Die groot man wat oorkant die tafel gesit het, se skouers het begin ruk. “Ek het elke een van God se gebooie verbreek”, het hy gesnik. “Ek moet gedoop word!” Hierdie man, ’n veteraan van die Tweede Wêreld­oorlog en ’n voormalige seesoldaat, was baie diep bewus daarvan dat hy ’n sondaar was wat verlossing nodig gehad het. As jong twee-en-twintig-jarige kollegestudent wat besig was om ’n dooptoer te onderneem, was ek besonder diep getref deur hierdie man se opregte berouvolle gesindheid. Hy was in die proses om homself te sien soos hy werklik was en hy het werklik gehaat wat hy gesien het! Hy het die noodsaaklikheid vir ’n Verlosser raakgesien!

Wat van u? Wat sien u as u na uself kyk? Hoe dringend het u persoonlik God se vergifnis nodig? Is u een van diegene wat tot dusver nog ’n “redelike goeie” lewe gely het? As dit die geval is, is daar wérklik ’n nodigheid dat u enigsins gedoop word? Is daar hoegenaamd ’n noodsaaklikheid vir ’n Verlosser vir u, persoonlik?

Moontlik is u alreeds gedoop. Moontlik het dit gebeur toe u nog ’n kind was, en u onthou nie eers meer die gebeurtenis nie. Aan die anderkant mag u dalk as ’n jeugdige of as volwassene gedoop gewees het, waartydens u “’n keuse gemaak het vir Christus”. Is u doop werklik geldig en aanvaarbaar in God se oë? Hierdie is ’n lewensbelangrike vraag want u saligheid is afhanklik van die antwoord.

Miljoene Mense is MISLEI

Dit is belangrik om te besef dat die oorgrote meerderheid van die mense op aarde – selfs gelowige mense – MISLEI is. Die apostel Johannes was geïnspireer om Satan te beskryf as “die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei [mislei]” (Openbaring 12:9). Dit is moeilik vir meeste mense om die feit te begryp dat hulle, persoonlik, dalk mislei kon gewees het om verkeerde godsdiensleerstellings en gebruike na te volg.

Ons moet egter die voorbeeld en leerstellings van Jesus Christus baie versigtig en met ’n oop gemoed vergelyk met wat vandag voorgehou word as synde “Christelik” te wees. U sal spoedig ’n GEWELDIGE verskil opmerk, soos Dr. Rufus Jones so gepas verduidelik het: “Indien Christus Self dalk enigsins deur Sy volgelinge geneem sou gewees het as die model en die patroon van die nuwe weg, en indien ’n ernstige poging aangewend sou gewees het om Sy lewe en leerstellings voor te gehou het as die standaard en die norm vir die Kerk, dan sou die Christen­dom iets TOTAAL VERSKILLEND gewees het van wat dit eindelik wel geword het. Die dwaal­leerstelling sou anders gewees het as wat dit vandag is, afwykend van Sy weg, Sy leerstellings, Sy gees, Sy koninkryk” (vryvertaal uit: The Church’s Debt to Heretics, bl. 15).

Indien Jesus en die vroeë Apostels nie die “standaard” voorstel vir die ware Christendom nie, wat is hierdie standaard dan? Is dit dalk die dikwels teenstrydige relaas van die sogenaamde “kerk­vaders” van die Rooms-Katolieke Kerk van die Middel­­eeue? Onthou dat Jesus Self, ons spesifiek gewaarsku het teen valse geestelike leiers. Hy het gesê: “Laat hulle staan; hulle is blinde leiers van blindes. En as ’n blinde ’n ander blinde lei, sal altwee in die sloot val” (Matt. 15:14).

Om eerlik te wees, het ek absoluut BLIND grootgeword omtrent die basiese waarhede van die Bybel. Ek het aan ’n gewone Protestantse kerk behoort. Ek was op ’n stadium die president van my Sondagskoolklas. Albei my ouers het gegradueer in ’n kollege wat geborg was deur hierdie kerk wat my familie gereeld bygewoon het. Ek het egter GEEN BENUL gehad van wat die uiteindelike doel van die menslike bestaan was nie, en ek was heeltemal onkundig omtrent die groot eindtydprofesieë van die Bybel. Ek was nooit geleer omtrent die KRAG wat die Heilige Gees het om my lewe te verander en wat die lewende Jesus Christus in staat sou stel om Sy lewe binne my te leef nie! (Sien Galasiërs 2:20). Ongelooflik soos dit mag klink, was ek nogtans deur dosyne van my vriende beskou as “meer kundig” as hulle omtrent die Bybel- en geloofsaangeleenthede. Hierdie kerkgaande jeugdiges het my dikwels vrae gevra. Hulle het gewonder oor die eintlike doel van die menslike bestaan, en hulle was verward daaroor.

Ek was gedoop as ’n hulpelose klein babatjie – wat nie eers kon onderskei tussen my regterhand of my linkerhand nie, wat nog te sê in staat wees om die enormiteit van sonde te kon verstaan, en om my werklik diep te kon BEKEER van my sondes, en om Jesus Christus te kon aanneem as my Verlosser! Was ek, dan werklik ’n ware Christen?

Natuurlik nie!

My persoonlike soektog na die Waarheid

In hierdie baie bekende Protestantse kerk was ek maar net soos die MILJOENE ander misleide mense wat eenvoudig grootword in die “kerk van hulle keuse” – mense wat NOOIT eens wonder of dit werklik GOD se Kerk is, en of hierdie kerk werklik Sy Waarheid verkondig, in stede van die idees en verbeeldings van misleide mense nie. Uiteindelik het God in my laat-tienerjare begin om my verstand te open omtrent waaroor ware geloof werklik gaan.

In stede daarvan om maar net die Evangelies of Psalms te lees vir “inspirasie”, het ek begin om die Bybel waarlik te BESTUDEER net soos mens ’n historiese boek of ’n boek oor chemie sou bestudeer. Ek het God gevra vir begrip, en ek het maande lank voortgegaan om te lees, te merk, weer oor te lees, en om oor die hele Nuwe Testament na te dink – en daarna ook die Ou Testament – in ’n poging om te probeer verstaan presies wat Christus eintlik verkondig het!

