Indien u die wêreldnuus gevolg het, sal u sekerlik weet dat die saad nou gesaai word om die “Dier” waarvan daar in Openbaring geprofeteer word tot stand te bring! Terwyl Russies-ondersteunde manne wat swart maskers dra, polisiestasies en ander belangrike fasiliteite in die Oekraïne beset en onder hulle beheer hou, word die Europese magte herinner aan hoe magteloos hulle werklik is. Hulle het gesteun op die kernsambreel wat deur die Verenigde State van Amerika voorsien is sedert die Tweede Wêreldoorlog, maar nou het die nasies van Midde-Europa tot die besef gekom dat hulle in die toekoms nie kan staatmaak op Amerika se steun nie.

Amerika word regoor die wêreld al hoe meer gesien as ’n “papiertier”. Soos ons by die Wêreld van Môre herhaaldelik daarop gewys het, het die God van ons voorvaders lank gelede gewaarsku: “Maar as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie; en as julle my insettinge verwerp, en as julle siel van my verordeninge ’n afsku het, sodat julle nie al my gebooie doen nie en my verbond verbreek … En Ek sal julle trotse mag verbreek, en sal julle hemel maak soos yster en julle aarde soos koper” (Levitikus 26:14-15, 19). Ja, alhoewel dit vinnig agteruit gaan, besit Amerika nog steeds ’n groot mate van mag. Aangesien die VSA as ’n geheel sy rug gedraai het op die Skepper wat aan hulle daardie mag en die byna ongekende rykdom wat hulle besit gegee het, was daar minder samewerking onder die mense, hulle was minder bekwaam en het al hoe meer verward geraak oor hoe om die rykdom en die mag te gebruik wat aan hulle geskenk is.

Praat, praat, praat

Rusland, die Oekraïne en baie ander nasies regoor die wêreld begin duideliker as ooit sien dat die VSA nou ’n nasie is wat baie “praat”, maar nie daadwerklik sal optree om sy vriende te beskerm soos dit ’n generasie of twee gelede gedoen was nie.

Met so ’n “magsvakuum” wat deur Amerikaanse swakheid geskep word, kan ’n volskaalse Europese Ryk nie baie jare vêr weg wees nie! Namate Amerika voortgaan met die agteruitgang van sy morele waardes en al hoe meer ’n genotsugtige gemeenskap word, skynbaar sonder ’n doel, het die Almagtige God bepaal dat ’n komende “Diermoondheid” Sy “werktuig” sal wees om ons weer nederig te maak en aan ons lesse te leer! Dit is nie dat hierdie supermoondheid, gelei deur die “Dier”, vol “slegte” mense sal wees nie; dit is eerder net dat God verskillende nasies op verskillende tye as Sy werktuie gebruik om diegene wat teen Hom rebelleer, nederig te maak en om die rebelle ’n paar broodnodige lesse te leer. Die Bybel is vol van sulke waarskuwings. Ons in hierdie Werk het vir baie dekades lank spesifiek hieroor gewaarsku. Selfs so ver terug as in die 1950’s toe ek mnr. Armstrong bygestaan het, het ek evangelisasie-veldtogte onderneem en almal wat wou luister skerp gewaarsku oor ’n toekomstige “Diermoondheid” wat in Europa onder leiding van ’n herleefde en swaar gewapende Duitsland mag ontstaan. In daardie tyd het baie mense die spot daarmee gedryf omdat hulle gedink het dat Duitsland nooit weer ’n magtige nasie sou kon word nie. Hulle het egter reeds. Hulle is al!

Ons het herhaaldelik in hierdie tydskrif aan u getoon hoe die Almagtige God die afstammelinge van antieke Israel gewaarsku het, soos ons sekerlik gedoen het, dat indienhulle Sy insettinge en Sy gebooie sou “verag”, dan sou Hy “julle trotse mag verbreek” (Levitikus 26:19). Daardie ware profesieë word nougrootskaals vervul! Terwyl u toekyk hoe die wêreldgebeure mekaar vinnig opvolg, hoop ek u almal begin regtig verstaan wat besig is om te gebeur met daardie nasies wat oorspronklik saamgestel is uit die volke van Britse afkoms en Amerikaanse volke – die afstammelinge van die “Verlore Tien Stamme” van Israel!

God uitgelaat?

