Salomo, die wysste man wat nog ooit geleef het, begin die boek Spreuke deur die doel van die boek te verduidelik wat is “... om wysheid en tug te ken, om woorde van insig te verstaan, om aan te neem tug wat verstandig maak, geregtigheid en reg en regverdigheid” (Spreuke 1:2-3).

In hoofstuk 2 versoek Salomo ons om wysheid te soek – om dit werklik na te streef! Hy skryf: “My seun, as jy my woorde aanneem en my gebooie by jou bewaar, sodat jy jou oor laat luister na wysheid, jou hart neig tot verstand; ja, as jy na die insig roep, na die verstand jou stem verhef, as jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte, dan sal jy die vrees van die Here verstaan en die kennis van God vind (want die Here gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstand” (Spreuke 2:1-6). Hy beklemtoon hierdie punt met ’n passievolle pleidooi om wysheid ten alle koste te verkry! “Die beginsel van die wysheid is: Verwerf wysheid en verwerf insig deur al wat jy besit” (Spreuke 4:7). Salomo het verstaan dat die verkryging van wysheid van die allergrootste belang is.

Ware rykdom

Vervolgens verduidelik hierdie wyse koning waarom ons ernstig behoort te streef na hierdie kosbare geskenk: “Gelukkig die mens wat wysheid gevind het, en die mens wat verstand verkry; want die verkryging daarvan is beter as dié van silwer, en die verwerwing daarvan beter as van goud; dit is kosteliker as korale, en al jou kleinode kan daar nie mee vergelyk word nie. In sy regterhand is lengte van dae, in sy linkerhand rykdom en eer” (Spreuke 3:13-16). Min mense het al ooit wysheid sowel as rykdom gehad. Salomo het dit gehad en hy het geweet dat wysheid sy waardevolste besitting was.

“Die beginsel van die wysheid is die vrees van die Here, en kennis van die Heilige is verstand”, skryf hy in Spreuke 9:10. Die vrees van die Here is die mees basiese deel van wysheid. Kennis is van min waarde sonder die behoorlike gepaste vrees, eerbied en respek vir God om dit alles in perspektief te stel. Sonder God se Gees, ly die mensdom gebrek aan geestelike insig en wysheid om te weet hoe om die probleme op te los wat nou dreig om tot sy vernietiging te lei. Wysheid verwys na ’n vaardigheid, of dit kan ’n toegepaste vaardigheid aandui. Wysheid sluit elke aspek van ons lewens in en dit behels ’n verandering van gedrag en ’n verbintenis om te leef volgens Bybelse waardes. Diegene wat wys is, het die oplossings van selfs die grootste probleme wat die mensdom in die gesig staar! Die antwoorde op die struikelblokke van wêreldvrede en voorspoed word in die toepassing van God se Woord gevind.

’n Versoek toegestaan

Salomo het as ’n jong koning ’n gebrek aan wysheid en ervaring gehad. Terwyl hy in Gibeon was, het die Ewige God een nag in ’n droom aan hom verskyn en gesê: “Begeer wat Ek jou moet gee.”

Met die nodige nederigheid het Salomo geantwoord: “En u kneg is midde onder u volk wat U verkies het, ’n groot volk wat nie getel of bereken kan word weens die menigte nie. Gee dus aan u kneg ’n opmerksame hart om reg te spreek oor u volk, om tussen goed en kwaad te onderskei, want wie sou hierdie talryke volk van U kan regeer?” (1 Konings 3:5-9).

God het Salomo se versoek mildelik beantwoord en aan hom nie net ’n verstandige hart gegee nie, maar ook wysheid om die uitdagende sake van die lewe op ’n bekwame wyse te hanteer. “En dit was goed in die oë van die Here dat Salomo dit begeer het. En God het vir hom gesê: Omdat jy hierdie versoek gedoen het en nie vir jou ’n lang lewe begeer het en nie vir jou rykdom begeer het en nie die lewe van jou vyande begeer het nie, maar vir jou verstand begeer het om regsake te verhoor, so doen Ek dan volgens jou woord: Kyk, Ek gee jou ’n wyse en verstandige hart, sodat een soos jy vóór jou nie gewees het en een soos jy ná jou nie sal opstaan nie. Ja, selfs wat jy nie begeer het nie, sal Ek jou gee, rykdom sowel as eer, sodat onder die konings niemand soos jy sal wees al jou dae nie” (1 Konings 3:10-13). Die vermoëns wat God aan Salomo gegee het was uitsonderlik! Hierdie jong koning het verstaan dat wysheid meer werd is as rykdom en eer. Hy het geweet dat Goddelike wysheid nodig is indien hy God se volk sou wou lei en dien.

Vra God

Het ons God gevra om ons met wysheid toe te rus? Ons behoort dit te doen! Die Nuwe Testament praat ook oor die waarde van wysheid. In Jakobus 1 lees ons: “En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word” (Jakobus 1:5). Dikwels het ons nie die dinge wat ons graag wil hê nie, net omdat ons nie daarvoor vra nie. Soms gee God nie gehoor aan ons versoeke nie; omdat ons vir die verkeerde dinge vra, of omdat ons vra met bymotiewe in gedagte. Jakobus skryf: “... julle het nie, omdat julle nie bid nie. Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring” (Jakobus 4:2-3). Ons almal behoort te bid vir wysheid, sodat ons ander mense meer effektief kan dien.

Bybelstudie en bepeinsing

Ons behoort nie die bestudering en bepeinsing van God se Woord na te laat nie. Dit is een van die beste beleggings wat ons ooit sal kan maak. Die apostel Paulus het in sy brief aan Timótheüs hierdie punt beklemtoon. Hy sê aan die Christene: “Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus” (2 Timótheüs 3:14-15). Paulus wys daarop dat daar ’n direkte verband is tussen kennis van die Skrif en wysheid. Die woord van God wys ons hoe God dink. Dit gee aan ons voorbeelde van hoe om die basiese geestelike beginsels wat die mensdom beheer, toe te pas. Dit is waarom die Psalmdigter skryf: “Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag. U gebooie maak my wyser as my vyande, want hulle is myne vir ewig. Ek is verstandiger as al my leermeesters, want u getuienisse is my bepeinsing. Ek het meer verstand as die ou mense, want ek bewaar u bevele” (Psalm 119:97-100).

Maak dus seker dat u God se Woord bestudeer en daaroor nadink en opreg bid vir wysheid. “Want wysheid is beter as korale, en al die kleinode kan daar nie mee vergelyk word nie” (Spreuke 8:11). Goddelike leiers het nou, sowel as in die toekoms wysheid nodig!