Tydens my persoonlike studie, het ek begin besef dat Christenheid nie net eenvoudig behels dat mens in die persoon van Jesus Christus moet glo nie, maar dat mens Sy BOODSKAP moet glo en daarop moet reageer. Ek het bevind dat ’n ware Christen homself totaal moet oorgee en dat Christus in hom moet leef deur die Heilige Gees. Soos die apostel Paulus geskryf het: “Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God” (Rom. 8:14). Ook, “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Gal. 2:20).

Ek het begin verstaan waarom Jesus herhaaldelik daarteen gewaarsku het dat mense Hom sou aanneem maar Sy naam bloot ydellik sou gebruik: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Luk. 6:46). Ook: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is” (Matt. 7:21).

Waar staan u egter?

Het God u verstand geopen tot die feit dat Hy WERKLIK die Regeerder van die heelal is; dat hy ’n WARE God is wat al hierdie dinge geskape het, en op hierdie oomblik daaroor regeer? Besef u dat Sy Seun Jesus Christus nie alleen in hierdie wêreld gekom het om te sterf vir ons sondes nie, maar dat Hy ook op hierdie oomblik LEWENDIG aan die regterhand van die Vader in die heelal sit, en dat Christus nou ons lewende Hoëpriester is? Verstaan u dat Hy SY LEWE IN ONS SAL LEI deur die beloofde Heilige Gees – INDIEN ons ons waarlik bekeer en gedoop word? Besef u dat Christus dan DIESELFDE gehoorsame lewe in ons sal lei as wat Hy Self in die vlees gelei het? U Bybel sê tog: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Heb. 13:8).

Ons het almal hulp nodig – sommer baie hulp. Dit is net eenvoudig nie moontlik dat ons ons menslike ydelhede en drifte, asook die wêreld, en ook Satan, die Duiwel, kan oorkom met slegs ons eie krag nie. Die God wat ons geskape het, het egter belowe dat Hy aan ons die geestelike hulp en die geestelike krag wat ons benodig, sal gee. Jesus het gesê: “maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (Joh. 14:26). Ook: “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek, en die toekomstige dinge aan julle verkondig” (Joh. 16:13).

GLO wat Jesus Werklik Geleer het

Jesus Christus het ’n BOODSKAP kom verkondig omtrent die komende Koninkryk van God. Die Evangelie van Markus sê: “En nadat Johannes oor­gelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Mark. 1:14-15).

Om ’n ware dissipel van Jesus Christus te wees en om Sy Heilige Gees te kan ontvang, moet mens jou van jou sondes BEKEER en GLO in Jesus Christus se Evangelie. Die ware Evangelieboodskap omtrent God se Koninkryk behels ’n mens se gewilligheid om die WETTE van daardie koninkryk te gehoorsaam – die Tien Gebooie. Toe ’n jong man Jesus gevra het hoe hy die ewige lewe kon verkry, het Jesus hom geantwoord: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe een, naamlik God. Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie. Hy vra Hom: Watter? En Jesus sê – dit: Jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie egbreek nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie; eer jou vader en jou moeder; en: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matt. 19:17-19). Hier is Jesus duidelik besig om die Tien Gebooie aan te wys as die WEG van die lewe vir diegene wat in Sy Koninkryk wil wees.

Later het Jesus as Hoëpriester en lewende Hoof van die Kerk, vir die apostel Jakobus geïnspireer om te verduidelik dat ware Christene AL die “opsigte” van God se wet moet onderhou. Om die waarheid te sê, ons moet leef soos die wat geoordeel sal word deur die Tien Gebooie, want hulle is die ware standaard van ware Christelike handel en wandel! (Jak. 2:10-12).

Die geliefde apostel Johannes het diegene wat die duidelike Bybelse leerstelling van gehoor­saamheid aan die Tien Gebooie wou afwater, gewaarsku: “Hy wat sê: Ek ken Hom – en sy gebooie nie bewaar nie – is ’n leuenaar en in hom is die waarheid nie” (1 Joh. 2:4). Baie belydende Christene, en selfs baie be­roemde leraars mag weet van God, maar hulle “ken” God nie werklik nie – hulle is nie werklik bekend met Hom nie. Nie tensy hulle hul werklik OORGEE en toelaat dat die ware Jesus Christus SY LEWE VAN GEHOORSAAMHEID in hulle leef deur die Heilige Gees nie. Dan sal hulle ervaar hoe dit is om die ware karakter van God uit te leef. Dan sal hulle werklik vir God kan “ken”.

Sou dit dan beteken dat ware Christene ten alle tye die Tien Gebooie perfek onderhou? Natuurlik nie! Die apostel Johannes het per slot van rekening dit ook gestel – terwyl hy duidelik van Christene gepraat het – dat: “As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Joh. 1:8-9).

Hierdie “reiniging” van sonde is ’n deurlopende aksie, want die ware Christen moet “TOENEEM in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 3:18).

Die pasbekeerde “kind in Christus” sal gedurig foute maak. Almal van ons wat Christene is, sal foute maak. Ons sal egter weer opstaan en weer probeer. Ons sál per geleentheid “van die pad af gly”. Ons sal telkens egter BEKEER en met die hulp van die Heilige Gees weer terugkom op die pad van gehoorsaamheid aan die Tien Gebooie, want die groot geestelike wet van God – die Tien Gebooie – is die ware WEG van die lewe. Die “man na God se hart”, Koning Dawid van Israel, het gesê: “Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag. U gebooie maak my wyser as my vyande, want hulle is myne vir ewig” (Ps. 119:97-98).

Wat Behoort u te Doen?

Indien u nader aan God getrek word deur Sy Gees en indien u ’n ware Christen wil word, wat sou u te doen staan? Die geïnspireerde antwoord is op die eerste Nuwe-Testamentiese Pinksterdag verstrek deur die apostel Petrus . Nadat hulle die enormiteit van hulle sondes besef het, het die bekerende Jode vir Petrus en die res van die Apostels gevra: “Wat moet ons doen, broeders? En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep” (Hand. 2:37-39).

Dink sorgvuldig na oor hierdie fundamentele instruksie vanuit God se Woord. Ons is veronderstel om gedoop te word “tot vergewing van SONDES”. Ons moet ons dus duidelik van ons sondes BE­KEER.