Waarlik, wanneer God “uitgelaat word” begin slegte dinge gebeur! Die Skrif sê aan ons: “As daar geen openbaring is nie, word die volk bandeloos; maar hy wat die wet onderhou, gelukkig is hy” (Spreuke 29:18). Soos die Nuwe Vertaling dit ook stel: “Waar die wil van die Here nie bekend gemaak word nie, verwilder ’n volk; dit gaan goed met elkeen wat die wet van die Here onderhou”. Afgesny van die ware God, verloor enkelinge sowel as hele nasies hulle sin vir die doel en die rede vir hulle bestaan. Gesinne begin verbrokkel. Misdaad en geweld begin toeneem. Allerhande verdraaide gedrag word vinnig die norm. Die meester bedrieër, Satan die duiwel, beïnvloed toenemend die meeste mense, sodat hulle nie weet waarom hierdie dinge gebeur nie.

U moet VOORBEREI!

Hoe kan u dan voorberei vir wat aan die kom is? In die heel eerste plek, as God u roep, maak seker dat u Hom met u hele hart en siel “soek” (Deuteronomium 4:29). Lees u Bybel elke dag! Moenie net vinnig daarna kyk vir die “warm gevoelens” wat u mag beleef wanneer u die Psalms of Spreuke lees nie. Bestudeer die hele Bybel, met al die erns waaroor u beskik, want dit is God se Handleiding vir u lewe! Soos die apostel Paulus aan die jong Timótheüs sê: Elke woord van die Skrif is voordelig, nie net vir leerstellings nie, maar ook vir praktiese onderrig in hoe om te leef as ’n Christen (2 Timótheüs 3:16).

Maak seker dat u my artikel “Soek u na God?” elders in hierdie uitgawe lees, vir meer inligting oor hierdie belangrike onderwerp. U behoort al die hulpmiddels wat God voorsien te gebruik om nader aan Hom te kom!

Maak ook seker u lees mnr. Richard Ames se belangrike artikel, “Is die Sabbat belangrik?” wat elders in hierdie uitgawe verskyn. Alhoewel daar vandag meer as twee miljard mense is wat hulleself “Christene” noem, wonder ’n mens hoeveel van hulle werklik Christus se voorbeeld volg en die seëninge vir gehoorsaamheid wat God belowe, ontvang (Deuteronomium 28:1)?

Oorloë en gerugte van oorloë

Soos ek aan die begin van hierdie kort boodskap genoem het, staan ons wêreld op die rand van die heel ergste oorlog wat dit nog ooit beleef het. Gelukkig kan ons as Christene in ons eie lewens die “vrede van God [hê], wat alle verstand te bowe gaan” (Filippense 4:7). Indien ons toelaat dat God Sy wil in ons lewens laat geskied wanneer ons ons onderwerp aan die Heilige Gees, wat Hy aan bekeerde Christene tydens die doop gee, sal ons in staat wees om oorlog te voer teen die sonde in ons lewens en ’n voorsmaak kry van die toekomstige Koninkryk van God.

Ons weet egter dat die mensdom deur die verskriklikste tye wat voorlê moet gaan, voor die Wederkoms van Jesus Christus die mensdom sal red van selfvernietiging asook algehele kosmiese vernietiging! Moontlik het ’n paar van u wat hierdie tydskrif lees, ’n honderd jaar gelede geleef toe die Eerste Wêreldoorlog in Julie 1914 uitgebreek het. Daardie oorlog het vir ’n tyd lank bekend gestaan as die “Oorlog om alle oorloë te beëindig”, maar die hartseer werklikheid is dat die Tweede Wêreldoorlog binne ’n geslag uitgebreek het wat nie net groter slagting meegebring het nie, maar ook die koms van kernwapens. Lees asseblief mnr. John Meakin se uitstekende artikel, “Die einde van oorlog?” elders in hierdie uitgawe. Dit sal u help om God se plan wat vrede na ons oorloggeteisterde wêreld sal bring, te verstaan en te waardeer.

So moeilik as wat dit vir baie van u mag wees om te glo, leer die Skrif ons duidelik dat die oorgrootte meerderheid van die mensdom aan die einde van hierdie tydvak inderdaad teen die terugkerende Jesus Christus sal veg! “Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin – want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings – en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou” (Openbaring 17:14). ’n Mens kan jou dit moeilik voorstel hoe groot die misleiding van miljoene mense moet wees sodat hulle bereid sal wees om letterlik teen Christus te veg wanneer Hy weer as Koning van die konings kom! Dit is nogtans die misleiding waarop ons almal ons moet voorberei om dit te kan weerstaan!

Geagte lesers, laat ons asseblief tot ons Verlosser, Jesus Christus nader soos nog nooit tevore, terwyl daar nog tyd is om beskerm te word teen die skrikwekkende krisis wat voor ons lê. Maak seker dat u altyd bid: “... laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Mattheüs 6:10)!