodse volk) geskei. U kan van hierdie breuk lees in 1 Konings 12. U kan ook lees van die vele konflikte en oorloë wat tussen die twee afsonderlike nasies gevoer is in die Bybelse boeke Konings en Kronieke.

Die noordelike tien stamme van die huis van Israel het omstreeks 720 v.C. in Assiriese ballingskap gegaan en die huis van Juda het omstreeks 590 v.C. in die Chaldeuse ballingskap gegaan. Sommige van die Jode het egter 70 jaar later na hulle vaderland teruggekeer en in die gebied gebly waaraan ons vandag dink as die klein nasie Israel. Jesus sou later uit die geslag van Dawid afstam, van wie se nageslag onder hierdie terugkerende Jode was.

In 135 n.C. is die Jode uit hulle vaderland weggeneem en hulle het eers weer in 1948 dáár ’n nasie gevorm. Op geen tydstip in hulle geskiedenis, vanaf hulle aanvanklike skeiding tot nou, het hierdie twee nasies as ’n enkele nasie verenig nie. Dit is nie net ’n geskiedkundige feit nie, maar word ook deur die Skrif bevestig. Dit is geprofeteer dat hierdie nasies herenig sal word, maar eers na die Wederkoms van Jesus Christus aan die einde van die tyd. U kan hiervan lees in Eségiël 37:15-28, waar dit uit die konteks blyk dat hierdie hereniging nog in die toekoms sal plaasvind.

“En Ek sal hulle een volk maak in die land, op die berge van Israel; en een Koning sal vir hulle almal koning wees; en hulle sal nie meer twee nasies wees nie en verder nie meer in twee koninkryke verdeeld wees nie. En hulle sal hul nie meer verontreinig met hulle drekgode en hulle verfoeisels en met al hulle oortredinge nie; en Ek sal hulle verlos uit al hulle woonplekke waarin hulle gesondig het, en sal hulle reinig. So sal hulle dan vir my ’n volk wees, en Ek vir hulle ’n God wees. En my kneg Dawid sal koning oor hulle wees, en hulle sal almal een herder hê; en hulle sal in my verordeninge wandel en my insettinge onderhou en daarna handel” (Eségiël 37:22-24).

Ons lees ook in die eerste boek van die Bybel oor die toekoms van al twaalf stamme van Israel aan die einde van die tyd. Let op wat God deur die aartsvader Israel vir sy kinders voorspel het: “daarna het Jakob sy seuns geroep en gesê: Kom bymekaar, dat ek julle kan verkondig wat julle aan die einde van die dae sal wedervaar. Versamel en hoor, seuns van Jakob, en luister na Israel, julle vader!” (Génesis 49:1-2).

God het daarna deur Israel geprofeteer wat van elkeen van sy twaalf seuns aan die einde van die tyd sou word. Verskeie van sy seuns word met net een sin elk beskryf, maar vyf verse word aan Juda (die Joodse volk) gewy, met die fokus op die beloftes van heerskappy. Dan volg daar ’n lang gedeelte wat aan Josef gewy word – die seun wie se afstammeling Jeróbeam (1 Konings 11:26; Génesis 48:3-6) die noordelike tien stamme in ’n rebellie teen Juda gelei het om ’n aparte nasie te vorm.

Josef is ’n vrugtetak, ’n vrugteboom by ’n put; sy takke loop oor die muur. Die boogskutters het hom bitterlik bedroef, op hom geskiet en hom gehaat. Maar sy boog het sterk gebly, en die arms van sy hande is sterk gemaak deur die hande van die magtige God van Jakob (van daar is die Herder, die Steen van Israel), deur die God van jou vader wat jou sal help, en deur die Almagtige wat jou sal seën met seëninge van die hemel daarbo, seëninge van die diepte wat daaronder lê, seëninge van die borste en van die moederskoot. Die seëninge van jou vader het die seëninge van my voorvaders oortref tot aan die uiterste grens van die ewige heuwels. Hulle sal op die hoof van Josef wees en op die kroon van die hoof van hom wat afgesonder was van sy broers (Génesis 49:22-26).

 

Die Eersgeboortereg en die Heerser

Waarom so klem lê op hierdie twee broers, Juda en Josef? Die antwoord word gedeeltelik gevind in 1 Kronieke 5:1-2: “en die seuns van Ruben, die eersgeborene van Israel – want hy was die eersgeborene; maar omdat hy die bed van sy vader ontheilig het, is sy eersgeboortereg aan die seuns van Josef, die seun van Israel, gegee, maar hy moes nie in die geslagsregister volgens die eersgeboortereg aangegee word nie; want Juda was sterk onder sy broers, en uit hom het een ’n vors geword, maar die eersgeboortereg het Josef gehad”. Die koningslyn wat by Jesus Christus die hoogtepunt bereik, sou van die Jode af kom, maar die eersgeboortereg – die belofte van ongelooflike nasionale rykdom en mag – sou deur ’n ander broer kom: Josef en sy twee seuns, Efraim en Manasse.

Mense weet vandag van wie die Jode afstam, maar wat van die nageslag van Josef? Wat het dit te doen met of God besig is om die Verenigde State van Amerika te straf? Alles!

God het vir die Israeliete gesê dat as hulle hulself na Hom wend, Sy Sabbatte onderhou en Sy ander gebooie ook gehoorsaam, Hy hulle reëns sou “gee op die regte tyd” (Levítikus 26:4), daar sou geen skaarste aan voedsel wees nie, hulle sou woon in ’n vreedsame land, en hulle vyande sal voor hulle val. Hy som hierdie wonderlike beloftes op: “En Ek sal in jul midde wandel en vir julle ’n God wees, en júlle sal vir My ’n volk wees” (Levítikus 26:1-13). God vertel egter ons ook aan ons die onvermydelike gevolge van die verwerping van hom:

“Maar as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie; en as julle my insettinge verwerp, en as julle siel van my verordeninge ’n afsku het, sodat julle nie al my gebooie doen nie, en my verbond verbreek – dan sal Ék dit ook aan julle doen: Ek sal verskrikking oor julle beskik; die tering en die koors wat die oë verteer en die lewe laat versmag; julle sal ook tevergeefs julle saad saai, want julle vyande sal dit opeet. En Ek sal my aangesig teen julle rig, sodat julle voor jul vyande verslaan word; en julle haters sal oor julle heers, en julle sal vlug terwyl niemand julle agtervolg nie. En ... Ek sal julle trotse mag verbreek, en sal julle hemel maak soos yster en julle aarde soos koper” (Levítikus 26:14-19).

Sherwin Pomerantz is geen dwaas nie. Selfs al verstaan hy nie ten volle van wie Amerikaners afstam nie, het hy ʼn punt beet wanneer hy daaroor wonder of “dit vir my 'n uitdaging is om te glo dat die reeks ‘plae’ wat die Verenigde State van Amerika die afgelope tyd getref het, nie deel is van een of ander hemelse meesterplan nie”. Die Amerikaners en die Britse afstammelinge weet nie wie hulle voorvaders is nie, waarom God hulle bo alle volke op die aarde geseën het of waarom God daardie seëninge wegneem nie. Ongelukkig, in plaas daarvan om God die eer te gee vir hierdie seëninge, het ons self arrogant eer daarvoor geneem.

Ons sal binnekort tot so ’n mate afgetakel word dat ons sal ophou om ’n supermoondheid te wees en ons sal gevange geneem word deur ons vyande. Eers dan sal ons leer dat God nie bespot sal word nie!