Maar wat IS sonde?

Die duidelikste definisie van sonde in die Bybel word gevind in 1 Johannes 3:4: “Elkeen wat sonde doen, oortree die wet van God. Sonde is immers oortreding van die wet van God” (NV). Ons moet ons dus bekeer van die verbreking van God se geestelike wet, die Tien Gebooie! Ons moet ook besef dat Jesus Christus gekom het om die wet te vergroot en heerlik te maak (Jes. 42:21).

Tydens die Bergpredikasie, het Jesus verduidelik dat ons nie alleen nie mag doodslaan nie, maar dat ons nie eers bitterheid en kwaad, of haat in ons harte mag hê nie – want hierdie dinge is die “gees” of gesindheid van MOORD (Matt. 5:21-22). Christene mag nie alleen NOOIT egbreuk pleeg nie, maar hulle mag nie eers ’n ander persoon “begeer” nie (verse 27-28).

Jesus het geensins gekom om God se wet te kom “afwater” nie. Hy het eerder gekom om die Tien Gebooie selfs meer BINDEND te maak! Alleenlik in­dien Jesus Christus Sy lewe in ons kan leef, kan ons toenemend die gees van die Tien Gebooie in ons daaglikse lewens reflekteer. Soos reeds gesê is, moet ons inderdaad aanhoudend GROEI en toe­neem in genade en kennis.

Deur die Heilige Gees is die geestelike LIEFDE van God aan ons gegee sodat dit ons in staat kan stel om God se wet te onderhou. “En die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is” (Rom. 5:5). Wat is hierdie “liefde van God” wat aan die ware Christen gegee is? Hoe werk dit? Die apostel Johannes verduidelik: “Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie” (1 Joh. 5:3, NV).

Die ware liefde van God vloei dus deur die kanaal of rivierbed van die Tien Gebooie. Die Tien Gebooie sê vir ons hoe om God lief te hê en hoe om ons medemens lief te hê. Verder is dit, in teenstelling met die slim argumente van baie geestelike leiers, NIE “moeilik” om hulle te gehoorsaam nie. Indien hulle gehoorsaam word, word hulle eerder die “wet van vryheid” genoem, soos ons sien in Jakobus se send­brief. Hulle sal die mensdom BEVRY van oorlog, misdaad, egbreuk, gebroke huise, rebelse kinders en ’n klomp ander probleme – INDIEN hulle toegepas word deur die ganse mensdom!

In die Koninkryk van God wat binnekort hier sal wees, SAL die mensdom die Tien Gebooie ge­hoorsaam as deel van hulle lewenswyse. Dit is presies HOEKOM daar VREDE, VOORUITGANG en VREUGDE sal wees in die komende millenniese (duisend-jarige) regering van Jesus Christus op aarde! “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en die volke sal daarheen toestroom. En baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die Here en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen baie volke en regspreek vir magtige nasies tot in die verte; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Miga 4:1-3).

Maak Seker dat u “die Koste Bereken”

Om terug te kom na Petrus se preek op die eerste Pinksterfees in die Nuwe Testament, onthou dat hy hierdie mense vermaan het om hulle te BEKEER. Om ’n mens van sonde te bekeer, beteken meer as om net “jammer” daaroor te wees. Die Bybel maak dit duidelik dat opregte bekering behels dat ’n mens oortuig moet wees van die feit dat jy waarlik ’n SONDAAR is en dat jy God se wet oor en oor letterlik VERTRAP het – al sou dit dan in die gees wees en nie in die letter nie. Dit beteken dat ’n mens oortuig moet wees, nie net van die feit dat jy verkeerd gedoen het nie, maar dat jy verkeerd is! Soos die apostel Paulus verduidelik, “Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie” (Rom. 7:18). Hy sê ook later: “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!” (verse 24-25).

Wanneer mens gebring word na hierdie tipe ware bekering, dan is dit tyd om gedoop te word! U sal ernstig moet besin wanneer u “die koste bereken” soos Jesus ons beveel het: “As iemand na My toe kom en hy haat [letterlik, om minder lief te hê] nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie. En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie. Want wie van julle wat ’n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, of hy die middele het om dit uit te voer nie?” (Luk. 14:26-28).

Vra uself af: sal ek met die hulp van God werklik vir God eerste plaas voor my familie, vriende, beroep, geld en sosiale posisie, of sal ek soos die Fariseërs van Jesus se tyd wees wat “die eer van die mens meer [liefhet] as die eer van God” (Joh. 12:43)?

Het God al WERKLIK geword vir u? Sal u Hom waarlik voor ENIGIETS anders stel? Of het u een of ander geheime “afgod” – iets wat u in der waarheid voor God en u verhouding met Jesus Christus stel?

Onthou, bekering beteken VERANDERING. Is u, persoonlik, gereed om Jesus Christus se offer vir u sondes in geloof te aanvaar en om dan ten volle oor te gee om Hom te laat inkom om “beheer oor te neem” en om u ganse lewe te VERANDER?

Het u al gekom tot ’n innige waardering vir die feit dat Jesus Christus – die Seun van God – Homself leeggemaak het van Sy glorie en krag om in die menslike vlees te kom STERF vir u sondes? (verwys Fil. 2:5-8). Asook dat Hy wat vir ewig saam met die Vader was, gewillig was om Homself van al daardie heerlikheid te ontbloot sodat Hy vir u en vir my kon DIEN – om dit vir ons moontlik te maak om saam met Hom en die Vader as volle kinders van God tot in alle ewigheid te kan deel in die Koninkryk? (verwys Joh. 1:1-12).

Hierdie is LEWENSNOODSAAKLIKE vrae wat beantwoord moet word – en wat met opregtheid positief beantwoord moet word. U moet besef dat wanneer u gedoop word, maak u ’n heilige VER­BOND met u Skepper dat u Hom en Sy Seun Jesus Christus sal liefhê, sal gehoorsaam en sal dien, nou en vir ewig!

God is niks aan u verskuldig nie. Aan die ander kant egter, skuld u en ek Hom en Sy Verheerlikte Seun ALLES, want God het “alles geskape ... deur Jesus Christus” (Ef. 3:9; Joh. 1:1-3). Hy het vir u en vir my geskape. Hy het die aarde waarop ons lewe, geskape en Hy onderhou dit, die water wat ons drink, die kos wat ons eet. God die Vader het deur Jesus Christus ons VERSTAND geskape – die einste instrument wat ons mense soms gebruik om te probeer redeneer rondom die feit dat daar iets GROTER moes wees wat ons verstand kon geskep het! Ons probeer dan “redeneer” om onsself te probeer verskoon dat ons steel, lieg, egbreuk pleeg, en allerlei ander dinge doen wat ons weet VER­KEERD is. Soos die apostel Paulus verduidelik het in Romeine 8:7-8: “omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie”.

Ons benodig dus VERGIFNIS. Ons het ’n Verlosser broodnodig. Ons het ook ’n behoefte aan die volgehoue hulp van ons Verlosser en Hoëpriester wat ons nie sal red in ons sondes nie, maar VAN ons sondes – en wat aan ons die geestelike krag sal gee om te OORKOM en om te groei in die ware karakter van God. Dit alles kan ALLEENLIK bereik word deurdat ons ’n punt bereik waar ons gewillig is om ons van ons natuurlike vyandige gesindheid teenoor God geheel en al te BEKEER, en bereid is om die gestorte bloed van Jesus Christus – inderdaad, die LEWE van die Seun van God – heelhartig te aanvaar as betaling van ons sondes.

Het u op so ’n punt in u lewe gekom?

Sleutelpunte tot Verandering in u Lewe

In die Bybel staan verhale opgeteken wat vertel van dramatiese veranderings wat plaasgevind het in die lewens van baie persone. Hoe was hulle daartoe in staat om sulke algehele ommekere in hulle lewens te maak? Is dit moontlik vir u om sulke veranderings van dieselfde omvang te maak in u lewe? Daar is twee noodsaaklike sleutels. Meeste mense kyk hulle heeltemal mis. Selfs diegene wat hulle erken, verstaan meestal heeltemal verkeerd wat hulle werklik behels.

In Handelinge 2 lees ons van die gebeurtenisse rakende die begin van die Nuwe-Testamentiese Kerk. Simon Petrus het ’n kragtige preek gelewer voor ’n skare van etlike duisende mense wat by­mekaar­­gekom het om die Pinksterfees te onderhou. ’n Hele aantal van diegene wat hom daardie dag gehoor het, was ook deel van die gepeupel wat ’n skamele sewe en ’n half weke vroeër buite Pilatus se Hofsaal bymekaargekom het. Tydens daardie geleentheid het hulle geskreeu: “Kruisig Hom!” toe Pilatus aangebied het om Jesus van Nasaret te bevry. Nou egter, het hierdie mense die waarheid van Petrus se boodskap GEGLO, en hulle was oortuig van die enormiteit van die daad wat hulle gepleeg het. Dit was met ’n diep gevoel van skaamte en persoonlike skuld dat hulle nou in nederigheid gevra het: “Wat moet ons doen, broeders?” (Hand. 2:36-39). Hy het hulle geantwoord deur te sê dat hulle hul moes BEKEER. Geloof en Bekering is die twee lewensnoodsaaklike sleutels waarsonder ware verandering onmoontlik is.

Geloof is wat die tafel dek vir bekering. Die soort geloof waarvan ons praat, is lewend en werklik. Dit het ’n geestesgesindheid tot gevolg wat meebring dat ’n mens graag wil omdraai om tot God te keer. Hierdie geloof is die versekering van, en in ’n WARE God en in die beloftes wat Hy maak. Dit het dade tot gevolg! “Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood”, het die apostel Jakobus geskryf in Jakobus 2:17. Om werklik te kan glo en vertrou, maak God dit vir ons moontlik dat ons absoluut, onvoorwaardelik aan Hom kan oorgee.

Hebreërs 11 word dikwels die “geloofshoofstuk” van die Bybel genoem. In Hebreërs 11:13 leer ons dat die mans en vrouens van geloof sekere dinge GEDOEN het. Om te verstaan wat hulle gedoen het, maak dit vir ons moontlik om lewens-veranderende geloof te kan verstaan. Ons word vertel hulle “… het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was”.

Eerstens moet ons die beloftes wat God maak, sien en verstaan, oortuig wees van beide hul waarde en hulle realiteit, en dan moet ons hulle verwelkom, of “begroet”. Om te “begroet”, is om iets as waarde­vol en besonders te beskou. As ons nie dit wat God ons aanbied, as waardevol en besonders beskou nie, sal ons eenvoudig nie kan aanhou en dit sukses­vol kan deurstaan deur die hoogtepunte en laagte­punte van die lewe nie. Aangesien die manne en vroue van geloof wat in Hebreërs 11 genoem word, dit wat God beloof het met liefde vasgehou het, het hulle met woord en daad gedemonstreer dat hulle nie deel van hierdie wêreld was nie.

Ons KAN NIE in hierdie wêreld inpas, en terselfdertyd ook by God inpas nie (Jakobus 4:4). Om in hierdie wêreld te kan inpas en om die aanvaarding en goedkeuring van hierdie wêreld te verkry, moet mens in harmonie wees met die waardes van hierdie tydperk. Johannes het die waardes van die wêreld opgesom as synde die “... begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe ...” te wees (1 Joh. 2:16). Hierdie lewenstydperk en sy korrupte, dekadente waardestelsels gaan tot niet gaan, maar daar is ’n nuwe wêreld wat aan die kom is wat gebaseer is op ewige waardes. Hierdie nuwe wêreld, die wêreld van môre, sal permanent wees.

Indien ons dit werklik glo, sal ons graag met ons hele hart na God wil keer en ons sal wil leer hoe om vir ewig in harmonie saam met Hom te bestaan. Lewende geloof het dade tot gevolg, en ware bekering is een van die eerste dade wat daaruit spruit. Dit is wat Petrus se gehoor laat blyk het toe hulle hom gevra het: “Wat moet ons doen?” Hulle het geen verskonings aangebied nie. Hulle het nie probeer om hulle dade onskuldig te laat lyk nie. Hulle het nie begin deur ander te blameer nie. Hulle was eerder nederig, gewillig om geleer te word, en hulle het hul harte en hul verstand oorgegee. Petrus het die Evangelie aan hulle gepreek en hulle het sy boodskap geglo. Hulle het hul geloof laat blyk deur hulle innige begeerte om volgens hierdie geloof te handel. So het hulle daardie dag die vraag gevra wat almal wat ’n drang voel om hulle lewens waarlik te verander, behoort te vra: “Wat moet ons doen?”

Word Saligheid deur Gehoorsaamheid Verdien?

God se wet vertel ons hoe om soos God te wees (1 Pet. 1:15-16). Almal van ons het egter vêr tekort­geskiet in ons pogings om soos God te wees. Wat kan ons doen? Geen mate van toekomstige dade kan ooit opmaak vir wat ons alreeds in ons verlede gedoen het nie. Dit behoort duidelik te wees, selfs as mens maar net na die mens se wette kyk. Indien mens gearresteer word vir moord, sou die belofte dat jy dit nooit weer sal doen nie, ooit jou vrylating verdien?

Natuurlik nie! Indien ons die wet in die toekoms nakom, is ons eenvoudig besig om maar net te doen wat van ons verwag word. Geen mate van toekomstige wetsgehoorsaamheid kan ooit opmaak vir die wetsoortreding van ons verlede nie.

Almal van ons het al gesondig (Rom. 3:23) en die loon van sonde is die dood (Rom. 6:23). God het ons moontlike vrystelling van die doodstraf (die vloek van die wet) moontlik gemaak deurdat Hy Jesus Christus, Sy enigste Seun, gegee het om in ons plek te sterwe. Hy het ons plek ingeneem. Ons is dus daardeur versoen met God deur die dood van Sy Seun (Rom. 5:10).

God het die inisiatief geneem om ons in harmonie te bring met Homself, en dit is wat “versoen” werklik beteken. Hy het Sy liefde gedemonstreer deur die uiterste offer te maak, die lewe van Sy Seun, om die skuld te betaal wat u en ek vir ons op ons hals gehaal het deur ons gedagtes, gesindhede en aksies (Joh. 3:16). Ons moet egter reageer op God se genade deur geloof en belydenis. God se bedoeling is om ons te red VAN ons sondes, NIE IN ons sonde nie. “Wat sal ons dan sê?” vra Paulus. “Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?” (Rom. 6:1-2). As ons God se gratis geskenk, die ewige lewe wat Hy ons aanbied, wil aanneem – wat ons nooit in ’n duisend leeftye sou kon verdien nie – dan moet ons reageer teenoor Hom deur weg te draai vanaf ons weë, na Sy weë (Hand. 2:38).

’n Gesindheid van onvoorwaardelike oorgawe van ons lewens en van ons wil is die gesindheid van bekering. As ons so ver kom om werklik die realiteit van die glorieryke toekoms te kan sien wat God ons aanbied, en as ons Sy Woord opreg glo, dan sal ons God en Sy weë van ganser harte aktief wil volg. Dit is wat gelei het tot die veranderinge in die lewens van die mans en vrouens van geloof waarvan ons lees in Hebreërs 11. U sien, lewende geloof het ALTYD dade tot gevolg! Bekering is ’n gevolg van lewende geloof. Alhoewel dit innerlik begin, sal dit ook gereflekteer word in uiterlike veranderinge. As ons werklik ons ou weë leer haat het, sal ons graag van hulle af wil wegkeer.

Het God u gelei om te kan insien dat u ware natuur verkeerd is? Het u sover gekom om in alle opregtheid ontslae te wil raak van u eie verrotte, selfsugtige, vleeslike menslike natuur? Weereens, is u gereed om u te bekeer, nie alleen van dit wat u reeds gedoen het nie – maar ook van wat u is?

Koning Dawid het geweet dat dit was wat God verlang het. Hy het gesê: “Die offers van God is ’n gebroke gees; ’n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!” (Ps. 51:19). Voor enigeen – en dit beteken enigeen – waarlik en werklik bekeerd is, moet hy verneder word, platgetrap word en tot die diepe besef gebring word van sy eie nietigheid voor God. Hy moet deur ’n tydperk gaan waarin hy homself verag, sy sondes erken voor God en van hulle bekeer – sodat hy sy hele hart, verstand en wil sal omkeer en besluit om die ander pad te volg.

Wanneer daardie tyd aanbreek, sal so ’n persoon ophou om te argumenteer en te redeneer met God en met Sy leraars wat Sy Werk doen. Hy sal nie berouvol vasklou aan valse sieninge van God nie. Hy sal ophou om te probeer redeneer rondom gehoor­saamheid aan God se gebooie en hy sal letterlik leef volgens elke woord van die Bybel. Hy sal nie sy “gevoelens” seergemaak kry wanneer God se gekose diensknegte hom korrigeer en vermaan nie. Hy sal eerder sy lewe aan God GEE soos Paulus ons aansê om te doen: “Ek vermaan julle dan, broeders, deur die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ’n LEWENDE, HEILIGE EN AAN GOD WELGEVALLIGE OFFER – dit is julle redelike gods­diens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die VERNUWING van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Rom. 12:1-2). Soos Paulus dit aan ons opdra, moet selfs ons gedagtes VERANDER word met die “vernuwing” van ons verstand!

Die Simboliek van die Doop

“Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam” het Paulus geskrywe in 1 Korintiërs 12:13. Johannes die Doper het gesê dat die Messias twee dope sou aanbied – met die Heilige Gees en met vuur (Matt. 3:11-12). Diegene wat weier om in die Familie van God “gedompel” te word, sal uit­eindelik in die poel van vuur gedompel word want van hulle sal “geen wortel of tak” oorbly nie (Mal. 4:1). Jesus Christus het die Heilige Gees vergelyk met “strome van lewende water” (Joh. 4:14; 7:38-39).

Paulus verduidelik in Kolossense 2:12 dat die doop ’n begrafnis simboliseer. Die “ou mens” word simbolies tot sterwe gebring. Ons kom te voorskyn as ’n nuwe wese. Om uit die watergraf van die doop te voorskyn te kom, beeld ons geloof uit wat ons in die opstanding het. Dit is juis ons uiteindelike hoop om ’n nuwe wese te word.

In Romeine 6:4-5 lees ons: “Ons is dus saam met Hom BEGRAWE deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ’n nuwe lewe kan wandel. Want as ons met Hom saam­ge­groei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding”. Die doop is nie sommer net ’n leë daad of a magiese ritueel nie. Dit is eerder ’n baie belangrike simbool en beslis nie iets waarin ’n mens jouself ligtelik moet begewe nie.

Bevestigend van ons geloof en belydenis, is die doop ’n uiterlike teken van ons toewyding. Dit stel ’n nuwe begin voor. Die ou persoon met sy sondige verlede is simbolies begrawe en ’n nuwe persoon kom na vore. Die waters van die doop simboliseer die feit dat ons innerlik skoon gewas word deur die Heilige Gees. Christus se offer het betaal vir ons sondes en ons kom deur die doop skoon voor God. Dit stel nie die einde voor nie, maar eerder die begin van die ware bekeringsproses!

Die Rol van God se Heilige Gees

Ons vind dat dit die gebruik was van Christus se leraars van die eerste eeu om die hande op te lê (Hand. 8:18; Heb. 6:2). Hierdie oplegging van die hande is simbolies daarvan dat ’n mens deur God apart gestel word. Na afloop van die doop, stel dit die nuutgedoopte persoon apart sodat hy God se Heilige Gees kan ontvang. In Handelinge 19:1-6 lees ons dat Paulus in Éfese mense raakgeloop het wat geglo het in dit wat hy gepreek het, en wat reeds gedoop was. Hulle het egter die Evangelie nie ten volle verstaan toe hulle gedoop is nie, en het nooit die Heilige Gees ontvang nie – hulle het nie eers daar­van geweet nie. Nadat Paulus die saak in diepte met hulle bespreek het, het Paulus hulle herdoop in Jesus se naam en hulle die hande opgelê sodat hulle die Heilige Gees kon ontvang. God het deur ’n besonderse wonderwerk – soos dié wat gebeur het op die eerste Pinksterfees van die Nuwe-Testa­mentiese era – aangetoon dat hulle inderdaad by hierdie geleentheid die Gees ontvang het. Was dit alles nodig gewees?

Tydens die Pinksterfees het Petrus vir sy toehoorders gesê dat, nadat hulle bekeer en gedoop is, hulle “die gawe van die Heilige Gees [sou] ontvang” (Hand. 2:38). Wat is die ontvang van die Heilige Gees dan nou eintlik veronderstel om in ons lewens tot gevolg te hê?

Petrus het verduidelik dat dit deur die Heilige Gees, God se bonatuurlike krag, is dat ons “deel­genote kan word van die goddelike natuur” (2 Pet. 1:4). Dit is deur die Heilige Gees dat Jesus Christus binne ons leef en ons bemagtig om die­selfde soort lewe te kan lei as wat Hy gelei het toe Hy as ’n menslike wese op aarde geleef het (Gal. 2:20; Fil. 2:5).

Aangesien Christus binne ons leef deur die Heilige Gees, word ons liggame beskou as die tempel van God (1 Kor. 3:16) en ons word aangesê om God te verheerlik in alle fasette van die lewe (1 Korintiërs 6:20). Om God se Gees in ons te hê, is wat ons as mense heilig maak. Dit is sulke mense wat die Bybel “heiliges” noem. Ons kan nie onsself (of enigiets anders!) heilig maak nie. God is heilig en alleenlik Hy kan heiligheid aan ons toesê. Indien ons waarlik bekeer en na God keer in geloof, beloof Hy om ons nie alleen ons verlede te vergewe nie, maar ook om Sy Heilige Gees aan ons te gee. God se Gees word gegee as ’n geskenk en dit is bedoel om ons lewens ingrypend te verander deurdat dit ons verstand vernuwe (Titus 3:5; Rom. 12:2). Ons word nuwe skepsels, aangesien God in die proses is om ons te verander deurdat Hy Sy wette in ons harte en in ons verstande inskrywe (Heb. 8:10).

Alhoewel dit die krag van God is wat hierdie transformasie moontlik maak, het ons nietemin ook ons eie kant om te bring. Ons moet God se Gees uitleef, ons moet die leiding van God se Gees volg – in kort, ons moet saamstap met God. God se Gees sal ons lei en bemagtig, maar dit sal ons nie “oorneem” of beheer nie. Ons moet daarna soek en strewe, en ons moet graag gelei wil word deur God in ons lewens. Sonder God se bemagtigende Gees is ons pogings nutteloos, dog God se krag sonder ons pogings stel ook maar net potensiële energie voor. Dit is soos ’n ligskakelaar in die “af” posisie; die potensiaal om die vertrek te verlig, is daar, maar die skakelaar is af en niks vloei daardeur nie. Dit is die ingebore teenwoordigheid van die Gees van God wat uiteindelik die voltrekking van ons saligheid sal moont­lik maak.

Met ons geloof en ons bekering, word ons deur die gestorte bloed van Jesus Christus geregverdig, verontskuldig en vrygespreek voor God (Rom. 5:9). Aangesien ons nou tot God gekeer is, maak Hy ons heilig deurdat Hy Sy Heilige Gees in ons plaas. Die Gees is daar om ons dieper begrip te gee van geestelike dinge en om ons te bemagtig om god­delike lewens te lei. As Christene moet ons gedurig groei in genade en kennis (2 Pet. 3:18). Indien ons die aansporing van God se Gees volg, sal die regverdigheid van God soos dit in Sy wet omskryf word, vervul word in ons lewens (Rom. 8:4).

Hoewel ons geregverdig is deur Christus se dood, sal ons uiteindelik gered word deur Sy lewe (Rom. 5:9-10). Christus is op hierdie einste oomblik LEWEN­­DIG aan die regterhand van die Vader! Wan­neer ons struikel en sondig, tree Hy aktief in vir ons as ons lewende Hoëpriester (Heb. 4:14-16) EN Hy leef Sy lewe van oorkoming van sonde in die vlees in ons deur die inwoning van die Heilige Gees (Gal. 2:20). Die feit dat Hy getriomfeer het oor die dood deur die opstanding is die BEWYS dat ons uiteindelik die ewige lewe sal verkry by Sy terugkeer (1 Kor. 15:20-23).

God “lyf u in” Sy Kerk in

Deur die doop en die ontvangs van God se Heilige Gees, word u outomaties gedoop binne-in die ware Kerk van God. “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge” (1 Kor. 12:13), want God se Kerk is saam­gestel uit daardie mense wat gevul is en GELEI WORD deur die Heilige Gees (Rom. 8:14).

Dit is eenvoudig net nie moontlik om by die ware Kerk van God “aan te sluit” nie! God moet u eers “roep” en na “Hom toe bring” en u dan in Sy Kerk plaas deur die Heilige Gees aan u te gee. Onthou wat Jesus gesê het, “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag” (Joh. 6:44).

God het egter ’n georganiseerde Kerk – en Hy het nog altyd een gehad! Jesus Christus het Self gesê, “... op hierdie rots sal Ek my gemeente [kerk, NV] bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie” (Matt. 16:18). Dat die “poorte van die doderyk” of die graf nie God se ware Kerk sal oor­weldig nie, kan op twee maniere gesien word: Eerstens, God sal NOOIT toelaat dat Sy Kerk heeltemal verwoes word of tot niet gemaak word nie. Twee­dens, is die basiese hoop van alle ware Christene die OPSTANDING vanuit die dood. Alhoewel individuele Christene dus doodgaan, SAL hulle weer leef wanneer die sewende basuin geblaas word, wanneer Christus terugkeer na hierdie aarde as Koning van die konings! “Kyk, ek maak ’n geheimenis aan julle bekend: Ons sal nie almal sterwe nie, maar ons sal almal verander word. By die laaste trompet sal dit in ’n oomblik, in ’n oogknip gebeur, want die trompet sal weerklink, en die dooies sal as onverganklikes opgewek word, en ons sal verander word” (1 Kor. 15:51-52, NV).

Paulus leer ons dat die wat in die Kerk is, die geestelike “liggaam” van Jesus Christus is (1 Kor. 12:27). Net soos die hande en voete, die oë en ore van ons fisiese liggame moet saamwerk sodat die liggaam behoorlik kan funksioneer, so moet die geestelike liggaam – die Kerk van God – saamwerk en sy lede moet saamwerk om die funksies uit te voer wat Jesus Christus aan hom toegewys het. Jesus Christus is die lewende, aktiewe HOOF van die ware Kerk (Ef. 1:22-23). Dit is Hy wat die doelwitte en opdragte vir Sy Kerk vasstel. Ná Sy opstanding, en net voor Sy hemelvaart, het Jesus die opdrag gegee: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Matt. 28:19-20).

So is die primêre funksie van die ware Kerk dus om te GAAN na alle nasies, om dieselfde kragtige boodskap te verkondig wat Jesus verkondig het omtrent die komende Koninkryk van God! Die Kerk is dan veronderstel om die mense ALLES te leer wat Christus aan Sy dissipels geleer het – die hele WEG van God gebaseer op heelhartige gehoorsaamheid aan God se groot geestelike WET en op totale OORGAWE sodat Jesus Christus Sy lewe binne elkeen van God se mense kan leef.

Ons moet almal geleer, bemoedig en gelei word na die Koninkryk van God. Om hierdie rede word ons dan ook beveel: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Heb. 10:24-25). Let op dat ons NIE moet nalaat om byeen te kom nie! Ons moet eerder gereeld bymekaarkom op God se Sabbatte en op Sy Heilige Dae, net soos Jesus en Sy dissipels gedoen het (Luk. 4:16; Hand. 17:2).

Hoewel sommige mense trots is daarop dat hulle “onafhanklike Christene” is, was dit NOOIT God se weg nie. Die hele verhaal van die boek Handelinge beskryf ’n verenigde Kerk wat saam byeenkom en waar almal waar ook al moontlik, saamwerk! Elkeen benodig die samesyn, die liefde, die voorbeelde en die bemoediging van ons mede-Christene wat daartoe verbind is om “te leef volgens ELKE woord van God”. Die ware Kerk – wat twaalf keer die “Kerk van God” genoem word in die Nuwe Testament – bied hierdie geleentheid vir behoorlike geestelike samesyn, groei en diens.

Om te weier om byeen te kom met diegene wat besig is om te groei, en wat besig is om die Werk van God te DOEN, is totaal in teenstelling met wat Christus en die Apostels geleer en gedoen het. Ons moet almal leer om mekaar LIEF TE HÊ, om mekaar te VERGEWE en – deur God se Heilige Gees in ons – om te GROEI in daardie liefde. God se Woord sê vir ons, “As iemand sê: Ek het God lief – en sy broeder haat, is hy ’n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie? En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê” (1 Joh. 4:20-21).

’n Verbond met u Skepper

God se woord maak dit duidelik dat ware Christelike doop ’n volwasse besluit is wat eers na diepe nadenke en heelhartige bekering geneem moet word. Weereens, dit stel die dood en BEGRAF­NIS van ons ou selfsugtige self voor. Met hierdie besluit en deur hierdie daad maak ons ’n VERBOND met ons SKEPPER om Jesus Christus se gestorte bloed te aanvaar as betaling vir ons sondes en ons erken Hom waarlik as ons Here, of Meester, en as ons komende KONING wat ons van nou af sal GEHOORSAAM!

Van God se kant af, word ons die kosbare “gawe van die Heilige Gees” (Hand. 2:38) beloof. Om God se Heilige Gees te ontvang, behels dat ons deurdring moet word van SY ware natuur en karakter. Soos die apostel Paulus verduidelik het: “omdat die LIEFDE van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is” (Rom. 5:5). Soos ons ook in Galasiërs 5:22-23 lees, die “vrug” of die gevolg van die Heilige Gees in ons lewens is, “liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goed­­heid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbe­heer­sing”.

God se Heilige Gees gee aan ons die geestelike liefde en geestelike krag om God te kan gehoor­saam, om ons drifte te beheer, en om volgens Sy gebooie te wandel as ’n lewenswyse. “Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie” (1 Joh. 5:3). Dit is dus nie ons – in ons menslike krag – wat God se gebooie onderhou nie; dit is CHRISTUS wat Sy lewe in ons leef deur die innerlike teenwoordigheid van die Heilige Gees.

Jesus Christus het in Mattheus 24:13 gesê: “Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word”. Indien ons graag die Koninkryk wil beërwe wat God voorberei het vir diegene wat Hom liefhet, dan moet ons getrou bly tot die einde toe. Ons doen dit deur gedurigdeur IN CHRISTUS TE BLY (Joh. 15:3). Hoe bly mens in Christus? Let op wat Johannes ver­duidelik het in 1 Johannes 2:3-6: “En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar. Hy wat sê: Ek ken Hom – en sy gebooie nie bewaar nie – is ’n leuenaar en in hom is die waarheid nie. Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het”.

Om in Hom te bly, beteken om getrou geanker en gevestig te bly in die Waarheid van God. Onthou, die Bybel wys dat die Waarheid nie eenvoudig net ’n lys van geloofsleerstellings is waaroor geargumenteer word nie, maar dat dit eerder ’n leefwyse is wat gehoorsaam en uitgeleef moet word (Gal. 3:1; 2 Pet. 2:2, 21).

Meeste mense wat daarop aanspraak maak dat hulle Christene is, dink dat om gered te word net ’n eenmalige aangeleentheid is. Baie van diegene wat daarop aanspraak maak om God se verteen­woor­digers te wees, het God se beloftes en Sy doel verkleineer. Hulle het ’n goedkoop genade aange­bied wat die persoon wat daarin glo, niks kos nie. Hulle het “vryheid” belowe deur te leer dat God se wet ’n juk van swaarkry is en dat ware gehoorsaam­heid nie nodig is nie. In werklikheid laat hulle “gemaklike genade”-leerstelling dat Christus op een of ander wyse alles vir ons gedoen het, hulle volgelinge verstrik in die verdorwenheid van sonde (2 Pet. 2:19).

In kontras hiermee, het Jesus gesê dat diegene wat na Hom sou kom, gereed sou moes staan om alles te kan opgee, selfs hulle lewens (Matt. 16:24-25). Christus verlang niks minder nie as totale, onvoorwaardelike toewyding en verbintenis van dié wat Hom aanvaar as hulle Here en Verlosser. “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan” het Christus gesê. “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is” (Matt. 7:13, 21). Dit is die VERBOND wat ons maak met ons Skepper tydens die doop.

Die Bybel wys dat diegene wat God se Koninkryk gaan beërwe, ’n groot en ongelooflike bestemming gaan hê. Dit openbaar ook die wyse waardeur God Homself in ons reproduseer. Bekering is die sleutel tot daardie proses. Ware bekering behels die totale oorgawe van ons lewe en van ons wil aan die Almagtige God.

Vir diegene wat Hom op hierdie manier nader, maak God vergifnis moontlik, ons transformasie van die binnekant af buite toe, en ons uiteindelike toe­trede tot Sy glorieryke Koninkryk as een van Sy eie seuns. Sal ons somtyds moeilikhede teëkom en selfs somtyds vervolging in die gesig staar omdat ons probeer om volgens God se instruksies te leef eerder as volgens die tradisies en gebruike van die wêreld om ons? U kan daarvan seker wees! Laat ons egter nie die apostel Paulus se vermaning vergeet dat “die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie” (Rom. 8:18).

Ons persoonlike verbond met ons Skepper tydens die doop behels die verbintenis tot ’n leeftyd van verandering. Daar sal verandering kom in hoe ons voel, en in wat ons doen, en meeste van alles, in wat ons IS in ons binneste. Ware bekering lei daartoe dat ons “gelykvormig” sal “wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy [Christus] die eersgeborene kan wees onder baie broeders” (Rom. 8:29).

REAGEER op die Waarheid

God sê aan ons dat ons nie bloot “geïnteresseerd” moet wees in Sy Waarheid nie, maar dat ons daarop moet REAGEER! “En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie. Want as iemand ’n hoorder van die woord is en nie ’n dader nie, dié is soos ’n man wat sy natuurlike gesig in ’n spieël sien” (Jak. 1:22-23).

Duisende van u wat hierdie boodskap lees, sal ongetwyfeld begin besef dat God u op een of ander wyse in kontak gebring het met Sy Kerk op hierdie aarde vandag. U het die ware DOEL van die menslike bestaan en die WEG van lewe wat God beveel, geleer deur die Werk van die Lewende Kerk van God, deur die oorsese televisieprogram, “Tomorrow’s World”, en deur die Wêreld van Môre-tydskrif. Dit mag dalk nou die tyd wees om te REAGEER op hierdie kosbare Waarheid. Dit moet nie as goedkoop beskou word nie! Moenie uitstel wanneer u God se doel in u lewe verstaan nie. Moenie wag totdat u dink dat u oorkom het of totdat u ’n “perfekte” begrip het van “perfekte” bekering nie. U kan nie eers begin om perfek te word tot NA u gedoop is en God se beloofde Heilige Gees ontvang het om u te versterk nie!

Wanneer u opreg tot bekering kom en wanneer u “die koste bereken het” en besef dat u gedoop moet word, laat ons van u hoor. Die Lewende Kerk van God het leraars en opgeleide verteenwoordigers in meeste dele van die wêreld. Indien u so ’n besoek aanvra, sal hulle ’n afspraak maak en u kom besoek om u doop met u te bespreek. Hulle sal NIE on­verwags opdaag nie. Hulle sal u voor die tyd kontak en ontmoet op ’n plek en tyd wat u pas.

U sal NIE onder druk geplaas word om by enigiets “aan te sluit” nie! Om die waarheid te sê, ons leraars mag dalk eenvoudig net met u gesels, u vrae beantwoord en aan u materiaal verskaf om te lees en te bestudeer voor u eintlik gedoop word. Ons wil SEKER wees – so seker as wat u wil wees – dat u werklik gereed is om gedoop te word. Hierdie aanvanklike besoek sal u die geleentheid gee – moontlik vir die eerste keer in u lewe – om te kan praat met ’n ware leraar van God wat die volle WAARHEID van God werklik verstaan en leer.

Skryf dus VANDAG nog aan ons, of skakel, as u verkies!

Ons adres en telefoonnommer word op die laaste bladsy van hierdie boekie gegee. Weereens, ons sien daarna uit om van u te hoor en om u te mag dien, noudat u in kontak gekom het met die Lewende Kerk van God. Mag God aan u die verstand, die liefde en die moed gee om te REAGEER op die kosbare Waarheid wat aan u gegee is.